BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 01 Januarie 2012

EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 4

God se kinders weet natuurlik dat Jesus se wederkoms alle Sataniese opposisie uit die pad sal vee! Die Satan en sy trawante sal dan finaal in die poel van vuur gegooi word! Maar die vraag is : Wat van nou? Wie is nou in beheer van die geskiedenis? Wie bepaal die wat, waar en wanneer van alles? Wie besluit oor die toekoms? Wie ken die toekoms? (sou die heidense Majas dit kon ken en ’n betroubare kalender kon opstel of is daar een of ander geheime organisasie wat die geskiedenis stuur soos hulle wil?)

Mense wat gefassineer word deur praatjies en prekies oor die geheime planne van byvoorbeeld die Illuminati en Vrymesselaars kan so maklik die Bybelse boodskap uit die oog verloor. Die Woord van God is klinkklaar helder en duidelik : Jesus Christus het alle mag in hemel en op aarde! Luister bietjie hoe Jesus self hierdie vertroostende waarheid uitspel :

In Sy roerende hoëpriesterlike gebed :

“U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee, om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.” (Johannes 17:2)

In Sy laaste opdrag aan die dissipels :

“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” (Matteus 28:19)

Ja, verseker is die Duiwel en sy meelopers baie sterk en instaat tot veel kwaad.... Maar niemand van hulle, bepaal die kalender van die toekoms nie. Nie die Majas of die Mafia nie en ook nie al die geheime ondergrondse ordes of wraaksugtige helse hordes nie! Jesus het alle mag in Sy hande! Net Hy ontsluit die toekoms en bepaal die inhoud en sin daarvan! (Oordink bietjie Openbaring 5:1-5) Net Jesus wat die Leeu van Juda is, maar terselfdertyd ook die Lam wat vir ons losgekoop het met Sy bloed deur die volle sondestraf op Hom te neem! Hierdie majesteit en mag van Jesus beskryf Johannes vir ons natuurlik alreeds in die openingsvisioen in Openbaring 1:12-20. Gaan lees dit gerus, veral as daar onrus en vrees in jou hart broei. En hoor baie mooi wat die verheerlikte opgestane Jesus sê :

 “... Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”

Wat meer het ons nodig om te hoor? Geen handlanger of lakei van Satan het die finale sê oor lewe en dood hier op aarde nie! My vriend, Jesus alleen beskik daaroor!

Moenie jou laat onstel nie! Moenie vrees nie! Glo in God, glo in sy Seun, Jesus Christus. Hy alleen is die Weg, die Waarheid en die Lewe! (Johannes 14:1-6) Kom na Hom. As Hy jou red, is daar geen duistere mag wat jou uit Sy hand kan ruk nie! En selfs as ons moet sterf soos Stefanus, dan weet ons is dit nie ’n bose oorwinning vir duistere magte nie, maar ’n triomfantlike geleentheid om ons Verlosser te verheerlik! Ook dan en daar  is Jesus in Sy almag teenwoordig. Gaan lees maar Handelinge 7:55. Jesus staan (Hy is bewus van Stefanus en ontvang hom) aan die regterhand van God. (die absolute magsposisie in die heelal)

Mag jy ’n vreugdevolle en vrugbare 2012 beleef in die troosvolle wete dat ons Verlosser Jesus inderdaad alle mag en gesag in Sy hande het!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.