Op Woensdag 29 Augustus 2007 het ons op Bray aangekom, waar ou John die getroue tuinwerker met 28 jaar diens ons begroet het. Daardie aand het ons uitgeput en dankbaar gebruik gemaak van die aanbod om in tannie Sarie Eloff se gastehuis te gaan slaap. Dit was die begin van ’n nuwe avontuurhoofstuk in ons lewens...
As jy nie weet waar is Bray nie, moet nie sleg voel nie. (Die meeste mense wat wel al van Bray gehoor het, se kennis is beperk tot die feit dat die rugby speler Frik du Preez op ‘n stadium in die omgewing geboer het) Bray is so ongeveer 220 km Noordwes van Vryburg op die Botswana grens. Dis die hoofsentrum van die Gemeente Onder-Molopo waarheen ek ’n beroep aangeneem het. In hierdie pragtige Kalahari met sy statige Kameeldorings en geharde Matopi’s het ons baie blydskap, maar ook benoudheid beleef!
Die benoudheid het sommer al gou begin toe die oop beeslorrie waarmee ons trek vervoer sou word, sonder toue of seile op Koppies aangekom het. Gelukkig het die Here voorsien in die persoon van oom Johan Bekker van Koppies en met sy vaardigheid, seile en toue kon die lorrie so stewig gepak word, dat ons sonder skade ten spyte van die grondpad veilig op Bray arriveer!
Om op Bray te woon, was ’n wonderlike plaasbelewenis! Die kinders het dit terdeë geniet om in die Kalahari sand te speel en later toe Ben Jonker vir ons vyf ooie met lammers gee, was die skape sommer hulle troeteldiere! Hier is so baie uniekhede! Van die turksvy op die dak van die voormalige poskantoortjie, die altyd beskikbare “Maak ‘n Plan Motors”, die Kirstonia Privaatskool, die Goeie Hoop Handelshuis (wat sommer nou selfhelp poskantoor ook is) tot die klankie wat jou herinner aan die voerkraal aan die Botswanakant. (Die jaarlikse Bray July is ongelukkig ’n uniekheid waaroor 'n Christen nie opgewonde kan raak nie!)
Bediening in die Onder-Molopo was ook ’n unieke ervaring. Dis ’n wonderlike geleentheid vir iemand wat ’n liefhebber van grondpaaie is! Daar was vier preekpunte : Bray, Vorstershoop, Mokopong (Wilzdale) en ook Kang in Botswana. Soms het ek ook in Newtown in die NGKA gepreek. Vir ’n tyd lank was dit ook my voorreg om die gemeente Vergelegen as konsulent te bedien. (met preekpunte op Vergelegen en Gemsbokvlakte) Dis ’n baie klein gemeentetjie in getalle, maar watter besondere mense! Dit was voorwaar ’n voorreg om die evangelie in die Kalahari te verkondig tydens eredienste, wyksbyeenkomste en huisbesoek. Mag die Here tog self die saad laat ontkiem en vrugdra.
Een van die groot vreugdes wat ons kon beleef, was toe die Molopo rivier in Februarie 2009 vir die eerste keer in 9 jaar afgekom en verby Bray geloop het. Dis ’n gesig en belewenis om nooit te vergeet nie! Twee keer het ek ook die besondere voorreg gehad om ’n Mannekamp in die ongerepte Kalahari in Botswana aan te bied. Dankie, Jannie Strümpher dat jy dit vir ons moontlik gemaak het! Sal ons ooit die besoek van die leeuwyfie aan ons kamp vergeet...
Soos dit maar met die lewe gaan en ook met ’n kind van God se lewe, was alles nie net vreugde en blydskap nie. Daar was ook die teleurstellings en terugslae wat die blydskap demp. Die foute wat jyself maak, die seekat van materialisme wat baie in sy pote vasklem, die gebrek aan reaksie op die Woord, die gelykvormigheid aan die wêreld, die hartseer en gebrokenheid wat vlak onder die welvaart skuil ... maar dan weer die taaie volharding in die geloof van sommige in moeilike omstandighede!
Een van die grootste benoudhede was toe ek op Sondagoggend 13 April 2008 in ’n ongeluk betrokke was. Alles het sommer vroeg die oggend begin skeefloop toe ek ontdek dat die kerkbakkie se battery pap was. Ek moes daardie Sondag vroegoggend eers op Wilzdale gaan preek (90 km vanaf Bray) en terugkom om dieselfde oggend ook op Bray die Woord te bedien. Ek haal toe my klein Toyota Tazz 1300 se battery uit om dit in die bakkie te sit, maar daar breek die bakkie se batteryklampie. Gevolglik besluit ek toe om maar die battery weer terug te sit in die Tazz en die 90km grondpad na Wilzdale met hom aan te durf. Alles het goed gegaan. Ek het die diens op Wilzdale gehou en gepreek oor 1 Korintiërs 7:29-31. Die preek het juis daaroor gegaan dat ons “los” moet wees van alles in hierdie lewe. Die vreugdes sowel as die hartseer. Vreugde en hartseer en besittings of wat ook al mag nie ons lewens in beslag neem nie, want die TYD IS MIN! Nou ja, oppad terug Bray toe word ek waarskynlik deur die Here getoets of ek werklik my eie preek glo! Ek ry met my Tazz in ’n trop boerbokke vas, wat oor die pad gestorm het. Dit was ’n vreeslike slagting en ’n wrede ervaring! Ek tref altesaam 12 bokke. Die karretjie kom tot stilstand langs die pad. Ek is alleen, dis net die kreunende geblêr van sterwende bokke! Tien sou uiteindelik vrek. Ek het nie eers my selfoon by my nie. Op Bray wag die mense vir hulle dominee om op te daag...
Dit was ’n donker dag, maar die Here dra sy kinders deur alle benoudhede! Hy dra ons deur die rykdom van sy genade!
Aan hierdie genade wil die Here ons elke dag herinner deur die kosbare beloftes in sy Woord. Mag almal wat hierdie lees (en veral julle kosbare broers en susters in die Kalahari) vashou aan sy kosbare beloftes! Terloops, ek wonder hoeveel onthou nog die Bybeltekste wat ons geleer het?
Oppad na die mannekamp in Botswana.
Wilzdale se kerkie. (in 'n goeie reënseisoen)
Die Molopo kom af in 2009.
Kinders wat deelgeneem het aan die Bybelstap in 2008.
NS En nogmaals dankie aan al die vriendelike Kalahari mense wat God oor ons pad gestuur het om ons te ondersteun en te bemoedig!
Marisja en Jonette op Bray
Jis johannes, Ek het die boek oor Boereverraaier gelees. Wonder wat hul stories was want daar was ook banana justice toegepas.
AntwoordVee uit