BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 13 Mei 2021

DIE KONING HET GEKOM!

Oor KONINKRYK, EVANGELIE EN EREDIENS (1)

Wat is die evangelie? Goeie nuus, ja maar watse goeie nuus? Hoe het Jesus self die evangelie beskryf? Hoe dink jy oor evangelie en Christenskap? 


‘n Groot meerderheid dink daaraan as ‘n polis teen die hel. Ek moet net gou Jesus aanneem as Verlosser (“my hart vir Jesus gee”) en dan is ek verseker teen enige helse gevaar en kan ek rustig voortgaan om vir my eie ideale te leef soos ek wil en goed dink. Dalk waag ek om my bekering uit te stel, sodat ek soveel moontlik tyd op aarde aan sondegenieting kan bestee... En as ek wel nou al vir Jesus "gekies" het sien ek in elk geval ook geen nodigheid vir die erediens nie, behalwe as om net so af en toe weer die voordele van my polis aan te hoor nie. Geen nodigheid vir heiligheid en toewyding nie… Of nog erger… ek sien Jesus as die waarmaker van my eie drome! 

Watter groot misverstand! Daarom is dit so ontsettend belangrik om te kyk wat is die evangelie/goeie nuus wat Jesus self verkondig het! Kom ons kyk hoe Jesus dit  gedoen het volgens Markus 1:14,15.

En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: "Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie."


Die koninkryk het naby gekom! Dit klink dalk nie vir ons westerse demokraties gesinde mense soos goeie nuus nie. Ons hou nie juis van konings nie. Vir Israel natuurlik was dit ‘n totaal ander storie. God se koninkryk was vir hulle ‘n sigbare werklikheid. God het oor sy volk regeer deur die Dawidiese koningshuis. Die koning was nie veronderstel om as wrede tiran te regeer nie. Hy was die versorger, beskermer en verlosser van die volk van hulle vyande. Dinge het in praktyk natuurlik vreeslik skeef geloop. Weens die afvalligheid van beide die konings en die volk. Dit lei tot die verwoesting van die tempel en Jerusalem en loop uit op die tragedie van die ballingskap. Ellende!

DIE BELOFTE

Maar daar was hoop. Die volk van God het uitgesien na die herstel van die Dawidiese koninkryk, want God het ‘n belofte aan Dawid gemaak! 

 God beloof aan Dawid : “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan." (2 Samuel 7:17) In die donkerste tye van verwoesting en ballingskap het die  profete hierdie hoop van die herstel van die Dawidiese koningskap lewendig gehou. Byv. die profeet Jeremia wat die woord van die Here oordra: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.” (Jeremia 23:5) 

Hoor mooi hierdie koninkryk sal 'n regverdige koninkryk wees – nie een van tirannie en lyding, onreg en uitbuiting nie, maar heerlikheid, vreugde en geregtigheid! 

DIE BELOFTE VERVUL

En nou kom Jesus – afkomstig uit die geslag van Dawid, gebore in die stad van Dawid, Betlehem! Nou verkondig “Hy die Koninkryk het naby gekom.” Almal wat kan hoor kry nou twee opdragte – bekeer julle – onderwerp julle aan hierdie Koning, buig voor Hom , eer Hom, gehoorsaam Hom en glo hierdie goeie nuus!

Die evangelie wat Jesus self verkondig het is die evangelie van die Koninkryk!


Wat van die apostels na Jesus? Wat was die goeie nuus wat die apostels verkondig het? Hulle het ook hierdie verwagting gehad oor die koninkryk. Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was (na die opstanding, net voor die hemelvaart), het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?" (Handelinge 1:6) Maar nou moes Jesus hulle reghelp. Die koninkryk kom nie op die manier wat julle gedink het nie. Hulle kry die opdrag : Julle moet nou getuies wees van die Koning en sy koninkryk van Jerusalem af tot aan die eindes van die aarde.

Die apostels se taak was dus die 

 PROKLAMASIE VAN DIE KONINKRYK EN DIE KONINGSKAP VAN JESUS. 

Blaai maar deur Handelinge en gaan kyk self : Handelinge 14:21,22, Handelinge 19:8, Handelinge 20:25, Handelinge 28:31.

Die evangelie is die evangelie van die koninkryk, dit gaan oor die dinge van die koninkryk! Ook die diaken Filippus se boodskap handel oor die koninkryk “Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.” (Handelinge 8:12)

Wat van 1 Korintiërs 15:1-4, dis tog waar Paulus 'n duidelike opsomming van die evangelie gee? Dit gaan tog duidelik oor die drie groot heilsfeite - kruis, begrafnis en opstanding.

Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;  

Paulus het nie 'n ander evangelie as Jesus self verkondig nie. Wat hy hier opsom is die detail lering oor hoe God die oorwinning van die koninkryk deur Jesus bewerk het. Dis eintlik lering wat ons eers begin verstaan nadat ons Jesus as Koning erken het, nadat ons op sy oproep gereageer het.

KERK EN EREDIENS

Waar pas die kerk en erediens in? Die kerk is die praktiese sigbare uitdrukking van hierdie koninkryk. Dis die sigbare teken van die herstel van wat verkeerd geloop het in die paradys. Die kerk bestaan uit mense op aarde wat die koningskap van Jesus aanvaar het en daarom volgens die wette en waardes van die nuwe koninkryk leef. Dis die voorafgestalte van die volmaaktheid wat kom.

 En belangrik-  Die koninkryk van God gaan nie meer oor net die herstel van Israel nie maar het nou ‘n internasionale gestalte. Die kerk bestaan dus uit mense van elke stam taal en nasie. Paulus praat by die apostelvergadering en sê : “Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om 'n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.” (Handelinge 15:16.17) Dit gaan hier oor die huis van Dawid (dinastie van Dawid) wat internasionaal herstel sou word! Die voormalige heidennasies is nou deel daarvan!

REDDING OM DEEL TE KRY AAN DIE KONINKRYK

Dis baie nodig dat daar ‘n paar regstellings in ons denke sal kom. Die evangelie gaan nie oor I, me and myself nie. Die evangelie gaan oor meer as persoonlike verlossing. Ja, natuurlik dit gaan oor persoonlike redding, maar redding om deel van die koninkryk te wees en die Koning te aanbid. Nou reeds en tot in ewigheid! Die koninkryk het gekom en ek kan nou deel daarvan wees. Onthou ons was almal deel van die Satan se duisternis, maar is nou deur Jesus daar uitgehaal en deel gemaak van Sy Koninkryk. Luister na   Kolossense 1:13 - “Hy (God) wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,” Jesus se Koninkryk is onstuitbaar. Elke knie sal buig en elke tong sal bely. Ek kan dit nie teenstaan nie. Ek kan myself net onderwerp. Die evangelie gaan dus nie in die eerste plek oor my belangrikheid, my drome en my gerief nie! Dis beslis nie net ‘n polis teen die hel nie. 

Die evangelie stel my voor ‘n uitdaging – onderwerp jou aan die Koning, val in by sy planne! 

En besing sy lof, verlustig jou in sy heerlikheid. Eer en aanbid HOM! Maar natuurlik dis nie iets negatiefs nie dit is ‘n seën! Want ons Koning is ‘n besondere Koning wat sy lewe vir ons afgelê het! Om Hom te dien en te eer is ‘n groot voorreg en vreugde. Mag ons verlos word van ons beheptheid met onsself en ons eie belange en agenda en mag ons met blydskap neerval voor sy troon en Hom aanbid!

Vir Deel 2 van hierdie reeks kliek op SAAM AAN TAFEL

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.