BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 06 Januarie 2012

AMERIKAANSE PRESIDENTSVERKIESING

- die oordele van God?

Dis ontstellend om te verneem dat twee van die aspirant kandidate van die Republikeinse party vir die presidentsverkiesing later vanjaar tot die Mormoonse sekte behoort. Een van hulle, Mitt Romney het waarskynlik die beste kans om aangewys te word as die kandidaat wat teen die huidige president Obama sal staan. (Die ander Mormoon in die wedloop is Jon Huntsman) Die Mormone is hoegenaamd nie ’n Christelike kerk nie, maar ’n bisarre kultus gegrond op verregaande misleiding. Dit het ontstaan in 1830 vanuit die belaglike bewerings van Joseph Smith wat daarop aanspraak gemaak het dat ’n engel, Moroni vir hom gewys het waar ’n boek geskryf op goue plate op die Cumorra heuwel begrawe sou wees. Smith het hierdie geskrifte kwansuis vertaal as die Boek van Mormon wat vir hulle die bron van gesag naas die Bybel geword het. Die Mormone se leerstellings is bitter ver verwyderd van die historiese Christelike kerk. Hulle ontken die Drie-eenheid en ook dat God gees is. (Vgl. Joh 4:24) Hulle beweer : “The Father has a body of flesh and bones as tangible as man’s.” Hulle leer ook dat daar baie gode is en dat die gode eers mense was, maar ook dat mense weer gode kan word!

Nou wonder mens met verbystering, waarom (veronderstelde) intelligente mense soos Amerikaanse aanspraakmakers op die presidentskap sulke twak kan glo en so mislei kan wees? Hoe is dit moontlik dat in ’n land soos Amerika met sy baie kerke en lang Christelike geskiedenis ’n situasie kan ontstaan, waar ’n Mormoon dalk president kan word? Die antwoord (of dan ten minste deel daarvan) vind mens in 2 Tessalonisense 2:9-12 waar Paulus die opkoms en bedeling van die Antichris beskryf. Hierdie beskrywing is waarskynlik ook tiperend van elke vervalle samelewing.

Ek wil net kortliks op drie aspekte wys :

1. Daar sal gruwelike misleiding plaasvind. (Mense word om die bos gelei deur magsvertoon en vals wonders)

2. Die rede vir die misleiding is omdat hulle die waarheid nie liefgehad het en wou aanvaar nie.



Maar die groot verrassing is die derde element wat ons in vers 11 kry!

3. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo”

God straf mense wat sy waarheid (Sy Woord ) verwerp deur hulle oor te gee aan dwaling! Dis soortgelyk aan wat in Romeine 1 vanaf vers 18 beklemtoon word. (Sien verse 24, 26 en 28! God gee mense oor aan allerhande perverse gedrag omdat hulle Hom nie as God eer en dank nie.) Wanneer ’n persoon, maar ook ’n samelewing of volk, die Woord van die waarheid verwerp, word hy/hulle ’n voorwerp van God se toorn en een manier hoe Hy hierdie oordele voltrek is om hulle in dwaling te laat verval! God self maak hulle blind en dom, om onsin te glo!


Ten diepste is dit God wat leiers aanstel of ontslaan. Wanneer Hy toelaat dat misleide leiers die botoon voer, is dit die gevolg van ’n samelewing of volk wat hulle rug op God en sy Woord gedraai het. Is dit nie maar presies wat ook met die Afrikanervolk gebeur het nie? Ek vra maar net...


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.