BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 05 Januarie 2012

BABELSE BOUSELS of GOD SE BELOFTES?

Waaroor dink jy en droom jy? Waarna sien jy konstant uit? Veral ook in hierdie jaar? Miskien is hierdie jou laaste jaar op skool  of universiteit of laaste jaar by die werk voor aftrede. Of, dalk is dit jou eerste jaar op hoërskool of die eerste jaar by ’n nuwe werk. Hoe dit ook al sy...hoe dink jy oor die toekoms? Hoe lyk jou toekomsverwagting en beplanning? Lees bietjie saam met my Hebreërs 11:8-10 en dink weer oor hierdie vraag!

In sommige opsigte verskil God se kinders nie van die ander mense rondom nie. Christene moet ook eet, werk, ons moet ook spaar vir noodsaaklike behoeftes, ons moet ook beplan en leer vir eksamens... nes almal.

In baie opsigte verskil die kinders van God wel baie radikaal. Veral wat betref ons toekomsvisie en langtermyn beplanning is daar ingrypende verskille!

Die onbekeerde wêreldse mens se toekomsbeskouing en beplanning eindig by aftrede en dood! Dit haak vas by die hier en nou. Hy kan of wil nie verder kyk nie.

Die Christen se toekomsbeskouing en beplanning gaan verder as die dood en hou rekening met die ewige finale bestemming.

Die onbekeerde se beplanning het veral te make met geld en besittings bymekaarmaak. (Dis waaraan sy meeste tyd en krag bestee word. Dis sy passie)

Die Christen se fokus is om God te behaag en uit dankbaarheid Jesus te dien. (Dis natuurlik net as jy ’n nuwe hart deur die wedergeboorte gekry het, moontlik!) Die kind van God is daarop ingestel om sy krag en besittings en lewe in die Koninkryk te belê. So is God se kind deurentyd aktief besig om skatte in die hemel bymekaar te maak. Die kind van God het ’n duidelike toekomsverwagting vir anderkant die graf.

Hier vind ons dus ’n belangrike groot toets vir die egtheid van ons Christenskap.

Mense sê so maklik : "Ons glo!" Maar waar egte geloof is, is daar ’n lewendige toekomsverwagting wat verder strek as ons tydelike aardse bestaan. Abram word hier deur die Hebreërs skrywer as voorbeeld van egte geloof voorgehou en ons lees duidelik dat hy uitgesien het na die stad met vaste fondamente! (10)

As mens teruggaan na die Abram geskiedenis in Genesis, sal jy verstaan hoekom hier so sterk melding gemaak word van die "stad met vaste fondamente waarvan God self die ontwerper en die bouer is." In Genesis volg die Abramsgeskiedenis op die verhaal van die toring van Babel.

Abram staan in sterk kontras met die bouers van die toring van Babel.

Die bouers van Babel is tiperend van die sondige mens se ideaal om vir homself ’n toekoms te ontwerp en te skep. Babel vertel ons van menslike selfversekerdheid. Die mens is sy eie lotsbepaler. Die mens wil vir homself naam maak deur die bou van 'n stad met 'n toring! (lees Genesis 11:4) Maar dan kom God in Genesis 12 en sê vir Abram : "Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis (letterlik: "naam" -OAV) maak! (Gen 12:2) Abram is sprekend van die gelowige mens, wat wag op God se beloftes! Omdat Abram glo, het hy ’n lewende hoop en verwagting op ’n ewige erfenis wat God hom sal gee. Die Babelbewoners skep vir hulself ’n toekoms, maar God skep vir sy mense ’n toekoms! Die toring van Babel was wel indrukwekkend, maar dit was tydelik en gedoem. Die stad waarvan God die ontwerper en bouer is, sal ewig wees!

Waar pas jou visie in? By die Babelbewoners of by die Beloftes van God?

Elke kind van God, elkeen wat waarlik in God se beloftes glo, sal uitsien na die finale bestemming wat God beloof het. Hierdie toekomsgerigtheid maak ’n praktiese verskil in ons daaglikse lewens:


~ Dit bepaal hoe ons hartseer en terugslae hanteer. Die kind van God beleef ook smart, swaarkry en teleurstellings. Ons huil ook, maar ons herwin ons vreugde omdat ons werklik iets het om na uit te sien. Die vaste heerlikheid waarop ons hoop, oortref die smart van nou! Paulus skryf hieroor in Romeine 8:18 (Lees)

 
~ Dit bepaal ook hoe ons suksesse en vreugdes hanteer. Christene beleef ook soms baie vreugdes in hierdie lewe. Ons geniet ook lekker kos, ’n huisgesin, vriendskappe en al die baie goeie dinge wat God ons skenk. Ons weet egter dat ons blydskap nooit gebou moet wees op mense of dinge of omstandighede nie, maar op die beloftes van God! Ons is bewus van die tydelikheid en kwesbaarheid van aardse geluk, ons verlang na die vaste onwankelbare hemelse vreugde. Ons besef dat die beste seëninge in hierdie lewe maar net die voorgereg is, die HOOFGEREG moet nog kom!

 
~ Dit bepaal hoe ons besittings beskou en hanteer. Die Here seën ook soos Hy wil sy kinders met aardse besittings. Ons weet egter als hier is tydelik, dit word net vir ons geleen. Ons is maar net tydelike rentmeesters. Die Here kan dit enige tyd net so vinnig wegneem as wat Hy dit gegee het. Ons gebruik en geniet wat Hy ons gee, maar ons harte is nie daaraan verknog nie, want ons wag vir iets beter!

 
~ Dit motiveer ons om getrou en toegewy aan Jesus te bly. Abram kon in moeilike tye volhard omdat hy uitgesien het na die finale beloning. Hy kon die ongerief van tydelike tentwonings verduur, want daar was die belofte van ’n finale vaste woonplek. Diegene wat regtig uitsien na ’n heerlike toekoms is bereid om ter wille van Jesus gespot en eenkant gestoot te word. Dis wat Hebreërs 13:13,14 ons leer. (Ons vind weer die stadsmotief hier, "geen blywende stad nie"- OAV, Grieks) Die wete van ’n beloning speel ’n groot rol in die kind van God se lewe! Ons vergeet so maklik dat dit ’n groot rol in Jesus se eie lewe gespeel het! (Hebreërs 12:2) Jesus het onder uiterste omstandighede volhard en God se wil gedoen, Hy het gehoorsaam na die kruis gegaan, omdat daar ’n beloning en vreugde vir Hom in vooruitsig was!

 
Nie een van ons weet wat 2012 alles vir ons gaan bring nie. Maar as ons ’n Bybelse Beloftegedrewe toekomsvisie het, as ons ’n vaste hoop op ons ewige erfenis het, sal ons alles kan hanteer tot eer van die Here wat in hierdie jaar op ons pad sal kom! Ons sal weet hoe om te maak met swaarkry en vreugdes! (Sterkte!!)

Sien jy met sekerheid uit na jou ewige vaste verblyf? Is jy ’n Babelbewoner of is jy ’n uitsiener na die waarmaking van God se Beloftes? Amen







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.