- kompromie is nie altyd so ‘n slim uitweg nie.
Die besluit van die NG leierskap om gemeentes en sinodes te laat stem oor ‘n nuwe voorgestelde Kerkorde Artikel 1 wat voorsiening maak vir die aanvaarding van die Belhar belydenis as opsionele belydenisskrif is besig om lelik te boemerang. Belhar beweer om ‘n belydenisskrif van versoening te wees, maar dis besig om groter verskeurdheid en onmin as ooit in kerkgeledere te ontketen. Dit verdeel mense wat in hart en praktyk eintlik saam glo en reeds saamdoen. Die Namibiese sinode was die eerste om ‘n stokkie voor die kerk se Belharplanne te steek, toe die vereiste twee derde ja meerderheid nie verkry kon word nie. Dit het gelei tot ‘n stroom van beskuldigings en verdagmakery deur die sogenaamde ja stemmers wat baie bedroef was oor die uitslag. Nou het die Noord Kaapse sinode oorweldigend nee gestem vir die voorgestelde nuwe artikel 1. Of dit tot ‘n verdere vloedgolf van verwyte sal lei, sal mens nou maar moet sien...
Ek wil my nie hier op simplistiese wyse aan ‘n ja of nee kant skaar nie. Ek wil my wel verstout om te sê dat die hele stemmery eerder nooit moes plaasgevind het nie!
Kom ek noem ‘n paar redes:
Die voorstel oor Artikel 1 hou nie rekening met die kompleksiteit van die saak nie. Daar is verskeie redes waarom sommige ja gestem het. Van ‘n diepe vereenselwiging met Belhar se inhoud aan die eenkant of bloot ‘n emosionele gebondenheid tot aan die anderkant van “kom ons stem maar ja, want hulle gaan aanhou hiermee totdat ons almal ja gestem het” (Kwalik ‘n geldige motivering vir die aanvaarding van ‘n belydenisskrif, maar nietemin...) Daar is ook uiteenlopende redes waarom sommige nee gestem het. Van aan die eenkant ‘n grondige verskil met sommige formulerings van Belhar, die emosionele stigma wat daaraan kleef, die gevoel van dwang wat die kerk se propaganda masjien rondom die saak geskep het, tot aan die anderkant die wete dat so ‘n kompromis artikel 1 nie vir die VGK aanvaarbaar sal wees nie. (Daar ook diegene wat Belhar nie-opsioneel deel wou sien van die kerk se belydenisgrondslag, maar wou gehad het dat dit gelyk met die ander belydenisskrifte dieselfde status moes deel.) Daar sou ook diegene kon wees wat vrede het met Belhar as ‘n verklaring, maar nie die status van belydenisskrif daaraan sou wou toeken nie. En ja, daar is diegene wat ongemak beleef het met die afdwing van 'n proses en die intense eensydige oorredingsveldtog wat dit vergesel het... Al hierdie mense is nou in die nee kamp gedwing en word sommer nou lustig van apartheid en konserwatisme beskuldig.
Mens kry die indruk dat die leierskap ‘n kompromisvoorstel as maklike opsie gekies het om sodoende konfrontasie te vermy. As dit oor nietige randsake gaan is kompromie seker ‘n goeie ding, maar as dit oor ‘n wesentlike saak gaan soos die belydenisgrondslag van ‘n kerk, gaan dit nie werk nie. Die NG kerk raak nou bekend daarvoor dat wesentlike sake sommer maklik gesystap word. Jy kan mos volgens een AS besluit glo dat daar iets soos ‘n duiwel bestaan, maar jy hoef dit ook nie te glo nie... Dit klink my of almal in die kerk nie eers meer seker is of 'n huwelik eksklusief uit een man en een vrou bestaan nie...
Of ons dit nou wil weet of nie. Belhar is vir baie mense ‘n emosioneel gelade woord, hetsy positief of negatief. Vir sommige klink dit na rewolusie en Satan, vir ander is dit amper sinoniem aan evangelie. Dit gaan nie gou verander nie. Om die saak deur ‘n demokratiese proses na een of ander kant te dwing gaan gemoedere opjaag. Ons moet eerder saam dink, saam bid en vanuit die Skrif rigting soek, sonder die druk van propaganda wat mense net kwaad maak...
Om te stem oor Belhar was die verkeerde opsie. Spesifiek wat ons eie Namibiese konteks betref moes ons eerder vars en bietjie uit die boks gedink het. Belhar het immers daar ver in die Kaap gebeur in ‘n baie anderste konteks al sou daar raakvlakke kon wees. In ons land verloop die versoeningsproses baie anders as in Suid-Afrika...
Baie Namibiese NG gemeentes het al vir jare lidmate vanuit ander kulture, sonder dat ons Belhar as belydenisskrif onderskryf. Dit sou natuurlik oneerlik wees om te beweer dat niemand rassevooroordele het nie (waar sou sulke mense gevind word?), maar die voorbeelde van hartlike liefdevolle samewerking oor rasse en kultuurgrense heen is te veel om op te noem. En dis waar van mense wat ja sowel as nee gestem het... Hierdie positiewe feite word onsigbaar in die rookwolke van verwyte na die sinode stemming in Windhoek. En dis ontsettend jammer!
Dit sou eweneens oneerlik of minstens baie naïef wees om te dink dat die aanvaarding van Belhar as belydenisskrif nou skielik tot eenheid, liefde en medemenslikheid gaan lei. En mens sou seker kon vra : Ons het immers die Heilige Skrif, as mense nie aan die Bybel gehoorsaam is nie, gaan Belhar nou skielik hulle harte verander? En dit in ‘n tyd dat ons bestaande belydenisskrifte maar weinig bekend is... Sal die Belhar ondersteuners tog ook 'n slag net so opgewonde raak oor ons kosbare Dordtse Leerreëls?
Wat dan? Ek sou wou voorstel dat ons eerder in ‘n openhartige gesprek saam met ons VGK broers en ander belanghebbendes hoor wat hulle kwellings en verwagtings is. Vanuit so ‘n gesprek kan ons ‘n eietydse verklaring afkomstig uit Namibiese bodem maak. As daar dinge is wat ons nog moet bely, laat ons dit bely, as daar veranderings moet kom, laat ons onsself daartoe verbind, as ons weer opnuut na ons eie harte moet kyk, mag ons daarvoor genade vind, as dit selfs nodig is dat ons van Belhar se gesigspunte moet oorneem, laat ons nederig genoeg daarvoor wees... As dit nodig is laat ons dit dan op skrif stel in oorleg met mekaar, maar noem dit dan asseblief met ‘n eie Namibiese naam... Dalk iets soos die OMBILI (vrede) VERKLARING? Ek vra eintlik maar net dat ons nie by ‘n naam (Belhar) vashaak nie, maar wesentlik na die saak kyk, want ek is oortuig dat daar by die verre meerderheid van ons aktiewe lidmate groot ooreenstemming is oor sake soos die evangelie, liefde, eenheid in Christus en die belangrikheid van uitreik na mekaar. Tot dan, laat ons asseblief ophou om mense oor Belhar in kampe te jaag... Ek vra mooi, laat ons tog nie Belhar verhef tot 'n moderne "sjibbolet"* en maatstaf vir liefde en eenheid nie... Die vereiste vir kerklidmaatskap en ware eenheid is geloof in Jesus Christus en Hy alleen!
Saam aan die werk vir Jesus in ons mooi land...
Lees ook OM TE BELHAR OF NIE?
* Sien Rigters 12:6
"Baie Namibiese NG gemeentes het al vir jare lidmate vanuit ander kulture, sonder dat ons Belhar as belydenisskrif onderskryf." Mense (ek onder andere) het oor en oor op verskillende plekke gevra waarom herenig die VGKSA en die NGK nie in elk geval nie, maar SONDER Belhar. Of waarom word dit nie as 'n VERKLARING laat opgeteken nie ( soos die Barmen Verklaring). Nêrens het ek ooit antwoorde op hierdie vrae teengekom nie.
AntwoordVee uitDie Noord-Kaap het pas 'n herderlike brief uitgereik, Daarin lees ek pragtige dinge. Die skakel is te kry op hierdie blog:
AntwoordVee uithttp://hierstaanek.com/2015/03/13/tyd-vir-eenheid-in-waarheid/
Baie dankie!
Vee uitJohannes, ek sê dubbel en dwars AMEN op jou mooi skrywe. Ek sê (en skryf) al lankal dat ons leierskap (e.a.) verwar strukturele eenheid met eenheid in Christus Jesus.
AntwoordVee uitInderdaad! Ware eenheid word reeds elke dag beleef tussen God se kinders oor verskeie grense heen, want ons is van dieselfde Gees deurdronge.
AntwoordVee uitDie vraag wat eerlik beantwoord behoort te word is of ’n kerk van gereformeerde belydenis met opsionele belydenisskrifte vrede kan maak. Kan ons, as dit by die kern van die geloof kom, kies wat ons wil bely en wat nie? Dit lyk my die groter vraag te wees. Dit is jammer dat hieroor nie veel bespreking plaasvind nie. Die NG Gemeente Albertyn (Ellisras) het juis hieroor besluit om nie die nuwe Artikel 1 te aanvaar nie.
AntwoordVee uitJy is heeltemal reg. Daar is wel diegene wat al hierdie kwessie aangeraak het, maar oor die algemeen is prinsipiële denke oor die saak skaars en gaan dit vir baie eerder oor emosie en simbolisme.
Vee uit