BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 Mei 2012

ALLES NUUT!

- ‘n belofte aan stukkende mense in ‘n stukkende wêreld.

“Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5) In ‘n stukkende wêreld soos hierdie ondermaanse van ons,  kan daar geen heerliker belofte as juis dit wees nie! En belangrik, dis “Hy wat op die troon sit”,  God self, wat dit beloof! Daarom kan ek en jy hierdie belofte glo en daaroor bly wees!

Ons voel almal die werklikheid van ‘n stukkende bestaan op aarde aan ons eie lyf. Die daaglikse pyn van 'n morele en fisiese skrootwerf. Ja, God het alles goed geskape, maar toe die mens die duiwel se leuens geglo het in die paradys, het als stukkend geword. Ons hele lewensloop word gekenmerk deur gebrokenheid. Ons menslike bestaan gaan gebuk onder sonde, swaarkry, siekte en sterflikheid. Sonde het ons lewens kom verwoes, lelik en oud gemaak. Wrakke! Hierdie ellende wat sonde gebring het is op alle terreine van die lewe sigbaar, maar die effek word dalk die ergste gevoel op die gebied van die huwelik, seksualiteit en gesinsverhoudings! En die rede hiervoor is maar al te duidelik. Toe God die mens as Sy verteenwoordiger en beeld gemaak het, word daar pertinent gemeld dat Hy man en vrou geskape het. (Genesis 1:27) Ons geslagtelikheid, ons man- en vrouwees en spesifiek soos dit in die huwelik moet uiting vind, is bedoel as ‘n vertoonvenster van die heerlikheid van God. Dit is veronderstel om iets te demonstreer van die volmaakte harmonie en liefdesgemeenskap binne in die heilige Drie-Eenheid. Nou, verstaan jy waarom Satan hom toespits om die huwelik en als wat verband hou met die mens se geslagtelikheid, te skend en te ontsier. En hierdie skending soos ons maar al te goed weet, veroorsaak onbeskryflike smart en hartverskeurende skade. Dit hoor en sien ons elke dag!

Maar nou het ons hierdie belofte. ‘n Belofte van nuutmaking. Hoe doen God dit? Wat behels dit alles? Raak dit ons volle menswees? Ook die huwelik? 

Die antwoord kry ons in 2 Korintiërs 5:17 

“Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Jesus Christus is die sleutel tot die nuutmaking van die mens.  Trouens, dit gaan oor iets baie wyer as net die mens! In Hom maak God die ganse skepping nuut. ‘n Volledige  herskepping van die totale werklikheid  wat deur die sonde geskend is. Jesus is self die begin van hierdie herskepping en die waarborg van die suksesolle voltooiing en uiteindelike triomf daarvan. Wie aan Jesus behoort, “in Hom”  is, is reeds deel van die nuwe skepping en self ‘n nuwe skepsel.

Wat beteken hierdie nuutmaking nou prakties vir my en jou? Dit kom na vore in die drie (tyds)aspekte van ons verlossing. 

  • Dit gaan in die eerste plek oor  vryspraak.(regverdiging) Dis die volledige kwytskelding en  vergifnis wat ‘n sondaar ontvang as hy sy vertroue in Jesus stel. Die heerlike belofte van die Nuwe Verbond beskryf die heerlikheid hiervan so in Hebreërs 8:12. “Oor hulle ongeregtigheid sal ek genadig wees, en aan hulle sondes nooit meer dink nie”. Die vryspraak wat ons ontvang in Jesus beteken dat ons volkome nuut is in God se oë, bedek met Jesus se volmaakte geregtigheid!   


Glo jy dit werklik? Hoe raak dit jou siening oor jouself, oor ander Chrstene? Oor jou Christen eggenoot?

  • Maar ons word nie maar net vergewe nie. Vergifnis  lei ook tot ‘n verdere heelmaak en nuutmaakproses.  Ons moet leer leef volgens ons nuwe status as vrygespreektes. Ons noem dit heiligmaking. Dit beteken dat ons daagliks en al hoe meer  verander na die beeld van Christus. Ons begin al hoe meer optree soos Hy sou opgetree het. Natuurlik, dit vat harde werk en daaglikse gehoorsaamheid aan God se Woord. Dis ‘n voortdurende stryd wat ons met die krag van die Heilige Gees teen die ou natuur, sonde en Satan stry! Maar ons stry dit positief, wetende dat God ons reeds as sy kinders aangeneem het uit genade!
  • Maar dis nog nie al nie... daar kom ook ‘n finale nuutmaking. Dis wat hier in Openbaring beloof word. Alle sonde en alle gevolge van die sonde sal dan uitgewis word.  Al die trane van ons oë sal afgevee word. Alle gevolge en letsels wat die sonde agtergelaat het, sal vir ewig verdwyn. Ons noem dit verheerliking. As volmaak nuwe mense sal ons vir ewig in God se teenwoordigheid leef en Hom loof! Ja, God gaan by ons woon! (Openbaring 21:3)

Nuutmaking moet dus verstaan word vanuit 3 perspektiewe : Vryspraak (as reeds afgehandelde feit), Heiligmaking (as voortgaande proses), Verheerliking (dit word finaal voltooi by die wederkoms)

Hoe raak bogenoemde waarhede ons huwelik?

Vryspraak. As beide eggenote* Jesus as Verlosser aanvaar het, beteken dit dat al my en my maat se  sonde en oortredings van die verlede vergewe is. Om ou koeie uit die sloot te haal en verwyte rond te slinger pas dus nie en wys dat ek die vryspraak nie reg verstaan of waardeer nie! Ek moet weet en glo dat my maat volledig vergewe is en uit hierdie oogpunt na hom of haar kyk.

Heiligmaking. As altwee huweliksmaats Jesus ken, beteken dit  ook dat hulle die Heilige Gees ontvang het, wat hulle daagliks krag sal gee om nuut en anders in hulle huwelik te leef.  Die Heilige Gees maak ons nie passief nie, maar gee ons krag om daagliks teen die sonde te kies (dit sluit ook dinge in soos ons selfsug, opstandigheid, selfbejammering, onvergewensgesindheid ens. wat so skadelik is vir ‘n huwelik) Die Heilige Gees maak my hart sag sodat ek my foute kan erken en die Here (en my maat) om vergifnis kan vra.

Verheerliking. Kinders van God wat ook in die huwelik stry teen sonde en versoeking en dalk moedeloos raak daaroor, kan uitsien na en versterk word deur die feit van ons finale nuutmaking by die wederkoms. Daar kom ‘n tyd wanneer ons nie meer ontsier sal word deur sonde, misverstand en onvolmaaktheid nie.

Die aardse vorm van die huwelik gaan nie bly voortbestaan nie  (Matteus 22:30), maar ons gaan volle vervulling en harmonie beleef as ewige bruid, ja, vrou van die Lam! (Openbaring 21:9ev) Dit gaan ‘n voortgaande Fees van volmaakte vreugde wees!

Hierdie Bybelse feite oor die nuutmaking  spoor ons aan om ons huwelike volgens God se Woord tot sy eer in te rig, al beleef ons moeilike tye, teleurstellings en versoekings!


Bogenoemde is 'n basiese samevatting van die boodskap by Sakkie en Erna  Schreuder se seëningsgeleentheid oor hulle huwelik. Sakkie en Erna, ons is saam met julle bly en wens julle die oorvloedige belewenis van God se genade toe, as deel van ons gemeente. Ons is regtig lief vir julle!

*As jy in ‘n huwelik is met ‘n ongelowige is dinge natuurlik baie ingewikkelder en, helaas soms skrikwekkend moeilik! Dis waarom ons nie met ‘n ongelowige mag trou nie. As jy reeds in so ‘n huwelik is, is als egter nie verlore nie! Dis moontlik dat God deur jou getuienis en veral jou leefstyl, jou maat ook kan red. Maar weet, dis gewoonlik nie ‘n maklike pad nie. As die vrou die gelowige is, moet sy veral weet dat haar man nie deur woorde gewen sal word nie, maar deur ‘n heilige onderdanige lewenswandel. (1 Petrus 3:1)  Sterkte!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.