BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 18 Mei 2012

DIE BITTER HOË HEKKIE

- waaroor gebede struikel en die plafon wat ons versugtinge terugkaats. 

Matteus 6:14,15 “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

As ons nie kan bid nie, as ons nie werklik kontak met ons hemelse Vader kan maak nie,  beteken ons Christenskap niks nie. Gebed is die vernaamste manier hoe  kinders van God hulle dankbaarheid vir verlossing prakties uitleef. Uit Jesus se mond het ons nou al ‘n hele paar belangrike dinge geleer oor gebed :
  • Ware gebed is nie ‘n hipokritiese  ritueel nie, maar egte kontak met ons Vader.  Dis ‘n lewe voor die aangesig van God. 
  • Ware gebed word beloon deur ons Vader wat presies weet wat ons behoeftes is. Gebed werk!
  • Ware gebed vereis ‘n U draai, weg van ek-gesentreerdheid na ‘n fokus op God (U). Dit gaan eerstens oor God se eer, God se koninkryk en gehoorsaamheid aan God se  wil.
  • Ware gebed sluit in dat mense wat God se eer nastreef en oppad is na die koninkryk vir alle behoeftes op die pad mag bid,  insluitend ons fisiese nood, vergifnis en beskerming. Dis dinge wat God se kinders almal nodig het.

Ons kyk nou na nog ‘n laaste belangrike beginsel uit Jesus se lering hier oor gebed : Ware gebed kom uit ‘n vergewensgesinde hart. Anders gesê, alle gebed wat nie uit ‘n vergewensgesinde hart kom nie, sal misluk. Vergewensgesindheid is ‘n kernsaak as dit by ware gebed kom . Matteus 6:14,15 lyk dalk soos ‘n voetnoot by die vyfde bede, maar dit verwys terug na die hele gebed wat handel oor ingang in die Koninkryk.*

Dis asof Jesus hier net ‘n laaste dringende vermaning wil byvoeg en sê : “Kyk jou gebed kan honderd suiwer geformuleer wees, maar as dit uit ‘n bitter onvergewensgesinde hart kom, word dit onmiddellik gediskwalifiseer." 

Moenie dat jou gebed oor die laaste hekkie struikel nie! 

Dis ‘n besonder bitter hoë hekkie, die hekkie van onvergewensgesindheid!

Hoe pas vergifnis en koninkryk en gebed bymekaar? Ons het gesien : gebed draai om God en sy koninkryk. Dit gaan oor God se prioriteit as Koning, maar ook oor ons deelwees van die koninkryk en ons oppadwees na die koninkryk. Daar is net een manier hoe ons deel kan word van die koninkryk - deur genade en vergifnis wat ons van God ontvang.    Die basiese beginsel van die koninkryk is vergifnis. As ons dus genade en vergifnis aan andere weier,  beteken dit ons verwerp die basisbeginsel van die koninkryk. As ek weier om  vergifnis te skenk, bly ekself ook sonder vergifnis en kan ek nie in die koninkryk ingaan nie. So slaan ekself die deur van die koninkryk toe. Onvergewensgesindheid is die grootste faktor wat ons gebede bederf en uitkanselleer. Onvergewensgesindheid is die grootste praktiese rede waarom mense die koninkryk sal misloop.  Kom ons toets dit aan ‘n paar ander Skrifgedeeltes:

Markus 11:25 “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” 
Net soos in die Onse Vader koppel Jesus vergifnis as ‘n vereiste aan gebed en die ontvangs van vergifnis.

As ons verder in Jesus se woorde oor hierdie saak gaan soek sien ons dat dit nie net oor gebed gaan nie, maar oor ons eie vergifnis en dus ook oor ons verlossing as sodanig.

Matteus 5:7 “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”   
Ons het almal barmhartigheid nodig. Al is jy in ’n kerk gebore, al was jy jou hele lewe lank godsdienstig en al het jy geen erediens of biduur gemis nie, sonder Jesus se genade, barmhartigheid en vergifnis sal jy nooit in die Koninkryk kan ingaan nie.  Hierdie Saligspreking sê dus : Wat jy weet dat jy van God nodig het, betoon dit aan ander mense!  Iemand wat nie barmhartigheid bewys nie,  sê dus maar net : “Ek het self dit ook nie nodig nie, met ander woorde ek hoef nie in Jesus te glo nie.” Onbarmhartiges is dus by implikasie mense wat nie in Jesus glo nie en daarom verlore is! Barmhartigheid is ‘n bewys dat ek barmhartigheid ontvang het, en dat ek dus waarlik in Jesus  glo. Martyn Lloyd-Jones stel dit so treffend :
“What makes me merciful is the grace of God. But the grace of God does make me merciful. So it comes to this: if I am not merciful there is only one explanation, I myself have never understood the grace and mercy of God; I am outside Christ; I am yet in my sins, and I am unforgiven” 
As ek vergifnis weier aan ander is dit die duidelikste bewys dat ekself nog nooit vergifnis ontvang het nie en dus verlore is, oppad na die ewige straf! 

Matteus 5:23,24 “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”
Vergifnis en vrede is belangriker as enige uiterlike godsdienstige aksie!

Matteus 18:21-35 (lees gerus in jou Bybel) Ons ken hierdie gelykenis...  Hoe tree die koning uiteindelik op teen sy amptenaar wat weier om die ander een te vergewe?  Woedend! Vers 34 (lees) En dan sê Jesus hierdie skrikwekkende woorde : “So sal my Vader wat in die hemel is ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (35) Jy gaan nie met ‘n onvergewensgesinde hart by God verbykom en in die koninkryk inglip nie.

Maak seker dat jy self vergifnis ontvang het deur Jesus Christus en neem ‘n besluit voor God om alle oortreders in jou lewe te vergewe. (Onthou dis ‘n besluit en nie ‘n gevoel nie!) Moenie dat jou gebede en inderdaad jou reis na die koninkryk oor die laaste hekkie struikel nie! Moenie teen ‘n plafon vasbid nie!

* Dr Jakob van Bruggen, Matteüs - Het evangelie voor Israël

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.