BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 14 Mei 2012

HEL EN HUWELIK

“My huwelik is inderdaad hel, ja”, hoor ek iemand hardop dink.  (dis nie waaroor dit primêr vandag gaan nie, maar as dit die geval is, pleit ek by jou om eerstens jouself en ook julle huwelik te onderwerp aan die evangeliebehandeling wat mense én huwelike nuut maak!)

Ek wil sommer net die aandag vestig op die helse aanslag teen die Goddelike instelling van die huwelik. Satan haat God en hy openbaar dus ‘n giftige passie om alle Goddelike ordes en instellings te probeer vernietig. Hoog op sy doodslys is die Godbedoelde huwelik tussen een man en een vrou as lewenslange verbintenis. Twee onlangse gebeurtenisse op die internasionale verhoog, het dit maar net weer onderstreep. In Frankryk en die VSA. Die Franse se nuutverkose sosialistiese president, Francois Hollande het blykbaar nie juis veel respek vir die huwelik nie. Hy het sy vorige jarelange saambly maat, Segolene Royal (by wie hy vier kinders het), verruil vir die geskeide joernalis Valerie Trierweiler. Die Franse het dus nou ‘n presidentspaar wat ongetroud saamleef. Sulke losbandigheid veroorsaak in ‘n sondeverdraagsame sekulêre samelewing soos Frankryk natuurlik nie eers meer ‘n muispiep van verontwaardiging nie. (In alle billikheid teenoor, Hollande;   Sarkozy sy teenstander, is self ook al darem deur meer as een vrou.) Nog meer skokkend, is Barack Obama se openbare ondersteuning van  “homoseksuele huwelike” is. Hy is die eerste Amerikaanse president wat openlik so ‘n standpunt huldig! Suid-Afrika is Amerika natuurlik ver voor in boosheid, want daar is dit mos al ou nuus. Vanuit die politiek, die media en veral die vermaaklikheidswêreld word ons gebreinspoel om God uit te tart en sy waardes en ordes te minag. Die wêreld en sy leiers is in openlike opstand teen God. 

Wat behoort ons as Christene se reaksie wees?

  • Ons moet met vasberadenheid teen die stroom van goddeloosheid swem. Dit vereis ‘n lewe volgens die liefde wat ten minste twee fasette insluit : “Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.” (Romeine 12:9) Liefde is nie normlose sentimentaliteit nie,  maar ‘n lewe binne die gebooie en grense wat God bepaal het. Daar kan nie iets soos ‘n “gay huwelik” bestaan nie, want dis ‘n verbreking van God se grense wat Hy vir die welsyn van die mens gestel het. Net so haat God egskeiding, want dit is niks anders as geweld nie! (Maleagi 2:16)

  • Ons moet die evangelie aan en binne in die sondige wêreld verkondig. Nooit mag ons vergeet dat God se genade boodskap van geloof en bekering juis vir sondaars, ja vir veragters van sy gebooie bedoel is nie. Jesus het immers gekom om sondaars te soek en te  red, die ergstes! Dis wat sy ontmoeting met Saggeus ons wil leer. (Lukas 19:10) Haatveldtogte is dus nie die antwoord nie, evangelieverkondiging wel! 1 Korintiërs 6:9-11 stel dit duidelik dat daar hoop en vergifnis is vir alle soorte sondaars wat hulle tot Jesus Chrstus bekeer!

  • Ons moet ons Goddelike plig en opdrag nakom om die goddeloses te waarsku. Dis juis God se manier om hulle te red, want God begeer nie die ondergang van die onregverdiges nie, maar juis hulle bekering. As ons hierdie Goddelike opdrag verontagsaam, gaan God van ons rekenskap eis. (Esegiël 3:18,19) Hierdie waarskuwings mag egter nie koue, afsydige en hardvogtige geraasmakery wees nie. Om die waarheid in liefde te praat. (Efesiërs 4:15) Dis die Bybelse balans.

  • Ons kan te midde van die wêreld en sy konings en presidente  se waansinnige opstand teen God, gerustellend weet : “Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit.”  Die goddelose mensdom en sy leiers, verbeel hulle dat God se gebooie (ook sy bepalings vir die huwelik)  ‘n juk is wat hulle kan afgooi. “Pasop, julle gaan soos ‘n kleipot flenters geslaan word! Wees gewaarsku, konings...Zuma, Obama, Hollande...”  (Psalm 2)

  • Wat die huwelik in besonder betref, rus daar ‘n groot verantwoordelikheid op ons wat Jesus se heerskappy oor ons lewens bely. Mag ons die aardse huwelik in woord en daad,  hoog en heilig ag, as ‘n lewende afbeelding van die volmaakte hemelse verhouding tussen die Lam en Sy bruid! Helse magte tier teen die huwelik, maar God wat ons losgekoop het deur die bloed van die Lam sal ons (en ons huwelike) bewaar, sodat ons eenmaal met vreugde kan aansit by die ewige  Bruilofsmaal!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.