BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 11 Mei 2012

'N GEES KAN NIE 'N GRAAF OPTEL NIE, 'N SIEL KAN NIE SPIT NIE...

- God is nie net besorg oor ons siele nie, maar oor ons hele menswees!

Dit help om te bid! Oor alles!  Gebed maak ‘n verskil! Dis ‘n seker feit,  want Jesus het mos reeds in Matteus 6:6 duidelik gesê : “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” Opregte Godgewilde gebed lewer resultate! Maar hoe lyk sulke gebed wat volgens God se bedoeling en wil is?  Om mee te begin : Dis nie nodig  om God met ‘n stortvloed van woorde te probeer dwing nie. (7,8) Dit gaan dus nie oor ‘n gebedstruuk of spesiale gebedsresep nie. 

Wat is ware gebed dan? Kyk gerus maar weer na die bekende Matteus 6:5-15.  Die Onse Vader wat Jesus self vir sy dissipels geleer het is die model waarop alle ware gebed geskoei is. (Ons hoef dus nie altyd net hierdie presiese woorde te bid nie, maar die fokus sal dieselfde wees) Verlede keer het ons na die eerste drie bedes gekyk. Die boodskap daaruit is baie duidelik : Ware gebed plaas die fokus op God. As ek werklik bid op die manier wat God wil hê ek moet bid, maak ek ‘n U draai. Ek skuif van die ek na die U! Ek veg nie meer vir my naam, my koninkryk (belange) en my wil nie, maar vir God ....  

Hieruit is dit duidelik, die groot meerderheid gebede sneuwel nog voordat ons begin bid het. 

Ons gaan mos na ons kamers met ‘n inkopielys wat draai om “I, me and myself.” Deur ons selfsugtige gebede verklaar ons eintlik : Here ek gee nie om of ek U eer nie, ek gee nie om wat gebeur met U kerk en U koninkryk nie, ek gee nie om of ek U wil gehoorsaam nie, maar asseblief Here, ek is so belangrik, ek het meer geld nodig, ek het ‘n beter man of vrou nodig, ek het soeter kinders nodig...ek, ek, ek,...” Weet julle en dan is ons nog vermetel genoeg om die Here te verwyt dat Hy nie gou genoeg spring en ons wenslys waar toor nie!

Ons moet dus altyd die boodskap van die eerste drie bedes onthou, as ons vir ons  behoeftes bid! Ja, jy het reg gehoor! 

Ons mag inderdaad ook vir ons eie behoeftes bid. 

Hierdie hele gebed kom mos uit Jesus se mond. 

Net eers oorsigtelik. Wat leer die laaste drie bedes vir ons?
~ Hierdie bedes is net bedoel vir mense wat hulle beywer vir  God se Naam, koninkryk en wil. Dis nie ‘n blanko tjek vir almal nie. Dis slegs  vir mense wat ‘n passie het vir God se eer. Slegs vir mense wat oppad is na die koninkryk.  Slegs vir mense wat ‘n verlange het om self volgens God se wil te leef. Die Onse Vader is dus in ‘n sin ‘n reisgebed op ons pad  na God se Koninkryk!
~ Terwyl ons so oppad is het Hy ons die voorreg gegee om sekere dinge van Hom te vra.  Hoekom? Ons as kinders van God het ook  bepaalde behoeftes en nood. Ons het fisiese versorging, voortdurende vergifnis en beskerming teen die bose elke dag nodig!. Vir hierdie dinge mag ons dus met vrymoedigheid vra. Hierdie gebed leer ons dus indirek, ook om ‘n realistiese verwagting te hê oor die tyd waarin ons ons nou bevind.  Ons kan verwag dat ons hierdie dinge nodig sal hê. Dis nie vreemd dat kinders van God,  hierdie behoeftes het nie. Wat ‘n wonderlike troos! Jesus skryf hierdie gebed voor omdat Sy Vader bewus is van ons omstandighede op die pad - ons behoeftes, nood, swakheid, gevare waarmee ons te kampe het... “Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (8)
~ Hierdie bedes is ‘n aanduiding van die Vader se besorgdheid oor ons hele lewe. God is nie net ‘n God van die siel nie. Hy is ‘n Vader wat oor die totale welstand van sy kinders besorg is. Al sy kinders s’n. 
~ Daar is geen plek vir selfsug in hierdie gebed nie. Let op : “Ons”.  Ware gebed bring ons by ‘n dubbele bekering : van ek na U, maar ook van my  na ons!

Kom ons kyk (baie kortliks) na die drie behoeftes waarvoor ons aangemoedig word om te bid:
  • Daaglikse brood.  As mense wat kinders van die koninkryk is, het ons nog steeds liggaamlike behoeftes. God weet dit. Ons is mense van vlees en bloed en ons Vader wil nie net in ons geestelike behoeftes voorsien nie, maar ook in tydelike en liggaamlike nood!  Ook ons liggame is belangrik. Ons weet mos  ‘n gees kan nie ‘n graaf optel nie! En by wyse van spreke : dis dikwels nodig in ons beywering vir die Koninkryk om ‘n graaf op te tel en te spit. Om fisies dinge te doen, om te leef en te werk as mense.   Daarom is dit so heerlik om te hoor dat ons mag bid vir “daaglikse brood” Die presiese vertaling van die woord epiousios ("daaglikse") is onbekend. Ons moet dit  uit die konteks probeer aflei. Die konteks is die voorrang van God se naam, koninkryk en wil. Hierdie brood (behoeftes) is dus nie bedoel om van vet  en  ryk te word nie. Dis nie in diens van die eie ek en die belangrike self nie! Dit gaan oor die praktiese lewensbehoeftes wat ek (ons) as mense nodig het  in ons beywering vir God  se Naam, koninkryk, wil...  “Nodige brood”* sou ook ‘n moontlike vertaling kon wees. Soos God vir sy volk voorsien het (deur manna), wat hulle nodig gehad het vir hulle reis oppad na Kanaän, so voorsien Hy in ons behoeftes oppad na ons ewige tuiste! En so terloops, ons weet die manna was vir elke dag net genoeg! Dit het daaglikse en voortdurende afhanklikheid van God in die hand gewerk.
  • Vergifnis. As mense van die koninkryk is ons nog steeds feilbaar. Ons kan steeds sondig! Ja, ook ware gemeentes van Jesus bestaan nog steeds uit gebroke mense! Hierdie bede verseker ons weer, daar is iets soos vergifnis! (Ps 130) Ons mag daarvoor vra vir myself en ook vir ander saam met my op die pad! Dit verhinder dat ons moed verloor en tou opgooi langs die pad van die geloof. Dit gee hoop, dit laat ons volhard!
  • Bewaring van die Bose.   As mense van die koninkryk het ons te make met die aanslae en versoekings van die Satan. Dis normaal! Juis omdat ons aan die kant van God en sy koninkryk is, is die Bose ons vyand. Ons kan hom nie met eie krag oorwin nie, maar moet daarvoor bid.  Hoe wonderlik. Ons het nie iets anders as gebed nodig om die Bose te oorwin nie! Nie botteltjies olie om aan ons huise te smeer, voorgeskrewe beswerings of ander bygelowe nie. Net ware Godgesentreerde gebed!


Is jy oppad na Koninkryk! Bid met vrymoedigheid vir al die behoeftes en nood wat ons op hierdie pad ervaar! Bid vir mekaar! 

* La Sainte Bible stel dit so :  “Donne-nous aujourd’hui la nourriture nécessaire

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.