BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 07 Mei 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (10)


- Babilon val!

Die klem in Openbaring val baie sterk op die sekerheid van oorwinning. (Onthou weer hierdie boek moes verdrukte gelowiges vertroos en aanmoedig tot volharding) Die oorwinning wat Jesus reeds deur sy kruisdood en opstanding behaal het, het heerlike gevolge. Hierdie vaste oorwinning gaan uiteindellik daartoe lei dat al die vyande van Jesus en sy kerk totaal vernietig gaan word. Dit word o.a. uitgebeeld deur die val van Babilon. (sien hoofstuk 18) Nou wie en wat is Babilon? Dis belangrik om nie hier allerhande raaiskote te waag nie, maar terug te gaan na wat die Skrif self sê.

Hier kry ons nog ’n duidelike voorbeeld van hoe Johannes ’n tema uit die Ou Testament neem en dit ’n ruimer inhoud gee, om ’n waarheid in sy geskrif oor te dra! Daar is  ’n merkwaardig opvallende ooreenkoms tussen wat Jeremia 50,51 oor Babel, Israel se groot vyand sê en dit wat Johannes  in Openbaring 18 oor Babilon sê. Kom ons kyk net na een voorbeeld. 

Vergelyk Openbaring 18:2 

“Geval, geval het die grote Babilon. Dit het die blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere.” (Skielike val en word ‘n puinhoop)

met Jeremia 51:8 

“Babel kom skielik tot ‘n val, hy stort ineen” (Skielike val)

en Jeremia 50:39

“Die stad sal bewoon word deur hiënas en jakkalse, daar sal volstruise bly; die stad sal nooit weer bewoon word nie, niemand sal ooit weer daar bly nie.” (Puinhoop)

Kyk gerus self ook na  Openb 18:4  en Jer 51:6 (vlug m.a.w. geen kompromie);  Openb 18:20 en  Jer 51:48 (vreugde oor haar vernietiging). So wie is Babilon? Babel was in die tyd van ou Israel die vervolger en verleier van God se volk.  In lyn met hierdie betekenis :  Babilon in Openbaring is al die vervolgers en verleiers van God se kerk. Die simbool van almal wat deur alle eeue God se volk wou skade aan doen. Ons kan dit dus nie vasmaak aan net een instansie of groep mense nie. Vir die eerste Christene sou dit duidelik gesinspeel het op die mag van die goddelose Romeinse ryk! In die tyd van die Reformasie het die ware kerk die bloeddorstige mag van die Roomse Kerk aan hulle lyf gevoel en daarom het hulle in Babilon ‘n verwysing na hierdie kerk gesien. Deur die eeue heen het die magte wat die kerk vervolg het, verskillende vorme aangeneem en verskillende name gehad. Die punt is net : Laat al God se kinders weet, Hy  sal beslis wraakneem op al die vervolgers van sy kerk, al lyk dit vir ons op hierdie oomblik dat hulle skotvry kom. God self neem wraak op sy tyd. (Vgl. Rom12:19)  Die loflied van die menigte in die hemel besing hierdie oorwinning. Openbaring 19:1-4. Hierdie finale vernietiging van die vyand sal gevolg word deur die Bruilofsfees van die Lam. (19:6-8) 

Die bruid (Jesus se kerk) word gekontrasteer met die prostituut/sedelose vrou,  Babilon! Die sterkste moontlike kontras : die rein heilige bruid van Jesus teenoor die sedelose onheilige prostituut.  Die prostituut Babilon met haar uitlokkende klere van mag, wellus  en ydele rykdom staan in skrille kontras met die bruid, wat versier is met die blink klere wat die regverdige dade van die gelowiges simboliseer. Vergelyk self Openb 18:16 met Openb 19:8. Hier in Openbaring 19 stel  Johannes  net die bruid vinnig voor en teken haar dan in detail vanaf Openb 21:9ev. (Sy word daar beskryf as die Nuwe Jerusalem).  ‘n Kontras dus  tussen tussen twee "stede", Babel en Jerusalem! Terloops, hy  gebruik dieselfde werkswyse met die prostituut, hy noem haar vinnig  in Openb 14:8 en gee volle inligting eers in Openb 17:1-6 (Lees) Dis ’n verdere bewys dat Johannes eers  temas kortliks aan die orde stel en dan later  al hoe duideliker uitbeeld - dit gaan nie oor kronologiese voorspellings nie! Dit gaan oor vaste sekerhede wat Openbaring verkondig om God se kinders te bemoedig!

Dalk 'n laaste vragie: Is jy deel van die Bruid, of gaan jy saam met Babilon? Dra ons die blink klere van heiligheid of vertoon ons die mag en wellus van die onheilige prostituut?


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.