BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag, 08 Mei 2012

NIE VOETE NIE

- maar God se versorgende genade hou my op my voete.

Soos dit gaan in alle beroepe en bedrywe, het stalletjiehouers by feeste en skoue ook ‘n standaardklagte. (of dit gaan oor verskoning of dalk 'n manier van selfvertroosting is, weet ek nie) In hulle geval is dit : “Hier is nie voete nie!” Ek weet, want ek het ook (seker  genoeg)  “gefees en geskou” vanuit ‘n boekstalletjie.  Kom ek vertel.

In 2004 het ek my as werklose in die Vaaldriehoek bevind. Maar God wat getrou bly, gee altyd weer uitkoms. Ons Vader versorg ons nie net wat betref ons geestelike nood nie, maar voorsien ook in ons fisiese behoeftes.  Hiervoor gebruik Hy normaalweg mense. In hierdie geval, was dit deur my aptekersvriend, Josef Coetzee van Sonlandpark Apteek, wat ook die baas van Woordverspreiding Uitgewers is. Hy het  my genader  met ‘n voorstel om Christelike boeke by skoue en feeste te verkoop. So het dit gekom dat ek in die winter van 2004 die boonste deel van die land met boeke, tafels en plakkate deurkruis het... in my Toyota Tazz 1300 en ‘n klein waentjie.

My eerste probeerslag was in Mei by die Pogietersrus Skou en ek het afgesluit met die Vaalharts Skou op Magogong in Oktober. In die tydperk het ek kennisgemaak met ‘n wye verskeidenheid van mense, plekke en dinge. Van die Garnaalkarnaval by Komatipoort tot die Gariepfees by Kimberley. So ver noord as Louis Trichardt en so ver wes as Upington.

Nou kyk, om ‘n stalletjiehouer by ‘n fees te wees is geen maklike werk of vinnige geldmaak nie. Beslis nie as jy Christelike boeke verkoop nie. Jou normale feesganger is nie juis daar om geestelike versterking te soek nie, maar om allerhande behoeftes van ‘n meer vleeslike aard te bevredig. Dis ook nie juis die lees-tipe nie, maar eerder die eet en die jol soort  wat by ons feeste aangetref word. (laat ek onmiddellik bieg, by ‘n werklike groot skou soos  Nampo, en die groot kunstefeeste soos KKNK en Aardklop was ek nooit nie) Ek moes dus baie hard werk om ‘n Christelike boek aan die (dikwels etende) fees en skougangers verkoop te kry. So moenie dink jy sit op ‘n stoel agter ‘n tafel en wag dat belangstellendes jou gretig nader nie. Nee, jy staan op jou voete, roep nader, bied ‘n gratis traktaatjie aan, praat en verduidelik! Ai, hoeveel keer het ek die belangstelling probeer wek deur te vertel van Bunyan se karakters wat hulself in die Kasteel van Vertwyfeling bevind het en deur die Reus Wanhoop gemartel is!  En nadat jy jou saak met oortuiging en entoesiasme gestel het, hoor jy dalk die gevreesde woorde, iets in die lyn van : “Ons kom maak later weer ‘n draai.” Dis een van die model antwoorde wat gedekodeer,  min of meer beteken : “Jy het nou klaar jou asem op ons gemors. Ons sien jou gelukkig nooit weer nie.”  Nou, ja, met wie gaan ek die volgende oortuigingsgesprek aanknoop...?

Maar die boekverkopery het darem baie meer as net  teleurstellings en seer voete opgelewer.  Inderdaad het ek baie van Bunyan se “Die Christen se Reis na die Ewigheid” verkoop.  Maar daar was ook ander bonusse....die opwinding van nuwe mense leer ken, onverwagse herontmoetings en sommer  ‘n verskeidenheid van ervarings!  Verrassings! Na baie jare het ek my Matriekafskeidmeisie op Upington se Kalahari Kuierfees raakgeloop en my niggie in Kimberley.  Op Lichtenburg, ‘n toegewyde Christen  Afrikaanssprekende vrou wat aan die Russies Ortodokse kerk behoort. (Rita O’Sullivan, ek wonder wat het van jou geword?) Die groot voorreg om tydens my besoek aan die Ellisras Bosveldfees saam met André en Janet Botha van Bushveld Biltong House te kuier. (Julle groot liefdesgawe was op daardie tydstip in ons lewens besonder kosbaar) Willie Korb se aangrypende getuienis van genade wat hy op Brits met my gedeel het... Hendrik Pretorius wat my op Nelspruit kom bemoedig het. Annette Olivier op Komatipoort  wat vir my pannekoek gebring het.  Phillip Gittens se gasvryheid en ondersteuning in Kimberley. Gert Oosthuizen hulle by wie ek op Secunda kon oorbly... En, Josef, weereens dankie vir die geleentheid. Aan julle almal sommer ‘n groot dankie, en mag die Here julle ryklik seën!

Ja, uit ‘n stalletjiehouer se oogpunt, was daar nooit genoeg voete en verkope nie. Maar ook in hierdie tye het die Here vir my (en my gesin) op ons voete gehou en nooit laat val nie. Ook hierdie was ‘n tydperk van ryke genade en onverdiende guns!



Ek en my boeke op Brits 2004

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.