BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 21 Mei 2012

RAAKVAT REGTE RAAD

- wat “stukkende” stene weer deel maak van ‘n Goddelike tempel!

Ons bevind ons almal dikwels in ’n situasie waar ons moet raad gee. Spesifiek ook vir mense wat geestelik in die nood is. Berading is egter ’n uiters moeilike en gevaarlike saak. Dis moeilik, want mense se probleme  is so kompleks. Daar is ‘n spesifieke agtergrond, daar is omstandighede, daar is ’n verskeidenheid van persoonlikhede, daar is moontlik ook die menslike element van valsheid aanwesig. (Mense wat raad soek  is dikwels nie eerlik oor die presiese aard van hulle probleem nie, en wil eintlik net hoor wat hulle pas)  Dan is dit ook nie altyd duidelik of die betrokke persoon werklik  ’n Christen is of nie. Dit alles maak berading uiters riskant. Verkeerde raad  kan inderdaad gevaarlik wees. Dit kan iemand nog dieper in geestelike ellende laat beland. Verkeerde raad kan valse gerustheid gee of aan die anderkant iemand onnodig bekommerd maak.

So watter raad is die beste? (Maak asseblief jou Bybel oop by 1 Petrus 2:4-6.)

Petrus gee  raad in 1 Petrus 2:4 waarmee mens nooit verkeerd kan gaan nie. 

“Kom na Hom  (Christus) toe!”

Nou sal die vraag by jou opkom : Is dit regtig sinvolle en genoegsame  raad? Kan dit ’n daadwerklike verskil in mense se lewens maak? Is dit nie maar eintlik ’n niksseggende en oppervlakkige cliché om vir mense te sê : “Kom na Christus” nie?  Is dit nie ‘n oorvereenvoudiging nie?  Bied Jesus werklik ’n omvattende en realistiese oplossing vir die mens in nood?

Petrus gee vir ons antwoorde op hierdie vrae as hy vir ons die heerlikheid van Jesus Christus uiteensit deur ‘n baie treffende beeld.  Christus word  beskryf as die “lewende steen”. Wat bedoel hy met die lewende steen? Met "lewende" bedoel Petrus nie maar bloot dat Christus leef nie - dit gaan spesifiek hier oor die diepere implikasie van die opstanding. Dis juis deur die opwekking uit die dood wat God, Jesus tot hoeksteen gemaak het.  Die merkwaardige is dat hierdie Steen, Jesus Christus deur die Joodse volk, maar ook deur die mensdom in die algemeen verwerp is. (Weggegooi daar eenkant op die “site”) Jesus is geminag, afgekeur en verstoot tydens sy hele lewe op aarde. Dit was die duidelikste toe Hy veroordeel is om as ’n misdadiger te sterf. Die mensdom skreeu dit as’t ware uit : “Jesus is niks vir ons werd nie!" (dis vandag nog so) God dink egter radikaal  anders oor Jesus. Hy beskou Hom as waardevol en uiters kosbaar en bruikbaar. Die steen wat daar eenkant weggegooi lê, word as’t ware deur God opgeraap.  God verklaar deur die opwekking van Jesus uit die dood : “Hierdie Steen is presies wat ek nodig het vir my bouplan.” Wat ’n kontras - verwerp deur mense, maar uitgekies deur God! Dit plaas die opdrag om na Jesus te kom in ’n gans ander lig. "Kom na Jesus" beteken dus: “Volg God se keuse en nie mense s’n nie!” Om na Jesus te kom is die regte ding in God se oë, want Hy, Jesus is God se keuse! (vir mense wat konkrete verwerping en lyding ervaar het soos Petrus se lesers, sou hierdie woorde van Petrus nog soveel meer vertroosting gebied het. Ons troos en redding lê in Hom wat ook nes ons deur die wêreld verwerp is! God kies Hom wat deur die wêreld verwerp is, net so kan ons as verworpenes ter wille van Jesus seker wees van God se ewige guns!)

Petrus haal aan uit Jesaja 28:16 “So sê die Here my God : Ek gaan in Sion ‘n klip neersit, ‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op Hom vertrou hoef nie te vlug nie.”  Hierdie profesie van Jesaja is oorspronklik gerig aan die leiers van Jerusalem wat dwaaslik geglo het dat hulle veilig was. (sien verse 14 en 15) Hulle het gedink hulle is onaantasbaar teen die dreigende inval. God verklaar dat hulle hoogmoed geen skuiling sal bied nie. Net een gebou sal bestand wees teen die komende verwoesting, naamlik God se gebou, gebou op die uitgesoekte klip. Slegs die skuilplek wat God self sal voorsien, bied veiligheid.  En dis presies wat Jesus vir ons is! In Jesus is daar skuiling en sekuriteit teen God se oordele. In verbintenis aan Hom word ek deel van God se onverwoesbare gebou. Ja, die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Wat gebeur dus  as ek na Jesus kom? As ek aan Hom vas gemessel word?  Ek word ook deel van God se bouwerk, deel van God se argitektuur!  Deur my te voeg by die hoeksteen (Christus) word ek deel van die gebou. Petrus beskryf hier wat gebeur met iemand wat homself blywend aansluit by Christus. So ’n persoon word deur God as ’n lewende steen in sy huis ingevoeg.
Die geestelike huis is God se tempel, met ander woorde die kerk op aarde. Dis waar God woon. (1 Korintiërs  3:16) Petrus verskuif dan die beeld effens.  Die lewende stene, dit wil sê mense wat verbind is aan die lewende Steen, Christus is terselfdertyd ook priesters in die tempel. Mense wat toegewy is aan God, in diens van God. Hierdie priesters, (almal wat in geloof aan  Christus verbind is)  bring offers waarvan God hou. Aanneemlike offers beteken ’n lewe voor God wat Hom welbehaaglik is! (Van Houwelingen)* So word daar eer aan God gebring, so word daar aan die hoogste doelwit van menslike bestaan beantwoord. Al hierdie heerlikheid gebeur wanneer ek na Christus kom, as ek aan Hom verbind is.

My lewe is eers sinvol as ek aan Jesus verbind is!

DIE REGTE RAAD

Ons  het gepraat oor raadgee aan mense in nood. Dis eerstens belangrik om te verstaan : Waaroor gaan mense se diepste nood?  Die basisprobleem is : Ons voldoen nie aan ons skeppingsdoel nie, omdat ons sondaars is!  Ons leef nie werklik tot eer van God nie, ons kry dit nie reg nie, vanweë my eie sondigheid. (die mens dink natuurlik altyd dat die probleem elders is, soos by my agtergrond, ouers, huweliksmaat...Nee, die fout skuil in my eie bose hart!)  Dit kom daarop neer, ek is nie die mens wat ek moet wees en wat God wil hê ek moet wees nie.  By wyse van spreke, ek het ‘n nuttelose steen geword. Goed vir niks!

Nou wat is dan die regte raad vir diegene wat sê : “Ek is nie goed genoeg nie, ek is nie nuttig nie, ek het ‘n swak selfbeeld, ek word geteister deur al my mislukkings, ek voel so skuldig oor als wat al verkeerd geloop het....”   Die regte raad is : “Kom na Christus!” Hoekom? In Christus alleen is ek vir God aanvaarbaar en bruikbaar. Onthou Christus is deur God gekies om die hoeksteen van sy tempel te wees. God kies almal wat saam met (in) Christus is om ook deel van sy tempel te wees. Die status van Christene is afhanklik van die status van Christus, want hulle is aan Hom verbind. Verbind aan Jesus, word ek die weggegooide, stukkende steen, God se spesiale steen wat Hy op ‘n spesifieke plek in sy gebou wil gebruik! Dit verander als!

Die oplossing vir stukkende mense (stene) is dus : Volkome vertroue op Jesus en sy genoegsame offer aan die kruis,  ’n vasgryp van Hom, nadere kontak met Hom. Roep sy Naam aan! (Rom 10:13) Gehoorsaamheid aan Hom. Verdere groei in kennis van Hom, binne die konteks van ‘n gemeente waar Hy in waarheid gedien word! Ons as mense se diepste primêre behoefte is aan Jesus Christus self. Dis baie belangrik dat ons nie bloot simptome (uiterlike probleme) aanspreek nie, maar mens se werklike nood  en dis die behoefte aan vrede met God deur Jesus Christus!

As ek sê dat  “Kom na Jesus” die regte raad is, bedoel ek dis die basiese en wesentlike raad, wat die wesentlike nood van mense aanspreek. Ek bedoel nie dis verkeerd om ander praktiese riglyne uit die Woord aan mense te gee (oor huwelik, gesin, kinders, finansies ens.) nie. Alle praktiese riglyne sal egter eintlik op een of ander manier juis aansluit by hierdie basiese opdrag. Dis tog eers as ek werklik by Jesus vrede gevind het en my aan Hom onderwerp het, dat ek kan begin werk aan my huwelik, sal weet hoe om my kinders te hanteer,  leer hoe om ook my finansies volgens sy wil te bestuur ens.


POSITIEWE RAAD

Kom ons benader berading uit ‘n baie positiewe hoek. Nie “wat is jou probleem?” nie, eerder 'n positiewe uitdaging: “Wil jy graag dat jou lewe ’n sinvolle offer van dankbaarheid sal wees, wat aangenaam voor God is?”  Dis slegs moontlik deur te skuil by Jesus Christus, die vlekkelose offerlam van God wat al ons onvolmaakthede bedek. Verder : “Wil jy deel wees van die imposante tempel van God wat verlig word met sy teenwoordigheid  en weerklink van lofsange tot sy eer?” Die antwoord is  : “Kom na Jesus.” As jy verbind is aan Jesus die lewende Steen, gebruik God jou tot sy eer.  As jy vas aan Jesus is, is jy God se keuse vir Sy gebou, want Hy het Christus gekies.  My waarde en bruikbaarheid lê nie in myself nie, maar in Jesus Christus aan wie ek verbind is. Hoe wonderlik om te besef - ons as “sondige stene” het baie growwe kante, onafgewerk, vol krake, eintlik onbruikbaar,  maar as ons in Christus is, word al ons defekte uitgekanselleer deur sy soendood en is ons geskik, meer nog, uitgekies vir sy gebou tot sy eer!  Aan die ander kant.  As jy op jou eie bene wil staan, op jou eie goedheid, godsdiens of mooi hoedanighede wil staatmaak, is jy sommer net ’n gebarste steen, deel van die ontsierende hoop bourommel en bestem vir die ashoop! Niemand kan bekostig om nie verbind te wees aan Jesus die lewende hoeksteen nie!

Weereens. Wie jy ook al mag wees. Die beste raad wat ek jou kan gee, is duidelik en eenvoudig: “KOM NA JESUS”

Hoor dan die belofte in vers 6 : “Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”  Kom jy?

* Daar is gebruik gemaak van Clowney en Van Houwelingen se kommentare


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.