BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 24 Mei 2012

LEI DIE GEES MY?

- ek hoor dan nie stemme nie!   

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing : Vader,  Seun en Heilige Gees. Hier in die Pinkstertyd is dit gepas om te praat oor die praktiese rol wat die Heilige Gees in elke kind van God se lewe speel. (maak gerus oop by Romeine 8)

Die Heilige Gees is nie ‘n teorie of krag  nie; Hy is ‘n  lewende Persoon. Hy is onmisbaar in ons verlossing.  Ek kan nie sonder die Heilige Gees die evangelie aanvaar nie. Dis onmoontlik om sonder die oortuigingswerk van die Heilige Gees vir Jesus Christus waarlik te ken. Daar is ‘n onmisbaar noue verband tussen Christus en die Heilige Gees.  Trouens, Hy word spesifiek genoem die Gees van Christus. (Vers 9)  Dis Hy wat Jesus aan ons openbaar en in ons harte werk dat ons waarlik in Hom kan glo. Belangrik : Die Heilige Gees werk nie net eenmalig in mens se lewe nie, maar Hy lei die kind van God op ‘n daaglikse basis. In Romeine 8:14 stel Paulus dit as ’n feit:

“Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”

Dis waar van elke kind van God. As ek nie deur Heilige Gees gelei word nie, is ek nie ’n kind van God nie.  Maar wat beteken dit nou prakties? Beteken dit dat ek nou gedurig stemme hoor, skimme sien of drome droom? Dis allermins wat hier in Romeine ter sprake is.  Die konteks waarin Paulus  hierdie uitspraak maak  is belangrik. Dit gaan oor ’n nuwe lewe wat vereis dat ons ons sondige praktyke moet uitroei en gehoorsaam raak aan God se wil. Kom ons kyk na 'n paar maniere hoe die Heilige Gees elke kind van God in hierdie opsig lei :
1. Hy gee aan my ’n nuwe lewensuitkyk : God raak vir my belangriker as geld,  goed en genot. (1 Korintiërs 2:12) Die Gees laat my die waarde van God se genade en vergifnis, wat ek deur Jesus ontvang, besef. Hy gee my insig in en aptyt vir geestelike dinge. Ek ervaar ‘n honger na die Woord, die Bybel gaan vir my oop, ek geniet geestelike gesprekke. (Voorheen was dit dor en droog en irrelevant). Toets jouself : sien jy uit na gemeentelike byeenkomste of voel dit soos ’n straf?  Hy wek ook  ‘n liefde in my vir ander Christene; hulle gesprekke en belewenisse maak nou vir my sin. Die Heilige Gees  laat sien my die hele lewe vanuit ‘n  ewigheidshoek. Ek sien my aardse bestaan as ’n pelgrimsreis na ’n beter bestemming. Iemand wat deur die Gees gelei word,  sien uit  na die heerlike erfenis wat alle  smart van nou by verre sal oortref! (Rom 8:18)

2. Hy wek in my ’n begeerte om tot God, my Vader se eer te leef. Die Vaderskap van God word vir my ‘n persoonlike werklikheid. Hy bewerkstellig ‘n innige band tussen my en my Hemelse Vader!  (Rom 8:15) As die Heilige Gees my lei, leef ek ‘n lewe voor die aangesig van God. En ek vra nie meer wat mense dink nie nie, maar : “Vader, wat is U wil?” Die Heilige Gees maak my dus bekommerd oor my gebrekkige liefde vir God en laat my smag na ‘n inniger verhouding met Hom. Hy bring ook kommunikasie tussen my en my Vader tot stand deurdat Hy vir ons pleit. (Rom 8:26)

3. Hy laat my die heerlikheid van Jesus, sy genoegsaamheid en genade, raaksien, juis in die konteks van die bewustheid van my sonde! Ek besef die allesoortreffende  waarde van Jesus (die kosbare hoeksteen). Ja, ander mense weet dalk  van Hom, maar dis waar dit eindig. Die Heilige Gees verheerlik Jesus en  openbaar Hom en sy werk aan ons. (Joh 16:14) Waar die Heilige Gees mense lei, val die fokus op Jesus en sy werk. Soos  ligte (floodlights)  ‘n gebou in die aand verlig, nie om die fokus op die ligte te plaas nie, maar op die gebou.

4. Hy maak my toenemend bewus van my sondigheid. Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer raak ek bewus van sondige gewoontes, denkwyses en  motiewe wat nog in my binneste skuil. Onthou Hy is die Heilige Gees! Hy is heilig en kan nooit met enige sonde kompromie maak nie. Hy maak mens sensitief vir versoekings en sonde. Hy wek in my ’n kommer en  hartseer oor my sonde. Die ongelowige is wel ook soms teleurgesteld in homself of voel sleg oor die gevolge van sy sonde. Die Heilige Gees laat my egter  besef, dis teen die Here wat ek gesondig het. Soos  Dawid in Psalm 51:6  ervaar het. 

Die Heilige Gees  stem my versigtig en onrustig oor sekere  plekke of persone. Ek weet net : “Bly weg hier. Dis gevaarlik vir jou wandel met God!”   

Die Heilige Gees lei mens dus om in alle situasies teen die wêreld en sy aanloklike begeertes te kies en vir die  navolging van Jesus.

5. Hy gee positief in my hart ’n begeerte na geregtigheid. ‘n Honger en dors om te doen wat reg is. Hy laat my ook oorgaan tot aksie om teen sonde te stry en dit uit te roei. Dis waarskynlik die belangrikste inhoud van wat dit hier beteken om deur die Heilige Gees gelei te word, want vers 13  onderstreep die belangrikheid om alle sondige praktyke in ons lewens uit te roei. Ons self moet praktiese stappe neem, maar dis die Heilige Gees wat ons oortuig van wat verkeerd is en die krag en moed gee om daadwerklik op te tree.

Romeine 8:13 sê : “...maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.”

6. Die Heilige Gees gee ons nie net krag om die verkeerde uit te roei nie,  maar produseer positiewe vrug in ons lewens. Die  vrugte van die Gees. Galasiërs 5:22  (Lees) Alle Christene sal al die vrugte vertoon in toenemende mate. Die Gees lei ons dus om heilig en al heiliger te leef!  

Alle Christene het die Heilige Gees en alle Christene word gelei deur die Heilige Gees. Sonder sy werk in ons kan ons nie kinders van God word nie en ook nie as kinders van God leef nie! Kom ons bid vir ‘n groter bewuste werk van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons verbind ons tot ‘n groter gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding, spesifiek om teen sonde te stry en dit uit te roei. 

* Dis in hoofsaak dinge wat  D.Martyn Lloyd-Jones in sy reeks oor Romeine noem.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.