BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 09 Oktober 2015

WAARHEEN NG KERK?

Het die Algemene Sinode nou regtig die doodsklok gelui?



Die skokkende besluit van die NGK se Algemene Sinode (AS) 2015 oor selfdegeslagverhoudings slaan elke Bybelgelowige plat, dit maak jou benoud, kwaad, verleë, hartseer en sommer ‘n klomp ander dinge... Die Sinode het besluit dat sodomie amptelik in die kerk bevestig/geseën mag word! (2.2). Praktiserende homoseksule mag nou predikante word! (2.5) Die feit dat gemeentes self diskresie mag gebruik in die toepassing van hierdie bose besluite (2.6) is maar ‘n klein troos en paai prys in ‘n poging om te keer dat als nie uitmekaar spat nie.



Tog moet mens seker ook nugter oor die praktiese rol, invloed, funksie en werklike gesag van die Algemene Sinode in die NG opset besin voor jy dalk tot oorhaastige gevolgtrekkings en aksies oorgaan.

Glo dit as jy wil, die AS het eintlik hoofsaaklik ‘n simboliese rol in die daaglikse praktyk van NG gemeentes. Kom ek stel dit maar kaalkop reguit : min lidmate steur hulle hoegenaamd nog aan die AS, omdat daar ‘n reuse verwydering tussen die elite leierskorps en gewone gelowige lidmate ontstaan het. Die Belhar katastrofe het dit onlangs mos weer duidelik bewys. Die AS het Belhar as opsionele belydenis goedgekeur maar die kerkvolk (veral op gemeentevlak) het dit duidelik verwerp! Maar daar is ook baie ander besluite van die AS waaraan lippediens bewys word, maar wat niemand juis ernstig opvat nie en waar elke predikant en gemeente maar maak soos hulle wil. Dink maar aan die VBO puntestelsel vir leraars. Daar is min ouens wat dit nog ernstig opvat en die administrasie daarvan is chaoties! Maar ook oor ander omstrede sake soos die vrou in die amp en kindernagmaal of oor wie laat ons op ons kansels toe, maak elke gemeente regtig maar soos hy wil.

Die AS verdien nie juis om ernstig opgevat te word nie en is bekend vir oorhaastige ondeurdagte besluite. ‘n Paar jaar gelede (ek was toe nog predikant binne die Sinode van Noord-Kaapland) is daar met groot fanfare ‘n aksie deur ABID geloods om ‘n sentrale registerstelsel vir lidmate op die been te bring. Dit het totaal misluk. (gaan vra hulle maar hoekom?)

Op papier lyk die AS se rol indrukwekkend en gaan gepaard met groot vertoon, maar in praktyk het dit weinig meer gesag as die van ‘n skooldebatsvereniging se dagbestuur.

Die samestelling van die AS het ook noodwendig meegebring dat hierdie liggaam weinig geloofwaardigheid het. Dis ‘n verkleinde sinode waarop nie elke gemeente verteenwoordig is nie. Dit het tot gevolg dat 200 mense (helfte ouderlinge, helfte predikante) besluite neem vir ‘n hele groot kerk. Die samestelling van die AS bevorder liberalisme, want die NG Kerk se liberale fakulteite word verteenwoordig deur dosente wat as ouderlinge in die sinode dien.

En dis by hierdie einste fakulteite waar die dood in die pot gevind en gebrou word. Hier word ons teologiese studente opgemors in plaas van opgelei. Dit voorspel niks goeds vir ons kerk se toekoms nie... Maar ek voorsien dat NG gemeentes al meer ander opsies sal oorweeg as bron vir nuwe predikante. As ons besluit om iemand te beroep wat by ‘n ander Bybelskool of universiteit gestudeer het, wie gaan ons keer? Wat dan van die kerkorde, legitimasie en dergelike dinge, wonder jy? Kom ek vertel jou, die kerkorde word slegs baie bolangs toegepas... Ek kan jou noem van ‘n geval hier in ons einste Namibië waar ‘n predikant sonder ‘n kerkraad hom self sommer demissie verleen het...

Natuurlik veroorsaak die dwalinge van ons AS groot smart en verleentheid, maar op die ou end word die geestelike karakter, temperatuur en handelswyse van ‘n gemeente deur haar kerkraad bepaal. Die AS het dalk regtig die doodsklok gelui (dis seker hoekom hulle op ‘n stadium swart gedra het), maar dis dalk ‘n profesie oor hulle eie bestaan, geloofwaardigheid of aansien en nie noodwendig die einde van Bybelgetroue gemeentes en hulle lidmate nie!

TROOS UIT DIE SKRIF

En nou? Kom ons kyk na die Skrif. Uit 2 Timoteus 3&4 het daar vir my groot bemoediging en duidelikheid gekom.

Die AS (natuurlik nie almal wat daar was nie) word so treffend beskryf : “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.” *

Maar daar is hoop en raad en vertroosting vir elke getroue volgeling van Jesus : 

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” 

Hierdie basis lei tot ‘n baie duidelike opdrag wat ons nie gering mag skat nie :

“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Laat ons terwyl die AS hulle met fabels besig hou, die Woord aanhou verkondig!


SELFDEGESLAGVERHOUDINGS


Die Algemene Sinode het op Vrydag 9 Oktober soos volg besluit:

1 Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.

2 Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ʼn verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.

3  Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ʼn huwelik beskou word.

4  Die Algemene Sinode besluit om in die lig van pt 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.

5 Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie van ordening van alle persone.  Punt 7 van die besluit van 2007 verval.

6  Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.

7 Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ʼn gees van Christlike liefde te doen.

8  Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ʼn  ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan.  Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ʼn selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinoge van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.

9 Die Algemene Sinode besluit om ʼn Christelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van voorafgaande besluite.  Hierdie saak word ook verwys na die Projekspan vir Leer en Aktuele Sake, wat reeds ʼn soortgelyke opdrag in A.8.2 bl 172 punt 7.4 ontvang het.

10  Die Algemene Sinode besluit om ʼn bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.


Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense wat seergekry het en wie se waardigheid aangestas is weens enige homofobiese taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie vergadering.

2 Die Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ʼn diepe oortuiging van die diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan.


Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Die Algemene Sinode dra dit aan die Algemene Steunspan Regte op om die kerkregtelike- en regsimplikasies van enige besluit(e) insake selfdegeslagverhoudings te ondersoek met verslag en aanbeveling aan die Algemene Sinodale Moderamen.
2 Die Algemene Sinode neem kennis dat volgens die Civil Union Act (Wet 17 van 2006) vereis word dat denominasies skriftelik by die Minister moet aansoek doen om toestemming te verkry om selfdegeslagverbintenisse te voltrek (vergelyk Klousule  5 wat soos volg lees: Designation of ministers of religion and other persons attached to religious denomination or organisation as marriage officers:  (1) Any religious denomination or organisation may apply in writing to the Minister to be designated as a religious organisation that may solemnise marriages in terms of this Act).


Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees  “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.


2 Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudinge nie afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.

[ Die Namibiese regering is dus meer Bybels as die NG Kerk,! Die implikasie is dat die kerk eerder landswette respekteer omdat ons daartoe gedwing word as God se wette wat in Sy Woord staan. Dit troos maar min , want punt 5 is van toepassing en dit beteken in beginsel dat onbekeerde pratiserende homoseksuele predikante bevestig mag word in ons gemeentes]

*Net so 'n raak beskrywing van die AS kry mens in Judas vers 4 "Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus."

12 opmerkings:

  1. Baie dankie ook vir jou moedige bydrae tot die stryd dominee. Vir ons as lidmate is dit maklik, maar dit vra 'n prys, dat 'n standpunt ingeneem word wat dalk ongewild mag wees, en daarvoor het ek groot waardering. Seënwense op jou bediening, mag die Here gee dat daar véél vrug sal wees.

    AntwoordVee uit
  2. Johannes, dankie vir hierdie oorsig. As predikant van die NG Kerk is ek geskok met die besluit. Ek kan glad nie daarmee saamgaan nie en sal my lidmaatskap van die NG Kerk nou ernstig moet oorweeg. Miskien is dit maklik vanuit Engeland waar mens op die rant van die NG Kerk is met geen werklike direkte belange in die Kerk nie. Ek stem egter nie met jou saam dat die Algemene Sinode geen gesag het nie. Hulle is nog steeds die erkende publieke leiers van die NG Kerk. Wat deur hulle besluit word het 'n direkte impak op elke plaaslike gemeente omdat die res van die gemeenskap die sienings van die Algemene Sinode aanvaar as die sienings van die NG Kerk in sy totaliteit. Elke gemeente en predikant sal moet besluit of hulle deel wil wees van 'n kerk wat selfdegeslagverhoudings goedkeur. Selfdegeslagverhoudings is besig om in die Westerse wereld die speerpunt te word vir die vervolging van Christene. Ons kom by 'n punt waar Christene hulle werk verloor en selfs tronk toe gaan omdat hulle selfdegeslagverhoudings afkeur.

    Groete vanuit Engeland

    Sas

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja, Sas, dis wat ek probeer oordra het, die AS het 'n simboliese gesag, dit bepaal heeltemal tereg soos jy sê die persepsie van buitestaanders oor die NGK. Wat die praktiese gesag betre is dit'n ander storie, sommiges het al gayverbintenisse bevestig en gay pare se kinders gedoop nog lank voor hierdie besluit. Dis my punt, almal maak in die NGK in elk geval soos hulle wil. Joupunt oor die vervolging is absoluut waar - Bybelse Chrstene gaan vervolg word , want ons is mos "intolerant/onverdraagsaam" en die grootste aanhitsers van vervolging gaan dalk die kerk wees?

      Vee uit
  3. Oor die rol en gesag van 'n AS ( en dus ook AS2015) - daar is perke volgens WET. Lees hierdie arikel - ek plak die slotsom ook hier:
    http://www.ve.org.za/index.php/VE/article/view/724/1139

    SLOTSOM:
    Die NG Kerkfamilie behoort op weg na eenwording deeglik kennis te neem van die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl op 27 November 1998. Die volgende regsaspekte kan uit vermelde uitspraak afgelei word:
    1. Die gesag van meerdere vergaderings is beperk. Die Algemene Sinode is geen permanente bestuursliggaam nie. Die bevoegdheid van die Algemene Sinode eindig by die uiteengaan van die vergadering. Die regte van minderhede word in die kerkorde verskans.
    2. Kerke moet daarteen waak om buite hul bevoegdheid [ultra vires] te handel, andersins sal ’n burgerlike hof verplig wees om die handelinge ter syde te stel. Die Algemene Sinode is gevolglik nie by magte om ’n besluit in stryd met die kerkorde te neem nie. Die Algemene Sinode kan nie eensydig ’n gemeente se bates neem, of die gemeente se aard en identiteit verander of ontbind nie, of die kerkverband verander en ’n ander kerk stig nie.
    3. Die Nederduitse Gereformeerde kerk word beskou as ’n vrywillige of onderlinge vereniging [collegium] waarvan die lede kontraktueel verbind word deur die betrokke kerkordes. Die beginsels wat tradisioneel by ander vrywillige organisasies geld, asook kontrakbeginsels, geld dus ook by kerke.
    4. In die Gereformeerde stelsel is elke plaaslike gemeente die sigbare openbaring en organisasie van die kerk en is op sigself volledig kerk. Die bevoegdheid tot die ontbinding van ’n gemeente of die verandering van ’n kerkverband berus nie by die Kerkraad nie, maar by die gemeente. Die Suid-Afrikaanse howe beskou die plaaslike gemeentes van die verskillende denominasies konsekwent as regspersone. As regspersoon is die plaaslike gemeente die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse. Die Algemene Sinode beskik dus nie outomaties oor die voorgesette regspersoon en bates van gemeentes nie. Die Algemene Sinode kan slegs tot kerkvereniging en die stigting van ’n nuwe kerk oorgaan indien goedkeuring daarvan volgens die voorgeskrewe kerkordelike reëlings verkry is.
    5. Kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenis het nie, of wat dieselfde belydenisskrifte verskillend vertolk en kerkregtelik verskillend georganiseerd is, is nie moontlik nie aangesien eenheid in belydenis die samebindende faktor by die kerkverband is. Die belydenisgrondslag van die kerk kan alleen gewysig word mits daar aan die formele kerkordelike vereistes voldoen word.

    AntwoordVee uit
  4. Baie dankie Johannes vir 'n netjiese en waardevolle waarneming van die NG Kerk.
    Ek sal net wil opmerk dat dit vir my sleg is dat hierdie duur en liberale debatsvereniging met ons dankoffergeld in stand gehou word.
    Verder is die debatsvereniging 'n nuusmaker. Op radio en TV gee dit nou geleentheid vir 'n sekulêre wêreld om voort te bou aan 'n afvallige lewenswyse. Om die homoseksuele lewenswyse te romantiseer word nou beskou as die regte ding, ja die Christelike ding om te doen.
    Jan Louw

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja mens wil huil oor die skade aan die beeld van die kerk...

      Vee uit
    2. Sou dit nie moontlik wees vir gemeentes om hierdie geld te weerhou, solank die sinode sy standpunt handhaaf, of solank as wat die geld gebruik word om die sinode in stand te hou nie?

      Die sinode is egter net die simptoom van die werklike probleem:

      "En dis by hierdie einste fakulteite waar die dood in die pot gevind en gebrou word. Hier word ons teologiese studente opgemors in plaas van opgelei."

      Dis eintlik al lankal tyd die die skrifgetroue gemeentes saamstaan, en 'n nuwe Teologiese skool begin vir die opleiding van hulle predikante. Alternatiewelik kan die moontlikheid oorweeg word om predikante by die Potch op te lei. Die teologie grade van Tukkies en Unisa kan eenvoudig nie meer erken word as geldige kwalifikasie vir predikante nie, omdat daar 'n teen-Christelike, liberale vooroordeel heers. Ek sê nie dat die liberale kritiek op die Bybel van die studente weerhou moet word nie - dit sal hulle ontmagtig. Wat ek wel sê is dat hulle beide die kritiek, *en die Christelike antwoord op die kritiek* moet aanhoor. Die lig van die Woord skyn die helderste wanneer jy dit teen 'n donker agtergrond hou.

      Soos dr James White - Christelike apologeet - sê: Konserwatiewe teoloeë lees wat die liberale teoloeë sê, en antwoord daarop. Maar liberale teoloeë luister net na hulle eie kant, want hulle glo nie die konserwatiewe geleerdes het iets sinvol om by te dra to die gesprek nie.

      Derhalwe moet die konserwatiewe teoloeë kennis neem van die liberale argumente, en die liberales tot debatvoering uitdaag, sodat die bankrotskap van hulle teologie ten toon gestel kan word. Dr White voer nou sy 150ste debat in Durban teenoor 'n Islamitiese oponent, en dit is werklik verrykend om aan te hoor hoe hy die geloof op 'n ingeligte, waardige, en christelike manier verdedig.

      Vee uit
  5. Dankie Johannes vir jou getroue standpunt en oproep tot getrouheid. Dis voorwaar 'n tyd van groot afval en waar mense in hul gehoor gestreel wil word. My hart is seer al is ek nie in die NG Kerk nie. Dit raak almal wat die kerk liefhet en die koninkryk van God liefhet. Mag die Here julle wysheid gee hoe om getrou te wees en 'n getuienis te wees. Mag die Here herlewing stuur!
    Groete
    Jimmy

    AntwoordVee uit
  6. Wanneer mens gaan kyk na Alice Bailey van die "New World Order" se 10 punt plan is alles wat sy daar aanraak besig om in vervulling te kom in hierdie wereld wat ons ken. Dit is egter ons as gelowiges se keuse of ons daaraan gaan toegee of nie. Ek bid net dat ons Here Jesus Christus ons sal bewaar van hierdie mense wat besig is om hierdie plan in werking te stel. Gaan "GOOGLE" dit gerus en julle sal sien wat ek bedoel.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.