BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 30 Oktober 2015

MODERAMEN VAN NAMIBIESE SINODE

het "selfstandig geoordeel om nie die Algemene Sinode se 2015-besluit te ondersteun nie."

Ek plaas die jongste skrywe vanaf die Namibiese moderamen hier onder:*

Van die moderamen, verkose voorgangers in die Namibiese kerkverband, aan die gemeentes van God in Namibië, wat in Christus Jesus geheilig is – geroepe heiliges: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Op 29 Oktober 2015 het ons in Windhoek vergader te midde van ernstige woelinge en dreigende skeuringe binne die NG-kerkverband dwarsdeur Suider-Afrika. Ons is daar deur Paulus se gebed vir die Romeine getroos en wil daarom ook hierdie troos aan julle deurgee daar waar julle is: Mag die God van volharding en bemoediging gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, soos Christus Jesus dit wil hê, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. (Rom 15:5,6)

                Ons skryf na aanleiding van die omstrede besluite oor selfdegeslagverhoudinge en antwoord graag op vrae wat ons gehoor het.

1.      Wat is die status van die Algemene Sinode se besluit in Namibië? Hoekom het ons eers gehoor net een punt is nie van toepassing nie, maar later die hele besluit is nie van toepassing hier nie?
Die besluit is in sy geheel nie hier te lande van toepassing nie omdat die Algemene Sinode dit (op voorstel van twee Namibiese afgevaardigdes) so besluit het.
Ongelukkig het die Algemene Sinode aanvanklik ’n foutiewe formulering van die besluit vrygestel. Daarin is gesê dat net die punt wat handel oor die burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag nie op Namibië van toepassing is nie. Toe die Namibiërs in die land teruggekom het na die sinode, het ds. Hendrik van Zyl dadelik op die fout gewys en hom daarvoor beywer om die korrekte formulering te kry.
Ons vra verskoning vir hierdie geharwar!

2.      Hoekom lyk dit of die moderatuur se verklaring van 21 Oktober mense etiketteer en in kampe jaag?
Uit verskeie oorde het ons gehoor dat ’n deel van die moderatuur se verklaring van 21 Oktober ongelukkigheid tot gevolg gehad het. Veral die laaste vergelyking in par 2 van die moderatuur se verklaring, nl. “...en hoe hulle God ken en oor Hom dink (bv. ’n veroordelende God wat sondes straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en barmhartig is)”  het aanstoot gegee. (Kliek op FELDMUIS vir my reaksie op hierdie stelling)
Ons erken dat die moderatuur se verklaring vatbaar was vir misverstand en vra onvoorwaardelik verskoning hiervoor. (Dankie!) Die bedoeling van die verklaring was om lidmate op die kontinuum tussen die ekstreme van die debatslyn te erken en nie om ’n verdeling te bewerk nie.

3.      Die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings geld nie hier nie. Waar staan ons dan nou in Namibië?
Ons het, benewens die feit dat die besluit nie hier van toepassing is nie, selfstandig geoordeel om nie die Algemene Sinode se 2015-besluit te ondersteun nie. Ons kies tans om met die besluit wat die Namibiese sinode in 2006 geneem het, die 2007-besluit van die Algemene Sinode sowel as die 2013-besluit van die Algemene Sinode te volstaan.
Ons onderneem egter om die gesprek oor hierdie sensitiewe saak voort te sit met die oog op standpuntinname tydens die Sinodevergadering in Maart 2016.
Teen hierdie agtergrond versoek ons beleef dat julle in die gemeente in nederige afhanklikheid voor die Here met die gesprek moet voortgaan. Dit gaan krities belangrik wees vir julle afgevaardigdes na die sinode volgende jaar.
Ons wil graag 5 bronne voorstel wat julle in hierdie gesprek kan gebruik as riglyne:
·         Namibië se besluit oor homoseksualiteit van 2006 – ons plak dit hier onder in;
·         Die Algemene Sinode se 2007- en 2013-besluite – ook dit is hier onder ingeplak;
·         ’n Studiestuk oor selfdegeslagverhoudings wat deur dr. Chris van Wyk (van die Oos-Kaap) opgestel is. Dit word as aanhangsel by hierdie epos aangeheg.
·         Die storie van die NG Kerk se reis met selfdegeslagverhoudings wat op die internet beskikbaar is by http://atlas.bybelmedia.org.za.

Liewe Geloofsgenote, onthou: ons is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk wat aan God behoort. Só tipeer Petrus die gelowiges in die diaspora (verstrooiing – 1 Pet. 2:9). Ons diepste anker lê daarin dat ons in Christus God se geliefde seuns en dogters is in wie Hy Hom verbly. Mag hierdie anker sterk genoeg wees om ons deur hierdie turbulente tyd in ons geskiedenis te dra!

Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal!

Di Pine Pienaar, Johannes Maritz, Hendrik van Zyl, Evert Strydom, Gerhard Liebenberg, Clem Marais, drr. André Olivier, Fourie vd Berg.
Oudll Fouché Brand, Recht vd Westhuizen, Jacques Coetzer, Pieter vd Westhuizen, Fanie Badenhorst.
LEDE VAN DIE MODERAMEN TEENWOORDIG OP DIE VERGADERING VAN 29 OKTOBER 2015

Die Namibiese sinode se 2006-besluit oor homoseksualiteit:
1.   Die kerk besef en erken dat daar in die Bybel eksplisiete vermelding is van ‘n verskeidenheid van seksuele optredes wat afwyk van en in teenstelling is tot die oorspronklike bedoeling van God met seksualiteit. Praktyke en optredes soos buite-egtelike geslagsverkeer, bloedskande, verkragting, egbreuk/huweliksontrou, prostitusie en egskeidings word onomwonde in die Bybel vermeld. Vreemd genoeg word hierdie optredes nie elkeen op presies dieselfde wyse in die Bybel beoordeel en/of afgewys nie. Die twee seksuele optredes wat in die Bybel op die skerpste wyse veroordeel word, is prostitusie en homoseksuele gedrag.
2.   Dat die sondige natuur van die mens se verwording en verval uiteraard ook (‘n mens wil byna sê, veral) in dade en optredes van seksuele aard na vore kom, maak nie die goddelike gegewe van menslike seksualiteit as sodanig sondig nie. Eerder   besef die kerk dat dit wat die Bybel vir ons oor die aard en gevolge van sonde leer, met konsekwente erns ook op praktyke wat in teenstelling tot die bedoeling van God met seksualiteit gepleeg word, van toepassing is. Sonde vernietig die mens se lewenspotensiaal en lei tot die ewige geestelike dood. Om met die gawe van ons seksualiteit om te gaan en dit uit te leef op ander maniere as wat God self daarvoor gewil het, is soos wat dit trouens die geval is met die ondoelmatige uitlewing van enige ander gawe wat die Skepper aan die mens toevertrou het, sonde in die oë van die Here.
3.   Die opvallende is dat nêrens in die Bybel eksplisiet inhoudelik berig word omtrent spesifieke dade en optredes van homoseksuele geslagsgemeenskap nie. Daar word slegs op indirekte wyse na sodanige optredes verwys of oor die neiging daartoe gepraat en dan wel in ernstige veroordelende taal en bedoeling.
4.   Op grond en na aanleiding van deeglike eksegetiese ondersoek en begronding is dit op geen manier vir die kerk in haar lesing en interpretasie van die Bybel moontlik om homoseksuele dade en praktyke van geslagsgemeenskap te aanvaar en te regverdig as dit ook binne die oorspronklike bedoeling van God met menslike seksualiteit verstaan en gehandhaaf kan word nie. Dit strook volgens die Bybel nie met God se oorspronklike bedoeling vir menslike seksualiteit nie.
5.   Die kerk kan nie anders nie as om die bestaande werklikheid van mense met ‘n homoseksuele oriëntasie te erken nie. Sommige navorsing vanuit die menswetenskappe wys onder meer daarop dat ‘n mens se seksuele oriëntasie, hetsy heteroseksueel of homoseksueel, so wesenlik deel is van die mens se identiteit en selfbewussyn dat dit net so min kan verander, ontgroei of afgelê kan word as wat ‘n mens se ras of geslag deur psigiese prosedures kan verander. Net soos wat daar baie ander werklikhede in die skepping is wat ons nie kan verklaar nie, kan ons ook nie ten spyte van baie navorsing en studie, afdoende verklaar of  verstaan hoekom dit is dat sommige mense se konstitusie so is nie. Die kerk getuig dat die Bybel in geen taal praat of leer oor die onverstaanbare werklikheid van hierdie soort oriëntasie by ‘n klein persentasie mense nie. In die Bybel word slegs deurlopend verwys na en gepraat oor die neiging tot die praktyk van homoseksuele geslagsgemeenskap tussen merendeels mans en soms ook vroue. Ons besef en aanvaar dat mense met sodanige natuurlike oriëntasie nie bloot afwykende, immorele of sondige keuses maak om op so ‘n manier te wees nie.
6.   Deur die erkenning van die werklikheid van ‘n menslik-onverklaarbare  homoseksuele oriëntasie by sommige  mense aanvaar die kerk die verantwoordelikheid om hierdie mense met ‘n pastorale gesindheid van sensitiwiteit en begrip te aanvaar en respekvol te behandel as ewemense voor die aangesig van die lewende God wat hulle geskep het. Mag die Gees van Christus sy gemeente tog daarvan bewaar om in ‘n gesindheid en houding van onverdraagsaamheid en geestelike hoogmoed veroordelend en verkleinerend teenoor enige mens van God se liefde op enige wyse te dink of op te tree. Waar sodanige gedrag of houding in die verlede of tans nog deur lede van die kerk teenoor mense van homoseksuele oriëntasie uitgeleef is, het die kerk skromelik in haar roeping tot genadige liefdesdiens in die Naam van Christus gefaal.
7.   Die kerk aanvaar en eerbiedig ook in goeie trou mense met ‘n homoseksuele oriëntasie se opregte belydenis van hulle egte saligmakende geloof in God Drie-enig as ‘n geloof wat alleen berus op die genadige soenverdienste van Jesus Christus, ons Here.
8.   In sy etiese lering handhaaf die kerk dat die Bybel duidelik is oor die goddelike gegewe van menslike seksualiteit. Ons verstaan dat seksualiteit primêr deur God geskep en bedoel is om die menslike geslag  te laat voortplant en te vermeerder  binne die raamwerk en ruimte van gesinne gegrond op ‘n onverbreekbare egverbintenis en trouverbond tussen ‘n man en ‘n vrou wat mekaar liefhet. Dit is ook die ruimte waarbinne die mens vreugde vind in die belewing en beoefening van sy / haar seksualiteit, omdat die mens daarmee, ten spyte van die gebrokenheid en verval van die skepping, met die hulp van die Gees van Christus tog daarna streef om te probeer voldoen aan die  bedoeling en wil van God self. Immers deur die eeue heen het die kerk getuig dat die goddelik-bedoelde beoefening en uitlewing van die mens se seksualiteit in ‘n verhouding van trou, die een hoedanigheid van die mens is wat hom / haar op die mees lewensvervullende wyse in verhouding tot ‘n medemens bring. 
9.   Wanneer die kerk dus ‘n pastorale gesindheid en optrede van aanvaarding teenoor mense van homoseksuele oriëntasie handhaaf, kan die kerk nie anders nie as om hierdie mense te versoek om die verantwoordelikheid van die selibate lewe te aanvaar en hulle te weerhou van dade en praktyke van homoseksuele geslagsgemeenskap nie. Dit is nie die geval omdat die kerk daarmee in eie reg en terwille van selfhandhawing so kies nie, maar omdat die kerk gewoon nie anders kan nie as om te probeer om, sovêr dit binne haar begrip en vermoë is, getrou te bly aan haar verstaan van God se oorspronklike bedoeling met menslike seksualiteit soos die Bybel daaroor praat.
10. Daar is geen manier waarop die kerk lidmate van ‘n homoseksuele oriëntasie wat selibaat leef, wil verhinder of belemmer in die uitleef van hulle diens aan die Here nie.  Daarom aanvaar die Kerk dat hulle net so geskik en bekwaam is soos enige ander lidmaat om ampte in die gemeente te beklee.  Die lewe van selibaat wat die kerk van lidmate en medegelowiges van homoseksuele oriëntasie verwag, is dus nie bedoel om hulle te na te kom, te veroordeel of te verontreg nie.  Eerder word dit gebore uit ‘n eerlike en opregte poging om in ons menslike swakheid, niks anders te wil wees of na te streef as om Christus, ons Here, te ken en aan Hom gehoorsaam te wees uit dankbaarheid vir Sy onverdiende en onbegryplike genade in ons lewe nie.

Die Algemene Sinode se 2007-besluit oor homoseksualiteit:
1.   Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2.   Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3.   Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4.   Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ‘n huwelik beskou kan word.
5.   Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6.   Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7.   Die verlening van predikantsbevoegdheid is ‘n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ‘n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8.   Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.
Die Algemene Sinode verklaar dat die besluit van 8 punte insake homoseksualiteit as 'n eenheid aan die Algemene Sinode gestel is en dat hierdie besluit as 'n eenheid gelees en verstaan moet word.

Die Algemene Sinode se 2013-besluit oor homoseksualiteit:
Die Algemene Sinode
1 bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ʼn deeglike eksegetiese en teologiese studie;
2 gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ʼn studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie;
3 besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie;

4 verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

*Die feit dat ek hierdie volle verklaring so plaas beteken nie noodwendig dat ek als persoonlik daarin onderskryf nie. Dit is wel positief in die sin dat die moderamen duidelik nie die AS 2015 se besluit oor selfdegeslag verhoudings onderskryf nie! Dit beteken volgens my beskeie interpretasie dat praktiserende homseksuele predikante nie in Namibië bevestig mag word nie! Hierdie saak se ontwikkeling in Namibië laat mens natuurlik met baie vrae, soos oor die rol en die integriteit van die Algemene Sinode. Byvoorbeeld, wat is die standaard van notulering van so 'n belangrike kerkvergadering soos die AS, hoe kan die AS dan nou verskillende legitimasie vereistes voorstaan binne dieselfde kerkverband? 'n Mens wonder ook oor hoekom sommige moderatuurslede van die Namibiese sinode die AS besluit in die openbaar so naarstigtelik verdedig het?

5 opmerkings:

  1. Ek kan nie help om hier te dink aan wat Dr Willie Marais geskryf het oor skeuring in die kerk nie – by die lees hiervan reken ek, hy was reg! Hy skryf in sy outobiografie "Man van God gestuur” (in die jaar 2000 uitgegee) verskillende interessante dinge. Onder andere: “EENHEID MOET VERBREEK WORD...” en “ONTSLAE RAAK VAN KONSERWATIEWE ELEMENTE”.

    Lees meer hier:

    http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/103-belharbelydenis/961-vrystaat-stem-nee-vir-belhar-2015-03-19.html#bylaag_a

    AntwoordVee uit
  2. Verdere inligting oor die implikasies van AS2015 se besluite: http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/103-belharbelydenis/1066-belhar-n-persoonlike-ervaring.html

    Kyk ook hierdie brief van dr Pierre Rossouw, 'n vorige Hoof Uitvoerende Amptenaar van die AS, vandag in die Volksblad:
    Het AS nog bestaansreg?
    (Brief in VB 31 Oktober 2015)
    Een van die belangrikste voorwaardes vir die bestaan van die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk is om met inagnemijg van die tweederdes- artikels te sorg vir uniformiteit in die hele kerk se belydenisgrondslag.
    Toe die AS hiervan afstand doen en dit delegeer na die sinodes, word die AS ‘n instrument vir pluriformiteit. Hierdie aftakeling van die oprigtingsvoorwaardes het kerkregtelike en pastorale implikasies. Watter bevoegdhede bly oor om sy voortbestaan te regverdig?
    Dr P Rossouw
    Pretoria.

    AntwoordVee uit
  3. 1. Ek sou graag Dr Pierre Rossouw se vraag ondersteun - "Watter bevoegdhede bly oor om sy voortbestaan te regverdig?"
    2. Ek wil graag die Namibiërs ondersteun in hulle afwysing van die on-bybelse
    besluite wat daar in die resente verlede geneem is mbt "selfde-geslag huwelike".
    3. Graag sou ek wou weet hoe 'n mens dan Romeine 1:26-28 en veral vers 32 moet
    eksegetiseer: Vers 32: “Hulle is mense wat die verordeninge van God ken dat dié wat
    sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie,
    maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”
    3. Ek is van mening dat die Algemene Sinode ook dus in die kategorie val van “hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek vind Rom 16 :18 ook baie gepas: Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.

      Vee uit
  4. 1. Ek sou graag Dr Pierre Rossouw se vraag ondersteun - "Watter bevoegdhede bly oor om sy voortbestaan te regverdig?"
    2. Ek wil graag die Namibiërs ondersteun in hulle afwysing van die on-bybelse
    besluite wat daar in die resente verlede geneem is mbt "selfde-geslag huwelike".
    3. Graag sou ek wou weet hoe 'n mens dan Romeine 1:26-28 en veral vers 32 moet
    eksegetiseer: Vers 32: “Hulle is mense wat die verordeninge van God ken dat dié wat
    sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie,
    maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”
    3. Ek is van mening dat die Algemene Sinode ook dus in die kategorie val van “hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.