BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 27 Oktober 2015

PIONIERSPARK PRAAT OOK

"’n Sinode kan nie die sonde van homoseksuele dade vryspreek om mense so te red van die straf en oordeel van God nie, alleen Jesus Christus kan ons vryspreek langs die weg van geloof en bekering."

Nog 'n Namibiese gemeente het sterk standpunt ingeneem teenoor die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings! Dankie Pionierspark!


Gemeenteraadvergadering : NG Kerk Pionierspark, 26 Oktober 2015

Die kerkraad van die NG Kerk Pionierspark doen die volgende belydenis oor homoseksuele verhoudings na aanleiding van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag, geneem op 9 Oktober 2015.

1.   Ons as kerkraad bely dat hierdie hele kwessie rakende homoseksuele verhoudings binne die NG kerk alreeds hartseer in baie mense en families se lewens veroorsaak het. Daarom doen ons hierdie belydenis met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen die sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons kan red. Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie.

2.   Ons bely dat, in ons nadenke oor homoseksuele dade, ons alleen die Woord van God (Ou Testament en Nuwe Testament) as ons vertrekpunt en gesagvolle bron gebruik om God se wil in hierdie saak te onderskei.

3.   Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan die deure en harte van die NG Kerk Pionierspark oop met die deernis en liefde van Christus om alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie en die liefde van Jesus Christus.

4.   Ons bely dat die Woord van God ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou saamgevoeg deur die Here, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil is vir Sy kerk. Die huwelik tussen een man en een vrou is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom.
5.   Ons bely dat die Woord van God alle seksuele verhoudings en dade buite die ruimte van die huwelik as onsedelikheid, sonde en opstand teen God se wil veroordeel.
6.   Ons bely dat die Bybel alle homoseksuele dade as sonde teen God se wil veroordeel, ongeag of dit geskied binne of buite ’n permanente seksuele verhouding tussen twee homoseksuele persone. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus.
7.   Ons bely dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Jesus Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos met volharding in enige ander sonde, diskwalifiseer sulke persone om te dien in enige geestelike leiersposisie in ons gemeente. 

8.   Ons bely dat, in die  hele gesprek oor homoseksualiteit en wat die Bybel daaroor sê, ons nie met ’n randsaak van die evangelie besig is nie, maar met ’n hartsaak. ’n Sinode kan nie die sonde van homoseksuele dade vryspreek om mense so te red van die straf en oordeel van God nie, alleen Jesus Christus kan ons vryspreek langs die weg van geloof en bekering. Daarom moet ons voortgaan om die evangelie van Jesus Christus in al sy konsekwensies aan alle sondaars te verkondig. Om dit nie te doen nie sal liefdeloos wees.

In dieselfde trant : GEORGE NG MOEDERGEMEENTE verwerp ook die AS besluit. (Kliek op GEORGE)

I


2 opmerkings:

  1. Dit is bemoedigende dat daar meer gemeentes is wat nie die AS se besluit steun nie.


    Andries Gous

    AntwoordVee uit
  2. Ek is dankbaar dat hulle uitspel dat die aangeleentheid nie 'n randsaak is maar 'n kernkwessie. Sonde was nog nooit 'n randsaak nie. Die sondeval en die gevolglike sondigheid van die mens is juis dan die enigste rede hoekom Christus gekom het en die Evangelie daar is. As die sondeval nie plaasgevind het nie sou die Evangelie totaal onnodig wees. Om dit waarvoor Christus gesterf het te negeer en te ontsondig en so weer by die agterdeur in te bring tas die gesag van die Skrif aan en minag die werk van Christus.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.