BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 26 September 2019

GOEIE MENSE

IN DIE HEL? 



Ja, baie goeie mense gaan vir ewig verlore wees! Blatant gestel - Daar gaan baie goeie mense in die hel wees. Rêrig?
Ja, mense wat dalk nooit gemoor, gesteel of gevloek het nie. Mense wat Bybel gelees, gebid en eens op ’n tyd voor die kansel doopbeloftes, lidmaatsbeloftes en huweliksbeloftes afgelê het. Dit klink erg, maar dis waar! 


Daar bestaan ‘n skrikwekkende moontlikheid dat baie kerkgangers eendag helgangers gaan word! 

Nou sal jy dalk vra : Maar is dit moontlik? Hoe kan dit wees? Ja, een so ’n goeie mens was juis Paulus voor sy bekering. Hy noem in Filippense 3:4-6 ’n indrukwekkende lys van geestelike bates (goeie dinge!) en tog het dit hom niks gehelp nie. Hoor bietjie... “Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.” 

Min mense sou hulleself as ONBERISPELIK beskryf – Paulus kon! En dit in sy verlore toestand sonder Christus! 

Hierdie was alles uiterlike dinge waarop Paulus vertrou het om sy redding te verseker. Hy was van mening dat hierdie dinge punte tel voor God! 

Dis baie duidelik uit die Skrif dat goeie respektabele mense nie noodwendig in die ewige lewe deel nie. Die logiese konsekwensie hiervan is - of jy dit nou wil weet of nie - die hel gaan eendag vol goeie en gerespekteerde mense wees! Dis tragies dis skrikwekkend, maar dis ‘n feit! JA, jy hoor my reg - daar gaan eendag baie "goeie mense" in die hel wees! Soos Bybelkenners, kerkraadslede en predikante,  ordentlike mense, sagmoedige mense, diereliefhebbers, hardwerkende mense, opgevoede mense, fondsinsamelaars vir die kankervereniging, sopkombuiswerkers, orgaanskenkers, klimaataktiviste,  volkshelde en vryheidsvegters... noem maar op... sal saam met dronkaards, onsedelikes, leuenaars en gierigaards die ewige oordeel van God moet verduur. 

Nou hoe dan nou? Wie gaan dan gered word? 

JY HET JESUS NODIG 

Gelukkig gee Paulus hierdie antwoord. Hy KAN, want hyself was ’n goeie man, maar toe ontdek hy wat (WIE) regtig nodig het. 

Hy het Jesus Christus ontdek! Eintlik is dit meer korrek om te sê Jesus het hom ontdek en hom eerste gaan opsoek.* Jesus het daar op die pad na Damaskus Homself aan Paulus geopenbaar. Hy het hierdie goeie man gekonfronteer. “Jou goedheid help jou niks nie Paulus, jy het my genade en vergifnis nodig!” Paulus was nie die eerste goeie godsdienstige man wat dit moes hoor nie. Nikodemus wat in die nag Jesus gekom het (Johannes 3) en ’n gerespekteerde leraar was, moes dieselfde hoor : “Nikodemus jy moet weergebore word anders kan jy nie in die Koninkryk van God ingaan nie. Nikodemus jou Skrifkennis en goeie voorbeeldige lewe is nie genoeg nie.” 

Paulus het na hierdie ontmoeting met Jesus besef daar is net een bate wat tel. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo." (7-9) Paulus het besef : Ek kan nie my skuld voor God afwerk of genade verdien nie, my skuld word net vrygeskeld as ek in Jesus glo. Dit gaan nie nou meer of ek goed is of nie, dit gaan nie oor my geestelike “pedigree” nie, dit gaan nou daaroor dat God nie my kwaad meer teen my hou nie. Hier kry ons die beginsel van vryspraak deur die geloof alleen! Dit word op soveel plekke in die Skrif beklemtoon. (Vgl. Romeine 4:1-8) 

Om in Jesus te glo is al wat tel. Maar nou moet ons baie versigtig wees – elke tweede Jan Raap en sy maat sal jou vandag vertel dat hy in Jesus glo. 

GELOOF LEI TOT NUWE AMBISIES 

Om in Jesus te glo is ’n radikale lewensveranderende saak – Dit bring ’n nuwe passie in mens se hart! So kon Paulus nou getuig: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (10,11) Dit kan nie anders nie, want om in Jesus te glo beteken ek weet ekself gaan dit nie maak nie, maar ek vertrou op Hom, ek klou aan Hom vas soos ’n drenkeling aan die reddingstou klou. Hy word my ALLES! 

Geloof in Jesus lei tot ’n koersverandering, dit plaas my op ’n nuwe pad. (Dis iets meer as net bloot "uitkniel", jou hand opsteek of 'n kaartjie invul.) Dis 'n eenvoudige vertroue, maar dit het groot gevolge! Gevolge wat al hoe meer sigbaar word.  Dit sal vir almal duidelik wees waarheen jy nou op pad is! 

Paulus skryf hierdie gedeelte juis om mense daarteen te waarsku om op uiterlike dinge staat te maak. Hy waarsku mense teen dwaalleraars wat hulle wou dwing om hulle te laat besny. Hulle het die mense geleer as jy jou nie laat besny nie, kan jy nie gered word nie. Teenoor die dwaalleraars stel Paulus dit duidelik wat nou eintlik belangrik is. “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (3)  Roem/staatmaak op Jesus is wat die verskil maak!

EN DIE DOOP? 

Die doop is ook ’n teken. 'n Teken van die Nuwe Verbond. Dis kosbaar en wonderlik. Maar die doop self red ons nie. Die doop wys ons juis na Jesus! Dit fokus ons op die belangrikheid van Jesus se sterwe en opstanding. As jy nie self op Jesus roem en op Hom vertrou nie, gaan jou doop jou niks help nie. Daar gaan ook baie (klein en groot) gedooptes in die hel wees! 

Maar kom ons stel dit positief. Die doop moet ons juis aanmoedig om Hom na wie die doop wys te ken en vir Hom te leef! 

HEMELSE WEDLOOP 

Vertrou jy met jou hele hart op Jesus? Oortref Hy vir jou alles in waarde? Jaag jy dit na om Hom beter te leer ken? Is jy daagliks besig met die hemelse wedloop of bestee jy al jou tyd en krag in 'n aardse "gym"?

Wat Paulus hier vir die Filippense leer is maar presies dieselfde wat die apostel Johannes leer in 1 Johannes 5:12,13! 

“Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” 

Het jy die Seun van God as enigste bate of maak jy stilletjies op ‘n ander bate staat? Vertrou jy op jou goedheid en godsdiens of vertrou jy op Jesus alleen en volg jy Hom na? 

Dis nog nie te laat nie: Kom! Jesus neem die sondaars aan!

*Vergelyk ook vers 12 “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” 


4 opmerkings:

  1. Give me that old rugged cross... Dankie broer!

    AntwoordVee uit
  2. Goeie mense gaan nie hel toe nie, slegte mense ook nie, want daar is nie 'n ding soos die hel nie

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ai Anoniem as jy so oortuig is van so 'n radikale standpunt wat teenstrydig is met Jesus se lering, waarom nie jou naam vir ons laat weet nie?

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.