BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 23 Oktober 2015

MOET EROS REGEER?

SEKS IS NIE ALLES NIE!

"Ons leef in ‘n tyd waarin Eros haar reg en heerskappy oor ons lewens met ‘n byna gewelddadige volgehoudenheid oor ons lewens wil uitoefen."

Ds.Eugene Viljoen skryf treffend oor hierdie sake. Hier is stof wat stem tot diep nadenke en selfondersoek :


Seksualiteit en selfverloëning

Inleiding

Ons leef in ‘n tyd en samelewing waar seksualiteit deur talle mense beskou word as ‘n gebruiksartikel. Dit is iets wat nie alleen geniet kán word nie, maar selfs deur almal wat wil geniet móét word. Elkeen het blykbaar die reg daarop. Seksualiteit word bekyk vanuit die perspektief as ‘n basiese lewensdrang of -lus. Soos wat ‘n mens ‘n basiese drang na voedsel, beskerming en veiligheid het vir sy oorlewing, só is seksualiteit ‘n basiese lewensdrang waaraan met genot en vryheid uiting gegee móét word. Die manier waarop die liggaamlike omgang tussen man en vrou dan ook heel kort as “seks” beskryf word, is tiperend van hierdie verbruikersmentaliteit. Die woord wil heel kort verwoord dat ‘n natuurlike drang uitgeleef word. Van liggaamlike eenwording tussen ‘n man en vrou in ‘n huweliksverhouding waar uitdrukking gegee word aan hulle wedersydse liefde, kom min tereg in so ‘n besondere kaal woord. Seksualiteit word versmal tot ‘n drang en ‘n daad.


Wanneer die uitleef van ons seksualiteit losgemaak word van die huweliksverhouding tussen man en vrou, word dan ook al te dikwels daarvan uitgegaan dat die mens eers as méns tot sy reg kom, wanneer hierdie natuurlike drang uitgeleef word. Met groot klem word daar byvoorbeeld gepraat van die “homofiele mens”. Wanneer die mens in sy “natuurlike” seksuele oriëntasie beperk word, word die persoon in sy menswees aangetas. Die uitleef van die natuurlike seksuele drang wat tot die huwelik tussen man en vrou beperk word, word deur baie beleef as ‘n inperking en belemmering van die persoon se natuurlike mens-wees.

Die invloed van die sogenaamde Natuurreg speel hierin onmiskenbaar ‘n rol. In die eenvoudigste vorm van natuurreg word die “natuur” as identies verstaan met natuurlike en spontane drifte of luste.

Soos wat dit vir visse natuurlik is om te swem en vir groter visse om die kleineres op te vreet, is dit vir die mens natuurlik om sy magssug, hebsug of enige ander drif uit te leef. Vgl. Douma, J. Natuurrecht – een betrouwbare gids?, Vuurbaak, Groningen, 1978. Goed word verstaan in terme van dit wat die lus bevredig en selfs vermeerder, vgl. De Graaf, J. Elementair begrip van de Ethiek, Bohn, Scheltema & Holkema, Utrecht, 1976, p. 8.

Reeds in die rapport Pastoraat aan die Homoseksuele Persoon wat opgestel is deur ‘n kommissie van die Sinode van Wes Kaapland van die NG Kerk in 1995, word daar op hierdie manier konsekwent gewerk met die “menswees” van die homoseksuele persoon. Die rapport wil dat die homoseksueel tot sy/haar reg moet kom. In die rapport self word dit breed uitgewerk as ‘n tipies “Bybelgefundeerde pastoraat” aan die homoseksuele naaste. Die uitgangspunt oor alle vorme van belewing en uitlewing van seksualiteit is dat dit fundamenteel is vir ‘n persoon om tot sy reg as mens te kom – die mens ís ‘n seksuele wese! Wanneer ons dit in hierdie artikel het oor seksualiteit en selfverloëning, dan wil ons ons veral konfronteer met hierdie uitgangspunt by die belewing van alle vorme van seksualiteit. Seksualiteit word hier in sy breedste verstaan gebruik in onderskeid van erotiek wat ek sou wou gebruik om die liggaamlike uitdrukking van hierdie seksualiteit te beskryf. (Hier sluit ek aan by die onderskeid wat J. Douma maak in sy Seksualiteit en huwelijk, p.28)

Dit sou spreek van skynheiligheid indien ons heteroseksualiteit tot die wesenlike van die menswees van ‘n persoon wil laat behoort, terwyl ons dit met ‘n beroep op die Skrif veroordeel in ‘n persoon met ‘n homoseksuele oriëntasie. (Die “natuur” waarvan daar sprake is in Romeine 1:26ev. dui op die onderskeidende geslagtelike aard waarin God man en vrou gemaak het.) Ons moet wil luister na wat die Here in sy Woord oor alle vorme van seksualiteit sê. Ons leef in ‘n tyd waarin Eros haar reg en heerskappy oor ons lewens met ‘n byna gewelddadige volgehoudenheid oor ons lewens wil uitoefen. Intussen praat die Skrif heel anders oor die plek van seksualiteit in die lewe van die gemeente van Christus. Teenoor ‘n kultuur wat ‘n groot deel van ons menswees verstaan in terme van ons uitlewing van ons seksualiteit, kom die woorde van die apostel Paulus werklik oor as ‘n woord van buite ons wêreld : “Dit is goed vir ‘n man om ‘n vrou nie aan te raak nie” (1 Kor.7:1).

Hierdie woorde van die apostel is ‘n verdere uitwerking van die bevrydende boodskap waarmee 1 Korinthiërs 6 eindig, dat ons nie aan onsself behoort nie. Die gemeente is geroep om nie diensknegte van hul “natuur” te wees nie, maar veel eerder diensknegte van God. “Roeping” staan teenoor “natuur” byna as ‘n totaal vreemde woord vir talle. Ongelukkig selfs vir baie wat hulself versier met die naam “Christen”. Roeping beteken dat ons met ons hele menswees (dus ook met ons seksualiteit!) ‘n taak en opdrag gekry het. Dat dit goed is vir ‘n man om ‘n vrou nie aan te raak nie, is waar omdat ons liggame in die eerste plek tempels van die Heilige Gees is (1 Kor. 6:19).

Ons het ons liggame “van God” en nie as geskenke van mekaar en vir mekaar nie. Ons behoort nie aan onsself nie, daarom is dit so gepas om heel goed te luister wat die Eienaar oor ons seksualiteit te sê het. Ons is duur gekoop met die bloed van Christus en geen bruidskat wat ‘n rol mag speel in ‘n huwelik oortref daardie skat in waarde en aanspraak nie!

God moet in ons liggame verheerlik word. Ons menswees word nie verstaan en verklaar vanuit ons seksuele gemeenskap nie, maar vanuit die inwoning van die Gees in ons. Sy gemeenskap met ons al dan nie, is allesbepalend vir ons menswees. Ons is nie éérs waarlik mens wanneer ons liggame aan ‘n ander mens behoort nie. Dit is nie waar wat die poplied uit die 1970’s wou verkondig nie: “Heaven is my woman’s love”. Die hemelse vreugde is juis die ononderbroke gemeenskap met die Here God wanneer ons in liggaam en gees die heerlikheid van God afstraal.

Het ons hiermee nou weer ‘n nuwe pleitrede gekry vir die selibaat en ‘n minagting van die seksualiteit? Verseker nie. Ons probeer net duidelik maak dat belewing van ons seksualiteit geen onmisbare saak is om mens van God te wees nie. In 1 Korinthiërs 7 word seksuele onthouding binne die huwelik ook nie as die ideaal voorgehou nie! Teenoor die verseksde kultuur van ons tyd wat die belewing van seksualiteit as goed en selfs as byna onmisbaar voorhou, wil ons vanuit die Woord van die Here laat hoor: “Dit is goed as ‘n man nie ‘n vrou aanraak nie”. Waar die getroude lewe, die uitleef van seksualiteit verabsoluteer word, is dit goed om te hoor dat die Skrif voorhou dat die ongetroude lewe geensins as minderwaardig beskou kan word nie. Die Here het selfs ‘n
goeie woord daaroor te sê! Dwars teen die boodskap dat belewing en uitleef van seksualiteit goed is, kom die boodskap dat onthouding goed is.

Hy wat trou, doen geen sonde nie (1 Kor. 7:28). Die een wat uitgee in die huwelik doen goed. Maar sonder om dit enigsins in spanning hiermee te bring, moet ons ook hoor dat hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter. Die hoogste ideal wat ouers vir hul kinders kan voorhou, is nie die huwelik nie. Ons visier moet ingestel wees op die koninkryk van God en daarbinne mag en moet die huwelik en die gepaardgaande uitleef van die seksualiteit sy plek kry.

Selfliefde en selfaanvaarding?

Een van die oorsake vir die belewenis van baie frustrasies en eensaamheid rondom seksualiteit word dikwels aangedui as ‘n gebrek aan liefde vir en aanvaarding van jouself soos jy is. ‘n Egte pastorale benadering tot - met name - homoseksuele persone, sou dan selfliefde en selfaanvaarding as basis hê vir ‘n nuwe lewe met God. Die uitgangspunt wat gebruik word, is dat ons vir God aanvaarbaar is soos wat ons is. In die psigologie en hulpverlening is selfaanvaarding ‘n wyd aanvaarde begrip. Selfaanvaarding word as noodsaaklike voorwaarde beskou om as mens goed te kan funksioneer. Elke mens moet sy eie selfwaarde ontdek om homself te kan
verwesenlik. Selfliefde word voorgestel as dié middel waardeur daar genesing kan kom vir allerlei vorme van psigiese probleme soos o.a. depressie. Liefde vir onsself word op hierdie manier tot ‘n opdrag (gebod) gemaak n.a.v. Mattheüs 22:36–40.


Gebod om jouself lief te hê?

Hoe moet ons dit beoordeel? Moes Timotheüs hom nie afwend van die mense wat liefhebbers van hulself is nie? Dit is mense wat sekerlik ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag van ‘n gehoorsame lewe verloën het (2 Timotheüs 3:2–5). Terapeutiese modelle sien dikwels juis nie ‘n lewe van selfsug as probleem wat aangespreek moet word nie, maar juis ‘n gebrekkige selfbeeld en selfliefde. Met ‘n duidelike beroep op die dubbele liefdesgebod in Mattheüs, word daarvan uitgegaan dat naasteliefde en selfliefde eintlik dieselfde saak is. Deur te leer om van jouself te hou, kan jy gelukkig wees. Selfliefde word selfs ‘n voorwaarde gemaak vir liefde tot ons naaste – deur van jouself te hou, leer jy liefde vir jou naaste. Selfliefde weer die stoornisse af in - veral - my verhouding met my naaste, ook in die belewing van my seksualiteit.

Die vraag is egter of Mattheüs 22:36–39 ‘n gebod tot selfliefde voorhou as genesende krag vir psigiese en ander persoonlikheidsstoornisse. Laat ons eers kyk of Mattheüs 22 werklik ‘n gebod tot selfliefde gee en vervolgens of daar in selfliefde ‘n genesende krag lê vir ons verhouding met ons naaste.

In antwoord op die wetgeleerde se vraag oor die grootste gebod, hou Jesus hom twee gebooie voor – liefde vir God en liefde vir ons naaste. Geen derde gebod nie! Die tweede gebod is nie om jou naaste en jouself lief te hê nie. Ons moet ons naaste liefhê soos onsself. In hierdie woorde is geen gebod om onsself lief te hê opgesluit nie. Dit gaan hier oor die intensiteit van die liefde wat ons aan ons naaste moet bewys (Douma, J. Grondslagen, Kok, Kampen, 1999, p. 284 ev.). Ons het hier met ‘n vergelyking met ons liefde vir onsself te doen. Terwyl ons baie goed weet hoe om liefde aan onsself te bewys, wil die Here Jesus dit gebruik om ons te wys met watter toewyding en noukeurigheid ons liefde aan ons naaste moet bewys. Niemand haat tog ooit sy eie vlees nie, maar voed en koester dit. Só ‘n vorm van selfrespek en –versorging is uiteraard deel van ons christelike verantwoordelikhede, maar dit maak ‘n gebod tot selfliefde nog geen basis waarop liefde vir ons naaste gebou word nie.

Buite onsself

Die vraag gaan hier oor die plek wat Christus met sy evangelie juis in ons lewens en verhoudings wil inneem. Indien ons selfliefde die sleutel gaan maak vir die oplossing van sondes teen en sondige verhoudinge met ons naaste, kom die plek van Christus in gedrang. Is die bevrydende rus
wat die evangelie ons gee dan nie juis dat ons ons heil buite onsself kan soek en vind nie? Die evangelie wil vir ons regte sig gee op ons eie seksualiteit voordat en sonder dat ons na onsself kyk. In die Skrif is daar alleen sprake van aanvaarding van ons ín Christus. Dit is hoe God ons aanvaar en dit is hoe ons kan kom tot “selfaanvaarding”. Al te dikwels word hier ‘n vlug geneem in die oortuiging dat God die sonde haat, maar die sondaar liefhet. Hierdie kunsmatige en gevaarlike onderskeiding gooi ‘n skaduwee op die wonder dat ons aanvaarding deur die Here gegrond is op sy vrye genade alleen. God se verkiesende liefde neem ons aan in Christus alleen. Nie ek-sonder-my- sonde is vir die Here aanvaarbaar nie, maar ek-(sondaar)-in-Christus.

Ons selfaanvaarding en ons selfrespek is volgens die Skrif nie gegrond in myself nie, maar eerder in die Seun van God wat Homself vir ons uit sy liefde gegee het. Selfaanvaarding kan in Skriftuurlike sin ‘n werklikheid wees déúr die geloof dat God my aanvaar het ter wille van sy Seun wat versoening gedoen het vir dit wat in my totaal onaanvaarbaar vir die Here is. Die regte belewing van ons seksualiteit kan ons eers kry wanneer ons God se onvoorwaardelike liefde vir sondaars in geloof aangeneem het.

Dit sluit in dat ek God sal erken as die Skepper wat my in bepaalde verhoudings geplaas het teenoor ander mense. ‘n Vrou en meisie moet leer om haarself te aanvaar soos God haar gemaak het en haar ‘n rol en plek in die huwelik gegee het met haar liggaam. Presies dieselfde geld vir opgroeiende seuns en volwasse mans. Dit is nie altyd maklik om te aanvaar wie ek is as mens deur die Here gemaak nie. Die onstuimige puberteitsjare van die opgroeiende jong volwassene getuig hiervan! Hierdie aanvaarding van wie jy is en blydskap oor die Here wat my gemaak het soos ek is, moet ons tog sekerlik onderskei van die humanistiese ideaal van selfliefde. Ons aanvaar gelowig die pad van die Here met my lewe. Hy het my gemaak wie ek is. Ons glo in die voorsienigheid van die Here (Heidelbergse Kategismus Sondag 10).

Tegelyk glo ons ook in die erfsonde. Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van

Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit (NGB Art. 15). Ons seksualiteit kan en moet ons in die geloof aanvaar as ‘n mooi geskenk van ons Vader in die hemel se voorsienigheid en wysheid. Ons misbruik van hierdie mooi geskenk bely ons egter as ons eie sonde. Alle misbruik daarvan is, in die woorde van NGB Artikel 15, “so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem”. Ons hoef geen afkeur van onsself te hê oor hoe God ons gemaak het nie. In die Nagmaalsformulier word ons voorgehou dat ons ‘n afkeer van onsself moet hê vanweë ons sondes! Dit gee ons ook genoeg rede om ons voor God te verootmoedig.

Die betekenis hiervan vir die gelowige persoon wat worstel met versoekings tot belewing en uitlewing van onnatuurlike seksualiteit (o.a. homofilie) is vanselfsprekend. Die uitwerking van die sondeval in ons lewens is altyd heel ingrypend. Dit is nie vir elkeen dieselfde nie en almal ervaar dit nie ewe intens nie. Ons seksuele verwording as vrug van die sondeval wat tot ons uitgebrei het, kan verregaande gevolge hê. Dit is dan juis hierin waar elke gelowige só nodig het om in opregte Christelike selfverloëning met sy/haar seksualiteit om te gaan.

Selfverloëning

Wanneer Calvyn ‘n samevatting van die hele Christelike lewe gee, dan doen hy dit met een woord: selfverloëning. (Calvyn, J. Institusie van die Christelike Godsdiens, Deel 3, Calvyn Jubileum Boekefonds, Potchefstroom, 1992, p. 883 ev.) Om ons liggame te kan stel as lewende, heilige en God-welgevallige offers (Romeine 12:1 ev.), moet ons besef dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan die Here.

Dit is belangrik om goed te verstaan in watter sin / betekenis ons selfverloëning hier gebruik. Die tipiese manier waarop selfverloëning populêr verstaan word, is dat ‘n mens jouself iets ontsê vanuit ‘n hoër, edele motief of doel. Selfverloëning word dan baie gereeld ‘n asketiese motief waarmee die vroom mens met sy “edele” gees in die middelpunt te staan kom. Askese wat ‘n ontvlugting en myding is van die werklikheid wat God goed geskape het, laat egter geen reg geskied aan selfverloëning in die Skriftuurlike sin van die woord nie.

In Matthéüs 16 vind ons ‘n duidelike teksgedeelte wat ons sig gee op hoe ons selfverloëning i.v.m. seksualiteit behoort te verstaan. Christus het begin om sy dissipels bekend te maak dat die Seun van die mens doodgemaak en op die derde dag weer opgewek moes word. Petrus is die apostel wat baie sterk hierteen reageer. In Jesus se reaksie teenoor Petrus hoor ons geen oproep waarin sonder meer sprake is van ontvlugting van die geskape werklikheid nie. Dit gaan oor selfverloëning om Christus ontwil. Hierdie selfverloëning is nie ‘n selfverhewe daad van die mens nie.

(Woelderink, J.G. Uit de practijk der godzaligheid, Uitgeverij Guido de Bres, ‘S-Gravenhage, 1956,p. 50ev.). Wat op die spel is, is juis die unieke plek wat Christus in ons lewens behoort in te neem.

Die dissipels word opgeroep om Christus se unieke plek te erken en hulle lewens ‘n totale oriëntasie te gee op Hom en sy koninkryk. Dit is in die lig van hierdie radikaal nuwe heroriëntasie op die koninkryk van Christus wat ons die uitspraak van Paulus in 1 Korinthiërs 7:1 moet verstaan.

Vanuit Christus se woorde in Matthéüs 16:24 e.v. is dit vir ons duidelik dat selfverloëning beteken dat Jesus se sterwe en totale lydingsweg bepalend vir ‘n Christen se hele lewe moet wees. Vir die vergewing van ons sondes, maar óók heel konkreet vir die daaglikse heiliging en toewyding van my lewe in diens van hierdie volmaakte Verlosser. J. van Bruggen skryf oor hierdie selfverloëning soos volg: “Het gaat hier om de radicale inzet van het eigen leven. Dat blijkt uit het schokkende…beeld van het kruis. Volgelinge moeten de strop voor de galg maar om de hals doen, wanneer ze Jezus gaan volgen!… De bereidheid zichzelf tot in de dood weg te cijferen, hangt samen met het voorgaan van Christus. Ter wille van Hem moet men alles willen geven. Men zal ook alleen door Hem het leven kunnen ontvangen. Niet als ‘n bevochten zegepraal, maar als een vondst uit genade. Alles hangt voor ons leven af van Christus en zijn sterven!”. (Van Bruggen, J. Matteüs, Kok, Kampen, 1990, p. 319–320).

In hierdie woorde van Jesus val alle klem op die unieke plek wat aan Hom behoort en wat Hy ook met beslistheid wil inneem in die lewe van hulle wat aan Hom mag behoort. Daar mag niks staan tussen my en Hom nie. Hy wil soveel vir ons werd wees, dat ons liewer van alles sal afsien, as om Hom te verloor. In hierdie helder lig moet ons belewing en uitleef van ons seksualiteit geplaas word. In die gelowige wete dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort, lê ook die krag en bron vir die heiliging van ons hele lewe opgesluit. Hoe ver verwyderd is dit nie van ons dikwels selfgesentreerde etiek nie, met name daar waar ons ons eie seksualiteit totaal los van Christus wil sien as iets wat ek eenvoudig behoort uit te leef en die vryheid en ruimte daarvoor behoort te hê.

Hierdie reg eis ons op vir die normale seksuele omgang tussen man en vrou in die huwelik. Maar veral in die afgelope paar dekades ook vir die persoon met homofiele gevoelens, gedagtes en dade. Selfverloëning geld nie alleen daar waar mense se seksuele belewing ‘n uitvloeisel is van die gebrokenheid en verwording van ons lewens sedert die sondeval nie. Ook in die gesonde Christelike huwelik en die manier waarop jongmense in heteroseksuele verhoudings met mekaar omgaan, behoort veel meer aandag gevra te word vir selfverloëning. ‘n Radikale oriëntasie van ons lewens op Christus waarbinne ons seksualiteit die relativering kan geniet wat dit nodig het in ‘n verseksde wêreld waarin ons leef.

Géén gelowige kan sy of haar seksualiteit beleef los van die plek wat Christus in ons lewe wil inneem nie. Vanuit die gelowige wete dat ek nie aan myself behoort nie, maak die Heilige Gees my voortaan bereid en gewillig om vir en vanuit Christus alleen te leef. Nie vanuit my eie selfaanvaarding nie, maar vanuit God se aanvaarding van my in Christus Jesus! Opmerklik genoeg is die kruis wat ons moet dra volgens Matthéüs 16, nie ‘n kruis wat op ons gelaai word nie. Dit is nie ‘n vrede maak met onsself en hoe ons nou maar eenmaal is nie. Daar is sprake van ‘n kruis wat ons gelowig op ons neem.

Die kruis wat ons op ons moet neem en dra, is die kruis waaraan ons selfgesentreerde lewe vasgespyker word. Ons sondige menswees met sy begeerlikhede (ook seksuele begeertes!) wat gedryf word deur die grootsheid van die lewe en die begeerlikheid van die vlees, moet verloën word. (1 Johannes 2:15–17). Die lewe wat ons moet verloën is die lewe wat nie wil put en leef uit die genade in Christus alleen nie. Die afsterf van ons ou mens, kry ons as genadegeskenk,
wanneer ons ons lewe vind in Christus. Elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om Christus ontwil verloor, sal dit vind. (Matthéüs 16:25).

Die selfverloëning wat Christus van ons vra, is dus die lewe uit geloof in Hom. Dit te midde van ‘n lewe dikwels vol swaar stryd rondom die belewing van ons seksualiteit. Ons seksuele begeertes is inderdaad dikwels soos ‘n vuur wat in ons brand. Daardie begeertes kan egter die gevolg hê dat ons in die ewige vuur van die Here se toorn sal brand, indien ons nie onsself verloën nie. (1 Korinthiërs 7:9). Die mens kom nie tot sy bestemming, deur die uitleef van sy natuurlike verlangens nie, maar deur die goeie beheer daarvan. Dit geld vir beide buite, sowel as binne die huwelik. Vir die uitleef van ons seksuele verlangens het die Here die huwelik tussen man en vrou ingestel. Dit beteken nie dat binne die huwelik ‘n grenslose uitbrand van ons begeertes mag wees nie. Maar seksuele omgang en uitleef daarvan, mag in elk geval net binne die huwelik. Dit is beter om te trou as om te brand. Nie brand van begeerte nie. Paulus praat nie daarvan in 1 Korinthiërs 7:9 nie! (Ek sluit my hiermee aan by J van Bruggen se eksegese in Het huwelijk gewogen, p. 39–43).

Deur die geloof in Christus leer ons om nie uit onsself nie, maar ook nie vir onsself te leef nie. Altyd in alles moet daar selfverloëning wees ter wille van die lewe uit die volheid in Christus. In Hom is daar ‘n volheid vir ons volmaakte menswees. In Hom is daar genade op genade. Kan dit nie dien as díe vertroosting en versterking vir ons broeders en susters wat stry teen homofiele gevoelens, gedagtes en dade nie? Graag beklemtoon ek dat homofiele gedagtes, gevoelens en dade niemand diskwalifiseer as kind van God nie. Só ‘n persoon kan ‘n ewe volwaardige plek in die gemeente inneem as ‘n broeder of suster wat worstel met en stry teen gedagtes, gevoelens en dade in ‘n “normale” heteroseksuele konteks. Hoeveel selfverloëning gaan daar nie in die stryd in om nie jou naaste se man of vrou te begeer nie. Om trou binne die huwelik te bly. Ken ons as mans en vroue dan nie meer die ernstige stryd om gedagtes, gevoelens en ons dade skoon en rein te hou met persone van die teenoorgestelde geslag nie? Het ons dalk al in ons heteroseksuelegevoelens al so ongeïnhibeerd geraak dat ons talle onkuise dade en gedagtes nie meer as egbreuk ervaar nie. (Die uitleg wat die Heidelbergse Kategismus aan die sewende gebod gee in Sondag 41, bly hierin steeds uiters aktueel en ‘n goeie verwoording van die reikwydte van die sewende gebod: “Alle onkuisheid is deur God vervloek en daarom moet ons dit hartgrondig haat. Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe sowel binne as buite die huwelik”).

Geen kind van God sal egter in die sonde bly dat die genade meer kan word nie. As ons deur die geloof in Jesus nie meer uit onsself leef nie, maar uit Hom, hoe kan ons dan nog in die sonde lewe? (Romeine 6:1–12). Regtens dood vir die sonde, gaan ons vir die Here lewe. Ons sondige begeertes gaan nie meer in ons sterflike liggame heers nie. Ons gaan nie gehoorsaam aan ons begeertes wees nie, maar gehoorsaam aan Christus wat uit die dood opgestaan het en die lewe wat Hy nou leef, vir God leef.

Ook in ‘n gelowige met homofiele gedagtes en dade, moet die werke van God sigbaar word. (Johannes 9:2). Die sondes moet afgesterf word eerder as daarin bemoedig word. God se werk wat in ons geopenbaar word, begin met die vergewing van ons sondes. Dit is tog onvoorwaardelik. God se genade wat in ons geopenbaar word, bly ook nie onsigbaar nie. Net soos by elke kind van die Here, sal in die krag van die Gees gestry moet word teen ons sondige aard en menswees.

Hoe wreed en onbarmhartig is dit nie wanneer ons aan ‘n broeder/suster met homofiele gedagtes geen hoop bied om bevryding daarvan in Christus nie. By bevryding bedoel ons dat al sou ons dalk ons lewe lank daarteen moet stry (soos ons almal teen ons sondige seksuele begeertes en dade moet doen!), moet ons juis ons lewe verloor om te leef uit Christus.

Is dit nie juis so ‘n konkrete aansporing om sondige gedagtes te kruisig, te verloën en uit Jesus te leef nie? Moet ons nie almal saam in die gemeente hoe langer hoe meer saam met die apostel Paulus uitroep: “Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goed woon nie; want om te wil is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie”. (Romeine 7:18). Te min roep ons nog oor onsself uit: “Ek ellendige mens!” In skynheiligheid praat ons dikwels al te maklik oor ons sondige aard, sonder dat ons werklik ‘n afkeer kry van onsself. Dit terwyl ons geen moeite daarmee het om van mense ‘n afkeer te kry wat stry teen en worstel met sondes in die belewing van hul seksualiteit  teenoor dieselfde geslag. Dank ons almal saam nog die Here dat daar vir ons verlossing is in Christus alleen?

Geen sonde kan verhinder dat ons ook weer deur God uit genade aangeneem kan word nie. Wanneer ons van harte berou toon oor ons sonde en begeer om teen ons ongeloof te stry en volgens al die gebooie van God te lewe nie. Dit is die bemoedigende woorde van ons Gereformeerde Nagmaalsformulier. Ook die medegelowige wat stry met onkuise gedagtes teenoor ‘n persoon van dieselfde geslag, net soos elke kind van die Here, moet hy sy lewe verloor om dit te behou. Christus het beloof dat Hy alles nuut sal maak – ook ons seksuele gedagtes, gevoelens en dade. Tot ons kom op die nuwe aarde, sal ons elke dag onsself moet verloën en onsself kruisig.

Op hierdie weg mag ons onsself gedra weet deur Christus wat Homself vir ons gegee het. Ons sal ook in die gemeente moet leer om hierin mekaar se laste te dra en nie nog te vererger nie. Saam met die hele skepping sal ons dan bly uitroep om die totale vernuwing van alles en die openbaring van die heerlikheid van die kinders van God. (Romeine 8:18 e.v.). Daardie heerlikheid wat nou nog dikwels so verdof word deur ons sondige belewing van ons seksualiteit.

E Viljoen

© by skrywer - 2007

www.christelikebiblioteek.co.za

1 opmerking:

  1. Dankie vir die mooi standpunt van EV. Dis wat ek nog altyd aanvoel. Die hart van die saak in die hele gewoel oor homseksualiteit is die aanbididing van Eros, of Venus. Maar soos wat die rooi planeet Venus baie aantreklik en aanloklik is, so vernietig haar hitte almal wat dit durf waag om naby haar te kom. Die Here wil ons van Eros of Venus bewaar. Die navolging van Jesus - wat ons eerste liefgehad het - is die enigste weg na vryheid. Christo Heiberg

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.