BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Oktober 2015

WAAR IS DIE HEILIGE STAD?

- hou jy rekening met Sion, die heilige berg, Jerusalem die heilige stad?

Sion is die tempelberg, Jerusalem die heilige stad waar God besonderlik teenwoordig is! Lees maar gerus weer deur jou Ou Testament. Dis 'n duidelike plek wat fisies op 'n landkaart aangedui kan word, dis geleë in die huidige staat Israel. So dink baie Christene... 

Maar wag 'n bietjie! Jesus se koms het baie dinge verander : ons bring nie meer bloedoffers nie, ons beoefen nie meer die besnydenis nie, ons vier nie meer die Joodse Sabbat nie... So kan mens aangaan...

Jesus het ook 'n hele nuwe betekenis en inhoud aan Sion en Jerusalem gegee.

"Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is" (Hebreërs 12:22,23)

Dis tog so duidelik! In sy kragtige oproep tot heiligmaking (vgl. 12:14), wys die Hebreërskrywer vir Christene op die feit dat die stad van God, die hemelse Jerusalem is. Dis die ontsagwekkende werklikheid waarmee ons nou moet rekening hou.

Christene word opgeroep om die hemelse Jerusalem in die oog te hou. Hierdie Jerusalem is die vervulling van al die Ou Testamentiese beloftes oor Jerusalem.

HOE MOET CHRISTENE DAN OOR DIE STAAT ISRAEL DINK?

Aan hierdie saak is heelwat direkte en indirekte vrae gekoppel : Moet Jode tot bekering kom en in Jesus glo om gered te word of dien hulle maar in elk geval dieselfde God as ons? Behoort Christene die staat Israel te ondersteun as ons geseënd wil wees? Hoe het die moderne staat Israel tot stand gekom, was dit God wat sy volk teruggebring het na die beloofde land of was daar ander rolspelers?  Hoe pas die Rothchilds in die prentjie? En wie is nou regtig God se uitverkore volk? Is die staat Israel 'n Godvresende land wat ons ondersteuning behoort te geniet?  Wat van die Palestynse Christene, is hulle nie dalk eerder ons broers en susters nie? Weet jy van die rol wat die Scoffield Bible gespeel het om baie Christene se denke rondom Israel te vorm? Waarom is Israel so 'n belangrike saak in 'n Amerikaanse presidentsverkiesing?

As jy weer oor hierdie dinge wil dink of antwoorde soek, kliek op MARCHING TO ZION  (maak jou reg vir 'n paar verrassings)*

Lees ook gerus weer UITVERKORE VOLK EN BELOOFDE LAND


NIE ANTI SEMITIES!

Moet ons die Jode liefhê? Ja, duisendmaal ja! Alle vorms van Jodehaat moet in die sterkste moontlike taal verwerp word. Ware liefde vir die Jode sal maak dat ons aan hulle die evangelie van Jesus sal verkondig (en ons moet!), maar dit vereis nie noodwendig dat ons ondersteuners van die staat Israel moet wees nie!


*Ek onderskryf nie noodwendig elke beklemtoning en nuanse in hierdie video nie, maar die geheelboodskap is m.i. Bybels.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.