BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 06 Oktober 2015

SELFDEGESLAGVERHOUDINGS - STANDPUNT TSUMEB

OPE BRIEF AAN NAMIBIESE AFGEVAARDIGDES NA DIE ALGEMENE SINODE VAN DIE NGK 2015.



1. Die Kerkraad van die NG Kerk Tsumeb is bewus daarvan dat die omstrede kwessie van selfdegeslagverhoudings by die komende sitting van die Algemene Sinode onder bespreking sal kom. Ons het veral ook met verbystering en skok kennis geneem van Beskrywingspunt B15 wat volgens ons radikaal van alle Skrifnorme afwyk en nie eens op ‘n sinodale agenda hoort nie. Indien genoemde beskrywingspunt aanvaar sou word, voorsien ons skrikwekkende gevolge vir die kerk.



2. Die kerkraad wil dit graag onder die aandag van ons Namibiese afgevaardigdes bring dat hierdie aangeleentheid vir ons ‘n saak van baie groot erns is. Daarom wil ons die onderstaande as nederige getuienis lewer oor hoe ons die saak van homoseksualiteit in die lig van die Skrif (probeer) verstaan:

WAT LEER DIE BYBEL OOR HOMOSEKSUALITEIT EN ONS OPTREDE TEENOOR DIESULKES?

Kom ons kyk na ‘n paar duidelike Bybelse merkers wat ons koers behoort te bepaal in die hantering van en ons houding teenoor homoseksualiteit en almal wat daardeur geraak word:

Die kind van God moet alle mense liefhê. God verwag duidelik van ons om ons naaste, wat alle soorte sondaars insluit lief te hê soos ons self. Dis sommer ‘n baie radikale liefde, dit sluit ook ons vyande in. Dis tog duidelik dat ons ons voorvaderaanbidder of Hindoe of Moslem bure moet liefhê en met ordentlikheid behandel, al verwerp ons hulle afgodery en valse godsdiens as ‘n gruwel. Hoe anders gaan ons aan hulle die evangelie van God se genade en vergifnis oordra? Presies dieselfde geld ook vir ons homoseksuele naaste. Vriendskap en liefde hoef mos nie noodwendig goedkeuring van hulle dade te beteken nie? Laat ons dit onomwonde duidelik stel, daar is geen plek in die kerk van Jesus Christus vir kwetsende taal of “gaybashing” nie! (Haatspraak teen gays soos veral in Amerika bedryf byvoorbeeld deur die Westboro Baptist Church is 'n tragedie en doen die beeld van die evangelie oneindig baie skade aan.)

Homoseksuele dade opsigself laat nie mense hel toe gaan nie, net so min as wat heteroseksuele dade vir my ‘n plek in die hemel verseker. “Gaan gays hel toe?” is ‘n vraag met ‘n valse vertrekpunt. Mense gaan nie hel toe oor een of ander spesifieke sonde nie, maar omdat hulle die enigste weg tot God, Jesus Christus verwerp. Mense word ook nie gered deur een of anders sonde nie te doen nie, maar omdat hulle Jesus as hulle Middelaar en Hoëpriester ken. Hierdie is ‘n noodsaaklike klem om ‘n gesonde perspektief te vind. So maklik kan iemand skouers optrek en hooghartig sê : “Gelukkig is ek nie ‘n homo nie, gelukkig is ek nie ‘n dronklap nie...” Dis nie die saak nie, die vraag is altyd primêr : “Het jy die Seun van God?” Wie Hom nie het nie, het nie die lewe nie... (1 Johannes 5:12) Maar juis HY nooi sondaars, ja alle sondaars om by Hom rus te vind. (Matteus 11:28) Dit sal die vertrekpunt moet wees in ons getuienis teenoor ons homoseksuele naaste, soos trouens ook teenoor alle ander mense!

Homoseksuele aangetrokkenheid (oriëntasie) is deel van die gebrokenheid van ‘n gevalle mensdom en ‘n skepping wat deur sonde geskend en gevolglik aan verganklikheid onderworpe is. Romeine 8 is hieroor baie duidelik. In hierdie skepping werk nie als soos dit moet nie. Ons het te make met ‘n stukkende mensheid en ‘n versteurde verganklike skepping weens God se straf op die sonde van die mens. Die direkte oorsake van homoseksualiteit kan moontlik baie kompleks wees: dalk geneties(?), gesinsomstandighede, molestering, groepsdruk, verkeerde keuses vroeg in jou lewe, die aantrekkingskrag van ‘n alternatiewe leefstyl... Beteken dit nou dat ons homoseksuele gedrag as normaal of reg moet tipeer? Die feit dat ’n bepaalde gedrag moontlik fisies-genetiese oorsake sou kon hê, maak dit nog nie reg nie. Sommige mense is geneties meer geneig tot verslawing – dit maak alkohol of dwelmmisbruik nog nie reg nie. Sommige mense mag fisies meer geneig wees tot onaktiwiteit – dit verhef luiheid nie tot ‘n deug nie. ‘n Lae drumpel van frustrasie of ‘n siekte toestand soos diabetes mag bydra tot woede uitbarstings – dit beteken nie dat ons padwoede en geweld mag goedpraat nie. Sommige se natuurlike seksuele drange weens (hoë?) hormoonvlakke is sterker as ander s’n en mag ‘n bydraende faktor wees in owerspel, pornografie verslawing of poligamie. Dit beteken tog nie, dat ons hierdie dinge nie meer sonde mag noem nie. Gemolesteerde kinders word dikwels self molesteerders, maar moet ons nou pedofilie probeer regverdig? Vetsug is ‘n gekompliseerde toestand waarin genetiese, omgewings en emosionele faktore beslis ‘n rol speel. Dit beteken nie dat mens nie daarteen kan veg en dit oorwin nie! Die punt is, alle mense ly op een of ander wyse onder die sonde gebrokenheid in hierdie wêreld. Maar deur die genade van God in Jesus kan ons ten spyte van hierdie gebrokenheid teen sonde kies en ons positief beywer vir ‘n heilige lewe volgens God se wil.

Homoseksuele gedrag en dade is nie alleenlik sonde nie, maar ook ‘n besondere simptoom van die wesentlike sonde om God se heerskappy en heerlikheid te ontken. Die feit dat daar komplekse oorsake en baie faktore betrokke mag wees, verander niks aan hierdie feit nie. Drie redes kan daarvoor aangevoer word: 

- Die Bybel sê dis sonde. Alle pogings om met slim jakkalsdraaie Bybelse gegewens iets anders te laat sê, as wat dit sê, misluk. Die betrokke tekste is oorbekend... ‘n Homoseksuele verbintenis is sondig en kan nooit ‘n huwelik genoem of kerklik gesanksioneer word nie.

- Die Bybel maak dit duidelik dat God se wil vir die uitlewing van die mens se seksualiteit, die instelling van die huwelik is. Dis ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou. In die lig hiervan is buitehuwelikse en voorhuwelikse seks (saamblyery), egskeiding, owerspel, homoseksuele gedrag en alle vorme van seksuele losbandigheid sonde... al word dit met watter mooi name of edelmoedige motiewe gekamoefleer!

- Romeine 1:18ev gee vir ons ‘n besondere perspektief oor die saak van homoseksualiteit. Dis onmiskenbaar opvallend dat die onnatuurlike verbintenisse tussen lede van dieselfde geslag hier vir besondere aandag uitgesonder word. Ja, al die ander sondes word ook verderaan genoem, maar homoseksuele verbintenisse kry beslis prominensie. Hoekom? Dit lyk asof Paulus sê dat die misplaaste eerbetoon van die mens om homself as skepsel te eer in plaas van die Skepper, daartoe aanleiding gee dat God die mens as straf oorgee aan ‘n verwronge misplaaste liefde – ‘n gerigtheid teen die natuur in op die (self) eie geslag in plaas van die teenoorgestelde geslag! Asof God wil sê : “Julle in julle rebelsheid draai alles verkeerd om, nou sal julle die konsekwensies daarvan op ‘n soortgelyke manier in julle diepste menswees, in julle seksualiteit ervaar.” Die verskynsel van homoseksualiteit is opsigself God se oordeel oor die rebelse menslike ras wat nagelaat het om Hom as God te vereer!

Homoseksuele moet opgeroep word tot geloof en bekering soos alle ander sondaars. Dit sluit aan wat reg aan die begin gesê is. Sondaars moet nie weg gewens of gehaat word nie, maar met liefde en erns tot bekering geroep word. (As die kerk nou homoseksuele verbintenisse gaan goedpraat of selfs wil seën, ontneem ons hulle in ‘n sin die voorreg van bekering.)

Homoseksuele hoef nie te wanhoop nie, daar is ook vir hulle soos vir alle sondaars wat hulle tot Jesus bekeer, vergifnis en verlossing. Die Woord is duidelik hieroor in 1 Korintiërs 6:9-11. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Die implikasie is mos baie duidelik : God is in staat om alle tipe sondaars te red, ook homoseksuele. Hulle WAS so... 

Dis moontlik dat ‘n kind van God nog steeds ‘n stryd hê teen ‘n homoseksuele aangetrokkenheid. Die duidelike onderskeid tussen vryspraak en heiligmaking moet altyd vasgehou word. Vryspraak (regverdiging) is ‘n eenmalige kwytskelding van skuld wat die sondaar onmiddellik en volledig ontvang as hy hom op Christus se soenverdienste werp. Heiligmaking is ‘n lewenslange stryd van die kind van God teen sonde en versoeking en sal eers finaal iets van die verlede wees, wanneer die kind van God verheerlik word by die wederkoms. Enige kind van God kan deur enige sonde (ook sondes van ‘n homoseksuele aard) versoek word en selfs ook val, maar moet opstaan en die stryd weer voortsit!

Die kerk van Jesus het ‘n besondere liefdesplig om haar lidmate wat in ‘n stryd teen sonde en twyfel gewikkel is by te staan; dit sluit mense in wat met homoseksuele versoekings worstel. In die stryd teen sonde en versoeking moet ons mekaar help, aanmoedig en mekaar se laste dra. ”Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself." (Galasiërs 6:1-3)


Die kerk van Jesus kan ‘n selibate leefstyl aan gebrokenes op hierdie terrein voorhou as ‘n heerlike manier om Christus se liefde te ervaar en toewyding aan die wêreld te demonstreer! Dit blyk dat nie alle homoseksuele wat gered word, so herstel van selfde geslag aangetrokkenheid dat hulle ‘n huwelik kan sluit nie! Dit beteken nie dat hulle tweedeklas Christene hoef te wees nie. Die ongetroude staat is nie iets negatief volgens die Bybel nie. Dit kan die geleentheid skep vir ‘n standaard van diens en toewyding wat vir getroudes nie altyd moontlik is nie! 

Die kerk van Jesus het ook ‘n plig om die heiligheid van die kerk tot eer van God te beskerm. Die Bybel aanvaar dit as vanselfsprekend dat ook die lidmate van die kerk steeds onvolmaakte mense is en in sonde kan val. Waar daar onberoulik in sonde volhard word, het die kerk egter ‘n liefdesplig om te vermaan en indien nodig verder te gaan deur afsnyding. Die motief bly die redding van die sondaar en die eer van God. As die kerk weens papbroekigheid, die soeke na mense eer, wêreldgelykvormigheid en die vrees vir vervolging (soos deur die goddelose media) terugdeins van hierdie plig, word die heil van die sondaar en die eer van God nie gedien nie! Op die ou end wen die kerk buitendien geen aansien deur ‘n pamperlang beleid nie, maar word nog meer ‘n voorwerp van bespotting omdat ons te bang is om die Woord waarin ons beweer ons glo, uit te voer!

‘n Lamsakkige kerk dwing geen respek af nie! So ‘n kerk verloor sy Bybelgetroue lidmate, terwyl sy in elk geval nooit genoeg aan die eise van die gay agenda kan voldoen nie! ONS MOET DIE WAARHEID MET LIEFDE VERKONDIG! So sal God verheerlik en sondaars gered word!

3. Ten slotte wil ons as kerkraad baie ernstig by ons Namibiese afgevaardigdes pleit om ‘n duidelik Bybelse standpunt in te neem, terwyl ons julle die wysheid en seën van die Here toewens.

Die Kerkraad
NG Kerk Tsumeb

NS Vir die inhoud van BESKRYWINGSPUNT B15 , kliek op
BESKRYWINGSPUNT


20 opmerkings:

  1. Nadat ek vanoggend op Netwerk 24 die berigte oor die Sinodesitting gelees het, is ek nog meer oortuig daarvan dat ons ’n herlewing nodig het. Luister bietjie wat het die norm geword: Die vraag is of homoseksualiteit sonde is of nie. Die antwoord word op die volgende plekke gesoek (en hier is die nuwe norm): In die belydenisklas van een gemeente. Die jonges voel homoseksualiteit is ’n non-issue. By wat my kinders oor ’n paar jaar van nou af gaan dink oor ons besluite. Hoe gaan ek hulle in die oë kyk? By die menswaardigheid van die mens. Die norm het geword wat mense sê, en nie meer wat God sê nie. Lees ek dit mis, of word hierdie hele debat gevoer met bitter min Skrifverwysings? Om te sê dat ons almal moet liefhê, is nog lank nie om te sê wat die Bybel oor die liefde sê nie. Johannes sê: "Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie nakom" (1 Joh. 5:2). Liefde vir God is onlosmaaklik verbind aan sy gebooie. Dit is nie ’n "aanvaar-maar-almal-soos-wat-hulle-is" liefde nie. Ek hoor niks van ’n liefde vir God en naaste wat sigbaar word in die nakom van God se gebooie nie. Moet ek my medemens dus liefhê? Ja, beslis, maar dan deur God se gebooie na te kom.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja, ek het dit ook raakgelees. Die mens is nou die norm (baie belydenisklasse in ons permissiewe era sal in elk geval met niks fout vind nie!) Jammer om te sê die humanisme loop 'n dik stroom by die AS. Maar nou ja dis die gevolg van jare se breinspoeling op ons liberale teologiese fakulteite...

      Vee uit
    2. Tsumeb kerkraad kan gerus van die kansel af kinders wat voel hulle is ingelig genoeg, aanmoedig om onbevange (anoniem) deel te neem en hulle opinies te gee. Kinders weet dat daar baie grade van seksualiteit is en aanvaar dit as 'n feit wat "gesagspersone" nie kan wegreël nie. Kinders is ingelig!!

      Vee uit
    3. Ek sal graag twee dinge by jou wou weet : Wat is jou naam en wat is nou eintlik die punt?

      Ek luister graag na almal (ook kinders se openhartige opinie), maar op die ou end is al wat saakmaak net God se Woord!

      Vee uit
    4. Bespeur ek 'n bietjie venyn?
      Miskien moet ek die versoek verander na:

      Tsumeb kerkraad kan gerus...... gemeentelede aanmoedig om deel te neem.....

      Vee uit
    5. Gemeentelede weet my deur staan oop en hulle maak wel gebruik daarvaan!
      Ek vind dit wel vreemd dat iemand skaam vir sy naam is!

      Vee uit
    6. Tsumeb kerkraad,
      Ek voel steeds, veral nou na die AS-beluit, dat dit ‘n goeie idee is om gemeentelede by wyse van ‘n versoek, aan te moedig om deel te neem op hierdie verbruikersvriendelike forum.

      Vee uit
  2. Wel, wel, Dominee. Ek moet werklik waar se dat die gedeelte 'n baie duidelike geskenk van BO is en dat enige een wat dit lees die UITROEP en WAARSKUWING van die Gees van God daarin kan sien en lees. Rooi gevaar tekens en seine wat moet dien as waarskuwinge teen die totale verval van die NG Kerk. Die val van die Kerk het ek al gesien die dag toe die Kerk by die Wereldraad van Kerke aangesluit het. Toe het ek al gese dat 'n kerk verval nie in eengeslag nie maar in twee of drie. Ek voel baie trots om met die NG Kerk Tsumeb ge--assosieer te kan word, omdat die Here nog steeds daar verheerlik word.
    Ek is egter baie jammer om te se, dat selfs nie eens die uitroep van die Gees van God aan gehoor gaan gegee sal word nie. Die Hand het klaar op die muur geskryf, maar tog moet ons bid en glo dat die Here nog steeds die verskil kan maak. Dit is ons roeping en die enigste manier om ons te kan distansieer van die dinge wat gebeur. Die druk op die mens, wat die uiteinde en die lot van die Kerk bepaal raak te groot en aan die einde van die dag moet die mens swig voor die aanslag van die satan.
    Die feit is algemeen bekend dat ons in die laaste tyd van die wereld leef en dat profesiee invervulling moet kom en DIE is die grootste deel van dit alles, sodat die wereld met vuur en swael sal vergaan en is deel van die verdrukking. Soos die verdrukking in die dae van Lot en hoe sy siel dag vir dag gepynig is deur die aanskoue van die ongeregtigheid in Sodom en Gommora. Tog is dit so dat ons nog steeds moet bid en stry teen dit alles, al weet ons dit alles is maar deel van die professiee van ons tyd.
    Mag die Here gee dat ek verkeerd is en dat Hy die aanvaarding van die situasie sal uitstel, want ons weet wat die antichris terughou, die geloof in die Naam van die Seun van God. Mag Hy dit so bevind dat daar genoeg geloof is om dit weeereens uit te stel. Hierdie dus 'n baie duidelik toets aan die leiers van die kerk se standvastigheid en eensgesindheid in die geloof in Sy Naam.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Tinka, sterkte vir jou daar in die Noorde!

      Vee uit
    2. "Die feit is algemeen bekend dat ons in die laaste tyd van die wereld leef"

      "Agemeen"?, soos onder wetenskaplikes 1.5 - 1.75 bilj jr. Jy't geen goeie rede tot kommer nie.

      Vee uit
    3. Wel Anoniem, ek wou eers nie antwoord op jou aanmerking nie, maar tog het ek tot die besluit gekom om tog maar my rede tot kommer met jou te deel en ek hoop van harte dat dit tog by jou sal uitkom vir jou om dit te lees. Wat jy baie duidelik nie verstaan nie is die liefde van die Jesus wat die Seun van die Allerhoogste God is. Dat hierdie liefde jou dring/forseer om op te staan teen alles en almal wat teen Sy voorgeskrewe reels en regulasies handel, verder dat dit jou verplig om die wat daarteen rebelleer met liefde te vermaan en te wys op wat die Waarheid is. Wat weet jy van die seer in die binneste van die wat die ongeregtigheid moet aanskou en daarmee saam moet lewe? Die seer binne om te sien hoe die mens vanwee sy gebrek aan die kennis van God en Sy Seun en die onuitspreeklike liefde wat daar is in Hulle vir die sondaar mens, die stryd teen die bose laat verloor. Om te sien hoe die gebrek aan kennis sovele met blindheid slaan om die leun te glo. Jy sal dit nie weet nie, of nie wil weet nie, want jy sal dit nie glo van die liefdevolle God en Sy Seun nie. Die dag van Finaliteit is net om die draai. Die dag wanneer julle sal wens om slegs een uur van die Seun van die Mens terug te he en dit sal julle nie gegun word nie. Ek kan ongelukkig nie op die platform in bree trekke praat nie. Ek wil net die hoop uitspreek dat jy dit sal verstaan en dat jy ook in jou lewe hierdie liefde mag smaak en met Hom kan deel in die vreugde wat dit vir ons bied.

      Vee uit
  3. Lei ek reg af?
    1. Tsumeb kerkraad voel genoop om dié dramatiese opmerking te maak. “Indien genoemde beskrywingspunt aanvaar sou word, voorsien ons skrikwekkende gevolge vir die kerk.”
    2. Tk “weet” (anders as die wetenskap) dat die rede vir homoseksualiteit onder ‘n klein persentasie diere “opsigself God se oordeel is oor die rebelse menslike ras wat nagelaat het om Hom as God te vereer!”*
    3. Tk gee toestemming/stem in, dat mense gay mag wees.**
    4. Tk skryf voor dat hierdie mense “selibaat” moet wees.
    *Aanhaling aagepas.
    ** Hiermee sou Die Jesus van die Bybel seker saamgestem het as Hy homoseksualiteit belangrik genoeg geag het om iets daaroor te sê. Hy het nie!!

    Vrae (billik?)
    1. Hoe selibaat moet hierdie mense wees?
    Bedoel dit slegs hulle mag nie trou nie?
    Of geld dieselfde ongeskrewe reëls soos vir voorhuwelikse verhoudings?
    • Mag hulle verlief raak?
    • Mag hulle liefkoos?
    2. Is dit werklik so dat ‘n groep volwassenes saamstem dat hulle weet dat God, onder andere, gayheid reël om mense te toe te rus om Hom in vreugde te dien deur hulle seksualiteit lewenslank te onderdruk om God te vereer vir wat Hy aan hulle gedoen het omdat ander mense Hom nie genoeg vereer het nie?
    Ek is ‘n heteroseksuele man en is 100% oortuig dat daar niks, maar niks, “verkeerd” is met die natuurlike verskynsel van homoseksualiteit nie en dat hierdie mense in alle opsigte gelyke behandeling verdien. Gelukkig word al meer mense beter ingelig en meer verdraagsaam.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Tsumeb opsigself "weet" niks - ons lees maar net in eenvoud.die Woord. As die Woord ook nie vir jou 'n vertrekpunt is nie, het ons ongelukkig niks vir mekaar te sê nie! Jesus het wel by implikasie iets daaroor gesê as hy verwys na die een man en een vrou wat God saamgevoeg het!

      Vee uit
    2. "Morality is doing what is right no matter what you are told.
      Religion is doing what you are told no matter what is right."
      Ek weet dit kom nie uit die Bybel nie, maar dit herhinner my baie sterk aan Die Jesus van die Bybel. Tsumeb kerkraad kan dit gewis oorweeg.

      Vee uit
  4. Tsumeb kerkraad,
    Doen moeite en spoor LGBT persone op. Hulle IS daar. Sommiges van hulle is baie aangename mense en sommiges minder, net soos “ander“ mense. Ontmoet hulle. Kommunikeer met hulle. Julle gaan gou agterkom (soos baie Christenkerke alreeds agtergekom het) HULLE is maar net ONS.

    Ek het op die internet gesoek en baie en baie goeie inligting oor Tsumeb NG Gemeente gekry.
    Groete en sterkte met julle gewaardeerde funskies wat julle in die gemeenskap verrig.
    Van: WWW (wil werklik weet). ‘n Skeptiese, onoortuigde van die bonatuurlike.

    AntwoordVee uit
  5. Die NUWE realiteit??

    Aan: Tsumeb kerkraad:
    Ons is nuwe intrekkers. Ons sien uit daarna om betrokke te raak by julle gemeente-aktiwiteite.
    Ingesluit:
    1. Attestate
    2. Cv van ons leraar

    Van: gelukkig (in die kerk) getroude, seksueel aktiewe, egpaar: Jan en Hendrik Alleman.

    AntwoordVee uit
  6. Hi Dominee. Dit is baie duidelik dat die persone wat hulle so ernstig uitspreek oor hulle oortuiginge werklik skaam is oor die oortuiginge van hulle hart [geloof]. Die vraag wat moet beantwoord word is= Met die Humanistiese beskouing/benadering wat so baie duidelik sigbaar is uit al die kommetaar en alles wat aangevoer word: Kan die Kerk nog beskou word as die Kerk van die Seun van God?
    Ons moet in vandag se tyd terme wat ons gebruik baie duidelik definieer. Sinneloos om te praat van die kerk van christus, want van watter christus word hier gepraat? Net soos die verwysing/benaming christen, in watter christus is jou geloof? Die is hoekom ek so 'n geweldige gevoel van afkeer beleef elke keer as dominee die woorde gebruik in die kerk, want ek is nie 'n christen nie, maar 'n kind van God, omdat ek glo in die Naam van die Seun van God en nie in 'n christus nie. 1.Die Kerk van die Seun van God is baie duidelik gebou op die fondament van die Wet en die Profete. Die Seun van God, wat die vervulling van die Wet en die Profete is, het 'n ander bedeling daar gestel naamlik die geestelike waardeur die geestelike losgekoop is van die Wet, maar tog is en bly die vlees onderworpe aan die Wet van God vir solank as wat hy leef.
    Rom_7:1 Of weet julle nie, broeders want ek spreek met mense wat die wet ken dat die wet oor die mens heers so lank as hy lewe nie?
    Rom_7:2 Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man.
    Rom_7:3 Daarom dan, as sy ‘n ander man s’n word terwyl haar man lewe, sal sy ‘n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy nie ‘n egbreekster is as sy ‘n ander man s’n word nie.
    Gaan ons nou ter wille van ons humanistiese oortuiginge hierdie tekse herskryf om aan te pas by hierdie vorm van oortuiginge/geloof.
    2.Het die kerk nie nou baie duidelik die kerk van christus geword, wat die christus van die mens is, waarin die begeertes van die mens en die oortuiginge van die mens gestel word, bo die geloof van die geestelike oortuiginge; in die Naam van die Seun van God nie, wat die vervulling van die Wet is; deur Wie die vervulling van die Wet volbring is.
    Hier uit baie duidelik dat Hy die vervulling van die Wet is, OMDAT Hy die Wet vervul het in totaliteit. Die wat dus in Hom glo, glo dus in die Wet en alle aspekte rondom die Wet van God wat opgeteken is in die Skrif en dat ons in vlees en bloed onlosmaaklik verbind is/uitverkoop is onder die slawerny van die Wet van God, maar vrygespreek is na die gees, van die Wet van God. Met ander woorde, dat die ewige lewe slegs die beloning/erfenis sal wees, as die werke van die vlees doodgemaak/oorwin word deur die werke van die Gees van God in ons is wat na die Gees lewe. DEEL1 = 2 VOLG

    AntwoordVee uit
  7. DEEL 2
    Ons kan nie doodeenvoudig se: Ek word deur die geloof gered nie, want dit is duidelik dat die geloof nie genoeg is nie. As ek dus nou se: Ek vervul die gebod van die liefde en sal dus daardeur gered word. Dan is die priemere vraag: Tot wie is die liefde gerig? Is die liefde gerig tot die Seun van God in totale toewyding, of tot die mens? Dit is baie duidelik dat, wat jy ookal gedoen het aan die mens, het jy vir/aan My gedoen. Dit se, dat die liefde vir jou naaste tot uitvoering gebring word, met die priemere doelwit gerig/aangespoor deur die EEN LIEFDE wat uit God gebore is tot die EEN van Sy LIEFDE, naamlik die Seun van God. Enige ander liefde wat nie dit het as basiese fondament nie, is nie uit God gebore nie.
    As ons nou 'n waarde bepaling doen van die liefde wat uit hierdie oortuiging voortspruit, is dit baie duidelik dat dit nie uit die fondasie van die Goddelike liefde voortspruit nie,maar direk uit die emosie van die mens en die oortuiginge van die mens, volgens die begeerte van die hart van die mens, gerig tot die mens as sulks. 'n Absolute misplaasde liefde tot die mens, wat nie die Goddelike liefde van redding en verlossing aan die mens wil betoon deur die wil van God aan die mens oordra te dra/verkondig nie. Dit is die wil van God, dat almal gered moet word en dat almal tot die kennis van die WAARHEID moet kom.
    Wat is dus nou die WAARHEID?
    1. Dat die Seun van God die Wet in sy geheel vervul het, en op grond van hierdie prestasie Sy geregtigheid verwerf het deur die geloof in die EEN wat die belofte gemaak het.
    2. Dat die Seun van God die Wet van die liefde invervulling gebring het, deur die liefde wat uit God gebore is, met die priemere doel om God te verheerlik, deur hierdie liefde aan die mens te betoon. Dit is van uit hierdie liefde wat Hy Sy gehoorsaamheid aan God betoon het en aan God bewys het dat Hy Hom liefhet, deur aan die mens Sy liefde te openbaar.
    Hierin vind nie 'n veroordeling van die mens plaas nie, maar die openbaring van die Goddelikke liefde teenoor die mens, om die openbaring van die wil van God aan alle mense te verkondig, om dus so redding en verlossing aan alle mense moontlik te maak. Die roeping en die doel van die Evangelie van die Seun van God wat in ons invervulling gebring moet word, om op so 'n wyse/manier ons liefde vir Hom aan Hom te openbaar//betoon. En so sal ons die wet van die liefde tot uitvoering bring in ons lewens

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.