BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 24 Januarie 2020

SELFBEHEPTHEID EN SELFLIEFDE

- die groot leuen van die valse profete 



“Jy moet glo in jouself! Jy moet jouself liefhê! ‘Like’ jouself! Wees net positief - Jy is geregtig op die mooiste vrou, die duurste kar; jy verdien die beste werk en ‘n luukse leefstyl… Jy vlieg mos besigheidsklas”* Dis die boodskap wat aan onkundige mense opgedis word, dis die lering waarvan die gierige massas hou en waarvoor die opgesweepte skares hande klap. Dis die boodskap van die valse profete. 



Dis teen hierdie mense, hulle invloed en lering waarteen die apostel Paulus vir die jong man, Timoteus waarsku in 2 Timoteus 3:1-9. As Paulus die groot verdorwenheid – die afval, verval en boosheid van die laaste swaar tye beskryf dan begin hy by – “Die mense sal selfsugtig wees.” (NAB) Letterlik in die Grieks staan daar - “filautoi" - "liefhebbers van hulleself.”(OAV)* As mens kyk na die laaste sin van die paragraaf wat die valse Christene en valse leraars se gedrag beskryf dan sien mens ‘n duidelike kontras. “Eerder liefhebbers van genot as liefhebbers van God!” (OAV) Dis die klimaks kontras tussen liefhebbers van hulleself (filautoi) en liefhebbers van God (filotheoi) Jy sien dis eintlik die twee kontrasterende en opponerende opsies – liefde vir die self of liefde vir God! Al hierdie ander bose eienskappe gaan saam met hierdie selfliefde en selfbeheptheid… as ek myself eerste stel dan word ek geldgierig (liefde vir geld), dan lei dit tot grootpratery (spoggery en “brag”)…ens. Selfgesentreerdheid en selfbeheptheid is die groeibodem van alle ander sonde en skande! Waarom steel en lieg mense, waarom bly mense ongetroud saam en leef losbandig, waarom skinder ons, waarom word ek dronk en gee nie om hoe dit ander mense rondom my raak nie...?



Selfbeheptheid is kunsmis vir alle soorte sonde! 

UITERLIK GODSDIENSTIGES – BLY WEG! 

Maar dan kom Paulus seker by die heel skokkendste uitspraak in hierdie gedeelte. “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (5) Hierdie mense lyk en klink godsdienstig. Hierdie selfliefhebbers is deel van die kerk. Hierdie godsdienstige narsiste beweeg onder die vaandel van Christenskap! Hulle ken die Bybel en hulle gebruik die Naam van Jesus! Party bou selfs luukse megakerke! 

Hulle lyk baie vroom. Die gedaante, die vorm van godsaligheid! Hulle praat saam en sing saam, hulle stuur Christelike whatsapps, hulle ken al die Christelike woordeskat… Maar hulle kort iets – die krag van die godsdiens. Hoe so? Die krag van ware godsdiens lê juis daarin dat dit oorwinning oor selfsug, selfgesentreerdheid, selfbeheptheid en sonde bring! Die krag van ware godsdiens word juis gesien daarin dat mense hulleself opoffer om God en hulle naaste lief te hê. (Ook hulle onbeheersde drange opoffer) Die praktiese raad van Paulus aan Timoteus i.v.m. sulke mense is kort en kragtig : BLY WEG! 

Moenie eers gaan kyk nie, moenie eers gaan luister nie! Spaar jouself baie skade en skande! 

MISLEIDING VAN ONSTABIELE MENSE 

Saam met die vals profete se oënskynlike godsdienstigheid gaan hulle ywer om ander te mislei. Dis hoekom hulle so gevaarlik is. Dis hoekom mens van hulle moet wegbly! Mense wat hierdie selfliefde boodskap verkondig, beïnvloed baie ander rondom hulle. Hulle neem ander mense gevange met hulle slim en oorredende stories. Mens sien dit! Paulus noem hier ‘n praktiese voorbeeld uit sy tyd. Dit lyk asof hierdie valse profete van huis tot huis gegaan het en onstandvastige en naïewe, liggelowige vroue maklik met hulle valse stories mislei het. Hulle boodskap het aanklank gevind by hierdie vroue se sondige begeertes. Die valse profete kry sulke mense maklik in hulle mag. Dis vandag nog hulle taktiek… hulle maak jag op onstabiele en onkundige mense wat nie sterk staan in die Woord nie en nie sterk Woordgebaseerde oortuigings het nie. As voorbeeld van valse profete noem Paulus vir Jannes en Jambres. Dié name kom nie in die Ou Testament self voor nie, maar was volgens die Joodse tradisie twee towenaars aan die hofhouding van Farao. Die Joodse Targum (kommentaar) voeg hulle name in by Eksodus 7:11. “Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in ‘n groot slang. Maar toe sluk Aäron s’n hulle s’n in! (Eksodus 7:11,12) Ons ken mos die geskiedenis- Hierdie towenaars kon God se wonders tot op ‘n punt naboots. (Hulle kieries het ook slange geword!) Dit het gelyk asof hulle Goddelike mag het! Maar hulle was teen God. Hierdie vervalsers het Moses se boodskap teengestaan net soos die valse apostels die boodskap van Paulus en die apostels teengestaan het. 

Die selfliefde evangelievervalsers gaan uitgevang word! 

Gelukkig sal die vals profete nie ver kom nie. Die towenaars van Egipte kon ook net tot op ‘n punt bybly en die plae en die wonders van God naboots. Kort voor lank moes hulle die onderspit delf. Die valse leraars se dwalinge word uiteindelik ontmasker. Hulle sal noodwendig iewers ontbloot word en almal sal besef dat hulle net geestelike swendelaars en kwaksalwers was. 

WEES GEWAARSKU! 

Pasop vir enige lering en filosofie wat die klem op die mens en sy behoeftes en sy begeertes, sy plesier en sy prestasies plaas! (Al gebruik hulle stringe Bybeltekste om hulle punte probeer staaf) Die valse evangelie (soos byv. Prosperity Gospel/Voorspoedevangelie) lê gedurig klem op die self – my drome, my suksesse, my finansies, my gesondheid, my seksuele vervulling… Die mens wat nie weergebore is nie, vind natuurlik aanklank by hierdie selfgesentreerde boodskap – van nature wil alle mense mos ryk en gerieflik lewe, almal smag na mag en plesier... Slegs deur die wedergeboorte bewerk deur die Gees word ‘n nuwe stel waardes in ons harte gevestig. Eers dan word God en sy eer ons eerste prioriteit! Net dan kan ons ons naaste waarlik liefhê! 

Die boodskap van Jesus het reëlreguit ingedruis teenoor dié van die welvaartsleraars. “Verloën jouself!” Dis wat die Nuwe Testament ons leer. “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matteus 16:24) 

Ons moet egter nie net pasop vir die valse leraars en hulle boodskap nie. Ons moet onsself positief bewapen en versterk teen die valse leringe van ons dag. Ons moet ‘n lewe van volharding leef wat gebou is op die waarheid van die Woord! (Sien 2 Timoteus 3:10-4:5) Ons moet kies teen selfgesentreerdheid en selfbelang en vir God se Woord en God se wil! 

*Dis letterlik die strekking van wat At Boshoff van die CRC leer! 

**“people will be lovers of themselves” (NIV), “Die Menschen werden viel von sich halten” (Duits) maw “die mense sal baie van hulleself dink”


Ons dank die Here vir milde reën in Januarie!

6 opmerkings:

  1. Dit sluit ongelukkig die NG Kerk ook nou in, Johannes. Quo Vadis?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dis seker onbillik om alle NG kerke (gemeentes) onder dieselfde kam te skeer of hoe? Inderdaad word dwaling in baie NG kerke (gemeentes) aangetref. Ek vertrou dat ons in die NG kerk, Tsumeb vashou aan die suiwer evangelie en dit uitdra tsv baie onvolmaaktheid. So jy vra waarheen? Wel, voeg jouself by 'n plaaslike kerk, ongeag die naam of affiliasie waar die evangelie nog verkondig word. Sterkte!

      Vee uit
  2. Inderdaad , ongelooflik baie dwaling. Maak mens eintlik moedeloos op n sekere vlak , maar tog is dit nou die tyd om juis n verskil te maak en te staan vir dit wat reg is. Net so dankbaar vir die blog wat die waarheid is. Natuurlik deur Sy krag.

    AntwoordVee uit
  3. Vandag, dalk meer as voorheen, is die Gees van onderskeiding onontbeerlik op ons geloofspad en, soveel te meer, vir die opgroeiende jeug. Sien gerus Jesaja 30:21 in die verband.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.