BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 10 Oktober 2015

DIT GRYP AAN DIE HART...

Die afskuwelike besluit van die Algemene sinode veroorsaak soveel ellende en ontsteltenis... Meer as dit, pyn, werklike pyn. Slapelose nagte. Om te beleef dat ons geliefde kerk, die kerk wat soveel seëninge beleef het en tot soveel seën vir ander was, gekies het vir radikale humanisme teen God se Woord...


[Die liberales hierteenoor juig! Dit herinner weer sterk aan die bekende John Piper se stelling : "At this moment in history, contrary to the other sins listed..., homosexuality is celebrated by our larger society with pioneering excitement. It’s seen as a good thing, as the new hallmark of progress."]

Soveel telefoonoproepe, e-posse*, gesprekke... verbasing en verbystering, vrae en vertwyfeling... "wat nou, moet ek bedank? En waarheen dan?" Die oplossings is nie eenvoudig nie, die antwoorde nie maklik nie... Daar is skape van die Here wat gaan skade ly, as ons oorhaastig optree,  (Daar is seker nou 'n hele paar aspirant praktiserende homoseksuele wat beroepe soek... en kan mens jou indink die skade wat dit aan God se kudde gaan doen! Dis om van te sidder!) Aan die anderkant moet ons nie vergeet dat God heilig is nie! Die realiteit is ook dat die kanse op bekering vir die NG Kerk skraal is solank die teologiese fakulteite wat die voorbokke van verval is, toegelaat word om hulle gif onder ons studente te versprei en hulle immuun teen die Woord te maak! En tog kan God in sy soewereine almag bekering skenk, as Hy besluit om te werk, wie kan Hom keer?

WAT NOU?

Voorlopig dink ek... [dis voorlopig, want ek moet nog met my kerkraad saam besin...]

Moenie oorhaastig optree en juis so in die hande van die liberale kerkvernietigers speel nie! (Gaan lees maar op sosiale media hoe van die grootste NG haters juig oor die AS se besluit...hoekom?)

Teken hard en duidelik protes aan. Daar is te veel leraars en lidmate wat tevrede is dat ander ouens namens hulle die stryd stry. Neem die aansporing van Judas vers 3,4 baie ernstig op : " Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het.
Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus."
Terloops. Die kastige pastorale brief van die Algemene Sinode walg my, dis net mooi woorde sonder betekenis. Hulle paai nou hard, want hulle weet die kerk gaan nou lidmate verloor. Ons moet nie mislei word nie, maar duidelik opkom vir die waarheid!

Daar rus 'n plig op ons elkeen wat die waarheid liefhet om juis nou meer as ooit tevore die skape van die Here Jesus te versorg. Hulle is verward, geskok, stukkend, want ons kerk steek ons in die rug, die kerk waarvoor hulle hard werk, opgeoffer het, vir wie ons opkom in 'n vyandige omgewing. Ander kerke verdink ons nou van als wat sleg is (kan mens hulle kwalik neem?), ja selfs die Rooms Katolieke verstaan die Woord nou beter as ons op hierdie bepaalde punt! Ons moet mekaar vashou en bemoedig. Ek het vele bewyse van die diepe geskoktheid en volslae verbystering wat getroue lidmate nou beleef...

Wees voorbereid op vervolging! Vanoggend in my stiltetyd is ek getref deur Jesus se woorde in Johannes 15:18,19 - "As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat.
As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle."
Dieselfde manne wat so mooi oor verdraagsaamheid praat, gaan die eerste en die hardste byt... Gaan lees die sosiale media.

Dink nugter oor wat gebeur het. Die Algemene Sinode se besluit verteenwoordig 'n minderheid in ons kerk. Ek het geen twyfel dat as ons gemeentes hieroor sou stem soos in die geval van die voorgestelde Artikel 1 wysiging, die meerderheid teen hierdie verval sou stem nie! En buitendien, ons weet dat die Woord en die Belydenisskrifte aan ons kant is, waarom sou ons terugdeins? Wat ek wil sê, moenie te gou skrik vir die AS nie. Hulle is nie die kerk nie!

Soek God se wil biddend saam met medegelowiges! Die Here sal sy getroues nie in die steek laat nie en sal aan ons genade en wysheid skenk...Hy doen dit veral binne die gemeenskap van gelowiges. As ons dan moet vlug, dan sal Hy vir ons bekendmaak wanneer en waarheen deur die gesamentlike wysheid wat die Heilige Gees ons gee.

Intussen, laat ons die Woord tydig en ontydig bring...

[Laat weet hoe jy dink en kom ons bemoedig mekaar, maak gerus gebruik van die kommentaar funksie hieronder]

*So skryf 'n kosbare broer wat die Here in die sendingveld dien : 

Beste Johannes,

Ek is nou erg ontsteld en verward – inderdaad in ‘n krisis - n.a.v. gister se besluit deur die Algemene Sinode dat homo-paartjies OK is en nou mag “trou” en dat teologiese studente en leraars nie meer selibaat hoef te wees nie."


[Mariental NG Kerk - oudste gemeente van die NGK in ons land, eers bekend as die Gibeon gemeente]

44 opmerkings:

  1. Ek plaas graag dit wat ek pas getwiet het, hier:

    "Dominee, ek bid vir JOU wat môre die #sgv nuus aan jou ouer oningeligte lidmate moet breek! #ngkerk #algsinode #as2015 "

    AntwoordVee uit
  2. Sterkte met die stryd vir die waarheid.
    Ek dra julle in gebed op.
    Dis 'n moeilike tyd hierdie vir kinders vd Here & groot wysheid is nodig, wat alleen die Here kan gee..

    AntwoordVee uit
  3. Ek is bemoedig deur wat ek vandag al gehoor het... daar is beslis leraars en lidmate in Namibië wat nie net gaan toesien dat ons kerk deur die AS verwoes gaan word nie...

    AntwoordVee uit
  4. Johannes,
    Ek is saam hartseer oor die AS se besluit. Tog dink ek jy sal saamstem dat jou gebruik van die term "kerk" problematies is wanneer jy praat van "ons geliefde kerk..." Natuurlik verstaan ek te goed wat jy bedoel, maar is hierdie verkeerde gebruik van die term nie juis die rede waarom baie nou so platgeslaan is nie? Wil ons nie juis op 'n Bybelse manier praat teenoor die on-Bybelse wat die hartseer veroorsaak nie?
    Jy het self tog ook daarop gewys dat die "kerk" wat die besluit geneem het bloot die AS was, wat met 'n skrale meerderheidsstem gewen het en wat nie werklik verteenwoordigend is van die lidmate nie. Moet ons dus treur oor die besluit van ons "geliefde kerk" of kan ons dankbaar wees dat die Here net duidelik gewys het dat hierdie ouens wat die besluit geneem het juis nie deel is van Sy ware kerk nie? Het ons in die AS en die besluit nie te make met die dier uit die aarde van Opnbaring 13:11 nie? Let op hierdie dier lyk soos 'n lam maar praat soos 'n draak! Bybelkenners is dus eens dat ons hier 'n beskrywing van valse godsdiens het, wat in noue verhouding staan met die wereld sisteem van die dag ( die eerste dier uit die see Opn 13:1). Openbaring wil juis die ware kerk waarsku teen hierdie "dier" wat die ware kerk kan mislei - maar daar is geen manier waarop hierdie dier as die kerk beskrywe kan word nie! Wat nog van "geliefde kerk..."
    As ons dit so verstaan is dit nie nodig om so bitterlik te ween oor die "geliefde kerk" wat op 'n verkeerde pad is nie... nee wat, hierdie besluit is dalk bietjie erger as die ander wat reeds gemaak is, maar is dit ook werklik erger as die ondersteuning van apartheid wat ook deur die AS van destyds besluit is...?
    Ek wil dus pleit dat ons Bybels dink oor wie of wat die kerk is. Dalk moet ons ons dan eerder verbly oor Rom 8:28 en weet dat God hierdie gebeure ten goede laat meewerk om ons juis weer te help om Byels te dink en te praat/skryf oor die kerk.
    Groete.... en baie dankie vir jou blog! Wat van 'n paar artikles oor kerk en kerkwees?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek bedoel die term in die breë sin van die kerk as liggaam van Jesus. Wie Jesus liefhet, sal sy liggaam nl. die kerk liefhê, al het die liggaam ook ernstige gebreke in hierdie gebroke wêreld en al is daar altyd valses en wolwe met skaapklere!
      Daar is reeds 'n paar artikels oor hierdie onderwerp... kyk maar net.
      Dankie vir die aanmoediging

      Vee uit
  5. Johannes ek is net so geskok oor die besluit. Die laaste 2 nagte al kon ek nie slaap nie. As sendeling op die veld en lidmaat van die NG kerk weet ek nie wat om nou te doen en hoe dit ons hier gaan raak nie. Ek meen mens kan mos nie saamgaan met so 'n besluit nie.
    Jy is reg deur te se dat die probleme by die kweekskole le wat lankal nie meer God se Woord aan die studente leer nie, maar ek dink ook baie gemeentes het bygedra tot hierdie situasie deur nie vir hulle gemeentelede behoorlik vleis SOndae te voer nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ernst baie lekker om van jou te hoor daar uit die verre Rusland. Ek wens ek kon vinnig daar kom , want hier braai ons behoorlik! Jy is nie die enigste een met hierdie gewetenswroeging nie. Die beste is om jou gemeente te kontak en in die sterkste taal beswaar te maak! Gelukkig is daar baie en ek bedoel baie wat soos ons voel...
      Sterkte vir julle bediening in Rusland.

      Vee uit
  6. Moreleta park een van die grootste NG gemeentes in die land het hulle gelukkig ook duidelik uitgespreek oor die gaykwessie. Ek kan my hiermee vereenselwig!

    Standpunt van die Kerkraad van Moreletapark Gemeente oor homoseksualiteit

    1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ‘n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ‘n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.

    2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.

    3. Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.

    4. Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ‘n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder) in ons gemeente dien nie.

    5. Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.

    AntwoordVee uit
  7. "Die afskuwelike besluit van die Algemene sinode...."

    Is jy regtig oortuig dat 'n besluit om mense wat seksueel anders as jy georiënteer is, in alle opsigte gelyk te hanteer, AFSKUWELIK is???
    Jy's siek.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek gaan jou nie antwoord solank jy bang is vir jou eie naam nie!

      Vee uit
    2. Ek is vir jou 'n totale vreemdeling, net soos jy vir my is. Die melding van my naam (Willem) gaan geensins aan die vraag verander nie.
      Jy is waarlik siek.

      Vee uit
    3. Dag Willem, ek wonder of jy nie selfs dalk 'n van ook het nie? Maar nietemin... as jy my as siek wil beskryf net omdat ek aan die Here van die kerk gehoorsaam wil wees, dra ek die belediging met vreugde asof dit 'n medalje is!

      Vee uit
    4. Willem jy moet tog nie kwaad word vir die dominee nie, hy noem dit nie afskuwelik omdat dit nie sy orientering is nie, maar omdat dit 'n sonde is, wat deur die AS in die kerk ingebring word, lynreg teen God se Woord, wat die grondslag is van die verkondiging, dit is God se Woord, wat beteken God is aan die Woord. Wat afskuwelik is is dat God opsy gestoot word om die sonde tegemoet te kom, en te sê dit is reg. Die ironie is dat die oordeel op die oordeelsdag (as ons tot sterwe kom voor dan is ons tyd verby) sal die AS se besluit geen gewig dra, dit beïnvloed nie vir God nie. Dus help die AS dalk die vlees van die homoseksuele, maar voel 'n veer vir hul siele. Daar is egter hoop as jy 1 Kor. 6 lees.

      Vee uit
    5. Dankie Theuns. Sterkte ook vir julle daar in Otjiwarongo en mag die Here julle help om 'n duidelike profetiese getuienis te laat hoor teen die gruwels van die Algemene Sinode en die algemene teologiese verwarring en die morele verval in ons kerk!

      Vee uit
  8. Johannes, ons harte is ook in pyn, oor ons geliefde NGK waarin ons gebore, gedoop en opgevoed is en tot bekering gekom het! Sy is nou soos Israel van ouds, 'n volslae straatvrou. Ek is jammer om dit so kras te stel - 'n hoer. Dit maak seer, maar dit is waar. Maar die Here is genadig, lees maar Hosea. Hy sal sy volk nie vergeet nie. Sy ingewande is in beroering. Nou is die tyd om haar op te roep tot bekering. Dankie vir jou getroue getiuienis en al die kosbare skatte van Tsumeb. Christo

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Christo, jy vat dit mooi kernagtig saam! En dankie ook vir die bemoediging...

      Vee uit
  9. Daar is seker talle voorbeelde vanuit die verlede wat as bewyse kan dien wat die bewering dat die geskiedenis die neiging toon om homself te herhaal, sal bevestig. Indien geldig en aanvaarbaar, waarom sal dit dan nie ook vir die kerkgeskiedenis geld nie? Het ons nie ook vandag aangekom by 'n vurk op die kerkpad waar ons voor 'n keuse te staan kom nie, as't ware gedwing word om te kies en ons keuse op te volg met ooreenstemmende handelinge nie? Die verguisde en vervolgde kerkhervormers, soos 'n Martin Luther en nog andere, het ook voor 'n soortgelyke keuse te staan gekom. Ons ken dié geskiedenis, en weet wat dit vir ons protestantse geloof - en die erkenning van die waarheid van God se Woord - beteken het, en vandag nog steeds beteken. Ook Luther en die ander kerkhervormers moes geworstel het met teksverse soos, onder meer, Hand.2:40, 2 Kor.6:17 en Openb. 18:4. Was hulle protestantse handelinge nie direk in ooreenstemming daarmee nie? Waarom huiwer ons dan vandag en stel ons nog verder uit om hulle voorbeeld na te volg in 'n soortgelyke uitdagende kerksituasie? Moet ons nie, daarom, tot God bid dat Hy vir ons die regte leiers sal aanwys wat ons uit die moderne Egiptiese slawerny van die NGK-leierskap sal uitlei nie?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Mag die Here self sulke leiers opwek, anders gaan dit gedoem wees. Lees gerus ook die voorbeeld van die Noorweegse Godsman, Hans Hauge en hoe hy dinge aangepak het. (op my Blog beskikbaar)
      Die verskil is misskien dat ons belydenisskrifte in lyn met die Woord is. Die gay aktiviste is dus verkeerd volgens ons kerk se amptelike leerstellings. Hierin verskil ons situasie tog van die RK van destyds... Mag die Here vir ons die pad wys!

      Vee uit
  10. Jy vra my vas. Het nie die video gesien. Miskien moet jy hom sommer bel en reguit vra. Ons moet nie stilbly nie en ouens dwing om hulle ware kelure te wys!

    AntwoordVee uit
  11. Johannes, jy beskryf dit raak: '...pyn, werklike pyn.' Dis wat ek ook die afgelope tyd belewe het. Ek het baie aan jou gedink en ek bid dat julle die wysheid sal hê om effektief leiding te gee -- veral in julle gemeentes maar ook wyer. Wat jy tot dusver hieroor geskryf het, getuig al daarvan.
    Dit bly my verstom dat die hele gay-kwessie tot so 'n uiters doeltreffende teen-Evangelie strategie ontwikkel het...

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hein dit verbly my opreg om van jou te hoor! Jy stel dit so goed, dis inderdaad 'n teen-Evangelie strategie, want dit ontneem mense die voorreg om met die verlossingsboodskap gekonfronteer te word!

      Vee uit
  12. Ek het nou die video gekyk. Hier is dit hieronder. Die algemene sinode het blykbaar 'n brief uitgereik dat die video more in alle kerke gespeel moet word.

    https://youtu.be/EhDAkSeGG3U

    AntwoordVee uit
  13. Dankie Johannes vir jou insette en insigte oor die besluit van die Sinode. Daar is leraars en lidmate wat almal in verskillende situasies is en besluite moet neem oor hulle pad vorentoe met hulle gemeente of die NG Kerk. Mense het raad nodig en 'n belangrike punt wat jy vir my maak is dat daar 'n groep dwaalleraars in die kerk ingesluip het en weggekom het met hulle misleiding. Dit beteken nie dit is die hele kerk nie. Daar is honderde leraars wat getrou hulle werk doen en daar is duisende lidmate wat die Here in opregtheid liefhet.
    Dit beteken egter nie dat ons die omvang van die probleem moet onderskat nie. Daar is nie 'n enkele dosent aan die drie teologiese fakulteite van die NG Kerk wat hulle monde oopgemaak het nie. Dalk is hulle net "riete in die wind", of is hulle almal meegesleur in die proses van misleiding? Hulle is die mense wat 'n toekomstige geslag leraars oplei.
    Ek wil darem ook vir Anoniem sê, hy moet ons nie verkwalik as ons hartseer ervaar nie. Ek glo die Here ervaar ook hartseer. Die NG Kerk is immers deel van die bruid, wat besoedel geraak het.
    Jan Louw

    AntwoordVee uit
  14. Dankie Johannes vir jou insette en insigte oor die besluit van die Sinode. Daar is leraars en lidmate wat almal in verskillende situasies is en besluite moet neem oor hulle pad vorentoe met hulle gemeente of die NG Kerk. Mense het raad nodig en 'n belangrike punt wat jy vir my maak is dat daar 'n groep dwaalleraars in die kerk ingesluip het en weggekom het met hulle misleiding. Dit beteken nie dit is die hele kerk nie. Daar is honderde leraars wat getrou hulle werk doen en daar is duisende lidmate wat die Here in opregtheid liefhet.
    Dit beteken egter nie dat ons die omvang van die probleem moet onderskat nie. Daar is nie 'n enkele dosent aan die drie teologiese fakulteite van die NG Kerk wat hulle monde oopgemaak het nie. Dalk is hulle net "riete in die wind", of is hulle almal meegesleur in die proses van misleiding? Hulle is die mense wat 'n toekomstige geslag leraars oplei.
    Ek wil darem ook vir Anoniem sê, hy moet ons nie verkwalik as ons hartseer ervaar nie. Ek glo die Here ervaar ook hartseer. Die NG Kerk is immers deel van die bruid, wat besoedel geraak het.
    Jan Louw

    AntwoordVee uit
  15. Ja, die teologiese fakulteite is waar die probleem gesetel is. Daarom sal die dwalinge nie weggaan nie, maar meer word...

    AntwoordVee uit
  16. Johannes, ek wil net graag my ondersteuning uitspreek en dat ek bid vir die kerk en vir julle. Ons staan saam in die stryd en dit gaan oor ons Here Jesus en die ware evangelie. Mag die Here ons almal lei.

    AntwoordVee uit
  17. Ds. Johannes baie sterkte met jou stryd teen die bose magte. Die Bybel waarsku ons oor die valse leer in die "laaste tye". Staan sterk. Verkondig maar aleen die Woord van God. Jou Dopper vriend Willie Horn

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Willie, baie dankie broer. Jou ondersteuning is vir my kosbaar. Ek kan net hoop die Geref Kerk sal haarself sterk teenoor die NGK uitspreek! Ons kerkraad sal waarskynlik Sondag baie sterk standpunt inneem! Bid vir ons!

      Vee uit
  18. Johannes. Die AS se besluit dat slegs die verbintenis tussen een man en vrou as ‘n huwelik beskou word, maar in dieselfde asem ‘n groenlig gee vir leraars wat hulle weg oopsien om selfdegeslagverhoudings te kan bevestig, is vir my totaal teenstrydig en onverklaarbaar. Ek distansieer my van harte van die AS se besluit. Die AS het ‘n verleentheid vir die NG Kerk in die land en wêreld geword. Ek glo dat die Heilige Gees diep bedroef oor hierdie besluit is en dat die duiwel hieroor juig!. Ek is nie oortuig dat die AS met vrymoedigheid kan sê dat ‘die Heilige Gees en ons besluit het nie’, omrede hierdie besluit in stryd met die Heilige Skrif is en ook nie die eer van God of die onderlinge eenheid en vrede in die kerk van Christus dien nie. Dis ‘n besluit wat onder druk geneem is van die pro-gay groep van binne die kerk (selfs vanaf dosente by ons Teol Fakulteite), asook politiese druk van buite. Die skrywe van Laurie Gaum op die Facebook van die NGK wat hy van oorsee aan die AS in sitting gerig het, bevestig my opmerking. Hierdie skrywe het ek toevallig te lese gekry maar dit is skielik van die NGK se Facebook verwyder. Hy het die besluit van die AS ironies as ‘n ‘oomblik van waarheid’ beskou!



    My hart is ontsteld en hartseer oor ons geliefde kerk.

    Coen Sutton

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Coen! Mag jy ook duidelikheid kry oor die pad vorentoe.

      Vee uit
  19. Ek is tans 'n lidmaat van 'n NG Kerk in die Wes-Kaap. Dit kom voor dat al ons plaaslike NG gemeentes se kerkrade heelgelukkig is met die besluit wat my in 'n baie moeilike posisie plaas want ek stem nie hiermee saam nie. Ek is 'n baie hartseer lidmaat wat voel asof ek my geestelike tuiste verloor het en gaan as't ware deur 'n rouproses. Ek het 'n verantwoordelikheid veral teenoor my kinders dat hulle nie hierdie dwaalleer geleer word nie en vermoed ek dat ons sal moet bedank as lidmate. Ek is egter nog onseker ...

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Sterkte vir jou Adri. Ja as mens nie 'n NG gemeente kan vind wat sterk standpunt inneem nie is dit 'n probleem. Ek hoop jy vind iewers 'n gemeente wat die waarheid liefhet! Ek weet dat die Church of England 'n baie suiwer gereformeerde boodskap het en daar is sulke gemeentes in die Kaap.
      Ek is ook in rou...Daar is soveel kosbare lidmate in ons gemeente, ek kan hulle nie net los en vir die wolwe gooi nie, so op hierdie stadium sal ons die goeie stryd stry. Baie dankie vir jou bydra, soveel as moontlik van ons moet nou vir die waarheid opstaan! En so mekaar bemoedig.
      God sal wel sy kinders lei, dalk nog met groot en heerlike verrassings!

      Vee uit
    2. Adri, as ek ook my beskeie mening mag lig. Soek eers na ’n NG Gemeente wat naby jou is en wat getrou bly aan God se Woord. As jy een vind, skakel daar in en maak daardie gemeente se naam so wyd as moontlik bekend. Daar is waarskynlik in jou omgewing ander gelowiges wat voel soos jy en ook na 'n nuwe geestelike tuiste op soek is. Ek is oortuig daarvan dat ons, vir eers, in die NG Kerk moet bly en die arms van die behoudende gemeentes omhoog moet hou. En laat ons op ons knieë bly voor die Hoof van die kerk! Ek hoop jy kom reg. Hennie Hoepfner

      Vee uit
  20. Ek het toe by Moreleta park NG Kerk navraag gedoen en die volgende antwoord van ds. van der Spuy ontvang:

    Johannes

    Dankie vir jou navraag.

    Ek het op die video die sinode besluit moes verduidelik en nie verdedig nie.

    My standpunt is oral bekend soos jy seker in Sondag se Rapport gelees het en dat dit sedert die hofsaak nie verander het nie.

    Die sinode was om die helfte verdeel oor hierdie saak en het toe ‘n gesamentlike besluit geformuleer wat ruimte maak dat gemeentes soos Moreletapark hul eie huisreëls kan maak volgens ons oortuiginge van die Skrif.

    Ek hoop dit stel jou gerus.

    Seenwense

    Dirkie vd Spuy
    Leier: Moreletapark Assosiasie
    T: 012 997 8066

    AntwoordVee uit
  21. Ja wat sal ons sê van die NG Kerk se besluit oor gays. Ek het nie gedink ek gaan weer iets op hierdie blog sê nie, maar hierdie besluit noodsaak my om iets te sê. Johannes ek stem volmondig met jou saam oor wat die Woord leer. Ek het ook geen veroordeling teenoor die gay persoon nie, maar ek aanvaar wat die Woord sê. Wat die ouers aan betref sal ek my kind altyd bystaan en lief hê of hy/sy moord gepleeg het of gay is of wat ook al, maar die daad ( sonde) moet afgekeur word en jy moet dit so aan jou kind oordra. Ek sien in die koerant dat die gay persone en predikante nou sê dat die kerk na hierdie besluit nou weer kerk kan wees, dankie vader ek is nie deel van daardie kerk nie.
    Ek sien van die ouers van gays praat van gelowige gays (weer het ek baie baie simpatie), maar gelowig beteken nog nie wedergebore nie. Die satan glo ook so baie ander mense, ek was self een, maar reguit op pad verderf toe. Ek kan hoeveel voorbeelde gee van gay mense wat ten volle genees is nadat hulle die wedergeboorte gesmaak het. Ek het al in die kerk gesit en daar was ʼn “alter call”, gay persone het uitgegaan en nadat hulle Jesus Christus as hulle persoonlike verlosser aangeneem het is hulle totaal daarvan verlos. Dit is die krag van die wedergeboorte, sondaars waarby ek myself insluit word vrygemaak van sonde. Die waarheid alleen sal jou vry maak.
    Dr. Marten Gunter sê die volgende
    “Dit is onrusbarend dat sekere druk- en godsdiensgroepe, teoloë en verskeie akademici, die inisiatief neem om sodomie te verdedig. God se Woord word nou openlik verwerp, en onder die dekmantel van menslike verhoudings, word sodomie deur sommige teoloë geregverdig. Die sodomiete word selfs om verskoning gevra dat daar teen hulle gediskrimineer is en God se oordele oor Sodom en Gomorra word ook as ‘n fout beskou. Sy volmaakte skepping van man en vrou vóór die sondeval, word indirek verwerp.
    Absolute waarhede van die Skrif word so aangetas. Alles word gerelativeer. Selfs Jesus Christus word gerelativeer en sy gesag as die enigste Verlosser van die wêreld ernstig aangetas. Die NG kerk is in ‘n greep van relativisme gewikkel wat beteken dat daar nie meer absolute waarhede is nie.


    Die NG kerk is besig om weg te dwaal van die Woord. Daar is ‘n gees van sekularisme wat heers, en baie teoloë deins weg van bepaalde Bybelse standpunte omdat dit ongemaklik is. Dit veroorsaak wrywing.”

    Groete in Christus

    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Boeta, dis baie lekker om weer van jou te hoor! Jy bly welkom om kommentaar te lewer (ook al sou ons verskil) Met hierdie kommentaar van jou stem ek volmondig saam!
      Vriendelike groete
      Johannes
      NS Neem net in ag daar is gemeentes in die NGK wat wil erns met die Woord maak en tans ernstig besin oor die pad vorentoe...

      Vee uit
  22. More Johannes,
    Baie dankie vir die vriendelike woorde.
    Ek wil darem net se dat ek nie veralgemeen nie en dat daar nog baie NG gemeentes is wat erns met die Woord maak. Die probleem is net dat daar soveel mense is wat wel veralgemeen en sodoende groot skade aanrig. Mag Hy deur Sy Gees julle in alle wysheid lei.

    Groete
    Boeta

    AntwoordVee uit
  23. Mens moet Inderdaad nie veralgemeen nie.
    Dit is 'n tyd van ernstig bid vir onderskeiding.
    Maar daar is geen tyd of ruimte meer vir kompromie nie.
    Kompromie het die NG-Kerk gebring waar hy vandag is.
    Ek se dit o.g.v. vorige besluite vd Alg Sinode soos m.b.t. die duiwel & ook m.b.t. Belhar & ander sake soos saamwoon voor die huwelik.
    Mens moet egter begrip he vir die onsteltenis oor hierdie besluit vd Alg Sinode.
    Dit KLINK asof mense veralgemeen, maar die tema is so sterk dat dit sterk aangespreek moet word.
    Daar is groot praktiese konsekwensies uit hierdie besluit.
    Hoe gaan Kategese-lektuur bv hanteer word?
    Sal gemeentes wat nie by die besluit hou nie hulle eie boeke/lektuur uitgee?
    Geen ware Christen kan sy kinders aan hierdie blatant-duiwelse dwaalleer vd NGK se Alg Sinode blootstel nie.
    Gaan kerkrade wat 'n predikant beroep nou eers uitvind of 'n predikant pro-Sodom is voordat hulle hom aanstel/beroep?
    Sal so 'n persoon nie volgens wet (ook kerkregtelik) geregtig wees om hom op diskriminasie-wetgewing te beroep nie?
    Die pro-Sodom-mense het die gees vd anti-Chris.
    Hulle is slinks bo maat & perk, dit kan ek jou verseker uit persoonlike ondervinding.
    Ek stap 'n pad met mense wat met hierdie sonde worstel & wat die Here daarin soek.
    Weet verseker: Hierdie is nie die einde vd druk wat hulle sal toepas om die duiwelse besluit algemeen togepas te kry nie.
    Die gemeente-bydraes na die Alg Sinode gaan gebruik word itv die Alg Sinode se besluit.
    Gaan gemeentes aanhou om die (6%?) bydrae te betaal?
    Indien nie, wat is die konsekwensies?
    Persoonlik glo ek dat die tyd ryp is om uit die NG-Kerkverband te tree,
    want die NGK se Alg Sinode hoereer nou buite God se koninkryk.
    Dit is rebellie teen God & Sy skeppingsorde van man & vrou.
    Die openbare standpunte van Dirkie vd Spuy & die nuwe moderator Nelis praat van 'verdere navorsing' & 'ruimte' vir selfde-geslag-verhoudings, predikante & huwelike.
    Maar die NGK hou darem nog vas aan die 'definisie' vd 'huwelik as tussen een man en een vrou'.
    Dit is nie net 'n dualistiese klug nie, dit is 'n verkondiging vd leuen van Satan.
    Die besluit self weerspreek hulle uitspraak oor die huwelik soos Bybels gefundeer & deur God gegee vd Begin af, in Jesus se woorde.
    Dit is duplisisties ('n gesplete tong) - derhalwe nie meer die kerk van Christus, wat so praat nie.
    Hoe kan mens nog binne so 'n kerkverband bly & deel wees daarvan, wat die Satan openlik dien & hoereer in rebellie teen God met hul goedkeuring van 'n perverse leefstyl (eerder doodstyl)?
    Hoe kan lig met duisternis gemeenskap he?
    Die Skrif is duidelik: Draai van sulke mense af weg.
    Moenie gemeenskap he met hulle nie.
    Dit is God se opdrag in die Skrif.
    Gemeentes & predikante wat dus die Alg Sinode se besluit verwerp, moet diep hieroor nadink - maar daar is nie eintlik veel om oor na te dink (of 'navorsing' te doen) nie.
    Die Alg Sinode & gemeentes & pedikante wat die besluit aanvaar & verwelkom, is nou 'n Sinagoge vd Satan waar met ongoddellikheid gehoereer word.
    Dit is nie veralgemening nie:
    Die caveat bestaan steeds dat daar poele van waarheid binne die NGK is.
    Natuurlik moet Johannes se standpunt dat hy nie toegewyde lidmate wat waarlik kinders vd Here is, vir die wolwe wil gooi nie, verwelkom word.
    Maar die antwoord le eerder m.i. daarin om lidmate duidelik te lei weg van kompromie af -
    en hulle die keuse te gee om binne die kerkverband te bly & deur hul teenwoordigheid geloofwaardigheid aan die anti-Chris binne die NGK te gee, of te skeur - weg vd dodelike kanker af.
    Dirkie vd Spuy was m.i. ook 'n 'dierbare, eerbare, wonderlike kind vd Here'.
    So het ek hom geken.
    Hy is dit nou nie meer nie, maar hy is nou 'n vyand van Christus Jesus, of hy nou so dink of nie.
    Indien hy vir Christus is, sou hy na die besluit vd Alg Sinode bedank het as Assessor.
    Nou vergoeilik hy die drek wat vanuit die hel self kom.

    AntwoordVee uit
  24. Verder:
    Dit is waarnatoe kompromie jou bring:
    Die waarheid van God se woord staan nie meer sentraal nie & is nie meer primer nie.
    Dan word jy 'n vals profeet.
    En 'n vals profeet is 'n leuenaar & staan onder God se oordeel, skriftuurlik duidelik - tensy hy hom bekeer van sy sondige leuens.
    Ek wil niemand laat hel toegaan nie, inteendeel.
    Maar die NGK lei nou openlik mense na die hel, want diegene wat hul tot Christus Jesus behoort te bekeer, hoef nou nie meer nie.
    Hul sonde word openlik geakkommodeer & geherdefinieer tot geen sonde nie..
    Dit is erge misleiding, veral as dit in die Naam van Christus gedoen word, want hulle verteenwoordig nou 'n 'ander evangelie' wat volgens die Skrif 'n 'vervloeking' is..
    Deur hul herdefiniering het hulle soos die Fariseers die woord van God kragteloos gemaak, soos Jesus aan die Fariseers gese het, en maak hulle hul dissipels & volgelinge twee maal so ryp vir die hel as wat hul voorheen was, weer eens in die woorde van Jesus.

    AntwoordVee uit
  25. Hi Johannes en mede Reisgenote in Jesus Christus
    Inderdaad, n Kairos moment in hierdie gedeelte van die Bruid......ONS kan net berus in Paulus se Woorde in 2 Tim 3...kom ons bly by wat ons geleer het van kleins af...Die Woord van God is Betroubaar en WAAR....Albie Steenkamp

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Jy was baie lank stil, Albie! Dankie vir jou standpunt... en laat weet my sommer iewers waar jy jouself nou bevind! Vrede Johannes

      Vee uit
  26. Hi Johannes, ek en Ilse bevind ons nogsteeds aan die Vrystaatkant van die Vaalrivier, naby Van der Bijlpark. Werk in die markplein as Operasionele Bestuurder van vervoer maatskappy en dan plant en bedien ons huisgemeentes, hoofsaaklik tussen afrikaansprekende mense wat van die kerk vervreem is. Verder wag ons vir 'n oop deur om terug te beweeg na ons geliefde land Namibie...baie liefde aan julle almal. Albie en Ilse. Shalom.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie vir die nuus Albie. Ja, ek kan nie mense kwalik neem wat veral nou van die kerk vervreem raak nie. Sterkte vir julle werk. Dit sal goed wees om dalk weeer te sien...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.