BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 14 Desember 2011

HESSIE BOSMAN - SENDINGPIONIER

Die Kaapse NG Kerk se eerste twee buitelandse sendelinge (in Transvaal) was ’n Switser, ds. Henri Gonin en ’n Skot, Alexander Mackidd. Alexander Mackidd is op 41 jarige ouderdom met die 36 jarige Ester Susanna Bosman op 25 Junie 1862 deur ds. Andrew Murray in Bloemfontein in die huwelik bevestig. Sy was die eerste Afrikaner wat buitelandse sendingwerk gedoen het en ook die eerste Afrikaner wat haar lewe in die sendingveld afgelê het.

Hessie is in 1826 gebore en het op ’n plaas naby Worcester grootgeword. Sy het onder die prediking van ds. G.W. Stegmann tot bekering gekom. Tydens die herlewing op Worcester wou sy een aand na ’n byeenkoms op die dorp gaan. Sy is afgeraai om te gaan, aangesien sy baie swak was. Sy het egter geantwoord : “Nee, ek gaan. Ek het soveel daarvoor gebid en daarna verlang, om nou nie te gaan nie? Nee, ek gaan, al kos dit wat.” Sy het toe wel gegaan en was die derde persoon wat die aand gebid het. Tydens haar gebed het die hele skare begin bid. Sy het flou geword en moes na die pastorie gedra word, waar daar gesukkel is om haar by te kry.

Hessie is klaarblyklik op ’n wonderbaarlike wyse deur middel van ’n droom tot die sending geroep. Sy sou in haar droom aan die bopunt van ’n akker ryp koring gestaan het, met ’n sekel in die hand. ’n Stem het beveel : “Sny!” Sy het haar oë oor die koringland laat gaan en sugtend geroep : “Wanneer of hoe sal ek dit alles afgeoes kry?” Die stem het gesê : “Begin maar!” Toe sy buk om te begin oes, het sy wakker geword. Sy was gehoorsaam en het haar lewe van toe af aan die sending gewy. Sy is na Bloemfontein waar sy skoolgehou het vir Kleurlingkinders.


Na hulle huwelik het die MacKidd egpaar in 1862 in Rustenburg aangekom. Hier wou dinge nie vlot nie, maar ’n deur het oopgegaan in die Soutpansberg gebied en in 1863 vertrek hulle soontoe, waar hulle hoofsaaklik onder die Buyse, ’n groep van gemengde afkoms gewerk het. (nasate van die legendariese Coenraad de Buys)

Hoe onverstaanbaar is die Here se weë egter nie! Hessie se gelukkige huwelik en hulle gesamentlike arbeid in die sendingveld was helaas van baie korte duur. Minder as vier maande na hulle aankoms op Goedgedacht in die Soutpansberg het sy siek geword en sterf op 4 Mei 1864. Sy was maar net 38 jaar oud! Die belangrikste is egter, die lewe wat sy geleef het, het sy vir haar Here geleef!

Vir Wie leef jy?


(Bron : W.L. Maree, Lig In Soutpansberg)








Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.