BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 09 Desember 2011

MISSIE VAN 'N MELAATSE

- SOLOMON DE KONING.

Ek en my broer Jacobus is op ’n ontdekkingstog. Ons soek na die graf van my oupa se broer, Solomon de Koning hier aan die westekant van Pretoria. Vir ons is dit onbekende leeuwêreld. Ons het deur die Daspoorttonnel gekom en maar so soek-soek en vra-vra probeer uitvind waar die ou Westfort Melaatse Hospitaal is. Of liewers was, want dis blykbaar nou ‘n plakkerskamp. Ons ry op ’n ’n stil afgeleë teerpad, omsoom deur bloekombome. Jacobus bestuur. Ek mimiek ’n geweer in my hand. Grappies om die effense bekommernis te verwerk, want Pretoria is deesdae meer bekend vir misdaad as vir kultuur en rugby.

Ek weet nie baie van oom Solomon nie. Pa het al van hom gepraat. Die oom van hom wat aan melaatsheid gely  en hier in Westfort beland het. Pa self het hom nooit geken nie, want hy is jonk oorlede. As jongman, na sy bekering, het Pa hier kom kerk hou vir die melaatses en ook na oom Solomon se graf kom kyk. By ’n verpleegsuster het hy gehoor dat  hierdie oom van hom 'n kind van God  was. Sy ouma het dit op navraag bevestig. “Solomon was waarlik ’n Christen.”

So ’n tyd terug kry ek dit in my kop om bietjie meer uit te probeer vind oor oom Solomon. Ek google sy naam. En sowaar sy naam duik op in ‘n artikel in die Sunday Times van 26 Oktober 2008. Sean O’Toole beween die haglike toestand van Suid-Afrika se rusplekke vir die dooies, en ja, hy het sowaar ook by Westfort se verlate grafte ’n draai gemaak!

“First on my list of places to look, partly because it was just around the corner, was the scurvy little suburb of Danville, behind which lies the forgotten settlement of Westfort. A former leper colony, Westfort is equal parts ghost town and vibrant set for an apocalyptic B-grade horror. The tenuously healthy - squatters to you and me - now occupy the former hospital wards. The abandoned Catholic church is slowly being dismantled, brick by brick, for scrap.
I ask the local firewood salesman, a genuine Afrikaner hillbilly wearing a felt hat, unwashed face and blackened teeth, where Westfort's cemetery is. He quizzically sizes me up then points me in the direction of a thicket of blue-gum trees.
The headstones for Louis Henry Killian, died 1924, and Solomon de Koning, died 1934, lie forgotten amongst four or five dozen other abandoned graves, overgrown by grass and trees.”

Kan jy nou meer! Die spreekwoordelike toeval! Tussen al die grafstene kies hierdie onbekende Engelse joernalis twee om by die naam te noem, en een is my eie bloedfamilie, oom Solomon! Toe ek dus vir ’n kursus Pretoria toe moes gaan, besluit ek : “Ek moet oom Solomon se graf opspoor!”

Ons kom by die rooi baksteengeboue van Westfort en gaan die terrein binne. Vir hoeveel melaatses het hierdie hek en hierdie geboue eensaamheid, afsondering, doodloopstraat, verdoemenis gespel? Watter vrae het in hulle binneste gebrand by die eerste aanskouing van hulle nuwe tuiste? Hoe het hulle oor hulleself gedink? ’n Gemeenskap van gekwestes? Uitgesonder vir God se oordele? Wrede toevalligheid? Het oom Solomon hoegenaamd gewonder oor God se doel met hom? Was hy opstandig, hartseer, berustend? Het hy geweet hy sou hierdie plek nooit weer verlaat nie of het hy dalk gehoop op ’n wonderwerk? Dis tragies, maar blykbaar het hy nooit eens melaatsheid gehad nie. As beter diagnose destyds beskikbaar was, sou hy waarskynlik nooit hier beland het nie.

Ons doen navraag by van die nuwe gesonde inwoners van Westfort. Die grafte is hier buite. Ons stap so effens senuagtig tussen die bloekombome in. In hierdie boskasie is skuilplek vir baie skurke. Verwaarlosing en agteruitgang het oorgeneem. Die grafte lê verspreid tussen die bome en onkruid. Swygend vertel hulle van ’n eensame verloorstryd teen ’n wrede siekte. Dit vat ’n hele rukkie voor Jacobus die voorreg het om op oom Solomon se graf af te kom. Ons ekspedisie was suksesvol! Nuuskierig loop ek vinnig nader.

Dis met ’n mengsel van eerbied, hartseer maar ook ’n goeie stuk ontdekkersvreugde dat jy lees :

HIER RUS
ONS GELIEFDE
SOLOMON DE KONING
GEB . 21 MEI 1897
OORL. 30 JAN 1934
GESANG 182 VERS 2

Oom Solomon se graf is een van die eenvoudiges. ’n Grys leiklip kopsteen sonder tierlantyntjies. Net die basiese inligting. Sê dit iets van sy persoonlikheid, van sy eenvoudsbestaan? Dit maak in elk geval, die “toeval” nog net meer interessant. Sy graf is nie een van die mooistes nie, dis ook nie opvallend of aan die kant van die grafte waar mens dit maklik sou kon opmerk nie. Hoekom sou die joernalis se oog nou juis sy naam opvang?

Wat was oom Solomon se missie in die lewe? Dalk het hyself nie geweet en verstaan nie. Maar die Almagtige soewereine God het ook vir hom ’n plek gehad in sy groot Raadsplanne en die ontvouing van sy voorsienigheid. Het hy dalk gebid vir sy familie en hulle nageslag dat hulle die Here sou dien? Is die genadewerking van God in my eie lewe dalk ’n verhoring van daardie gebede?  Die ewigheid sal seker baie interessante antwoorde oplewer. Vir nou eers is God se Woord voldoende! Uit God se Woord kry ons die vertroostende versekering, dat ook vir Solomon de Koning, God alles ten goede laat meewerk het. (Romeine 8:28)

In God se woordeskat is daar nie ’n woord soos “toeval” nie! Die ontdekking van Oom Solomon se graf en sy lewe opsigself is ’n bevestiging van hierdie waarheid uit God se Woord! Mag hierdie waarheid ons troos en rigting gee in alle omstandighede!




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.