BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 09 Desember 2011

EENSAAMHEID Deel 1

PSALM 68:1-8



Eensaamheid is ’n pynlike werklikheid. Ons kan dit nie wegredeneer nie, dis deel van die gebroke aardse menslike bestaan. Daar is baie redes daarvoor. Daar is baie vorme van eensaamheid. Heelwaarskynlik, ervaar jy wat hier lees eensaamheid of het dit een of ander tyd ervaar!

Daar is baie oorsake vir eensaamheid :
Baie mense is sonder ’n lewensmaat en dit maak hulle eensaam: hulle is geskei, hul lewensmaat is oorlede, of hulle het nooit getrou nie. Veral egskeiding het enorme afmetings aangeneem - dit verwoes ons samelewing. Ek wil nie oor die verkeerd of reg daarvan praat nie - dis net bloot ’n feit, baie mense bevind hulle op ’n moeilike eensame pad weens ’n huwelik wat verbrokkel het. Maar eensaamheid kom ook selfs binne in huwelike voor (dalk is dit een van die ergste vorme van eensaamheid - man en vrou bly onder een dak, maar hulle leef elkeen sy/haar eie eensame lewe.) Daar is ook eensaamheid weens ouderdom. Eensaamheid as gevolg van ’n gebrek...Eensaamheid weens ’n persoonlikheidsprobleem. Daar is ook mense wat eensaam is juis omdat hulle Jesus getrou wil volg... Hulle word uitgestoot weens hulle beginsels! Selfs deur hul eie huisgenote. Ten diepste is die kernoorsaak van eensaamheid, die sondeval wat ons van God vervreem het en wat alle menseverhoudings en harmonie kom versteur het.

Wat sê die Woord vir eensames en vir die gemeente oor eensames? Psalm 68 het beslis iets belangriks om te sê.

Die basiese waarheid waarvan ek en jy nou moet kennis neem is : God is bewus van en besorg oor alles aspekte van ons lewens. In Ps 68 is dit duidelik dat God as ons Vader ook bewus is van hierdie probleem van eensaamheid. Ons wantrou God dikwels in hierdie verband, ons dink God is net besorg oor ons siele! Dis iets wat mens sommer hier reg aan die begin moet bely. God het jou lief, werklik lief... as hele mens en nie net as ’n siel nie! God wat jou gemaak het ken al jou menslike behoeftes, pyne en sorge! God wil ook iets daaraan doen... Hier word ’n stelling gemaak dat God eensames in ’n huisgesin sal laat woon. (Vers 7) Hy wil iets aan ons eensaamheid doen. Wat beteken dit prakties?

Op watter maniere spreek God ons ensaamheid aan? Hoe maak Hy sy beloftes in hierie verband waar?

Op verskeie maniere:

1. God kan as dit sy wil is vir jou die regte lewensmaat gee op die regte tyd. Hy is inderdaad 'n Hoorder van gebed, wat ook hierdie versugting al telkemale gehoor het en op wonderlike maniere beantwoord het! (LW - as dit Sy wil is - Hy weet die beste) Wees geduldig en hou by God se reëls. Pasop vir vinnige verhoudings! Soek raad en bevestiging by ervare en betroubare medegelowiges.

2. Die Nuwe Testament noem die gemeente die huisgesin van God en Hy wil jou hier 'n rusplek gee. (1 Tim 3:15) Die punt is : ’n Gemeente wat funksioneer volgens God se wil kan oneindig baie doen om eensaamheid te verlig! Binne die gemeente moet die probleem van eensaamheid aangespreek word. Iemand sê : “It is a good thing to know that Jesus Christ sees and understands. But its good to have someone with skin on. Someone you can see and touch. That's precisely why we have the Church. People who believe and touch each other deeply, helping each other up. Loneliness does not do very well in the Body of Christ.” Hoe werk dit?

’n Gemeente moet sensitief wees vir die probleem van eensaamheid. Ek en jy moet bewus raak van die dilemma van eensames. Liefde vir eensames moet die vooroordele verdryf. Raak ontslae van jou negatiewe of afsydige houding teenoor eensame mense. “Hy wil net by my vrou aanlê, of sy wil net my man afvat...” Skep veilige hawens (as jyself ’n gelukkige huwelik het), betrek hulle, nooi hulle, deel met hulle...

Maar, mense wat alleen is moet self ook die gemeente en sy aktiwiteite sien as ’n geleentheid. Reik uit na ander en sien hoe help dit om die eensaamheid te verdryf. Natuurlik eensaamheid is swaar, om alleen te wees is nie lekker nie, maar dit bied ook geleenthede om dinge te doen waarvoor ander nie tyd het nie. Benut jou alleenwees positief!

3. Die belangrikste oplossing vir eensaamheid, is dit wat God in jou wil doen deur Jesus Christus.

God wil  jou eers verander, nie noodwendig jou omstandighede nie!

God wil jou bring by ’n nuwe manier van leef, en ’n nuwe manier van reageer op jou moeilike omstandighede.

Dit begin as jy Jesus as Verlosser aanvaar, maar dit stop nie daar nie. Jy moet toelaat dat Jesus deur die inwoning van die Heilige Gees jou so verander dat jy ’n nuwe patroon ontwikkel van hoe om eensaamheid en al die ander krisisse in jou lewe te hanteer. Die punt is dit : kinders van God beleef dieselfde ellendes as ander mense, soos siektes, gebreke en hartsere, ook eensaamheid, maar die kind van God hanteer hierdie dinge op ’n ander manier as die wêreldling, want ons het die Heilige Gees in ons. Die Heilige Gees stel jou instaat om anders te reageer en dis wat nodig is!

Die oorwinning oor eensaamheid begin nie noodwendig deur ’n verhouding, of baie vriende of baie bedrywighede nie.

Sonder om verwytend te klink : Eensaamheid is eintlik ’n probleem binne in jouself! Sien raak :

Eensaamheid is tot 'n groot mate eerder 'n krisis in myself as wat dit in my omstandighede lê.

Iemand kan alleen in die woestyn stap en glad nie eensaamheid ervaar nie, aan die anderkant kan jy jou geliefde in jou arms vashou en tog ’n diep eensaamheid ervaar! Alleenwees is nie noodwendig eensaamwees nie! Om eensaamheid te oorwin begin in jouself en dis ’n proses wat tyd en harde werk vereis! Deur die krag van die Heilige Gees moet daar ’n nuwe patroon in my lewe gevestig word. Ek moet die kwelpunte identifiseer en in die lig van die Woord besluit hoe ek op hierdie verskillende situasies in my lewe wat eensaamheid veroorsaak gaan reageer. Deur die krag van die Heilige Gees moet ek uitbreek uit hierdie vaste groewe en patrone, en nuut begin dink en nuwe patrone vestig. Prakties : Miskien voel jy elke Vrydagaand eensaam - nou het jy verval om tot laataand flieks te kyk op TV - dis nie goeie flieks nie, dit besoedel jou hart, maar jou eensaamheid dryf jou daartoe... Deur die krag van die Heilige Gees kan jy daardie patroon breek en iets anders opwindends doen (daar is so baie moontlikhede!) Of iemand anders probeer die eensaamheid verdryf deur aanmekaar te eet. Deur die krag van die Heilige Gees kan jy daardie gewoonte breek. Kom uit jou groewe! ’n Groef is ’n vlak graf! God wil jou oë open vir nuwe geleenthede. Saam met die gemeente, saam met ander kinders van God kan jy ontdek watter spesiale plek en diens God vir jou in die oog het...

Die heel belangrikste : ’n Voortdurende volle oorgawe aan Jesus, ’n raaksien van sy genoegsaamheid en om jou te verheug in Hom is die diepste en blywendste oplossing vir eensaamheid! (Onthou Fil 4:4) Vind vervulling in Jesus se heerlikheid!

Eensame : Skep moed, God beloof om die eensames te help! Vat Psalm 68:7 as 'n persoonlike belofte vir jouself!

(Volgende keer meer oor hoe Jesus self die diepste antwoord op ons eensaamheid is)





























Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.