BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 11 Desember 2011

EENSAAMHEID Deel 2

PSALM 68:7;  HEBREËRS 4:16-16; FILIPPENSE 4:19

Jesus self is die diepste finale antwoord ook op ons eensaamheid in hierdie stukkende wêreld! Hoe so? Ons het nou gelees dat Jesus ons volmaakte Hoëpriester is. Hy is die Een wat volkome medelye met ons het, Hy verstaan al ons swakheid, sonde en ellende... ook ons eensaamheid! Jesus is juis besonder bevoeg om ons eensaamheid te begryp, want sy hele aardse lewe is gekenmerk deur lyding en eensaamheid. Die omstandighede rondom sy geboorte sou heelwaarskynlik aanleiding gee tot stories dat hy buite egtelik sou wees. Sy eie ouers kon Hom nooit heeltemal verstaan nie. (Dink maar aan die voorval toe Hy as 12 jarige in die tempel agtergebly het) Boonop was Jesus sonder sonde, maar moes tussen sondige mense woon, wat Hom nooit regtig sou kon begryp en waardeer nie. Sy eie dissipels het Hom nie na waarde geskat nie. Hulle het met sy gevangeneming Hom almal in die steek gelaat en gevlug. Voor dit moes Jesus in elk geval in Getsemane alleen sy bloedsweet stryd deurworstel. Sy ergste eensaamheid ondervind Hy natuurlik aan die kruis, toe Sy Vader sy aangesig van Hom wegdraai en Jesus uitroep : "My God, My God, waarom het U my verlaat?"

Jesus verstaan dus ons eensaamheid!
Ons kan dus maar ons harte eerlik voor Hom uitstort!

Maar gelukkig, Jesus doen iets meer as om maar net ons eensaamheid te verstaan! Jesus het totale Godverlatenheid en eensaamheid namens ons deurgegaan en verduur, sodat ek en jy wat aan Hom behoort nooit weer van God verlaat en absoluut eensaam hoef te wees nie! Die eensame straf wat Jesus daar op Golgota in ons plek gevat het, maak juis die pad oop vir 'n intieme verhouding met ons liefdevolle Hemelse Vader. Jesus, ons volmaakte Hoëpriester maak hierdie innige verhouding 'n werklikheid. 'n Verhouding wat vervulling en vreugde behels. Ons woon in 'n gebroke wêreld, maar die goeie nuus is juis dat ons binne hierdie aaklige omstandighede van 'n gebroke bestaan, God se vervullende nabye Vaderliefde kan beleef! Ja, die gebroke bestaan word eers finaal by die wederkoms verander, maar nou reeds kan die kind van God 'n innige gemeenskap met die Vader en met sy ander kinders ervaar.

JY KAN NOU REEDS DIE VERVULLENDE LIEFDE
VAN GOD BELEEF!

Kom ons bekyk die saak bietjie van 'n ander kant af. (met erkenning aan Grantley Morris)  Dink mooi : Eensaamheid is eintlik net 'n diep onvervulde behoefte aan liefde!
Kyk 'n bietjie diep in jou eie hart :
Jy het 'n diep behoefte aan iemand : Op wie jy altyd trots kan wees, vir wie jy altyd volkome kan vertrou, met wie jy altyd sonder vrees heeltemal eerlik kan wees.
Jy het 'n opregte begeerte na iemand : Wie se krag en skoonheid nooit sal vergaan nie, wat volmaakte begrip vir jou kan hê, wat jou in totaliteit verstaan.
Jy smag na iemand : Wat altyd daar sal wees vir jou, wat elke geheim van jou ken, maar jou nog steeds liefhet en aanvaar. Wie se liefde jou nooit sal verveel nie, maar jou altyd opgewonde sal maak. Iemand wat jou nooit sal afkraak nie, maar altyd sal inspireer om die hoogste sport te bereik!
Jy verlang na iemand : Wat jou altyd sal help en altyd daar sal wees vir jou. Iemand vir wie jy nooit moeg sal word nie, iemand wat altyd vars en nuut sal bly! En die onmoontlikste van als : Hierdie iemand, hierdie wonderlike iemand wil jy nooit verloor nie, hierdie iemand moet dus nie siek word en kan sterf nie!
Dit vriende is ons diepste onuitgesproke verwagting en verlange! Dis ons versugting!

Jy sal onmiddellik sê : "Dis onmoontlik om so iemand op aarde te vind!" Jy is natuurlik heeltemal reg! So 'n Iemand wat hier beskryf word kan net God wees! Juis! Dis die punt. Net God self kan ons diepste behoeftes vervul!

Miskien is jy skepties. "Ons is mense van vlees en bloed. Hoe kan God ons behoeftes vervul? So 'n intieme vriendskap met God is tog ondenkbaar, of hoe?"

Dink bietjie mooi! Wie het ons gemaak? Wie het hierdie diep innige behoefte en verlange na liefde in ons harte geplaas? Hierdie begeerte na opregte vriendskap en innige gemeenskap? Dis tog God! As Hy ons met hierdie behoefte en verlange geskape het, wil Hy en kan Hy dit vervul!

Vriend/vriendin, besef tog dat jou diepste behoefte en verlange, 'n verlange is na God self! En Jesus, ons Hoëpriester het juis deur sy dood en genoegsame offer dit vir ons moontlik gemaak om God van naby te ken! Trouens, om God te ken is die EWIGE LEWE!

Deur Jesus, vervul God ons diepste behoeftes!

Bedink die troos van Fil 4:19. Deur Jesus vul God daardie gat wat die eensaamheid in jou lewe veroorsaak. Deur Jesus het God baie naby gekom. Deur Hom het jy vrye toegang tot sy troon - en dis 'n genadetroon! Daardie gemis in jou lewe, daardie eensaamheid kan net deur God gevul word. Wat die groot kerkvader Augustinus eeue terug gesê het bly steeds waar : "Omdat God ons vir Homself gemaak het, bly ons harte rusteloos totdat ons rus gevind het in Hom." Ons diepste behoefte is 'n behoefte aan God self. Of ons dit besef of nie, dit is so!

Opsommend : God belowe dat Hy die eensame in 'n huisgesin sal laat woon. Sy belofte is WAAR! Hy maak dit waar op verskeie maniere:
Deur my deel te maak van 'n aardse huisgesin, soos Hy in sy alwysheid besluit, volgens sy wil en sy tyd! Die stukkende werklikheid van ons aardse bestaan, maak egter dat dit nie altyd so uitwerk nie. Alle mense verhoudings sal eers eendag in die voleinding herstel word. Maar God maak ook hierdie belofte waar, nou reeds in gemeentewees! Sluit aan by 'n ware gemeente van die Here en raak voluit en gehoorsaam betrokke! Maar bo-alles, maak God hierdie heerlike belofte waar deur Jesus Christus, deurdat Hy ons nou reeds laat deel in 'n innige verhouding met ons Hemelse Vader!

Ons kan nou reeds blydskap en vervulling vind te midde van 'n gebroke bestaan, terwyl ons uitsien na die heerlike dag, wanneer daar geen sonde, hartseer, trane... en ook eensaamheid sal wees nie! Amen

Mag ons harte uitgaan na ons broers en susters, veral diegene wat weens omstandighede buite hulle beheer, 'n daaglikse stryd teen eensaamheid voer.  (Jy is welkom om my oor hierdie saak of enigiets anders te kontak, vir gebed of bemoediging)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.