BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 20 Junie 2012

REDDING VAN 'N ROKJAGTER

- ingrypende genadewonder  in die lewe van Augustinus.

So baie is vasgevang in die strik van ‘n seksueel losbandige lewe - pornografie, perversiteit, huweliksontrou en al dergelike dinge. Is dit moontlik om hiervan bevry te word en die voortgaande vreugde van ‘n verhouding met God te kies bo die kortstondige plesier van seksuele sonde? Wel, ja... dis wat met Augustinus gebeur het...

“Ek het na Karthago gegaan, waar ek myself  te midde van ‘n kookpot van wellus bevind het...my ware behoefte was aan U my God, wat die voedsel vir die siel is. Ek was nie bewus van hierdie honger nie...” 

Dis hoe Augustinus later teruggekyk het na sy losbandige en hedonistiese leefstyl as jongman. Hy is op 13 November, 354nC gebore in Tagaste, naby Hippo in die hedendaagse Algerië. Augustinus se vader was ‘n heiden (hy het eers ‘n jaar voor sy dood tot bekering gekom), maar sy moeder Monica was ‘n diep gelowige vrou wat haar lewe lank vir haar seun gebid het! Maar Augustinus se doelwitte was nie in lyn met sy moeder se gebede nie; sy ambisie was om ‘n goeie redenaar te wees. God het egter hierdie vrome moeder se versugtinge verhoor en Augustinus is omgekeer deur die genade van God en ‘n nuwe mens gemaak. Maar dit was  nie so vinnig en maklik nie...

In Karthago het hy ‘n verhouding aangeknoop wat 13 jaar geduur het en waaruit ‘n seun, Adeodatus gebore is. Hy is nooit met hierdie meisie getroud nie.  Maar God was reeds aan die werk....Daar in die kookpot van Karthago het Augustinus  kennisgemaak met ‘n geskrif van Cicero, Hortensius. Hierin het hy  wysheid as verhewe bo plesier aangeprys. Dit was nog glad nie Augustinus se bekering nie (dit sou eers nege jaar later gebeur), maar het sy lewensuitkyk verander. Augustinus het dit so beskryf :

 “Dit het my gebede tot U verander, O Here, en het my van nuwe hoop en aspirasies voorsien...”

Hierna sou dit menslik gesproke kon lyk asof Augustinus weer verder van die waarheid wegbeweeg,. Hy het op ‘n verdere dwaalpad beland,  naamlik die dualistiese lering van die Manicheisme. Dit sou duur tot op ‘n ouderdom van 28 toe hy ontnugter geraak het deur een van die leiers. In sy nege en twintigste jaar is hy na Rome om te gaan onderrig gee, maar kort daarna vestig hy hom in Milaan. 

Hier in Milaan  het God met hom ‘n afspraak gehad.

Hy het die werke van Plotinus ‘n neo-Platonis ontdek wat verdere ontwikkeling in sy denke meegebring het,  maar het ook onder die invloed van die groot biskop Ambrosius se prediking gekom. Hy is gevul met liefde en vrees vir God. Hy vertel van daardie tyd : 

“Ek was verbysterd dat alhoewel ek U liefgehad het...ek nie volhard het in my verlusting in my God nie. U skoonheid het my tot U aangetrek, maar gou is ek weggesleep van U deur my eie gewig en in verslaenheid het ek myself weer ingedompel in die dinge van die wêreld.” 

Augustinus, so lyk dit het sy magteloosheid as sondaar om God te dien,  agtergekom. Die krag van seksuele losbandigheid was sterker as die krag om vreugde in God te vind. (Piper)* Augustinus beskryf sy stryd so:

 “Ek het begin soek vir ‘n manier om die krag te kry wat ek nodig het om U te geniet, maar ek kon nie hierdie manier vind nie, totdat ek die middelaar tussen God en mens, Jesus Christus omhels het nie.”

Sy moeder Monica, het  ook in Milaan aangekom en begin om reëlings vir ‘n huwelik in ‘n Christelike familie te tref. Augustinus het sy jarelange  minnares weggestuur. Daar het egter niks van die voorgenome huwelik gekom nie en hy het ‘n ander minnares geneem. 

Augustinus se probleem wat hom van God weggehou het,  was dus blykbaar nie van een of ander intellektuele aard nie, maar eerder sy wellus!

Toe kom die groot gebeurtenis. Augustinus begin vertel dit so : 

"O Here, my Helper en Verlosser, ek sal nou vertel en bely tot eer van U naam hoe U my verlos het van die kettings van wellus wat my so styf geboeid gehou het en van die slawerny van die dinge van hierdie wêreld.” (Ons vind hierdie beskrywing in sy beroemde "Confessiones") 

Op die dag van die finale krisis was die 32 jarige Augustinus saam met sy vriend Alypius in gesprek oor die merkwaardige opoffering en heiligheid van die Egiptiese monnik, Antonius. Sy lewe was in so ‘n sterk kontras met die van Augustinus. Daar was ‘n klein tuintjie by die huis waar hulle tuisgegaan het. Hier het Augustinus homself nou in ‘n geweldige sielestryd bevind. “Ek het my hare getrek en my voorkop met my vuiste geslaan” Verder : “Ek het myself neergewerp onder ‘n vyeboom en my oorgegee aan die trane wat uit my oë gestroom het... Ek het aangehou huil : hoe lank gaan ek sê môre, môre? Waarom nie nou nie? Waarom nie ‘n einde maak aan my aaklige sondes op hierdie oomblik nie?”

Skielik het Augustinus die lied van ‘n kind gehoor in ‘n huis daar naby. Die woorde wat hy by herhaling gehoor het was : “Neem dit en lees, neem dit en lees.” Hy is haastig terug na die plek waar Alypius gesit het en een van Paulus se briewe gegryp, dit oopgemaak en in stilte die eerste gedeelte gelees waarop sy oog geval het. Dit was die aangrypende gedeelte in Romeine 13:13-14 wat sê :

“Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

Toe hy by die einde van die sin kom was dit asof die lig van vertroue in sy hart ingestroom het en al die donkerte van vertwyfeling verdryf het.  Augustinus het ‘n nuwe mens geword... Tydens Pase van 387nC is hy deur Ambrosius in Milaan gedoop.

Die geredde rokjagter  het ‘n groot kerkleier en teoloog geword wat gestry het vir die waarheid. Die waarheid van God se soewereine genade. ‘n Genade wat ons nie kan verdien nie, ‘n genade wat God skenk aan wie Hy wil. Augustinus was immers proefondervindelik ‘n ontvanger van hierdie onbeskryflike en bevrydende genade! ‘n Genade wat hom ware genot laat vind het. Die ware vreugde in God wat groter is as die tydelike genot van losbandigheid!

Mag God se genade so elkeen van ons bevry om die vreugde van verlossing en vervulling in Hom te ontdek!

*(Erkenning : John Piper, The Swan is not Silent - Sovereign Joy in the Life and Thought of St. Augustine. Lees dit gerus op die internet)

Afbeelding : skildery van Philippe de Champagne uit de 17de eeu


Vrydag 15 Junie 2012

KOOP DIE TYD UIT

- William Carey se sinvolle benutting van ons kosbaarste bate.

Die eertydse skoenmaker, William Carey het as sendeling baanbrekerswerk gedoen in Indië, veral op die gebied van Bybelvertaling. Hierdie toegewyde dienskneg van God wat beskou word as die vader van die moderne Protestantse sendingbeweging het sy tyd ten volle benut in belang van God se Koninkryk. Hier volg die rekord van ‘n bepaalde dag in Kalkutta in die jaar 1806:

Hy het kwart voor ses opgestaan, ‘n hoofstuk uit die Hebreeuse Bybel gelees en sy persoonlike stiltetyd gehou. Om sewe uur het die bediendes gekom vir huisgodsdiens in Bengali, waarna hy terwyl hy gewag het vir ontbyt, ‘n tyd lank aan Persies bestee het en daarna aan ‘n Skrifgedeelte in Hindoestani. Onmiddellik na ontbyt het hy aan die gang gekom met die vertaling van die Ramayana (Hindoe geskrif) uit Sanskrit na Engels. Tien uur het hy na die kollege gegaan waar sy klasse en ander verpligtinge hom besig gehou het tot twee uur toe. Met sy terugkeer huis toe, het hy aandag gegee aan die proeflees van ‘n vertaling van Jeremia in Bengali tot middagete. Na sy maaltyd het hy saam met ‘n hulp die grootste gedeelte van Matteus 8 in Sanskrit vertaal tot ses uur toe, waarna hy saam met ‘n Telegu leermeester gaan sit het om daardie taal verder te bestudeer. Om half agt het hy in Engels gepreek vir ‘n gemeente van veertig persone. Teen nege uur toe die diens klaar was en almal weg was, het hy gaan sit en Esegiël 11 in Bengali vertaal, wat hom ongeveer twee ure geneem het. Hy het toe nog ‘n brief vir ‘n vriend in Engeland geskryf en nadat hy ‘n hoofstuk uit die Griekse Nuwe Testament gelees het vir stiltetyd, het hy gaan slaap...

Wel, nie een van ons sien seker kans om Carey na te boots nie. Hy was inderdaad ‘n besondere begaafde mens met verbysterende taalkundige vermoëns. Maar sy manier van tydsbesteding is tog ‘n vingerwysing teen ons selfgesentreerde gebruik (en dalk vermorsing) van kosbare tyd. Wat sou hy dink van baie Christene se  TV kykgewoontes... eindelose rugby.... sentimentele Sewende Laan? En as jy dalk dink dat Carey ‘n ongebalanseerde boekwurm was, dink weer ... hy was ook ‘n knap botanikus! 


(Bron - FD Walker, William Carey p223)

SOOS SEMENT EN WATER

- beloftes beteken niks sonder geloof nie!

Rus!  God se kinders is oppad na ‘n ewige rus... Wat behels die rus van ons eindbestemming? Is dit nou iets soos vakansie hou of laatslaap? Wat sê die Woord? Kom ons maak oop by Hebreërs 4:1-10.  Rus is ‘n heerlike deurlopende tema in die Bybel:  
  • Ons hoor die eerste keer van hierdie rus by die skepping as ons lees dat God op die sewende dag gerus het. Dit beteken nie dat God passief niks gedoen het nie. God kan tog nie moeg word nie. Nee, dit beteken dat God sy heerlike skeppingsdoel bereik het. Met rus bedoel die Bybel volle vervulling, volmaakte heerlikheid. 
  • Baie jare later het God sy volk uit Egipte gelei en aan hulle die rus in die land,  Kanaän beloof. (Psalm 95:11)
  • Ons kry weer die saak van rus in die Sabbatsgebod. Die Sabbatsgebod het oor meer gegaan as maar net fisiese rus. Die rus van die Sabbat het teruggewys na God se skeppingsdoel, maar ook vooruitgewys na  Jesus wat ware rus sou bring. (Kolossense 2:15,16) 
  • Jesus nooi ons na homself om ware rus te kry. (Matteus 11:28) Dis die rus van vergifnis en vrede met God. 
  • Maar daar wag nog ‘n finale sabbatsrus vir God se kinders. (8)* Dis die volmaakte ewige heerlikheid in die teenwoordigheid van God. Daar sal geen sonde, swaarkry, siekte en dood meer wees nie. Ons sal dan volmaak voldoen aan God se doel met ons tot sy eer.


Waarom word die tema van rus hier opgehaal? Die Hebreërbriefskrywer rig ‘n dringende  waarskuwing. Hy skryf vir mense wat begin moeg word het in die geloof, daarom vermaan hy hulle baie ernstig : Pasop dat julle nie die rus wat God julle beloof het, misloop nie. 

Hy gee gewig aan sy waarskuwing deur die voorbeeld van die ongehoorsame Israeliete in die woestyn tydens die Uittog onder ons aandag te bring. Ons weet God het daardie geslag Israeliete met groot krag en genade uit die verdrukking van Egipte uitgelei. Hy het hulle uitgelei met die belofte om die beloofde land, Kanaän, die land van rus, van melk en heuning aan hulle te gee. Hulle was dus ontvangers van God se beloftes! Besonder bevoorreg! Verbondsmense aan wie die beloftes behoort.  Maar helaas, ons weet wat het gebeur.  Hulle was opstandig, ongehoorsaam en ongelowig en daarom het God gesweer dat hulle nie in Sy rus sal ingaan nie. (3) Die gevolg van hulle ongeloof, was dat hulle nooit die land Kanaän ingegaan het nie, maar dat hulle lyke in die woestyn agtergebly het. Nou gebruik die skrywer hierdie voorbeeld om sy lesers te waarsku. (4:2) Al God se beloftes het die Isaeliete hoegenaamd niks gehelp nie. Die boodskap is dus : Julle moet volhard in die geloof, anders sal julle ook die ewige rus wat God julle beloof het misloop! 

Wat ’n skrikwekkende saak - dit kan wees dat mense die heerlike evangelie hoor en selfs die sakramente ontvang, maar op die ou end nooit die ewige lewe bereik nie.  

Hoe so? Dit gebeur as mense die woord hoor,  maar nie in geloof daarop reageer nie. Ek hoor wat Jesus gedoen het, ek weet van die kruis en die opstanding, ek weet van die beloftes,  maar ek kom nooit tot ’n daadwerklike besluit om Hom persoonlik te vertrou en as my Here te aanvaar nie. 

In die prediking hoor ons God se beloftes, in die sakramente (doop en nagmaal) word God se beloftes sigbaar onderstreep en bevestig. Maar hierdie beloftes moet aanvaar word in geloof. Ek moet doelbewus reageer deur my vertroue in Jesus te stel. Soos die verlore seun moet ek ‘n besluit neem om op te staan en na my Vader terug te gaan...God se beloftes sonder gehoorsame aanvaarding daarvan beteken niks!  God se beloftes red ons nie outomaties nie.  Die feit dat ek al baie jare in die kerkbanke sit of dat daar ‘n pragtige doopfoto van my op oupa en ouma se kamermuur pryk, maak my nog nie ‘n kind van God nie. Miljoene kerkgangers, gedooptes en nagmaalgebuikers gaan die ewige lewe misloop. Die prediking van die beloftes moet geglo word!  

Belofte en geloof gaan saam soos sement en water! 

Jy kan hoë kwaliteit sement koop en gebruik, maar daar moet water bygevoeg word om dit in werking te stel of te aktiveer, anders bly dit ‘n nuttelose poeier!

Het jy al gereageer op God se beloftes deur ‘n persoonlike geloof? Geloof het ons  gesien (in BOU OP GOD SE BELOFTES) in die geskiedenis van Abram is ‘n doelbewuste keuse om God te vertrou. Volhard jy in hierdie geloof of het jy in ongehoorsaamheid geval? Vandag is die dag om die saak reg te stel!  Jou ewige rus is op die spel! Hoor die dringende vermaning wat die skrywer twee keer herhaal... Hebr 3:15; 4:7

"Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie..."

God se beloftes is waar. Hy kan nie lieg nie, want Hy is nie ‘n mens nie. (Numeri 23:19)  Hy gee aan elkeen wat Jesus aanvaar die belofte van ewige rus! Wat maak jy met hierdie belofte?

*In vers 8 word vir ons verdere lig gewerp op die “rus”. Die skrywer wil sê : dis mos duidelik dat die rus waarna  Psalm 95:11 verwys tog nie die letterlike aardse Kanaan wat onder bevel van Josua ingeneem is, kan wees nie. Hoekom kan hy so sê? Wel, die mense wat in Psalm 95 aangespreek word is mos reeds in die land Kanaän. So die rus waartoe hulle dringend vermaan word,  moet  iets anders wees as blote verblyf in Kanaän. Dis iets anders as die rus wat Josua hulle gegee het van hulle vyande. Die skrywer wil dus hê ons moet die onderskeid raaksien tussen die tydelike rus wat Josua in Kanaän vir die volk bewerk het en die ware ewige  rus wat nog gereserveer word vir God se mense.

Woensdag 13 Junie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (11)


- Armageddon en konflik. 

Armageddon roep skrikwekkende beelde op : ‘n bloedige veldslag iewers in die Midde Ooste, ‘n Derde Wêreld Oorlog, wapens van massavernietiging of gaan daar dalk eerder perderuiters wees? ... en "drones"?

Maar is die beskrywing van Armageddon in Openbaring regtig bedoel as soort van futuristiese koerantberig geskryf deur 'n oorlogskorrespondent? Sou so iets hoegenaamd troos vir die eerste Christene kon bied?

Wat is die boodskap wat Johannes met die beskrywing van Armageddon aan sy eerste lesers (en ook aan ons) wou oordra? Hoe pas dit in by die deurlopende temas in Openbaring? Openbaring soos reeds gesien in hierdie studie gaan oor die troosvolle boodskap dat die Oorwinning van Jesus Christus 'n seker vaste waarheid is, wat deur geen teenstand en vervolging of bedreiging ongedaan gemaak kan word nie. Hier word nog 'n belangrike aspek daarvan onderstreep:

Oorwinning kom nie sonder konflik nie!

Konflik is deel van die Christen se alledaagse  belewenis. (Jyself as kind van God  sou dit beslis al agtergekom het...konflik met die ou sondige natuur, die wêreld se verleidinge, Satan se aanvegtinge, teenstand van Bose magte...) Jesus laat by ons geen onsekerheid oor die werklikheid van konflik en swaarkry in die kind van God se lewe nie.  Hy sê in Johannes 16:33: 

“Dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou goeie moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

STRYD IS ONVERMYDELIK DEEL VAN EGTE CHRISTENSKAP

Hierdie konflik van die Christen is nie iets vreemds nie, maar deel van ’n groter prentjie van konflik. Vir die Christene van die eerste eeu, maar ook vir miljoene ander dwarsdeur die geskiedenis was hierdie konflik so werklik, dat hulle besittings en hulle lewens bedreig is. Konflik was en is onvermydelik! Hoe pas hierdie konflik in by die groot slag van Armageddon in Openbaring 16:12-16?

Kom ons kyk eers net na die oorsprong van die konflik: Satan en die sonde het ‘n aanslag gemaak op God se skepping! God laat egter  nie toe dat Satan sy wêreld steel nie. Deurdat die mens geswig het voor Satan se slim praatjies, het die Satan ’n reg en toegang gekry tot die wêreld - dit het sy domein geword. Maar, God het as’t ware Satan se domein binnegeval. Dit lei tot gedurige konflik, soos reeds voorsien in Genesis 3:15! Hierdie konflik bereik ‘n klimaks met die koms en werk van Jesus Christus.  Elke verlossingsdaad van God deur Jesus is ’n bestraffing van Satan.  Daarom lê die evangelies so klem op Jesus se oorwinning oor Bose geeste! Dis ’n aanduiding van die oorwinningsaspek van Jesus se Messiaanse missie. Die beslissende deel van die konflik was die lewe en sterwe en opstanding van Jesus Christus.  Oorwinning is namens en vir ons behaal. Die bose magte se houvas op ons is gebreek! Die konflik het egter nie gestop nie. Jesus se konflik en stryd met die bose word gereflekteer in die lewe en bestaan van die kerk. Konflik is ’n element in al drie fassette van ons verlossing : Vryspraak, Heiligmaking en Verheerliking!
~ Ons vryspraak het deur konflik gekom. Toe Jesus die beskuldigende magte wat ons aanklae en teister ontwapen het.(Kol 2:14,15)
~ Die lewe van God se kind is ’n worstelstryd teen versoekings en aanslae teen die sonde en bose magte. Efesiërs 6:10ev. Wie vryspraak ontvang het is outomaties op die pad van heiligmaking wat konflik behels... Satan los jou nie rustig uit om heilig vir die Here te leef nie!
~ Ons finale verheerliking (vervolmaking) sal eers ’n werklikheid word wanneer die Satan in die poel van vuur gegooi word. (Openb 20:10)

Dwarsdeur Openbaring word hierdie konflik tussen God en Satan (waarby die kerk betrokke is) uitgebeeld, op verskeie maniere : die perderuiters in hfst 6, die trompette in hfst 8-9, die oorlog in hfst 12 :7-9, 17 (Lees) , die bakke vol van die toorn van God (hfst 16) Die sesde bak van wraak maak die pad oop vir ’n groot konflik naamlik die slag van Armageddon. Die sewende bak is ’n voorspel tot die vernietiging van Babilon. Babilon is die simbool van afgodery en afvalligheid.. Sien “MAAK OOP BY OPENBARING (10) ’n Hoogtepunt word bereik met die beskrywing van die Ruiter op die wit perd, Jesus . Openbaring 19:11-13, 19-21. (Lees) Al hierdie stryd en oorloë beeld die konflik uit tussen God en die Satan en sy handlangers.

Wat, waar en wanneer  is Armageddon dan? Kom ons kyk net eers na die agtergrond van die naam. Armageddon sou kon terugslaan op har-Mageddon. Dit beteken berg van Megiddo. Dit kan ook verwys na ir-Mageddon dws stad van Megiddo. Op die ou end maak die spesifieke etimologiese oorsprong nie soveel saak nie. Megiddo is ’n baie strategiese valleitjie (daar is nie juis veel van ‘n berg nie) in die noorde van Palestina en word waarskynlik gebruik as ’n simbool van stryd omdat verskeie veldslae in die geskiedenis daar plaasgevind het.   Dis duidelik simbolies bedoel, want in elk geval dui die profesieë in die Ou Testament  immers  Jerusalem aan as die toneel van die groot finale slag tussen God en sy vyande. (Sag 12:3, Sag 14:2-3) Armageddon gaan  beslis nie oor ’n letterlike plek vir ’n eenmalig letterlike veldslag nie!  Dit gaan oor die totale stryd en konflik tussen God en die Bose. Die mens en sy heersers is in opstand teen God, aangehits deur die bose geeste (paddas) van Satan. As ons Megiddo en oorlog bymekaarbring, bied Rigters 5:19-21 ’n interessante agtergrond! (Lees) Dit gaan hier oor die oorlog teen die konings van Kanaän wat God se volk onderdruk het. Daar is ook ander konnotasies van stryd en oorlog aan hierdie plek byv 2 Konings 23:29. Hierdie pleknaam word gebruik as simboliese agtergrond en aanduiding van God se finale oorhand oor die Bose!  Dis heeltemal in lyn met Johannes se gebruik om historiese en geografiese gegewens uit die Ou Testament aan te wend in in te kleë om aspekte van sy boodskap van stryd en oorwinning op ‘n beeldryke manier oor te dra. Ons het ‘n vorige keer reeds gesien hoe hy dit met die begrip Babilon/Babel (simbool van verleiding en vervolging) gedoen het.

Wanneer vind Armageddon plaas? Die antwoord is aan die einde, op die groot Dag van die Here! (Op 16:14) Maar onthou weer die omvattende betekenis van die Dag van die Here!  Al hierdie konflikte wat in Openbaring beskryf word is deel van die Dag van die Here. Ons kan dit nie kronologies rangskik nie. Die groot  Dag van die Here waarvan die OT praat word vanuit verskeie hoeke belig in Openbaring. Dis iets van die verlede  (Jesus het gesterf en opgestaan), dit is die daaglikse stryd van ons heiligmaking, dis die finale vernietiging van Satan en alle Godloënaars by die wederkoms.  Johannes gebruik ’n mengsel van historiese en geografiese gegewens (byv die Eufraatrivier wat voorheen van groot strategiese belang was en ‘n natuurlike grens of beskering gevorm het)  en kleë dit simbolies in om die aanslag teen God en sy kerk dramaties te teken! (Du Rand)
Armageddon het plaasgevind en is besig om plaas te vind en sal nog plaasvind. Elke konfrontasie is Armageddon! Dis iets van die verlede, maar dit gaan aan in die verkondiging van die evangelie wat die Koninkryk naderbring, dis die toekoms wanneer Jesus weer kom! Armageddon is Golgota (Goldsworthy), Armageddon is elke stukkie oorwinning wat die verkondiging van die evangelie behaal. En wat van ’n moontlike wêreldwye en mensvernietigende Derde Wêreld Oorlog? Dit sou  ook deel wees van Armageddon waar God toelaat dat die opstandige mens homself vernietig as deel van God se oordele, net soos God dit bewerk het dat bose mense Jesus gekruisig het, waardeur die Bose homself eintlik vernietig het. Weereens, wat dit nie sê nie, is die spesifieke geografiese plek waar so ’n oorlog sou kon woed nie!

Die konflik van elke kind van God (ja, ook in jou eie hart of eie huis) is deel van ’n groter konflik : Die konflik van Jesus aan die kruis, die voortgaande konflik waartydens die Gees in ons werk sodat ons  heiliger kan word en die stryd wat daarmee gepaard gaan. Die konflik gaan finaal opgelos word by die wederkoms, wanneer al God se vyande finaal vernietig word! God oorwin, maar dit gebeur nie sonder stryd en konflik nie! Ons moet dus nie verbaas word of moedeloos word as gevolg van konflik nie! Dit is die boodskap van versterking en troos wat vir ons vandag nog net so relevant is as vir die Christene van die vroeë kerk! Dis die troos, kind van God, wat ek en jy elke dag nodig het...want ons beleef mos stryd en konflik!


Saterdag 09 Junie 2012

IN DIE WURGGREEP VAN VERTWYFELING

- geteister deur obsessiewe kompulsiewe versteuring.

Sommige opregte Christene word genadeloos deur twyfel verteer. Hulle voer ‘n  intense stryd teen wurgende twyfelvrae. Subjektiewe vrae soos : “Glo ek regtig, het ek regtig opreg Jesus as Verlosser aanvaar, was my bekering eg?” teister hulle. Dit kan ook soms gepaard gaan met allerhande vae skuldgevoelens en onwelkome lasterlike gedagtes wat hulleself op jou afforseer al probeer jy hoe hard om nie so te dink nie. Hoe meer jy die gedagtes probeer vermy, hoe meer dink jy daaraan. Dit kan jou moedeloos maak : “Kyk net watter aaklige gedagtes dink ek, ek kan onmoontlik ’n ware Christen wees!”  (Interessant dis ’n probleem waarmee die beroemde John Bunyan bekend was, want ons vind ’n verwysing daarna in sy Pligrim’s Progress)

Die mens is baie kompleks en daar is baie faktore wat ’n rol kan speel in twyfelgedagtes. Jou persoonlikheid, jou opvoeding, jou kerklike agtergrond, gebrekkige kennis van die Woord, maar daar is ook sielkundige faktore wat ’n invloed kan hê op ons geestelike lewe. Een moontlike oorsaak vir hierdie toestand van kroniese twyfel is Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring. (Simptome hiervan is  waar iemand aanhoudend bly twyfel of hy ’n deur gesluit het of ’n hek toegemaak het en klomp keer moet gaan seker maak. Ander mense het weer  ’n  obsessie  met iets soos handewas, of dwingende gedagtes wat jy nie wil dink nie, maar jy kan nie help om dit te dink nie.)  Hierdie toestand kan uit die aard van die saak ook ’n invloed hê op jou geestelike lewe en verhouding met die Here. “Glo ek regtig, het ek regtig my sonde opreg bely... Sê nou maar net ek was nie opreg genoeg nie, so laat ek maar weer bely?”   Die duiwel kan so ’n sielkundige toestand uitbuit en aanwend  om jou gedurig met vrees gevange te hou en jou vrede te steel. Onthou, Satan is ’n lafaard, hy ken ons sielkundige en fisiese swakhede en probeer dit uitbuit. Juis toe Jesus honger was kom hy met sy versoeking dat Jesus brood uit die klippe moes maak! Moet net nooit vergeet nie,  Satan is ’n leuenaar. Sy leuens moet met die waarheid van die Woord beveg word..

Grantley Morris (www.net-burst.net)   noem drie leuens wat ons moet aanvat om oorwinning te behaal in hierdie toestand. Die drie leuens waarmee Satan ons teister is:

1. As ek vergewe is, sal ek vergewe “voel.”  Dis ’n leuen van Satan! Dink weer  mooi, word mens gered deur geloof of deur gevoel? Die Bybel sê tog oor en oor dat ons deur geloof gered word. Geloof self is die sekerheid van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebr 11:1) Geloof staan dus teenoor sintuiglike bewyse!  Ons lewe volgens geloof en nie volgens dit wat ons sien (ervaar) nie! (2 Kor 5:7) Gevoelens is ’n baie riskante maatstaf, juis omdat die mens se hart bedrieglik bo alle dinge is. (Jeremia 17:9) Iemand kan byv. baie seker voel, maar dalk glad nie ’n kind van God wees nie. Aan die anderkant is dit moontlik dat ’n kind van God baie sleg voel! Geloof is nie om te voel nie, geloof is ’n doelbewuste en voortdurende keuse om God se beloftes as waar te aanvaar  ten spyte van die sigbare omstandighede, ten spyte van sigbare feite. Ons vergeet partykeer die basiese waarheid wat soos ’n goue draad deur die hele Skrif loop (en spesifiek ook in Hebr 11.)  Redding kom via geloof en nie gevoel of sig nie! 
Gevoel en rede mag nie regter wees oor ons saligheid nie... 

2. As ek vergewe is, sal God op ’n spesiale manier my vertel dat ek vergewe is. Ons eie bose hart por ons aan : “Vra of soek ’n spesiale teken!” Ook dit is ’n leuen van die duiwel! God het jou mos reeds oor en oor en glashelder duidelik in sy Woord verseker dat elkeen wat in Jesus glo vergifnis van sonde ontvang het. Verwag ons dalk God moet nou sê : “Ek het dalk in die Bybel vir jou gelieg en sal vir jou nou ’n ander teken gee dat ek bedoel wat ek gesê het?” Jesus sê telkens dis ’n slegte en afvallige geslag wat vra vir ’n teken... (Matt 12:39)

3. As ek vergewe is, sal ek nooit meer twyfel - of lastergedagtes beleef nie. Wat ’n belaglike leuen van Satan! Maar hy vang mens maklik hier in ’n bose kringloop. Sy redenasie is dat ’n Christen altyd 100 persent sekerheid beleef en nooit twyfel nie. As jy dan ’n aanval van twyfel ervaar, sê jy vir jouself : Ek was seker nog nooit ’n Christen nie en hierdie twyfel lei dan tot verdere twyfel!

Ons moet besef dat die Satan die vader van leuens is en ons teister met leuens. Sy leuens is altyd uiterstes. Aan die een kant sal hy vir party mense wysmaak dat ’n Christen nooit kan seker wees nie. Dis ’n leuen en so wil hy ons van vreugde en blydskap beroof. Aan die anderkant kom hy nou met ’n teenoorgestelde leuen en beweer dat ’n Christen altyd sal seker wees en nooit stryd of vertwyfeling sal ondervind nie. Dis ook  ’n  leuen! Net so seker as wat mens nie plooie in ’n ouetehuis kan vermy nie, net so seker sal ons nooit ’n stadium duskant die graf bereik waar ons vry sal wees van die versoekings, aanvalle en listige planne van die duiwel nie. Versoekings in die vorm van onwelkome gedagtes, vertwyfelings, gedagtebeelde of slegte begeertes wat in ons opwel is deel van die duiwel se arsenaal en hy gaan dit aanhou gebruik. (Groot manne van God soos Martin Luther moes hiermee worstel) Wat is die oplossing vir hierdie dwingende lastergedagtes? Moenie daaroor bid nie (dan herinner jy jouself net daaraan), maar besef dit kom van Satan af. As die duiwel sien jy besef dit kom van hom af en dit maak jou nie meer bang nie, sal dit mettertyd minder word en verdwyn...

Die pad van die geloof word nêrens in die Bybel as ’n gelykpad sonder dorings geskets nie. Dis duidelik uit die Ou Testament : dink aan die geskiedenis van Abram, Moses, Dawid....Dis nog duideliker uit die Nuwe Testament. Dis trouens waarom ons soveel aanmoedigings en aansporings kry tot volharding! Dis waarom die Hebreërs skrywer ons aandag vestig op die geloofshelde in Hoofstuk 11.

Vir alle Christene wat deur twyfel aangeval word , maar veral mense wat met obsessiewe kompulsiewe versteuring te kampe het is daar net een oplossing, absolute vertroue in God se beloftes. Onthou geloof is die een skakel tussen ons en God se weldade deur Jesus!  Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag! Hou aan glo in sy beloftes. Dis hoe die Heilige Gees ons sekerheid gee. Kyk net na Jesus en sy heerlike afgehandelde werk. Let wel ons moet na Hom kyk en op Hom fokus, nie op ons geloof opsigself nie! Moenie moed verloor nie. As jy tye van donkerte en onsekerheid beleef, vertrou blindelings op God se beloftes! 

Leer om God se Woord te vertrou en jou eie gevoelens  te wantrou!

‘n Voorbeeld uit die lugvaart kan dalk help. Binne in ‘n wolk of  uiters swak weer is ‘n loods volledig aangewese op sy intsrumente.  Laat God se beloftes jou instrumente wees waarvolgens jy vlieg as daar geen sig is nie!  Moenie jou eie gevoelens vertrou nie, maar vertrou eerder die onfeilbare instrument van God se Woord ! 

(lees verder en kliek op BOU OP GOD SE BELOFTES)

Foto geneem op Tsumeb se gholfbaan

BOU OP GOD SE BELOFTES


- die fondasie van 'n huis van sekerheid! (Maak oop by Romeine 4)

Dis so oneindig belangrik om seker te wees van vrede met God en jou ewigheidsbestemming...

Daar is net een fondasie vir sekerheid - nie ons eie godsdienstigheid nie, nie ons eie goedheid nie, nie ons omstandighede nie, nie ons gevoelens nie, maar net GOD SE BELOFTES! Uiteraard  moet ons eers oortuig wees van die betroubaarheid van God se beloftes, voordat dit vir ons van enige praktiese nut kan wees. Ons moet weet : God kan nie lieg nie!  Dis gelukkig  ’n duidelike Bybelse waarheid : Numeri 23:19

“God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?"

  (Lees ook Titus 1:2;   Hebreërs 10:23)

Omdat God nie kan lieg nie, is sy beloftes waar!

Die praktiese implikasie is : God se beloftes tel oneindig  meer as die beskuldigings van Satan of my eie gewete, verwarrende en wisselende gevoelens en al die mislukkings van die verlede en hede!  Ja, dit tel ook meer as die sigbare werklikheid van my eie sonde en my onvolmaaktheid!

Wat bedoel ek daarmee? Kom ons kyk saam na Romeine 4:18-25 

In die begin van Romeine 4 het Paulus dit reeds duidelik gemaak, dat Abram nie vrygespreek is weens goeie dade nie, maar slegs op grond van sy geloof!  (hierdie feit is opgeteken ook  juis ter wille van ons, want ons word ook vrygespreek deur geloof - vers 23,24) In die gelese gedeelte word nou verder ingegaan op die aard van sy geloof.

Geloof is ‘n praktiese saak. Abram se geloof het beteken dat hy  ’n keuse moes maak : Kyk hy na die sigbare feite of glo hy God se belofte? Die sigbare feite was :  Hy en Sara was reeds oor die muur. Hoogs bejaard. Te oud vir kinders hê!  Ouerskap was biologies vir hulle onmoontlik!  Dis die ware nugtere feite. 

Maar God se belofte was : Ek sal jou die vader van baie nasies maak! So, Abram moes besluit, wat weeg die swaarste, wat tel die meeste, die feite, wat waar was of God se beloftes? Abram het God se belofte geglo en so eer aan God gegee! (20) LW - as ons kinderlik God se beloftes glo bring dit eer aan Hom! As ons twyfel, dan maak ons God tot leuenaar en bring oneer aan Hom. Hoekom glo Abram  vir God en steur hy hom nie aan die feite nie? Hy glo dat God die mag het om te doen wat Hy beloof het! (Vers 21) 
God se beloftes weeg swaarder as die mees sekerste feite, want Hy kan nie lieg nie en Hy het inderdaad die mag om te doen wat Hy beloof. Ons kom op ons pad telkens voor dieselfde keuse te staan : die sigbare feite of God se beloftes.

Kom ons maak nou hierdie situasie op onsself in ons toestand as sondaars van toepassing : Die sigbare ware feite oor myself is : ek is ’n sondaar, ek is skuldig! Maar...God se belofte is : Vertrou op my Seun Jesus wat die sondestraf in jou plek gedra het. Wie in Hom glo word nie meer veroordeel nie en staan nie meer skuldig nie!  ’n Christen is dus iemand wat God se beloftes glo ten spyte van  wat hy weet, waar is van homself. God se kind sê : In Jesus staan ek regverdig voor God ten spyte van  die sondes van my verlede, ten spyte van  my huidige sondigheid waarvan ek diep bewus is, (en natuurlik oor hartseer is) ten spyte van  die feit dat ek nog steeds ’n stryd teen my sondige natuur het. 
Ware geloof, ware sekerheid kyk die duiwel vas in die oë as hy jou teister en sê : “Kan jy jouself ’n Christen noem, kyk net wat het jy weer gedoen!”  Dan sê ware geloof : “Ja, dis waar ek is ’n sondaar, maar Jesus Christus het juis vir sondaars gesterf!” Dan sê ware geloof, “ja, ek is vrygespreek want ek glo in God wat Jesus oorgegee het vir my sonde en opgewek het vir my vryspraak.”  ( D.Martyn Lloyd-Jones  : “Faith is this confident protest against every voice that assails us from within and from hell” 

Sekerheid baklei terug op grond van God se beloftes.

Sekerheid beteken nie afwesigheid van stryd nie, maar sekerheid beteken dat ek die aanvalle van die Satan op grond van God se beloftes beveg!

Ons dink in hierdie Pinkstertyd spesifiek aan die werk van die Heilige Gees. Die Heilige Gees bewerk sekerheid in ons harte. Hoe? Deur ekstra gesigte, drome of tekens? Nee, Hy  werk deur die Woord. Hy vestig ons aandag op God se beloftes. Hy skep vertroue in die beloftes van God. Hy oortuig my, hierdie beloftes is ook vir my. Hy maak die Woord lewend vir ons.  ’n Ander instrument wat Hy gebruik is die Nagmaal. Dis eintlik ‘n sigbare onderstreping en bevesiging van die beloftes in die Woord. Ek sien en proe as't ware die beloftes. In die Nagmaal kom sê Jesus (deur die Heilige Gees) baie direk: “Dis vir JOU persoonlik, my liggaam is gebreek en my bloed is vergiet vir JOU sondes, so seker as wat jy die brood eet en die wyn drink! Hier, vat dit! Glo en leef! Vertrou en juig!”

Die werk van die  Heilige Gees is deurslaggewend vir ons sekerheid. En dis hier waar maklik  fout kom  - ons bedroef Hom (Ef 4:30) Ons bedroef Hom deur kwaaivriendskappe, deur onvergewensgesindheid, deur die Woord en Woordverkondiging af te skeep, deur ongeërg te wees oor “sondetjies” Dit kom alles daarop neer : ons maak die Stem stil en hartseer wat ons moet vertroos en sekerheid gee! As jy die versekering en vertroosting van die Heilige Gees wil beleef, maak erns met die Woord en die sakramente, maar doen ook afstand van dinge wat Hom bedroef! 

Vrydag 01 Junie 2012

MAORI NAGMAAL EN BOERE SMART

- bevrydende krag tot vergifnis.

Wat het ‘n Maori nagmaal ver oor die see in New Zealand en die konsentrasiekamp smarte van die Boere Oorlog hier op eie bodem met mekaar te doen?

Kom ek begin met die merkwaardige berig oor ‘n besondere  nagmaal in New Zealand.  ‘n Juweeltjie wat ek onlangs weer raakgelees het.* Dis Desember 1848 by ‘n plekkie genaamd Putiki op die walle van die Wanganui rivier.  ‘n Groot getal bekeerde Maori’s is saamgetrek om onder andere nagmaal te vier onder leiding van Rev. Richard  Taylor van die Church Missionary Society. Hulle het rivierlangs  met hulle  kano’s gekom.  Sommige uitgedos in tradisionele klere en ander in nuutverworwe Europese drag. Die bediening van die nagmaal is oor twee dae versprei, weens die groot aantal deelnemers. Op die 25ste word die tweede groep bedien. Tydens hierdie diens het ‘n aangrypende gebeurtenis plaasgevind wat die krag van die evangelie sonder twyfel sigbaar gedemonstreer het. Twee Maori hoofmanne was onder die aanwesiges by die tafel van die Here. Een van hulle, Tamati Wiremu Puna van Aramoho het sigbaar gebewe. Na die diens is hy uitgevra oor sy emosie. Hy vertel toe die aangrypende verhaal dat die ander hoofman, Panapa van die Nga-ti-Apa, wat saam met hom was, vantevore sy pa doodgemaak en geëet het! Hy het toe voortgegaan om te sê dat net die evangelie wat hom ‘n nuwe natuur gegee het, kon maak dat hy saam brood kon eet en uit dieselfde beker kon drink as die man wat die moordenaar was van sy eie pa.

Die verbysterende omvang van die pyn en smart wat ons Afrikanervolkie deur die Britte aangedoen is tydens die Anglo-Boere Oorlog het, maak weer opnuut mens se emosie wakker  met die onlangse onthulling dat nie 27 000 van ons volksgenote (soos ons gedink het)  in die Britse konsentrasiekampe gesterf het nie,  maar ‘n angswekkende 34 000.  Die diepte van hierdie onmenslike behandeling word nie net deur koue syfers vertel  nie, maar veral deur die verhale van moeders wat magteloos moes toesien hoe hulle kinders in hierdie haglike kamptoestande onnodig deur siekte, honger  en ontbering uitgewis word.

Van hierdie vertellings is opgeneem in ‘n nuwe boek oor die smartlike euwels van die konsentrasiekampe, “ONTHOU! - Kronieke van vrou - en kinderlyding 1899-1902" saamgestel deur AWG Raath en Elria Wessels.

Magdalena van der Merwe praat oor die dood van haar dogtertjie : 

“Daar sit ek met my siek kind op die skoot. Sy was sterwende en sê: ‘Mammie, gee vir my tog bietjie water.’ Wat kon ek doen? Ek antwoord: ‘My liefste, hier is geen water nie.’ Sy hou maar aan om te smeek vir water. Toe moes ek van my trane op haar lippies laat drup. Eindelik het sy gesterf...”

Anna Botha van Breipaal, Smithfield, vertel van die dood van haar seuntjie in die Bethulie-konsentrasiekamp:

“Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. Wanneer ek hom vra hoe dit met hom gaan, was sy antwoord: ‘Mammie, beter, maar ek het tog so honger!’ Sy laaste woord was: ‘[Ek het] honger’. 

“Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was nie [eens] so groot soos dié van ’n kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek die ruggraat voel.” 

Die verhale van magtelose moeders, die foto’s van uitgeteerde liggaampies, rye en rye name van gestorwe kinders, kleuters, babas... dreig om vals note van verbittering uit jou sielsnare uit te ruk, maar...

...Tamati Wiremu Puna kon die moordenaar Panapa wat sy pa opgeëet het, vergewe,  want daar was ‘n houtkruis met ‘n Verlosser wat sy lewe vir ons gegee het. Dis ook die enigste (maar gelukkig genoegsame) rede waarom ons die Britte kan (en moet) vergewe vir die 34 000! Al is dit bewend en met trane in ons oë, kan ons harte die suiwersoet note van vergifnis uitjubel!

Is daar nog iemand wat jy moet vergewe?

* An Early Communion in New Zealand, Peter Best in The Banner of Truth, January 1996

Dinsdag 29 Mei 2012

SATAN SE SAPPIGE STORIES

- die gevare van die  “health, wealth and prosperity teaching”

Ons geloof is gebou op God se kosbare en heerlike beloftes. Maar soos ons weet is die Satan, God se na-aper. Hy maak ook beloftes, baie aanloklike beloftes wat hy deur sy valse apostels aan mense opdis en so miljoene mislei.

Valse beloftes. Dis ‘n ou taktiek van die duiwel waarmee hy al vir Adam en Eva uitgevang het. Aan hulle het hy die subtiele belofte gesuggereer dat as hulle van die verbode vrug eet,  hulle net soos God sou word. “...dan sal julle soos God wees wat alles kan ken.” (Genesis 3:5)   Sedertdien is die sondige mens ‘n maklike slagoffer vir Satan se sappige beloftes wat so lekker pas by ons sondige begeertes. Satan se beloftes gaan hoofsaaklik oor geld, gerief en grootsheid (roem), want dis die dinge van die wêreld wat die sondige mens nastreef as eerste prioriteit bo God!  Dis presies teen hierdie verkeerde begeertes waarteen 1 Johannes 2:15-17 so ernstig waarsku : 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. Die wêreldse dinge, alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit, kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”

Satan het sy listige beloftes oor  gerief en voorspoed ook op Jesus uitprobeer. Natuurlike op ‘n super slinkse en subtiele wyse soos ons lees in Matteus 4:1-11. Hy probeer (die honger) Jesus verlei om brood te maak uit klippe. So wou Hy dat Jesus sy mag in belang van sy eie behoeftes gebruik in plaas van tot eer van God. Daarna probeer hy Jesus oorreed om van die tempel se dak af te spring, want dit sou vir Jesus dadelik roem en grootsheid meegebring het. Uiteindelik kom hy na Jesus met ‘n belofte van ontsaglike rykdom en mag. Jesus verwerp al hierdie mooi praatjies van die duiwel en onderwerp Homself aan God se volmaakte wil. God se agenda  vir Jesus was die kruis, en al hierdie pogings van Satan was daarop gemik om aan Jesus ‘n kortpad na roem en gerief voor te hou sodat Hy nie na die kruis sou gaan om die oorwinning daar oor die duiwel te behaal nie!

Dis presies nog  die taktiek van die duiwel ook met ons. Hy wys vir ons ‘n maklike kortpad na rykdom, gerief en roem om ons weg te lok van die pad waarop God wil hê ons moet loop. Die pad van die waarheid is God se pad van vertroue op Jesus wat nou vir ons vryspraak bring  en eendag sal uitloop op onbeskryflike heerlikheid.

Hoe verskil Satan se slimpraatjies van God se beloftes? Die duiwel se beloftes sluit aan by die mens se sondige  begeertes. Hierteenoor, is God se beloftes gemik op die eer van sy naam en is juis in konflik met ons eie sondige ambisies. Satan se mooi beloftes is gefokus op die hier en die nou.   

God se volgorde is eers die kruis en daarna die kroon!  

Die Bybel is klinkklaar helder, ons grootste behoefte nou is om vergifnis van sonde te ontvang en vrede met God te vind. Eers met die wederkoms gaan ons liggame ook herstel word en sal al die trane van ons oë afgevee word. Jesus moes eers deur lyding gaan en dan verheerlik word! Ons as sy volgelinge is veronderstel om dieselfde pad te loop. Christenskap is nie ‘n maklike paadjie wat geplavei is met geld en gerief nie. Nee, Paulus het dit baie duidelik aan die nuwe bekeerlinge van sy dag gestel dat ons  “eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom.” (Handelinge 14:22)

Die valse apostels van die “Word of Faith Movement”  en die verkondigers van die “Prosperity Gospel” beloof aan hulle aanhangers ‘n lewe van gerief, gesondheid en aardse sukses, nou! Dis tyd dat hierdie gruwelike grootbekke ontmasker word vir wat hulle is : valse profete en dwaalleraars! Wat hulle verkondig is direk in stryd met die boodskap van Jesus!

Hierdie hedendaagse vals apostels wil ons heidense tegnieke leer om vir onsself ‘n gerieflike lewe hier op aarde te skep! Dit skreeu teen Jesus se opdrag om juis ons kruis op te neem, onsself te verloën en Hom te volg. Een van hulle, die bekende Joel Osteen sê : “All of us are born for earthly greatness” Hy verkondig ook die heidense lering dat die mens se woorde skeppingsmag het en verdraai die Skrif om dit te staaf*. Hy beweer: “words give life to your dreams” en “Friend, there is a miracle in your mouth.” Die gerespekteerde  jarelange prediker van God se Woord, John MacArthur noem Osteen ‘n “pagan religionist, a quasi pantheist and an agent of Satan.” Dis harde woorde, maar dis inderdaad belangrik dat ons ons broers en susters duidelik moet waarsku teen sielsvernietigende dwaling. Dis tragies, maar hierdie gevaarlike Joel Osteen, met sy duisende aanhangers het werklik geen insig in die waarheid nie. (Dit het ek onlangs besef toe hy Mormone as Christene beskryf het) 

“Mag ons dan oordeel?”, vra jy. Wel, Paulus het nie geskroom om dwaalleraars by die naam te noem nie. (Sien 2 Timoteus 2:16,17) Die eer van God en die ewige welsyn van mense is op die spel.  Ek kan maar net saam stem met John Piper as hy sê : “I hate the Prosperity Gospel.”

Waarom is hierdie valse lering so gewild? Dis eenvoudig. Dit wat die Satan deur hulle beloof, vind gemaklik aansluiting by die sondige mens se natuurlike begeertes. Om opgewonde te raak oor hierdie beloftes van sukses en roem  hoef mens mos  nie wedergebore te wees of jou te bekeer van selfgesentreerdheid nie.  Alle sondaars wil altyd al hierdie dinge hê. Maar daar is ook ‘n ander aspek wat ons maklik miskyk. Hierdie vals leraars is ‘n bewys van God se oordeel oor goddelose mense, wat  soetsappige boodskappe verkies wat hulle eie  sondige begeertes bevredig en hulle nie sal ontstel nie. Sulke bose mense maak vir hulleself leermeesters bymekaar om te sê wat hulle graag wil hoor. (2 Timoteus 4:1-5) God gee dus mense wat nie die waarheid liefhet nie, oor aan die oordeel. Hy laat  toe dat hulle hulself dik vreet aan die leuen sodat hulle daaraan kan stik en sterf!

Naskrif : Luister na die waarskuwing van manne soos John Piper en Paul Washer oor hierdie gevaarlike dwaling deur te kliek op PROSPERITY GOSPEL.

*Sien op hierdie blog, DIE DUIWEL SE BYBEL.


Joel Osteen


Donderdag 24 Mei 2012

LEI DIE GEES MY?

- ek hoor dan nie stemme nie!   

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing : Vader,  Seun en Heilige Gees. Hier in die Pinkstertyd is dit gepas om te praat oor die praktiese rol wat die Heilige Gees in elke kind van God se lewe speel. (maak gerus oop by Romeine 8)

Die Heilige Gees is nie ‘n teorie of krag  nie; Hy is ‘n  lewende Persoon. Hy is onmisbaar in ons verlossing.  Ek kan nie sonder die Heilige Gees die evangelie aanvaar nie. Dis onmoontlik om sonder die oortuigingswerk van die Heilige Gees vir Jesus Christus waarlik te ken. Daar is ‘n onmisbaar noue verband tussen Christus en die Heilige Gees.  Trouens, Hy word spesifiek genoem die Gees van Christus. (Vers 9)  Dis Hy wat Jesus aan ons openbaar en in ons harte werk dat ons waarlik in Hom kan glo. Belangrik : Die Heilige Gees werk nie net eenmalig in mens se lewe nie, maar Hy lei die kind van God op ‘n daaglikse basis. In Romeine 8:14 stel Paulus dit as ’n feit:

“Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”

Dis waar van elke kind van God. As ek nie deur Heilige Gees gelei word nie, is ek nie ’n kind van God nie.  Maar wat beteken dit nou prakties? Beteken dit dat ek nou gedurig stemme hoor, skimme sien of drome droom? Dis allermins wat hier in Romeine ter sprake is.  Die konteks waarin Paulus  hierdie uitspraak maak  is belangrik. Dit gaan oor ’n nuwe lewe wat vereis dat ons ons sondige praktyke moet uitroei en gehoorsaam raak aan God se wil. Kom ons kyk na 'n paar maniere hoe die Heilige Gees elke kind van God in hierdie opsig lei :
1. Hy gee aan my ’n nuwe lewensuitkyk : God raak vir my belangriker as geld,  goed en genot. (1 Korintiërs 2:12) Die Gees laat my die waarde van God se genade en vergifnis, wat ek deur Jesus ontvang, besef. Hy gee my insig in en aptyt vir geestelike dinge. Ek ervaar ‘n honger na die Woord, die Bybel gaan vir my oop, ek geniet geestelike gesprekke. (Voorheen was dit dor en droog en irrelevant). Toets jouself : sien jy uit na gemeentelike byeenkomste of voel dit soos ’n straf?  Hy wek ook  ‘n liefde in my vir ander Christene; hulle gesprekke en belewenisse maak nou vir my sin. Die Heilige Gees  laat sien my die hele lewe vanuit ‘n  ewigheidshoek. Ek sien my aardse bestaan as ’n pelgrimsreis na ’n beter bestemming. Iemand wat deur die Gees gelei word,  sien uit  na die heerlike erfenis wat alle  smart van nou by verre sal oortref! (Rom 8:18)

2. Hy wek in my ’n begeerte om tot God, my Vader se eer te leef. Die Vaderskap van God word vir my ‘n persoonlike werklikheid. Hy bewerkstellig ‘n innige band tussen my en my Hemelse Vader!  (Rom 8:15) As die Heilige Gees my lei, leef ek ‘n lewe voor die aangesig van God. En ek vra nie meer wat mense dink nie nie, maar : “Vader, wat is U wil?” Die Heilige Gees maak my dus bekommerd oor my gebrekkige liefde vir God en laat my smag na ‘n inniger verhouding met Hom. Hy bring ook kommunikasie tussen my en my Vader tot stand deurdat Hy vir ons pleit. (Rom 8:26)

3. Hy laat my die heerlikheid van Jesus, sy genoegsaamheid en genade, raaksien, juis in die konteks van die bewustheid van my sonde! Ek besef die allesoortreffende  waarde van Jesus (die kosbare hoeksteen). Ja, ander mense weet dalk  van Hom, maar dis waar dit eindig. Die Heilige Gees verheerlik Jesus en  openbaar Hom en sy werk aan ons. (Joh 16:14) Waar die Heilige Gees mense lei, val die fokus op Jesus en sy werk. Soos  ligte (floodlights)  ‘n gebou in die aand verlig, nie om die fokus op die ligte te plaas nie, maar op die gebou.

4. Hy maak my toenemend bewus van my sondigheid. Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer raak ek bewus van sondige gewoontes, denkwyses en  motiewe wat nog in my binneste skuil. Onthou Hy is die Heilige Gees! Hy is heilig en kan nooit met enige sonde kompromie maak nie. Hy maak mens sensitief vir versoekings en sonde. Hy wek in my ’n kommer en  hartseer oor my sonde. Die ongelowige is wel ook soms teleurgesteld in homself of voel sleg oor die gevolge van sy sonde. Die Heilige Gees laat my egter  besef, dis teen die Here wat ek gesondig het. Soos  Dawid in Psalm 51:6  ervaar het. 

Die Heilige Gees  stem my versigtig en onrustig oor sekere  plekke of persone. Ek weet net : “Bly weg hier. Dis gevaarlik vir jou wandel met God!”   

Die Heilige Gees lei mens dus om in alle situasies teen die wêreld en sy aanloklike begeertes te kies en vir die  navolging van Jesus.

5. Hy gee positief in my hart ’n begeerte na geregtigheid. ‘n Honger en dors om te doen wat reg is. Hy laat my ook oorgaan tot aksie om teen sonde te stry en dit uit te roei. Dis waarskynlik die belangrikste inhoud van wat dit hier beteken om deur die Heilige Gees gelei te word, want vers 13  onderstreep die belangrikheid om alle sondige praktyke in ons lewens uit te roei. Ons self moet praktiese stappe neem, maar dis die Heilige Gees wat ons oortuig van wat verkeerd is en die krag en moed gee om daadwerklik op te tree.

Romeine 8:13 sê : “...maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.”

6. Die Heilige Gees gee ons nie net krag om die verkeerde uit te roei nie,  maar produseer positiewe vrug in ons lewens. Die  vrugte van die Gees. Galasiërs 5:22  (Lees) Alle Christene sal al die vrugte vertoon in toenemende mate. Die Gees lei ons dus om heilig en al heiliger te leef!  

Alle Christene het die Heilige Gees en alle Christene word gelei deur die Heilige Gees. Sonder sy werk in ons kan ons nie kinders van God word nie en ook nie as kinders van God leef nie! Kom ons bid vir ‘n groter bewuste werk van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons verbind ons tot ‘n groter gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding, spesifiek om teen sonde te stry en dit uit te roei. 

* Dis in hoofsaak dinge wat  D.Martyn Lloyd-Jones in sy reeks oor Romeine noem.