BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 21 Oktober 2015

VRAE AAN DIE "FELDMUIS"

Die Feldmuis van Namibië is 'n baie skerp muis wat mens soms ook laat skaterlag, maar nou het die einste muis aan my siel geknaag...

Wat onstel my so? Ek haal aan:


[Die probleem lê dieper...

Die uiteenlopende standpunte wat lidmate en kerkrade oor selfdegeslagverhoudinge huldig, is ’n simptoom van ’n dieperliggende verskil tussen gelowiges. Ten diepste verskil gelowiges se verstaan van die gesag van die Bybel (bv. letterlik soos dit daar staan teenoor inagneming van tyd en omstandighede van ontstaan), hulle siening oor wat sonde is (bv. ’n lys van verkeerde dinge teenoor ’n persoonlike verhouding met God wat verbreek is) en hoe hulle God ken en oor Hom dink (bv.’n veroordelende God wat sondes straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en barmhartig is)]


GEVAARLIK EN ONSKRIFTUURLIK

Hier word myns insiens 'n baie gevaarlike teenstelling(s)* gemaak en sommer ook 'n ongelukkige beskuldiging rondgeslinger. Die indruk word geskep dat mense (soos ek) wat op duidelike Bybelse gronde teen die goedpraat van selfdegslagverhoudings gekant is, beskuldig word dat ons kwansuis (slegs) glo in 'n veroordelende God wat sondes straf. (en by implikasie nie aan 'n liefdevolle God nie) Die pro selfdegeslagmense is diegene wat dan nou glo in 'n liefdevolle Vader. Dis natuurlik 'n valse teenstelling en tipiese strooipop argument.

Dis ook om dit sagkens te stel, nie 'n baie nugtere omgang met die Bybelse gegewens nie!

Met my hele hart glo ek in 'n liefdevolle Vader wat my genadig is in Jesus Christus! Dis my as sondaar se enigste hoop. As ek sing, "Leeg met my sondelas hou ek U verdienste vas", is dit my persoonlike belydenis en my enigste troos. Ek glo in radikale vergifnis en ek verkondig radikale vergifnis! (Kliek op VERGIFNIS BY DIE VUUR)

Maar ek glo inderdaad ook in 'n God wat sondes straf. Trouens, Hy haat sonde so dat Hy selfs sy eie Seun gestraf het, toe Hy belaai was met my sonde en as sondaar in my plek behandel is. (Jesaja 53:5,6; 2 Korintiërs 5:21)

Ja, as ek in Jesus glo word ek inderdaad nie meer gestraf nie, maar ontvang ek die ewige lewe as geskenk. Maar dit beteken nie dat God nou skielik sonde goedpraat of Sy Heiligheid prysgee nie.

As dankbare kind van God moet ek nou teen die sonde stry! Romeine 6:1,2 is mos duidelik! "Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?" God se genade in Jesus, maak nie sonde nou skielik OK nie!

Binne die konteks van 'n gelowige se lewe is sonde steeds 'n saak waarteen ons moet stry en waarvan ons moet wegvlug! Selfs ten bloede toe! En daarom herinner die Hebreërskrywer ook juis vir Nuwe Testamentiese Christene dat "ons God 'n verterende vuur" is!  (Hebr 12:29) Ook op baie nader plekke in die Nuwe Testament word God se heiligheid en wraak oor sonde duidelik uitgespel en word ook gelowiges daarop attent gemaak. (deur byvoorbeeld parallele te trek tussen gelowiges en oud Israel, wat verlos is uit Egipte, maar weens die toorn van God nooit die beloofde land bereik het nie) Dink maar aan 1 Korintiërs 10 en die hele brief, Judas! En wat van die sterk taal waarmee die sewe gemeeentes in Openbaring tereggewys word? Nou onlangs tref die sterk woorde van veroordeling van die Here van die kerk my in Openbaring 2:23 my..."En haar (die valse profetes Isebel) kinders sal ek sekerlik doodmaak..." Feldmuis moet dalk vir ons verduidelik wat hierdie Skrifgedeeltes beteken!

HEIDELBERGSE KATEGISMUS

Ek wonder ook wat Feldmuis van die Heidelbergse Kategismus in die verband sê, wat gelowiges waarsku om te volhard in goeie werke? Hierdie waarskuwings sou mos geen sin maak as God nie meer oor sondes omgee en dit straf nie?

HK 86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is? Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d). (a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. 

Ek wil nie graag met iemand 'n geveg gevoer in die kuberruimte nie. Maar Feldmuis se menings is in die openbare domein en daarom mag ek nie daaroor stilbly nie. (ek hoop my opmerkings word in die lig hiervan verstaan) Ek val ook nie hier 'n persoon/persone aan nie, maar 'n standpunt!

Terloops, Feldmuis laat weet ons dat die hele besluit oor selfdegeslagverhoudings NIE op Namibië van toepassing is nie. Dis aan die eenkant goeie nuus, maar laat mens met nog meer vrae as antwoorde. Waarom word dit nou eers so lank na die gebeure eksplisiet gesê? Hoekom is dit nie duidelik gestel in die pastorale brief wat ons 'n ruk gelede ontvang het nie? Hoe kan een kerkverband nou verskillende vereistes vir legitimasie (of dan beroeping) stel? Want dit sou beteken dat praktiserende homoseksuele  predikante/proponente nie in Namibië beroep mag word nie, maar wel in Suid-Afrika. Help my as ek verkeerd is. Kan ons dan hoegenaamd nog deel wees van die Algemene Sinode? As Namibië se regering hulle standpunte sou verander, gaan die kerk in Namibië dan weer inval by de AS besluite? Wat is die regte rede waarom Namibië dan uitgesluit word van die AS besluit? Het ons meer respek vir die staat as die Woord? Baie vrae... help asseblief as iemand die antwoorde ken...

*Die ander teenstellings is net so aanvegbaar, ek behandel net een.

Vir die Bybelse balans tussen God se straf en liefde, kliek op LIEFDE VIR 'N HOER!

7 opmerkings:

  1. MIskien moet jy vir Feldmuis daaraan herhinner dat Jesus se liefde en genade oorweldigend was as dit by die STRAF vir sonde kom, en nie die sonde self nie. Hy het vir protitute gese, gaan en sondig nie meer nie. Hy het mense altyd vrygespreek as dit by die straf kom, maar Hy het nooit die sonde goedgepraat nie. Wat hy se impliseer ook dat dit liefdeloos is om iemand te wys op iets wat hulle verkeerd doen. Is die teenoorgestelde nie waar nie?

    AntwoordVee uit
  2. Sonder die Bybel kan die Christelike geloof nie bestaan nie. Die Nuwe Testament se getuienis is die rede waarom ons glo en voorsien ook die inhoud vir wat ons glo. Tog aanbid ons nie 'n boek nie, maar 'n lewende Here wat ons deur sy spreke in die Boek ontmoet. Slaan ons die boek toe, of verander ons aan sy getuienis, het ons geen reg om nog in die Here self te glo nie. Dan staan ons as regters bo Sy getuienis in Sy Woord. Dan is ons kinders van die Verligting (en die wereld) en nie van die Here (of die Reformasie) nie.

    Feldmuis se siening is gebasseer op valse teenstellinge, maar dis nog niks. As Feldmuis so voortgaan, sal hy hom binnekort in die maag van die rondloperkat Ongeloof bevind. Want nou verwerp Feldmuis 20% van die Bybel. Binnekort is dit 80%. Daarom: Feldmuis, luister, jy is op 'n gladde vlak en jy gaan vinnig afgly. Gryp na die Leeu ou maat, die Leeu wat brul in die geinspireerde woorde van apostels en profete. Jy is nie geinspireer nie. Hulle is. En jy is nog nie in die hemel nie. Hulle is wel. Luister liewers na die Leeu of jy word gou kattekos. Van Lammetjie.

    AntwoordVee uit
  3. Ek stem saam dat die uiteenlopende standpunte rondom die gay-kwessie simptomaties van 'n dieperliggende verskil tussen ons lidmate is, maar die verskil lê volgens my daarin of ons God se Woord as gesaghebbend aanvaar, en of ons ons eie emosies as riglyn aanvaar. Dit is vir my opvallend hoeveel keer ek die afgelope paar weke die persoonlike getuies van mense wat gay kinders/familie/vriende het raakgelees het. Die argument wat klaarblyklik as waterdig aangevoer word, is een van: "my hele siening het verander toe ek uitvind my kind is gay", of "hoe kan jy oordeel as jy nie self 'n gay kind het nie?". Wat die Bybel oor die kwessie sê, kan in die praktyk eenvoudig nie opweeg teen 'n ouer wat sy kind se gay-wees aanvaar en die kind lewensruimte gun nie.

    Net iets anders: as Christene verkondig ons dat die seksuele binne die grense van die huwelik tuishoort. Mens wonder in hierdie verband of die Algemene Sinode se woordvoerders hierdie boodskap sal deurtrek na gay mense toe, met ander woorde dat hulle eers moet 'wag' totdat hulle 'getroud' is. Dis tog totaal naïef om te dink dat dit so werk in die gay gemeenskap!

    AntwoordVee uit
  4. Johannes, ek moet eerlik sê dat ek soms wonder of mense wat die Woord so anders interpreteer werklik wedergebore is. Die Bybel leer ons mense word wedergebore deur die onverganklike saad van die Woord wat deur die Gees soos 'n lig in ons hart skyn. Hoe is dit moontlik dat iemand wedergebore word deur die Gees deur dieselfde Woord wat hy so verdraai. Is die Gees regtig teenwoordig in so hart? Hoe is dit moontlik dat die Gees mense laat volhard in so radikale verkeerde siening? Hoe is dit moontlik dat die Gees wat van sonde en oordeel oortuig teenwoordig is en nie die mense van die spesifieke sonde en oordeel oortuig nie.?

    AntwoordVee uit
  5. Johannes. Jy, ek, ons almal wat dink soos ons, kan se wat ons wil, niks gaan maak dat die besluit herroep word nie, inteendeel, hierdie is die begin van erger dinge wat kom. Moenie dat die muis gate knaag in jou siel nie, hou jy aan om die waarheid te verkondig, tydig en ontydig. Makliker gese as gedaan? Nee, jy staan nie alleen in die stryd nie. Sterkte en groetnis. Hendrik Keller

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Jy is heeltemal reg, Hendrik, dit gaan nie verander word nie! Mag ons beide genade en wysheid ontvang!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.