BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 04 September 2013

PRAKTISERENDE HOMOSEKSUELE PREDIKANTE?

- mag die Algemene Sinode van die NG Kerk 2013 'n Bybelgetroue besluit neem!

Die vae besluit van die Algemene Sinode van 2007 rondom homoseksualiteit is nie genoeg vir die drywers van die gay agenda binne die NG Kerk nie. Hulle gebruik die skuiwergate en wil die bestaande besluit  verder voer deur daarop aan te dring dat praktiserende homoseksuele ook in die predikantsamp toegelaat moet word. Volgens die huidige besluit mag persone met 'n homoseksuele orientasie in die predikantsamp dien, maar met die vereiste dat hulle selibaat moet leef. Die gay aktiviste wil hierdie voorwaarde geskrap sien. Indien hulle hulle sin kry gaan dit alle liefhebbers van die Woord in die NG Kerk in ‘n baie moeilike posisie plaas. Mag die Algemene Sinode waarlik genade ontvang om eerlik te buig voor die gesag van God se Woord...

Hieronder vind jy ‘n uittreksel uit die Algemene Sinode van 2013 se Agenda :

HERSIENINGSVOORSTEL/ BESKRYWINGSPUNT OOR HOMOSEKSUALITEIT

Die Algemene Sinode word versoek om sy besluit oor Homoseksualiteit (Handelinge, 2007,12.2, bl 204) in
hersiening te neem. Die bestaande besluit lui soos volg:
1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3. Alle mense, ongeag hulle seksuele orientasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as 'n huwelik beskou kan word.
5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as 'n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is 'n funksie van die Algemene Sinode. Die Sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat 'n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer."

Die hersieningsvoorstel lui soos volg:
Die Algemene Sinode (2013) besluit:
1. Die Algemene Sinode herbevestig punte 1, 2, 3, 4, 5 en 8 van die besluit van 2007.
2. Die Algemene Sinode vervang punt 6 van die besluit van 2007 met: "Die Algemene Sinode aanvaar dat daar 'n permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan, en gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen."
3. Die Algemene Sinode vervang punt 7 van die besluit van 2007 met: "Die verlening van predikantsbevoegdheid is 'n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toegelaat word."

MOTIVERING:
1. Terwyl aanvaar word dat die huwelik soos ons dit tans verstaan, tussen een man en een vrou is, kan ’n unieke, liefdevolle, permanente verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag bestaan wat in sommige opsigte wel aan die huwelik herinner, en in ander nie. Die kerk moet ondersoek instel hoe dit kan gebeur sodat aan Christelik-etiese verwagtinge voldoen kan word.
2. Punt 3 van die 2007-besluit verklaar dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar word. Dit beteken onder meer "toegang tot die ampte". In punt 7 word wel gesê dat die Algemene Sinode homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toelaat, maar dan word bygevoeg dat hulle "'n selibate lewenstyl (moet) beoefen". As
gedoopte, gelowige homoseksuele mense sonder meer toegelaat word tot al die ampte, kan daar egter nie bykomende eise aan gelegitimeerde homoseksuele mense gestel word wat nie vir almal geld nie. Anders sou aan heteroseksuele predikante ook bykomende eise gestel kon word. Van alle gedoopte, gelowige lidmate van die kerk van Christus word veronderstel dat hulle lewens daarvan sal getuig, sekerlik ook van gelegitimeerdes, heteroseksueel of homoseksueel. Dit is, op stuk van sake, 'n gewetensaak. Punt 7, ook in sy hersiene vorm, kan desnoods heeltemal weggelaat word, maar dit is in hierdie konteks waarskynlik tog goed as pertinent genoem word dat homoseksuele mense ook predikant kan word – maar dan sonder voorwaardes wat net vir hulle geld.

Kliek ook op TUTU EN SY HOMOFOBIESE HEMEL

NASKRIF :

Die Algemene Sinode het toe die volgende besluit geneem:

Die Algemene Sinode
-      bevestig dat die besluit van 2007oor homoseksualiteit geneem is na `n deeglike eksegetiese en teologiese studie.
-      gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit `n studie te doen oor die status van selfdegeslag- verhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.
-      besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.
-      verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die seisoen van menswaardigheid. 

Gesprekke hieronder mag kritiek lewer en soek na verheldering, maar sal streng gemodereer word. Ons vra vir sensitiwiteit en respek, en het tydens die gesprek ons ongemak met taal wat mense objekte maak bevestig. 

[Soos ek dit verstaan sal daar vir die huidige nog steeds van homoseksuele predikante verwag word om selibaat te leef. Hieroor is mens dankbaar. Wat die studie oor selfde geslag verhoudings gaan oplewer is egter 'n vraag...]

3 opmerkings:

  1. BAIE dankie Dominee dat u hierdie belangrike saak onder ons aandag bring. Meer as ooit tevore gaan September se AS van kardinale belang wees vir die NG Kerk

    AntwoordVee uit
  2. Johannes, hierdie is maar net weer n uitvloeisel van wat ek reeds gese het nl. al die vals doktrines binne die Gereformeerde leer waarop ek nie nou sal ingaan nie. Die Woord se in Gal. 5:9 "n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur." Dit beteken dat een vals doctrine lei tot n volgende een en so gaan dit aan tot dat die hele kerk deurspek is met valshede. Daardie kerk sal ten gronde gaan.

    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Boeta, jou opmerking maak my baie hartseer, maar ek het groot begrip vir die verwarring waarin baie mense verkeer. Die probleme binne die kerk is juis te wyte aan die feit dat daar van die Gereformeerde beginsel van Sola Scriptura afgewyk word. Gereformeerd-wees is nie die oorsaak van valshede wat ons kerke binnesluip nie, maar wel 'n ongereformeerde Skrifbeskouing.
      Ek beskou myself as Gereformeerd en juis daarom probeer ek op hierdie blog waarsku teen afvalligheid van die Woord!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.