BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 19 September 2013

WAAR TREK GOD DIE STREEP?

- Vir die mens is daar twee opsies : Lewe of Dood!

Daarom is dit seker baie belangrik om te weet aan watter kant jy staan en waar jy die ewigheid gaan deurbring...

Lewe gaan nie maar net oor asemhaal nie of bestaan nie. Dit gaan daaroor om by God wees hier en tot in alle ewigheid . Lewe gaan oor die ken van God en om sy teenwoordigheid te geniet soos Hy dit van die begin af bedoel het. Jesus sê immers : “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” (Johannes17:3) 

Dood gaan ook nie maar net oor ophou asemhaal en ophou bestaan nie. Dood is skeiding van God en uiteindelik ewige finale skeiding weg van God se aangesig. In 2 Tess 1:9 beskryf Paulus wat die ewige dood behels vir elkeen wat ongehoorsaam is aan die evangelie : “Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.” Dis voorwaar hel...



Lewe en dood is in die hande van die soewereine God. Tog is die mens nie ‘n robot nie, maar word deur God voor ‘n doelbewuste keuse gestel. Jy moet kies. Reeds in die Ou Testament moes die volk Israel kies. In Deuteronomium 30:19,20 word dit so gestel : “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee."


Lewe in terme van die Mosaïese verbond (Ou Verbond) was ‘n lewe in die teenwoordigheid van God in die land wat God gee. Die voorwaarde was dat die volk gehoorsaam moes wees aan die bepalings van die verbond soos dit in die wet (Tora) uitgespel is. Ons weet die volk Israel het hierin gruwelik misluk, maar God gee ons nou weer ‘n kans in die Nuwe Verbond wat Hy deur Jesus Christus opgerig het.

Het jy al die lewe? 

Dis seker die belangrikste vraag wat daar is. Wie het die lewe en wie nie? Waar lê die skeidslyn, waar trek God die streep? Blaai gerus na die kosbare gedeelte in 1 Johannes 5:9-13.

Die skeidslyn lê nie by : Of jy eens gedoop is of nie (of hoeveel keer nie) - Simon die towenaar is gedoop, maar was steeds nog vasgevang in bande van ongeregtigheid- Handelinge 8! Of jy al voor die kansel gestaan het en ja gesê het of nie - nie elkeen wat "Here, Here" sê sal gered word nie! Of jy darem jou bes probeer om soos ‘n Christen te leef of nie, of jy al op die kerkraad gedien het of nie...

Nee, die lyn word getrek by die vraag : Wat maak jy met die Seun van God? Vers 12 is ondubbelsinnig duidelik! 

“Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” 

Het jy Hom? Is Hy in jou lewe? Ondervind jy deur die geloof gemeenskap met Hom? Eenvoudig gestel : Loop jy ‘n vertrouenspad saam met Jesus?

Dis God se getuienis dat die lewe in sy Seun te vind is. Vers 11. Dis ‘n groot kernwaarheid. Reeds aan die begin van sy brief stel Johannes dit so duidelik in 1:1-3. Jesus (die Woord) word direk die Lewe genoem! Die Lewe is ‘n Persoon! Om die lewe te hê is om Jesus te hê! (die implikasie is dat daar mense is wat baie suksesvol en gelukkig kan wees maar hulle lewe nie) 

In die Ou Bedeling was die lewe te vind in die tora (die wet van Moses) wat met sy bepalings en offers die pad na God aangedui het; nou is die lewe in Jesus Christus. Hierdie kontras word so mooi in die Johannes evangelie gestel. "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid...Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Johannes 1:14,16-18) Hy is ons Redder, ons enigste Redder, want Hy is vol genade en waarheid...en dis juis wat ons nodig het! Ons het genade nodig, want ons is sondaars! Ons het waarheid nodig, want ons ken God nie en maak ons eie gode.

SEKER SAAK!

Hierdie lewe deur Jesus Christus is ‘n seker saak. Dis onwankelbaar, Goddelik gewaarborg. Vers 13. "Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo."  God wil nie hê ons moet hoop dat ons Christene is en hoop (soos in mogge troffe kyk wat gebeur hoop) dat ons die ewige lewe gaan kry nie. Ons kan seker weet. (jy hoop mos nie jy is getroud nie, jy weet dit)  God wil nie hê ons moet probeer om Christene te wees of probeer om die ewige lewe te bereik nie. Ons kan seker weet. Hierdie sekerheid is gebou op God se getuienis en nie op ons gevoelens nie. Ons sekerheid is gebou op God se Woord. God kan nie lieg nie. Ons kan Hom glo. As ons God nie glo nie, maak ons Hom tot ‘n leuenaar. Vers 9.

Dis baie belangrik om seker te weet. Hoekom? Daar is nie ‘n tweede kans na die dood nie! (Hebreërs 9:27) Dan is dit te laat om agter te kom jy het al die tyd ‘n valse hoop gehad. Al word jy nou uit die mooiste kerk begrawe en al gee die dominee of pastoor die roerendste boodskap... dit help alles net mooi niks...

Daar is ook ander redes. Ons kan net volkome blydskap ervaar en werklik diensbaar wees as ons seker is. Jy is bly as jy hoor iemand vertel jou dat jy matriek deurgekom het (maar tog die beste vriende is feilbaar, hulle kan ‘n fout maak...), maar as jy honderd persent seker is van die feite dan raak jy eers regtig opgewonde. Sekerheid bring vreugde. Dit maak mens aktief, opgewonde om ander te vertel. 

Prakties. Hoe gaan ek sekerheid kry? 

Sekerheid begin as ek God se Woord glo en ernstig opneem. Ek glo die Woord as God my daarin vertel ek is ‘n helverdiende sondaar, maar ek glo die Woord ook as hy my vertel, die volle vergifnis, ja die lewe is in Jesus. Dan moet ek reageer en my persoonlike vertroue op Jesus stel. ‘n Doelbewuste keuse. Onmiddellik as dit gebeur het ek die ewige lewe nou reeds hier en kan ek uitsien met vaste vertroue na ‘n ewigheid met Hom op die nuwe aarde!

KIES DIE SEUN! KIES DIE LEWE!

Om verder te lees oor hierdie belangrike onderwerp kliek op VASTE FONDASIE en GOLIAT HET GEVAL!




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.