BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 13 September 2013

MOEILIKE MORELE KEUSES

- volgens watter beginsels moet ek besluite neem? 

Kinders van God gaan mos nie dadelik hemel toe die dag as hulle tot bekering kom nie. Nee, kinders van God is wel besonder begenadigde mense, vrygespreek deur God van alle skuld, vrygekoop deur die bloed van Jesus, maar ons is ook doodgewone mense, wat nog steeds op hierdie aarde woon. Ons is geroep om in hierdie wêreld heilig te leef. En dit beteken dat ons elke dag keuses moet maak : gaan ek dit of dat doen, moet ek so maak of nie so maak nie? Soms is hierdie keuses werklik moeilike morele keuses...


Die Christene in Korinte het natuurlik ook voor hierdie keuses te staan gekom. Paulus gee raad hieroor in sy brief aan hulle, onder andere in 1 Korintiërs 10:23-33. Korinte was ‘n heidense hawestad met baie versoekings en dit lyk asof die kinders van God beslis nie immuun was daarteen nie! Daar was ‘n (liberale) groep onder die Christene wat geredeneer het : Alles is geoorloof! Everything goes! (vers 23) Als is maar reg, ek is mos nou God se kind en ek is vry om te doen wat ek wil! 

Die spesifieke saak waaroor dit hier gegaan het, was die kwessie of Christene van die afgodsoffers mag eet. Natuurlik het die Christene nou nie meer in die afgode geglo nie, maar wat nou van vleis wat eers aan die gode geoffer is? Kan dit my nou skade aandoen? Paulus gee raad en sê : “As jy nie weet dis ‘n afgodsoffer nie, kan jy maar met vrymoedigheid enige vleis eet sonder om daaroor uit te vra. Dit kan jou geen skade aandoen nie. Maar as iemand vir jou duidelik sê dis ‘n afgodsoffer, moet dit liewers nie eet nie.” Hoekom nie? Dis nie dat dit jou kan skade aandoen nie, nee, maar moenie dit eet nie, ter wille van die een wat dit gesê het. Jy kan hom geestelik skade aandoen, want hy glo miskien nog in die afgode en dan maak jou optrede hom deurmekaar of laat hom sondig... Die beginsel is : As jy ‘n keuse moet maak oor reg of verkeerd, neem ook ander mense in ag. Iemand wat dalk ‘n swakker Christen is. Jy kan dalk niks oorkom nie, dis nie vir jou ‘n versoeking nie, maar moenie net aan jouself en jou belange dink nie. Paulus herhaal hierdie beginsel weer in vers 33 : “Maak soos ek, ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.”

Hierdie beginsel geld dus vir elke kind van God wat keuses moet maak : Dink na oor die geestelike effek van jou keuses op ander mense. Bevorder dit hulle redding of heiligmaking? Is my optrede ‘n advertensie vir die heiligheid van God of skep ek ‘n geleentheid vir die duiwel om ander mense te versoek? (hierdie grondvraag is so belangrik waar dit kom by sake soos, watter partytjies ek bywoon, die gebruik van alkohol, die reg of verkeerd van dans, die keuse van kleredrag...)

Bogenoemde beginsel is egter ‘n uitvloeisel van nog ‘n dieper groter grondbeginsel in vers 31 en dis waarop ek wil hê dat ons sal fokus : “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”

DIE GROOT GRONDBEGINSEL : 

ALLES TOT EER VAN GOD!

Dit Christen moet nie gelei word deur sy eie belange en regte nie. Al my besluite is veronderstel om ondergeskik te wees aan die eer van God. Ek moet dus nie redeneer – “dis my reg om dit of dat te doen nie”, maar liewers vra – “eer ek God deur hierdie besluit?”

“Lewe tot eer van God” is een van die mooi frases wat ons almal ken, maar wat beteken dit en hoekom is dit so belangrik? Om God te eer is om God se belangrikheid en sy wil en heiligheid as eerste prioriteit sigbaar te laat word. My besluite moet wys dat God se wil en wense vir my meer tel as my eie begeertes! As mense my dade of woorde beoordeel, gaan dit wat ek doen hulle positief of negatief van God en sy kerk laat praat? Gaan my optrede ander mense nader na God laat beweeg of juis afstoot en skepties maak? 

"TE VEEL EET"

Kom ons vat ‘n eenvoudige ding soos te veel eet. As iemand my sien hoe ek my gulsig ooreet, kan ek redeneer : “Dis my saak, dis mos my liggaam, as ek te vet wil word het dit niks met ‘n ander mens uit te waai nie. As ek my cholesterol in die rooi wil druk, is dit mos my probleem.” Of ek kan myself eerlik vra : “Pas vraatsigheid by ‘n kind van God, bevorder ek die beeld van God, gaan my eetgewoontes nie ander mense afskrik van die evangelie nie, rym my optrede met die beeld van Jesus?” 

Lewe tot eer van God in alle omstandighede is belangrik omdat dit te make het met die essensie van ons bestaan. God het ons gemaak met een groot doel naamlik om Hom te eer. Ons is immers geskep as God se verteenwoordigers en gesante op aarde! Dis die sin en die uniekheid van menswees. Ons is die enigste wesens op aarde wat God doelbewus kan eer. (Hier verskil ons van blomme, skoenlappers, renosters... hulle bestaan ook tot eer van God, maar onbewustelik...)* Dis hoekom Satan sy aanslag op die mens as kroon van die skepping en beelddraer van God fokus. Hy haat God en daarom mislei hy ons om God te onteer. So wil hy God bykom en skade aandoen. Elke detail van ons lewens maak dus saak. In elke stukkie alledaagse lewe, dade, woorde, gedagtes...kan ek God eer of kan ek oneer bring op sy naam. Die kind van God wat leef onder beheer van die Heilige Gees kan teen Satan kies en doelbewus besluit om God te eer. En natuurlik as ek God eer neem ek my medemens se belange ernstig op. God is tog ‘n God van liefde, nooit kan ek Hom eer deur liefdeloos, selfsugtig, selfgesentreerd of hoogmoedig op te tree nie!

Kom ons kyk positief daarna. Die kind van God het die opwindende voorreg om God te eer. Nie net in die erediens nie – (natuurlik dis een van die belangrikste geleenthede, dis daarom uiters belangrik om dit nie af te skeep en Sondae voor die TV te lê nie), maar elke dag in my alledaagse besluite by die huis, werk, skool, sportveld... Orals kry ek die kans om God te eer. Ons lewens mag nie in geestelike en beestelike kompartemente opgedeel word nie! Ek eer God deur ‘n Psalm uit volle bors te sing, maar ook deur die enjin waaraan ek met my oliebesmeerde hande werk se moere deeglik vas te draai en so goeie diens aan ‘n kliënt te lewer...

TWEE VRAE

Ons moet elke dag baie praktiese keuses maak. Vra jouself twee vrae, voordat jy besluit:

1. Eer ek God deur hierdie keuse?

2. Neem ek die welsyn en belange van ander in ag deur hierdie besluit?

En teen die tyd sou jy al agtergekom het, dat ons hier te make het met niks anders nie, as die dubbele liefdesgebod : Radikale liefde vir God en medemens!

Gebruik hierdie week die geleenthede om God te eer. Dit maak jou lewe sinvol en bring vreugde.

‘n Laaste woord, voor ons dalk die vanselfsprekende vergeet : die eerste en belangrikste manier om God te eer, is om Jesus as Here en Verlosser te aanvaar. (1 Johannes 5:11) Sonder Hom as Here van my lewe kan ek God hoegenaamd nie as Vader eer nie, maar behandel ek Hom eintlik as ‘n leuenaar! Amen

*En terloops daarom is dit ook ons plig om die natuur te beskerm en te bestuur. Dis immers God se opdrag aan ons.


Hierdie Katsterte by Nieuwoudtville blom tot eer van God, maar onbewustelik! Die kind van God wat dit geniet eer en dank God bewustelik! Dis die sin en vreugde van ons bestaan tot in alle ewigheid!
(kliek op BLOMMELAND vir nog foto's)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.