BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag, 23 Augustus 2017

DOMINEE SOEKMAN

- ‘n bediening aan die “ander kant”


Helder klink die sang van Opuwa se koor in Otjiherero, Engels en Afrikaans. Gesigte wat straal van God se liefde. Ons is ‘n hele bonte verskeidenheid hier bymekaar in die nederige kerkgeboutjie van Kamanjab in die noordweste van ons pragtige land Namibië – Afrikaners, Himbas, Herero’s, maar ook Hai//om, Kxoe en !Xu. Die NGKN se Noordering het op Kamanjab vergader en op Sondag 20 Augustus 2017 kom ons bymekaar vir ‘n nagmaalsdiens. Dis egter meer as net ‘n gewone nagmaal, dis ook die geleentheid waartydens ds. Jacob Schoeman, een van die Kaokoland pioniers in die sendingwerk van die NGKN amptelik sy demissie ontvang, nadat hy reeds vroeër vanjaar afgetree het. Sy bedieningstyd het ook die gevaarlike jare van die Bosoorlog ingesluit.


[Ds. Schoeman het onder andere van hierdie "SPOOK" gebruik gemaak tydens die oorlog, want landmyne was 'n wesentlike gevaar.]

Ds. Schoeman (in Kaokoland ook soms genoem ds. Soekman) lewer ‘n besondere preek met die tema afkomstig uit Markus 4:35 waar Jesus vir sy dissipels sê : "Laat ons oorvaar na die ander kant.” Jesus het tot op hierdie stadium ‘n suksesvolle bediening in die Joodse gebied wes van die See van Galilea gehad, maar nou gaan Hy na die heidense gebied oos van die meer. Van hierdie kant na die ander kant… Aan die ander kant het heiden nasies gewoon wat met varke geboer het… Hierdie eerste besoek lewer nie veel op nie. Slegs een man word aangeraak, maar dis ‘n besondere bekeerling, die besetene van Gadara wat bevry is! Later keer Jesus weer terug na hierdie gebied en het sy bediening ‘n groot impak. (Markus 8) Ons word geroep om grense oor te steek na mense wat anders lyk en doen en dink as ons. Wanneer ons na die “anderkant” gaan is Jesus met ons! Ds. Schoeman vertel so tussen deur van hoe die Here hulle gelei en beskerm het, ja ook deur die tyd van die oorlog. Hy beklemtoon dat hyself nie veel gedoen het nie, maar eintlik maar net ‘n getuie was van dit wat God vermag het. ‘n Pragtige voorbeeld van uitreik na die “ander kant” was hulle toenadering tot die sinkretistiese Oruuano kerk, wat die voorvadergeeste en heilige vuur (okoruwo) akkommodeer. Toe die bekende Oruuano profeet Kanambunga (Katjovikuapa) tot sterwe kom is ds. Schoeman gevra om ‘n boodskap te lewer. Die Here het Deuteronomium 18 op sy hart gelê waaruit hy die bedroefde mense kon vertel dat die groot profeet wat deur God belowe is gekom het, Jesus Christus! Dit het daartoe gelei dat biskop Kamburona versoek het dat sy mense opleiding moes ontvang. Dit het toe gebeur by die Windhoek Teologiese Seminarie (waarby my vader ook betrokke was) en later NETS.

Ja, die vertelling oor Kaokoland en die werk daar raak my ook op ‘n persoonlike vlak. My vader, Johan de Koning was op ‘n tyd ‘n dosent by Orumana in Kaokoland nog voor ds. Schoeman se koms na hierdie gebied en het ook vir baie jare nou saam met hom gewerk. Dit het my later ook bygeval dat ds. Schoeman die preek gelewer het op Pa se “aftree” geleentheid te Meersig gemeente in Walvisbaai op 21 September 2003. As jong man kon ek ook iets beleef van ds. Schoeman se toewyding en omstandighede toe ek en van my studente vriende soos Charl van Niekerk, Sas Conradie, Pierre van der Merwe en Christo Heiberg saam met hom in Kaokoland gewerk het.

Dit was vir my lekker om op Kamanjab deel te wees van die NG Kerk. Onder andere was dit heerlik om van ds. Erik van Zyl, ds. Schoeman se opvolger te hoor van die wonders wat God tans nog in Kaokoland doen. Ek is lief vir hierdie NG Kerk, die kerk wat ten spyte van baie foute die ware evangelie van die verlossing van sondaars deur Jesus Christus verkondig het sodat ons weer op ‘n Sondagoggend op Kamanjab die vrug daarvan kon sien.

Dr. Jan Woest het vir ons tydens die ringsitting prontuit gesê : “Die NG Kerk is ernstig siek.” Ek stem heelhartig saam. Maar hierdie kerk kan weer gesond word as sy haar tot die Here bekeer en weer haar eerste liefde begin uitleef. Sy sal gesond word as sy weer die waarheid tot redding aanneem en die dwaling verwerp wat ongelukkig tans openlik geduld en selfs gepropageer word. Sy sal gesond word as sy ophou luister na mense, die humanistiese agenda en die postmodernistiese tydsgees van relativisme, maar eerder eerlik vra : “Wat wil God hê moet ons doen?” Sy sal herstel en vernuwing ondervind as ons ophou om filosofies oor God te praat en meer met Hom praat en onsself voor Hom verootmoedig. By God is alle dinge moontlik! Hy kan ons ook opnuut bekragtig met sy Gees om duskant en anderkant die Blye Boodskap uit te dra!


[NG Sendelinge in die ou Suidwes. Ds. Schoeman is voor heel links.]



[Ds. Jacob Schoeman op Kamanjab tydens die ontvangs van sy demissie.]


[Ek saam met twee Kaokoland veterane, di. Sarel Visser en Jason Ngambue.]


[Koorlede van Opuwa in Kamanjab se kerkgebou.]


[Op pad na Kamanjab op die Otavi-Outjo grondpad, haal my mede afgevaardigde van Tsumeb, Andries Gous eers iets uit om die innerlike mee te versterk.]

7 opmerkings:

  1. Baie dankie Ds.Johannes, jy vat die situase so mooi raak. As ons terug keer na God dan sal ons gesond word. As ons asiel soek by die Here Jesus en verskans is in Sy verdienste, en ophou om van ons self godtjies te maak en ophou om alles aan te pak tot ons eie eer, maar met n oog gerig op die eer van ons drie maal Heilige God. Dan sal ons gesond word as kerk gebou op die hoeksteun van ons Here Jesus Christus alleen.

    AntwoordVee uit
  2. Hi Johannes, wat n mooi geloofsstorie....Dit vul my so met nostalgie.In daardie gebied - het ek as jongman my militere diensplig gedoen...bekend as 102BN in weermag taal. Was gestasioneer op Sodoliet en was verantwoordelik as jong offisier saammet 36 inheemse kultruele manskappe vir die rivier gebied van daar tot by Epupa valle. In die tyd het ek ook van my swaarste tye in my lewe moes verwerk deurdat ek my goeie skoolvriend wat saam my daar was, deur die dood verloor het. Ook het ek daar tot 'n nuwe oorgawe gekom- so op een Sondag more, toe ek en my troepe, wat inverskillende stemhoogtes en tale "wat 'n vriend het ons in Jesus", kon saamsing. Ek het ook in die tyd my roeping ontvang om voltyds in diens van ons Koning te staan.Met diep ontsag het ek een van my persoonlike wonderwerke beleef wat die Here vir my gedoen het. Soli Deo Gloria.Albie

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Albie dat jy hierdie kosbare getuienis met ons deel! Mag die Here jou verder lei.
      groete
      Johannes

      Vee uit
  3. Walter Louw skryf :

    Dankie dat ek weer v Sarel Visser kon sien. Weet u wat v Ds Fourie geword het wat in my jare op Orumana was. Soos d meeste v my tydgenote is hy seker oorlede. Dis die slegte v oud word. Jy word almeer alleen. Sterkte. Walter Louw

    AntwoordVee uit
  4. Wonderlike verhaal oor Ds. Schoeman. Wat 'n voorbeeld is hy vir ons! Ek onthou nog die week saam in die Kaokoveld baie goed. Ek het nie veel ge"werk" nie, net die natuur geniet. Die een berg het my so baie aan Berg Sinai laat dink. Die gesprek met die ou Himba hoofman by die vuur en die ete by Sesfontein onder 'n boom (na 'n nimmer-eindigende reis) sal my altyd bybly. Terloops, hier by ons het die Gereformeerde Kerk ook maar ernstig koors, al is sy hoe ortodoks. Mag die Here ons liefde vir Hom altyd vernuwe, anders gaan ons onder. Mooi bly en dankie vir die artikels. Jou broer, Christo uit Ontario.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Christo. Daardie uitmergelende rit agter in 'n stampende voertuig deur die berge, uiteindelik tot op Puros, sal ek ook nooit vergeet nie!

      Vee uit
  5. Hi Johannes, jy het my darem nou baie ver laat terug dink!!! Die besoek saam met Jakob aan Kaokoland was seker die gebeurtenis wat die grootste impak op my lewe gehad het. Ek onthou hoe ons met 'n ou Himba vrou op Warmquelle gepraat het. Sy het gese sy het nog nooit van Jesus gehoor nie. Dit het my laat dink aan Romeine 10:14 en 15: How, then, can they call on the one they have not believed in? And how can they believe in the one of whom they have not heard? And how can they hear without someone preaching to them? And how can anyone preach unless they are sent? As it is written: “How beautiful are the feet of those who bring good news!” Dit is tydens daardie besoek wat ek God se hart vir mense wat nog nooit van Hom gehoor het nie besef het, maar ook ons verantwoordelikheid om vir hulle die goeie nuus van Sy verlossing te bring. Dit is tydens daardie besoek waartydens ek my sendingroeping ontvang het en wat ek aan 'n sendingweek by die Universiteit van Pretoria begin dink het. Sover ek weet gaan daardie sendingweek wat ons toe in 1987 begin het, nog steeds voort. Wat ek nooit van Jakob sal vergeet nie, was hoe ons rond gery het om 'n Himba wat hy ontmoet het of dalk een van sy Himba lidmate probeer opspoor het. Wel, om 'n nomadiese familie in Koakoland te kry is om 'n naald in 'n hooimied te soek. Maar dit het my laat dink aan die herder wat die een verlore skaap soek om hom in die kraal in te bring. Jakob was 'n ongelooflike voorbeeld van Jesus wat die verlorenes soek en nie stop totdat Hy hulle gevind het nie. Groete uit Croyden, Suid-Londen. Sas

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.