BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 09 September 2013

ROL DIE KLIP WEG

- As jy glo sal jy die openbaring van God se mag sien !*



Rol die klip weg. Hierdie opdrag van Jesus moes onwerklik en onrealisties geklink het!


Lasarus, Marta en Maria se broer is al vier dae gelede dood en sy lyk het al begin ontbind.  (Lees gerus weer die gebeure in Johannes 11)

Jesus was laat vir die begrafnis van een van sy beste vriende...
Ontroer deur die trane van Maria en die ander Jode het Jesus ook gehuil.

In vers 3 lees ons dat Maria en Martha vir Jesus ’n boodskap stuur. “Here, hy vir wie U lief is, is baie siek.” Met Jesus se aankoms was hy reeds oorlede.

Terwyl Jesus huil gee Hy die opdrag: “Rol die klip weg.” 

Jesus se opdrag word egter met ’n baie sterk ‘maar’ begroet. Die een wat praat is Marta, sy was nog altyd uitgesproke: “Here, Hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Die verwyt het maar vlak in Marta se woorde gelê. 

Amper asof Marta wou sê: "Here, dit is nie nou die tyd om hier aan te kom nie, want dit is te laat." 

Kort tevore het Marta vir Jesus gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”  (vers 21)

Dit was egter nie net Marta wat so gevoel het nie, NEE Maria het ook so gevoel. Van Maria lees ons egter dat sy by Jesus se voete gekniel het, terwyl sy sê: “Here, as U hier was, sou my nie broer nie gesterwe het nie.”(vers 32)

Marta en Maria het meer geglo in Jesus se almag en krag as die meeste ander mense.Vir hulle was die dood van hul broer egter onomkeerbaar.

Om siekes te genees, blindes te laat sien, duiwels uit te dryf, ja om selfs dooies op te wek, dink aan Jaïrus se dogtertjie….

Dit is alles moontlik, maar nie as die lyk al begin ontbind en stink nie. Alles het perke.

Was jy al in ’n situasie waar jy gedink het, ja nou kan selfs God niks meer doen nie?

Dit is by hierdie punt waar Marta en Maria gekom het.

Met haar verstand het Marta geglo dat Jesus haar broer uit die dood kan opwek, maar nie met haar hart nie. 

In vers 22 lees ons dat Marta bely, “ Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra. “Dit was ’n kliniese geloofsbelydenis, soos wat ons partykeer God se Almag bely terwyl ons nie regtig glo dat God gaan of kan help nie.

Toe Marta daar by die graf van Lasarus gestaan het, het sy te klein oor God se almag gedink. Haar ervaring en verwysingsraamwerk oor God se almag het nie die ontbinde lyk van haar broer ingesluit nie.

Geliefdes ons moet oppas om nie God se almag en krag te meet aan ons beperkte ervaring en verwysings-raamwerk nie. 

Soos Paulus tereg sê: “ God is magtig om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink.” (Efesiërs 3:20) Toe sy die opdrag hoor, “Rol die klip weg!”, wou sy dit nie eers ’n kans gee nie. Jesus se opdrag het ingedruis teen alle gesonde verstand en realisme. En daarom kon sy nie stilbly nie, “Here, hy ruik al,…” 

Dan volg Jesus se aangrypende antwoord, “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die mag van God sien nie ?”

Dan bid Jesus ’n eenvoudige gebed hardop terwille van die wat luister sodat hulle kon glo. “Vader, Ek dank U dat U my verhoor het” en roep met ’n harde stem uit “Lasarus, kom uit !”

Dan gebeur die oënskynlik onmoontlike. Lasarus wat sekondes tevore nog ’n ontbinde lyk was, kom toegedraai met grafdoeke om sy lyf en kop uit die graf gestap. Wat ’n openbaring van die almag en lewewekkende krag van God was dit nie!

VYF BEGINSELS

In hierdie aangrypende verhaal van Lasarus se opwekking uit die dood is daar vyf belangrike beginsels wat ons in ag moet neem as ons begeer dat God kragtig in sy koninkryk werk en Hy ons gebruik.

1. Geen persoon of situasie is vir God onmoontlik om te verander nie.

Lasarus was al vir 4 dae in die graf en sy lyk het al begin stink.
Lasarus se ontbinde lyk het ’n wonderwerk al hoe meer onwaarskynlik gemaak. Vir God is niks egter onmoontlik nie. Ons moet nie vir God beperk deur te klein oor Hom te dink nie. Kom ek gebruik die vasteland Afrika en sy mense as voorbeeld. In ’n boekie, Against all hope: Hope for Africa uitgegee deur Amos lees ek die volgende.

Die skrywers vra die vraag : 

Is Africa cursed? 

Many have asked this question. Many Africans experience a profound sense of hopelessness and despair. It hangs like a dark cloud over the potential of the peoples and nations of this continent. It is manifest in mind –numbing poverty, injustice, corruption, bloodshed, tribalism, broken families, and in the pandemic that is known as AIDS. 

These external manifestations of despair mirror the internal hopelessness that marks the mindset of the people. The repeated internal messages are: we are poor and there is nothing we can do about it. Things have always been this way. Things will never change!

Geliefdes is dit waar ?

As jy na die land kyk! As jy na sy mense kyk! As jy na die siekte, geweld en armoede kyk – dan kan dit waar wees.

MAAR as jou oë gerig is op die die Almagtige lewende God dan lyk alles anders.

Dit wat vir ons onmoontlik is, is vir God gering.

Afrika se situasie mag vir ons tot hopeloosheid dryf terwyl dit vir God ’n geleentheid is om Sy ontsagwekkende Almag te toon. 

Geen persoon of situasie is onomkeerbaar verlore sodat God nie kan ingryp om ’n verskil te maak nie, as Hy wil nie. Al het ons die persoon of saak of situasie al afgeskryf en begrawe, vir God is dit nooit te laat nie. God kan enige persoon of situasie verander.

In 2 Konings 3 lees ons die ongelooflike verhaal van hoe dat koning Joram van Israel, koning Josafat van Juda en die koning van Edom saam opgetrek het teen die koning van Moab se leërmag. Na 7 dae se trek deur die Edom woestyn was al hulle water op en het Joram gesê dat God hulle geroep het om hulle in die mag van die Moabiete oor te gee. Dan raadpleeg hulle die profeet Elisa en luister wat sê hy: 

"So sê die Here: Daar sal damme en damme water in hierdie vallei staan. Kyk, so sê die Here: Julle sal nie wind of reën sien nie, en tog sal hierdie vallei vol water word, sodat julle en julle slagvee en julle pakdiere kan drink. Vir die Here is dit maar iets gerings om te doen: Hy sal ook vir Moab in julle mag oorgee. (2 Konings 3:16-18)

Vir die Here is dit maar iets gerings om te doen!

Hou daaraan vas. Ons God het ’n behae daarin om die onmoontlike te doen. Hy kan in enige situasie ingryp en enige situasie omkeer en ten goede laat meewerk as ons Hom net aanroep en Hom daarvoor vertrou. 

In Jeremia 32:26 lees ons : "Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?"

En wanneer die engel aan die maagd Maria verskyn en aan haar sê dat sy gaan swanger word kon sy net uitroep: Hoe is so iets moontlik ! Dan sê die engel vir haar: “Niks is vir God onmoontlik nie.” (Lukas 1:37)

In 2006 het die Here my geroep na Namibië en Kaokoland. Die roeping was duidelik, ek moes gaan sonder enige finansiële sekuriteit, in terme van maandelikse inkomste, pensioen en medies….. eers was dit vir my ’n saak van onmoontlikheid. In die geloof moes ek egter daaraan vashou, niks is vir God onmoontlik nie!

Na 6 jaar en 8 maande in Namibië kan ek wat hierdie saak betref net getuig die Here is Almagtig en getrou, Hy doen inderdaad die onmoontlike. 

2. Wanneer God wil werk (en die oënskynlik onmoontlike wil doen) gee Hy altyd ’n opdrag wat gering lyk teenoor die wonder wat Hy wil doen.

Jesus het ’n eenvoudige opdrag gegee: "Rol die klip weg"

Wanneer God kragtig wil werk gee Hy altyd ’n eenvoudige opdrag. 

Die wonderdaad of werk wat God wil doen is nie afhanklik van ons gehoorsaamheid nie, dit wys alleen maar of ons glo dat God dit sal en kan doen. 

Dit was ongeloof wat gemaak het dat Marta Jesus se opdrag bevraagteken. As Marta onvoorwaardelik geglo het, sou sy die opdrag onmiddelik uitgevoer het. 

Daar is vele ander voorbeelde in die Bybel. Toe God aan sy volk in die woestyn water wou gee, moes Moses een keer met sy staf teen die rots slaan (Eksodus 17) en ’n tweede keer met die rots praat (Numeri 20).

Vir Josua gee die Here ’n eenvoudige opdrag om die stad Jerigo in te neem en te verwoes. Vir 6 dae moes die soldate met die priesters vooraan elke dag een maal om die stad loop en vir die sewende dag moes hulle 7 keer om die stad loop waarop die priesters op die ramshorings moes blaas en die manskappe die aanvalskreet hard moes uitskreeu waarop die mure van die stad dan sal inmekaarval.

Vir Petrus het Jesus opdrag gegee om na ’n nag se geswoeg en geen vangs, uit te vaar na die diep water en hulle nette uit te gooi om ’n groot vangs te verseker. 

Na gehoorsaamheid aan al hierdie eenvoudige opdragte het God sy krag en almag geopenbaar. 

As ’n opdrag van die Here kom dan openbaar die Here altyd sy krag en almag wanneer daardie opdrag uitgevoer word.

3. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag.

Jesus sê vir Marta: Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die mag van God sien nie ?

Jesus het Marta en Maria se geloof in Hom op die proef gestel en dit deeglik getoets. Hy het geweet dat hulle onvoorwaardelik in Hom geglo het. Daarom het Hy 4 dae gewag totdat Lasarus se lyk al begin ontbind en ruik het. 

In daardie 4 dae sou Satan hulle lastig geval het met vrae oor - Jesus se almag – "Hy sal nie so ’n groot wonderwerk kan doen nie."

- Jesus se liefde – "Hoekom bly Hy solank weg, gee Hy dan nie om nie?"

- Jesus se trou – "Hy het julle in die steek gelaat."

As ons wil hê dat God kragtig in sy koninkryk moet werk, sodat Sy almag en grootheid vir almal sigbaar kan wees, sal ons te alle tye ’n vaste geloof en onwrikbare vertroue in God moet hê.

Ware geloof hou aan God se trou en liefde en almag vas ongeag omstandighede wat dit oënskynlik verloën. 

Geloof maak dat jy onder die uiterste toestande van beproewing kalm bly en aan God vashou en vertrou as ’n Rots wat nie kan wankel nie.

Ek noem nog twee voorbeelde.

Omdat Noag geglo het, het hy terwyl hy gespot is, ’n ark gebou vir die sonvloed wat sou kom. 

Omdat Abraham geglo het, het hy 25 jaar deur die woestyn geswerf voordat God die belofte van ’n nageslag (so baie soos die sterre in die hemel) vir hom en Sara waar gemaak het.Omdat Abraham geglo het, was hy bereid om Isak te offer op bevel van God. Daarom word Abraham genoem die vader van die gelowiges.

Hoe groter die oënskynlike teenstrydighede wat God se almag, liefde en trou verloën, hoe stywer moet jy in geloof vashou aan die trou en liefde van God en hoe groter sal die wonder wees wat God doen.

Daarom sê die Hebreërskrywer As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. (Hebreërs 11:6)

God vra van u en ook vir die gemeente van Tsumeb om ’n geloofspad saam met Hom te stap.

God gee sy kosbare beloftes aan ons in tye van stilte en rus, en laat dan toe dat versoekings en beproewing ons deeglik toets. 

Geloof is om aan God se beloftes in Sy Woord vas te hou in die moeilikste omstandighede en God te vertrou dat Hy dit sal waarmaak.

Weet dit Hy sal ons geloof tot die uiterste toe beproef. Geloof word nie geleer op jou rusbank voor die televisie nie, maar in jou geloofsbootjie op die stormsee van die lewe.

Charles Spurgeon het gesê: “Remember that we have no more faith at any time than we have in the hour of trial. All that will not bear to be tested is mere carnal confidence. Fair-weather faith is no faith.”

Daarom skryf die Hebreërskrywer (10:35-36):

“Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.” 

4. God is nooit haastig nie, maar altyd betyds.

Marta en Maria het gedink Jesus was te laat, maar Hy was betyds. 

Nadat Jesus van Lasarus se siekte gehoor het, het Hy nog twee dae vertoef voordat Hy na Betanië vertrek het. 

Jesus het gewag totdat Lasarus in die graf was voordat Hy daar aankom. Vir Sy dissipels het Jesus gesê, dat Hy bly is dat Hy nie daar was nie, sodat hulle in Hom kan glo. 

God werk nooit volgens ons tydskedule nie, maar altyd volgens Sy volmaakte plan. 

Dit is vir ons as mense vreeslik moeilik om in pas met God te wees. Ons is meeste van die tyd of te vinnig (impulsief) of ons is te stadig (ongehoorsaam) omdat ons nie met God wandel nie. Daarom moet ons leer om op God te wag al lyk dit vir ons of Hy al moes ingegryp het.

Toe Moses en die volk Israel voor die Rooi see gestaan het met die Farao se strydwaens en soldate wat aanstorm, het Moses in God geglo en op Hom vertrou. 

Heeltemal betyds het die Here die Rooi See oopgekloof sodat die Israeliete veilig kon deurgaan.

Soms voel ons soos Jesus se dissipels toe hulle saam met Jesus in ’n boot op die stormsee was. Dit is amper lagwekkend, hulle het gedink hulle vergaan en dit terwyl Jesus op die bank in die agterstewe gelê en slaap het; asof die boot kon vergaan met Jesus daarop. Heeltemal betyds alhoewel hulle gedink het dit is te laat, het Jesus die stormsee en wind stil gemaak.

As iets baie langer neem as wat ons dink, beteken dit nie God het ons vergeet nie, Hy sal presies op die regte tyd ingryp. 

5. God openbaar Sy almag sodat Hy alleen die eer ontvang.

Jesus het Lasarus uit die dood opgewek sodat God daardeur verheerlik kan word.

Toe Jesus van Lasarus se siekte gehoor het, het Hy gesê, “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. ” (vers 4)

Die openbaring van God se mag sodat die Seun van God daardeur verheerlik word. 

Dit geliefdes is God se doel wanneer Hy deur Sy kerk op aarde Sy koninkryk bou en Sy verlossingsplan en wil uitwerk.

Dit moet ’n openbaring wees van God se mag – dit moet duidelik wees dat dit God se mag en krag is wat menselewens verander, dat dit God is wat voorsien, dat dit God is wat die uitkoms gee.

En tweedens moet God daardeur verheerlik word- God alleen moet die eer ontvang en nie die mense of instrumente wat Hy gebruik nie. Ons moet nougeset daarop let om aan God die eer te gee.

Daarom moet predikers en diensknegte van God nederig bly sodat daar nie enige plek is vir mensverheerliking nie.

Die Here is ’n jaloerse God wat Sy eer met niemand anders deel nie. 

In Jesaja 42:8 sê die Here: “Ek is die Here, dit is My Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie….”

Selfs iemand soos Moses moes dit op ’n harde manier leer. God het vir hom daar in die Sinwoestyn opdrag gegee om met die rots te praat om so water vir die volk te gee. Moses het vir die volk gevra of hy vir hulle water uit die rots moet laat kom en toe die rots twee keer met sy kierie geslaan. God het water uit die rots gegee, maar toe sê God vir Moses en Aäron, 

“Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.” (Numeri 20:12)

Vir ’n oomblik het Moses die lig op homself laat val en nie aan God die eer gegee wat God toekom nie. Dit was egter met ’n baie duur prys – hy sou nie die beloofde land ingaan nie.

Dus wanneer God werk om Sy koninkryk te bou, dan doen God dit altyd op so ’n wyse dat Sy grootheid, krag en almag vir almal duidelik is en Hy alleen die eer ontvang.

Die opwekking van Lasarus uit die dood vier dae nadat hy gesterf het, het God se almag en krag so duidelik geopenbaar dat net God die eer kon ontvang.

As God jou in ’n situasie plaas waar Lasarus se lyk al besig is om te ontbind en jy weet hy moet eintlik lewe – hou vas aan God se troue liefde en almag, want Hy kan dit omkeer. 

Mag God aan jou die geloof skenk, dat Hy deur jou geloof Sy almag en krag en grootheid aan ’n wêreld kan openbaar wat te klein dink oor God. Amen

*Boodskap van ds. Erik van Zyl gelewer op Tsumeb. Hy werk in Kaokoland.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.