BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag, 01 Mei 2017

METODISME

- vloek of seën? 

Metodisme is een van daardie vloekwoorde in die kerklike wêreld waarvan min mense wat die term gebruik presies weet wat hulle daarmee bedoel. ‘n Algemene beskuldiging wat sommer onnadenkend rondgeslinger en gehoor word is : “Die Skotse predikante het die Metodisme in die NG Kerk ingevoer” of “In Suid-Afrika word dr. Andrew Murray die draer van die Metodistiese denkstrominge.”  Dit maak dan sommer by implikasie van dr. Andrew Murray ‘n vreeslik gevaarlike dwaalleraar, want daar word ook beweer : “Die hoofgedagte van Metodisme is dat elke mens die saad van Goddelike genade in hom dra. Dit beteken dat dit van die mens self afhang of hy in die genade deel of nie. Daardeur verwerp hulle die uitverkiesingsleer.” Nou wonder mens van watter Metodisme word hier gepraat, aangesien een van die grondleggers van die Metodisme, George Whitefield juis ‘n vurige verdediger van die uitverkiesingsleer was!

Soms word die indruk gewek dat die etiket van die gewraakte Metodisme ‘n baie breë kwas is om almal te smeer wat erns probeer maak met Bybelse begrippe soos geloof, bekering en radikale lewensheiliging.  Sommige maak selfs die Bybelse opdrag om mense tot ‘n geloofsbeslissing uit te daag af as Metodisme. (Asof Johannes die Doper, Paulus en Jesus dit nie gedoen het nie!) Party is oortuig bidure is “Metodisties” en moet daarom liefs vermy word. Vir ander is  die begrip “herlewing” per definisie ‘n metodistiese dwaling. Is dit histories en teologies korrek en regverdig om sulke aannames te maak? Vermoedelik is daar kampvegters vir die suiwer leer wat die term “Metodisme” dalk met goeie intensies gebruik om kritiek te lewer op die oppervlakkige evangelisasie metodes en revivalisme wat by die semi-Pelagiaan Charles Finney (amper ‘n eeu later) ontstaan het. Dat ons skepties behoort te wees oor die sienswyses en praktyke wat party hedendaagse “evangelicals” by hom oorgeneem het, spreek vanself,  maar om dit onder die noemer van Metodisme te hanteer kan nie histories of teologies geregverdig word nie.  ‘n Bietjie  agtergrond kan dalk help om die verwarring op te klaar en baie van die wilde stellings te temper.

METODISME

Waarvandaan kom die begrip Metodisme?  Daar is duidelike historiese bewyse1. dat  die term van vroeg af deur George Whitefield op homself van toepassing gemaak is. Dis eers later deur John Wesley gebruik. Hierdie twee saam met John se broer Charles en verskeie ander was lede van die sogenaamde “Holy Club” in Oxford in 1729. Op hierdie vroeë stadium was die “Holy Club” natuurlik geensins evangelies van aard nie. Die fokus was streng geestelike dissipline en asketisme, maar sonder evangeliese sekerheid en blydskap. Die evangeliese herlewing en die kragtige prediking daaraan verbonde het eers later plaasgevind nadat Whitefield en die Wesleys die bevryding van die vryspraak deur die geloof in Christus alleen proefondervindelik gesmaak het. Niemand sal seker presies weet waarna die term “Metodisme” oorspronklik verwys het nie, maar Wesley se verklaring was  soos volg : “A Methodist is one who lives according to the method laid down in the Bible.” Dié benaming is natuurlik ook deur die teenstanders van die Groot Evangeliese herlewing van die 18de eeu gebruik om almal wat deur die herlewing beïnvloed is mee aan te dui hetsy diegene binne die Kerk van Engeland of daarbuite.  Eers later is die woord gebruik om Metodiste van Anglikaanse evangeliese gelowiges te onderskei.  Verder moet mens ook in ag neem dat die noemer “Metodiste” in ‘n engere sin na die volgelinge van John Wesley (wat Arminiaanse oortuigings gehuldig het) kon verwys, maar in ‘n breër sin ook kon verwys na Whitefield en Lady Huntingdom  se volgelinge wat die leerstellings van die Calvinisme onderskryf het.  Die werk van Whitefield en ander Calvinistiese herlewingspredikers soos Howel Harris en Daniel Rowland het immers later uitgeloop op die totstandkoming van die Calvinistic Methodist Connexion.

GEORGE WHITEFIELD

Dit spreek dus van absolute onkunde om Whitefield en Wesley in dieselfde teologiese mandjie te gooi bloot omdat hulle vriende en beide groot predikers was tydens die Groot Evangeliese Herlewing van die 18de eeu. George Whitefield, een van die invloedrykste predikers in die geskiedenis van die Christendom  was ‘n oortuigde Calvinis2. en het drasties en duidelik van Wesley verskil oor laasgenoemde se leer van perfeksionisme en Arminianisme. Enige iemand wat hieroor sou twyfel kan gerus maar net Whitefield se uiters bekwame antwoord lees wat hy aan Wesley geskryf het in reaksie op dié se aanval op die Calvinisme in sy preek getiteld “Free Grace”. Whitefield berispe Wesley onder andere met die volgende sterk taal : “Dear Sir, for Jesus Christ’s sake, consider how you dishonour God by denying election. You plainly make salvation depend not on God’s free-grace, but on man’s free-will…”  Hou ook in gedagte dat Whitefield besondere aanklank gevind het by die hoog aangeskrewe Calvinistiese teoloog (en kenner van herlewing) Jonathan Edwards van die Verenigde State. Juis ook as dit kom by die onderwerp van herlewing moet ons versigtig wees vir oorhaastige uitsprake en ongeldige kritiek. Om alle voorstanders van ware herlewing3. (wat iets heel anders is as die revivalisme van die latere Charles Finney) in ‘n Metodistiese (bedoelende Arminiaanse) kamp saam te jaag, is teologies onverantwoordelik, histories onjuis en getuig van onkunde oor die kragtige genadewerking van God gedurende herlewings waarvan die vrugte die toets van die tyd deurstaan het. Dink maar byvoorbeeld aan die heerlike en blywende vrug van die Koreaanse herlewing…

SKOTSE PREDIKANTE


Die Kaapse goewerneur Lord Charles Somerset het vanaf 1822 ‘n verengelsingsbeleid deurgevoer. Hiervoor sou hy ook die kerk probeer inspan. Die dringende tekort aan predikante weens die aansienlike vermeerdering van gemeentes het ‘n gaping vir hom gelaat om Engelsprekende predikante aan te stel en so op subtiele wyse sy doelwitte te help bereik. Drie Skotse leraars wat voorheen in diens van die Londense Sendinggenootskap4. was naamlik George Thom, John Evans en John Taylor is in NG gemeentes aangestel. In 1820 het die goewerneur vir ds. Thom na Skotland gestuur om nog Skotse predikante te gaan werf. Tydens die Kaapse sinode van 1834 was meer as die helfte van die predikante van Skotland afkomstig.  Dit spreek vanself dat hulle ‘n beduidende invloed in die NG Kerk sou uitoefen. Wat ons nie uit die oog moet verloor nie was dat die Skotse predikante waaronder ds. Andrew Murray (die bekende dr. Andrew Murray  en prof. John Murray se vader) Calviniste was. Dit was ‘n deurleefde evangeliese Calvinisme van die soort waarvan  die lewe en werk van bekende Skotse leraars uit daardie tyd waaronder Andrew en Horatius Bonar, Robert Murray McCheyne en die latere sendeling in China, William Burns5. getuig. Die verskynsel van herlewing binne ‘n Calvinistiese konteks was iets waarmee hulle goed bekend was.  (Dink aan die Kilsyth Herlewing van 1838-39 in Skotland.)  Alhoewel goewerneur Somerset klaarblyklik duistere oogmerke gehad het met die invoer van Skotse predikante, het hierdie leraars met hulle sterk evangeliese en puriteinse uitkyk ongetwyfeld daartoe bygedra dat daar ‘n behoefte in die kerk gestimuleer is na ‘n meer proefondervindelike godsdiens. Daar was ‘n verlange na ‘n geestelike ontwaking of herlewing.

HERLEWING

Dit bring ons dan by die evangeliese herlewing wat in die jare 1860-62 in die NG Kerk, maar ook in ander kerkgenootskappe in Suid-Afrika ondervind is. Hierin het dr. Andrew Murray, maar ook ander predikante (wat terloops nie Skotse wortels gehad het nie) soos G.W.A. van der Lingen, J.H. Neethling  en N.J. Hofmeyer ‘n groot rol gespeel. In hierdie tyd het baie lidmate ‘n persoonlike belewenis van die heil in Christus ervaar en was daar ‘n merkbare groei in toewyding in die kerklike lewe.  Belangrike vrae om te antwoord is onder meer : Hoe geregverdig is dit om Metodisme te koppel aan die evangeliese herlewing van die 1860’s in Suid-Afrika? Wat was dr. Andrew Murray se rol hierin? En wat was die vrugte van die herlewing?  

ANDREW MURRAY

Ons moet pasop om herlewing nie outomaties te assosieer met die verwerping van die uitverkiesingsleer (onthou vir Whitefield) en ortodoksie in die algemeen nie. Dit was juis Andrew Murray wat ‘n kragtige stryder teen die liberalisme was. (En hoe dringend nodig het die NG Kerk  tog vandag weer so ‘n dapper persoon wat vir die waarheid sal opstaan!)   Om net twee voorbeelde te noem. Murray  moes die kerk se gereformeerde standpunt in ‘n hofsaak verdedig  toe die advokaat siek geword het. Hy het toe ‘n toespraak van vier uur gelewer en die saak is gewen!6.  Murray het ook die liberalisme bestry in sy  “Het Moderne Ongeloof.”   Laat ons nie vergeet nie, dr. Andrew Murray was ‘n predikant van gereformeerde oortuiging wat selfs ‘n kommentaar op die Heidelbergse Kategismus geskryf het.  Inderdaad het hy ook sy teologiese swak plekke gehad waaronder sy siening oor  Goddelike genesing en sy affiniteit vir die Keswick leer van ‘n dieper lewe, maar hy was alles in ag genome ‘n man van God  met ‘n reuse positiewe geestelike nalatenskap.  Dis wel verstaanbaar dat sekere fasette van die herlewingsprediking  aanstoot sou kon gee soos die beklemtoning van bekering (veral seker vir onbekeerdes!) en ‘n sterk emosionele element versterk deur die sing van opwekkingsliedere en passievolle Woordverkondiging. Beslis  is  daar altyd die gevaar van uiterstes, eensydighede  en oorbeklemtoning wat mag voorkom, maar in geheel gesien is die lewe en praktyk van die NG Kerk oneindig verryk deur die herlewing waarin dr. Andrew Murray en baie ander ‘n groot aandeel in gehad het.  Buitendien is alle moontlike negatiewe gevolge van bogenoemde niks in vergelyking met die gevaar van verbondsoutomatisme en valse gerustheid nie. Die persoonlike ervaring van God se genade in Christus, erns met lewensheiliging,  stimulering van ‘n innige gebedslewe (soos ook tydens bidure en Pinksterdienste)  en ‘n sendingywer (waarvan die geskiedenis van die NG Kerk so merkwaardig getuig) is vrugte van herlewing wat tot die eer van God en die uitbreiding van sy Koninkryk gelei het!7.  As hierdie dinge dan deel van die “Metodisme” sou wees, dan moet ons dit as ‘n seëning uit die hand van die Here beskou.8.   

Uiteraard kan dit nie ontken word dat  die aantygings oor “Metodisme” in die NG Kerk  vir baie ‘n ernstige saak was nie.  Dit sou immers ook aangevoer word as een van die redes vir die hartseer afskeidings wat die NG Kerk beleef het met die totstandkoming van die Gereformeerde Kerk in 1859 en ook later die stigting van die Gereformeerde Kerke onder die Kruis.  Gewoonlik is sulke gebeure baie kompleks vanweë misverstande, plaaslike persoonlikheidsbotsings en omstandigheidsfaktore en moet mens sekerlik baie versigtig wees om “Metodisme” op ‘n simplistiese wyse die oorsaaklike sondebok vir hierdie kerklike onenigheid te maak. 9.  

Histories gesien bly dit in elk geval ‘n vraag of die invloed wat dr. Andrew Murray en ander op die kerk gehad het as Metodisme beskryf kan word.  Daar sou moontlik ‘n indirekte lyn aangedui kon word, maar die direkte  wortels van hulle oortuigings en praktyke moet  eerder by die Réveil, ‘n geestelike beweging wat in Nederland  (en ook ander Europese lande) van 1830 tot 1850 gevoel is, gesoek word. Die Réveil het klem gelê op die innerlike geloofslewe en praktiese Christenskap. Dit was ‘n broodnodige reaksie op die geestelike verval binne in die kerk. Onder die invloed van die Réveil het daar in 1844 ‘n studentevereniging SECOR DABAR  aan die Universiteit van Utrecht tot stand gekom met die doel om persoonlike bekering en ‘n praktiese vroom lewenswandel  te bevorder. Deur hierdie vereniging het Afrikaner studente soos John en Andrew Murray, N.J. Hofmeyer, J.H. Neethling en ander  wat in daardie jare in Utrecht gestudeer het, met die beginsels van die Réveil kennis gemaak en weer as latere geestelike leiers die NG Kerk in hierdie rigting beïnvloed. Wat die herlewing van die 1860's betref is dit belangrik om kennis te neem van die uitbreek van herlewing in verskeie lande in 1859 soos onder andere Ierland, Skotland en die VSA. Dit het niks te make gehad met Metodisme nie, maar het beslis meegewerk om die behoefte aan 'n geestelike ontwaking ook in Suid-Afrika te stimuleer. (Kliek op ULSTER HERLEWING as 'n voorbeeld)

Weens die komplekse geskiedenis en veelsydigheid van die Metodisme  lyk dit vir my of  mens maar baie versigtig moet wees om dit sommer as ‘n algemene etiket te gebruik om afwykings van die gereformeerde leer mee aan te dui en persone met wie mens nie heeltemal saamstem nie verdag te maak. As gelowiges mag en moet ons mekaar in broederlike liefde wys op gevare en foute, selfs ook oor kerkgrense heen. Hierdie teregwysings moet duidelik en sinvol wees sodat dit tot die geestelike welsyn van die aangesprokenes mag strek. ‘n Vae en ongenuanseerde beskuldiging van Metodistiese invloede dien myns insiens nie so ‘n doel nie.



Voetnotas

1. Dallimore, A., George Whitefield, Volume 1, p381ev.

2. Jonker, W.D., Uit Vrye Guns Alleen, p34.

3. Met “ware herlewing” word hier bedoel ‘n soewereine werk van God se genade op ‘n groot skaal wat lewens oor ‘n wye front radikaal aanraak en verander. Dit kan nie deur mense georganiseer word nie, maar is ‘n bonatuurlike heerlike ingrype van God. Vir ‘n duidelike hantering van die verskil tussen “herlewing” en “revivalisme” sien Murray, I. H. se Revival & Revivalism – The Making and Marring of American Evangelicalism 1750-1858, The Banner of Truth Trust, 1994.

4. Was hierdie voormalige sendelinge van die Londense Sendinggenootskap Calvinisties van oortuiging? ‘n Dieptestudie hieroor kan seker van groot waarde wees, maar val buite die skopus van ‘n kort skrywe soos hierdie. Daar is egter byvoorbeeld geen rede om die Calvinisme van iemand soos ds. George Thom te betwyfel nie. Sy leermeester by die sendingseminarie, Dr. David Bogue was ‘n Calvinis met ‘n sterk geloof in predestinasie. Na Thom se aankoms in die Kaap in Oktober 1812 het hy betrokke geraak by die 93rd Highland Regiment en spesifiek by ‘n Calvinistiese vereniging wat sedert 1808 tussen die soldate bestaan het. Van ds. Thom se voorstelle by die sinode van 1824, nadat hy ‘n leraar van die NG Kerk geword het, het ingesluit dat daar ten minste een keer per maand uit die Heidelbergse Kategismus gepreek word. Sien Christian Library (internet), George Thom (1789-1842): Scottish pioneer in South Africa (outeur onbekend). Vir ‘n evaluering van die enorme positiewe bydra van die Skotse leraars in die NG Kerk, sien Sass, F. W., The Influence of the Church of Scotland on the Dutch Reformed Church of South Africa (ongepubliseerde Ph.D. tesis, University of Edinburgh, 1956)

5.Interessant, as negejarige skoolseun, het Andrew Murray se pad met die van Burns gekruis in Skotland. Murray is natuurlik in Graaff-Reinet gebore, maar vir skoolopleiding oorsee gestuur. Heiberg, C.F., A Heart on Fire: The Life of Andrew Murray (1828-1917)

6. Ibid.

7. ‘n Boom word aan sy vrugte geken en die sendingywer wat kenmerkend was van Murray se fisiese en geestelike nasate spreek boekdele. Elkeen wat kennis dra van die merkwaardige sendingpogings van die NG Kerk dwarsoor Afrika en tot sover as die destydse Ceylon sal hiervan kan getuig.

8. Die kerkhistorikus Prof. P.B. van der Watt skryf dan ook : “Die meer praktiese inslag wat die Ned. Geref. Kerk ten gevolge van sy kontak met die Metodisme gekry het, moet as ‘n bate erken word.” Van der Wat, P.B., Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905, p24. Van der Watt onderskei ongelukkig self ook nie duidelik tussen die Arminiaanse en Calvinistiese vorm van die Metodisme nie.

9. In alle billikheid moet dit gemeld word dat daar ook ander redes vir die afskeiding van 1859 aangevoer word soos die kerk-staat verhouding, kollegialisme en natuurlik die Gesangekwessie. Met sommige van hierdie redes kan mens inderdaad meer simpatie as met ander hê. (Interessant genoeg, die Skotse leraars was juis die grootste beswaarmakers teen die staat se invloed in kerklike sake.) Die doel van hierdie kort artikel is egter nie om die redes van afskeiding te beoordeel nie, maar slegs om aan te dui dat die beskuldiging van “Metodisme” so maklik op ongenuanseerde en onverantwoordelike wyse gebruik word.

7 opmerkings:

  1. Dankie Johannes. Miskien moet mens die negatiewe veelwyte teenoor Murray et al toeskrywe aan die hoogbloei van Afrikaner Nasionalisme veral na die Rebellie. Ek het pas n PhD daaroor geskrywe en Murray merk reeds tydens die opening van die Vrouemonument oop dat n stroom van Nasionalisme besig was om die kerk te oorvloed en skrywe dit toe as teenreaksie op die Britse hooghartige imperialisme (eie intepretasie)

    Mooi dag vir jullr

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Koos vir jou interessante perspektief. As jy dalk die kern van jou PDH skripsie wou saamvat in 'n artikel en veral soos dit hierdie onderwerp raak sal ek dit graag hier plaas. (onder jou naam natuurlik)

      groete en sterkte met jou Koninkrykswerk!

      Vee uit
  2. Dankie vir n gesaghebbende artikel.
    Jan Louw

    AntwoordVee uit
  3. Nico van dr Walt se (soos gewoonlik) raakvat opsomming van die kwessie : "Ek stem met jou saam, Johannes. Of dan, met wat jy impliseer. Om mense met wie jy nie saamstem nie, en wat ‘n appel op jou gewete maak, te ettiketteer (met die waarheid of die leuen), is die maklikste manier om hulle onder die mat in te vee en die onkundige massas agter jou aan te sleep.
    Groetnis,
    Nico "

    AntwoordVee uit
  4. Ek is nou 'n Dopper, maar eers vanaf 2002, voor dit was ek my lewe lank 'n NG lidmaat en ook so 10 jaar by die Vrygemaaktes, en het midde al die worstelinge ook baie waardering vir wat ek wel daar beleef het en geleer het. Skrywers soos bv. Andrew Murray en later dr. Willie Marais, veral sy preke het baie vir my beteken.

    Oor die Metodisme self, die belangrikste werk daaroor uit dopper geledere is sekerlik Totius self se doktorsgraad daaroor onder HH Kuyper in 1903. Ek het dit nog nie in detail gelees nie, maar wel oorsigtelik. En hy sien wel ooreenkomste tussen Wesley en Whitefield, maar ook baie duidelike verskille, soos genoem oor die Calvinisme, uitverkiesingsleer, ens. sodat hy praat van verskillende soorte Metodisme. En ongelukkig, in my kerklike belewenis in die tyd in die NG, het ek omtrent nooit of niks gehoor van die Dordtse Leerreëls nie, daar is nie gewerk met die belydenis nie, maar dit was net my belewenis, in ander NG kerke kon dit dalk anders gewees het. Ek moes eers Vrygemaakte word en later Dopper om opnuut die rykdom van die gereformeerde belydenis te herontdek.

    Totius skryf onder meer:

    "Separasie van Whitefield. Die Wesleyaanse Metodisme moet kragtens sy wese teen die predestinasie wees. Die Wesleyaan tree op met die pretensie dat hy die hele wereld sal bekeer, en dit kan hy alléén deurdat hy hom baseer op die leer van die algemene versoening en breed roem van 'n Christus pro omnibus. Ontbreek egter hierdie grond van roem, dan is die Wesleyanisme geen Wesleyanisme nie. Is daar 'n uitverkiesing uit die wereld, dan word die ganse organisme ontsenu.

    Derhalwe moes wel vroeër of later 'n prinsipiële skeiding tussen WESLEY en WHITEFIELD plaasvind. Die swaard van die predestinasie, wat die hele Christendom verdeel het, het ook die band van die liefde en die vriendskap van hierdie twee manne met harte van goud deurgesny.

    WESLEY het die Arminianisme as met die moedermelk ingedrink en kon selfs die gematigste Calvinisme nie verduur nie. WHITEFIELD daarenteen het deur diepe sielsworsteling tot omhelsing van die predestinasie gekom, maar dit nie voor sy breuk met WESLEY verkondig nie. Die aanleiding tot hierdie breuk was die volgende. ..."

    En ongeag sy kritiek wel teen die verskillende Metodisme, veral Whitefield se kerkbegrip (kerkies binne kerke idee wat Totius meen het die kerklike bewussyn ondermyn) skryf hy aan die einde van sy proefskrif die volgende:

    "Aan die einde van my beskouinge gekom, wens ek ten slotte nog daarop te wys dat dit in hierdie dissertasie hoofsaaklik my bedoeling was om die Metodisme van Gereformeerde standpunt uiteen te sit en te beoordeel.

    Dit is egter nie gedoen om daarmee die groot werk van God wat deur middel van hierdie geestelike beweging tot stand gekom het, te misken nie. WESLEY en WHITEFIELD was in die donker Deïstiese eeu die instrumente in die hand van God om die Christendom uit diep en sondige slaap wakker te roep, en nog steeds klink sowel oor die Christelike erf as oor die velde van die heidendom hulle magtige woord na. Nie alleen dank Amerika sy teenswoordige Christendom grotendeels aan die werk wat deur hierdie manne begin is nie, maar hulle aksie het mede die stoot gegee aan die reusagtige sendingwerk van ons tyd. Ook het veral die Metodisme die oë geopen vir die node van 'n buitekerklike proletariaat, wat in godsdiens- en sedeloosheid weggesink het.

    En waar in die boesem van die Christelike kerk die stroom van geestelike lewe in ortodoksisme en rasionalisme versand, daar is 'n Revival na Metodistiese trant dikwels die enigste redmiddel.
    So lê dan ook hier die goeie en die kwaad deureengestrengel en bring dit ons tot stille aanbidding van Hom wat die manne verwek na sy welbehae en deur hulle swak en veelsins met sonde bevlekte poginge sy werk oplei na die voorgestelde doel."

    Vir Totius se proefskrif, sien sy Versamelde Werke, 1977-uitgawe, deel 6.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Sommer ‘n baie groot dankie aan jou broer Slabbert vir hierdie uiters sinvolle en verhelderende bydra. In wese ondersteun jou verwysing na Totius se insig die punt wat ek wou maak naamlik dat mens ongenuanseerde en simplistiese verwysing of beskuldigings oor metodisme moet vermy. Betreffende die gebrekkige lering oor die gereformeerde waarhede in die NG Kerk (veral tans)… ja dis ‘n tragedie!

      Seën en sterkte in jou bediening!
      Johannes

      Vee uit
  5. Baie dankie vir 'n baie sinvolle artikel asook die kommentare daarop! Dit is uiters leersaam en opbouend. Ons NG Kerkverband het tans predikante soos 'n dr. Andrew Murray bitter nodig! Mag God ons genadig wees en ook in hierdie baie ernstige nood en behoefte voorsien.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.