BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 19 Maart 2013

GELUK

- via GEBED of GEWELD?


Hoe probeer jy geluk in die lewe vind? Is jy  ’n bidder of ’n bakleier? Word jou lewe oor die algemeen gekenmerk deur gebed of geweld? Hoe klink dit in jou huwelik, gesin, werksplek? Hoe hanteer jy frustrasies en onreg? (En laat ons maar kennis neem, dit sal altyd daar wees) Baklei jy? Nie noodwendig met die vuis nie, nie altyd met harde verbale geweld nie, maar jy begin net so byt-byt, subtiel beledig, skimpe rondstrooi, stilstuipe kry of onttrek jouself aan mense? En ja, selfbejammering en manipulering is seker die algemeenste vorm van geweld tussen huweliksmaats en binne gesinne.  Hierdie alles is inderdaad ook wrede vorme van baklei!

Bid of baklei, gebed of geweld is simptome van ‘n dieper saak. Gebed, ware gebedswandel met God is ‘n uitvloeisel van ‘n herstelde verhouding met God.  Net so is baklei ‘n simptoom van ‘n lewe sonder Jesus, sonder ‘n verhouding met God of dan ten minste ‘n aanduiding van ‘n ernstige versteuring tussen ons en Hom.  Jakobus, hoofstuk 4 vertel vir ons baie oor hierdie twee uiteenlopende benaderings:

"1.Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
2. Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
3. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
4. Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.
5. Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?
6. Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade."
7. Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.
8.Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.
9.Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.
10. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog."

Bid en baklei word teenoor mekaar gestel as twee uitsluitende werks en lewenswyses. (sien vers 2)

Hoe lyk die bakleier?

(Uit hierdie gedeelte kan mens ’n paar kenmerke opsom. Vers 1 verwys eintlik terug na die vorige gedeeltes in hfst3.  Waar kom die stryd  waarvan in 3:14-16 gepraat word, vandaan?)

~ Die bakleier huisves naywer, selfsug en afguns. (3: 14-16) Hy is ten diepste jaloers. Nie tevrede met wat hy het nie. Nie tevrede met sy finansies nie, nie tevrede met sy vrou en kinders wat God hom gegee het nie. Ontevrede hoe ek lyk, ontevrede met my werk...

Onvergenoegdheid lei tot geweld, ontevredenheid bring konflik.

~ Die bakleier se lewe word gekenmerk deur vriendskap met die wêreld.  Sy denke en begeertes is deurdrenk met wêreldse sienings en begeertes. Die wêreld se media, opinies en verwronge standaarde bepaal sy begeertes. ‘n Goeie voorbeeld, die sepies vol van die  wêreld se sienings oor geld, seks en mag is sy verwysingsraamwerk. Hoe meer jy na al die chaotiese “Vermaak” kyk, hoe meer lyk jou en jou gesin se lewens soos in die daardie einste sepies. Net soos die sepiekarakters baklei om meer mag en meer plesier, gebeur dieselfde met jou.

~ Die bakleier is ’n diep ongelukkige mens. Ontevrede. Onvergenoegd. Hy voel altyd daar is ’n klomp dinge wat hy wil hê. Hy/sy meet homself altyd aan ander mense : “Kyk hoeveel het daardie ou, kyk, kyk..... en kyk wat het arme ek.”  Begeer, begeer, begeer... Die grootste rede vir sy ongelukkigheid en onvervuldheid is die skrikwekkende feit : God het sy vyand geword. As jou lewe oorheers word deur die wêreld begeertes van nog hê , nog hê ..... dan is jy en God in ‘n staat van vyandskap. (4:4)   Johannes 2:15-17 stel hierdie selfde waarheid so : 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 
Die wêreldse dinge - alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit-kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 
En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”

  
~ Die bakleier bid ook soms. Die bakleier se gebed is egter nie suksesvol nie. Dit frustreer hom of haar net nog meer. Hoekom? God verhoor nie sy gebede nie. Hoekom nie? Hy bid verkeerd. Die selfsug en afguns wat sy lewe kenmerk spoel oor in sy gebedslewe. Die bakleier se selfgesentreerde, selfsugtige gebede is ‘n gruwel voor God. “Gee, gee, gee...” Die bietjie wat hy wel bid is maar net ’n uitlaatklep vir sy selfsugtige begeertes. “Here, ek het dit en dit en dit...... nodig! Here, hy pla my, Here sy maak die lewe vir my moeilik, verander hulle tog dat ek ‘n lekkerder lewe kan hê…”

~ Die bakleier is ’n hoogmoedige mens. (6) Egosentries tot in sy gebeente!  Sy rasionaal is : “Ek is so oulik, ek moet alles hê wat ek begeer.”  Die skrikwekkende feit is,  God self word sy teenstander!  Die bakleier sal sê, alles loop verkeerd, die duiwel maak vir my die wêreld moeilik", maar eintlik is dit God wat teen hom gedraai het.  Daarom vind hy nooit geluk nie, al baklei hy hoe hard daarvoor!

Hoe lyk die bidder?

~ Wel, hy bid! Hy maak tyd daarvoor. Hieruit kan mens iets belangrik aflei. Hy staan in ’n lewende verhouding met God en daarom praat hy met sy Vader! Biddeloosheid is ’n simptoom van iemand wat sonder God leef. Aan die anderkant is ware onselfsugtige gebed  ’n kenmerk van iemand wat God se kind is en in afhanklikheid van Hom leef.

~ Hy vertoon ‘n nederige tevredenheid. “Here, wat U vir my gee en wat U vir my doen is goed.”  ’n Bidder is iemand wat hom in nederigheid voor die Here onderwerp. ’n Bidder sê opreg : Laat U wil geskied! ’n Bidder sê soos Paulus in  Filippense 4:11,12 : “…ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (OAV) (Terloops, mense wat aan die prosperity gospel/ voorspoedsevangelie glo, kan nie ware bidders wees nie, hulle is net bakleiers met ‘n vroom godsdiensousie oor hulle selfsug )

~ Die bidder bied teenstand teen die Duiwel. Die bakleier luister na die duiwel en slurp sy propaganda in. Die bidder sê : “Nee!”  Nee vir die duiwel, nee vir versoekings, nee vir die sonde, nee vir die wêreld se lewensstyl!

Die bidder baklei ook, maar hy baklei nie teen sy huweliksmaat nie, nie teen sy werkgewer nie, nie teen die kerk nie, maar hy baklei teen die Satan op sy knieë!

~ Die bidder los sonde. Hy treur oor sonde en laat staan dit! (8,9). ’n Bidder is sensitief vir sy eie sonde. ‘n Bidder fokus nie op ander se foute nie, maar bring sy eie na God in die gebed.

Baklei of bid? 

Dis twee uiteenlopende lewenswyses wat treffend verteenwoordig word deur die twee karakters van Saul en Dawid. . . Die bakleier is soos Saul. Hy was ongehoorsaam aan God, ontevrede met God se plan, jaloers op Dawid en diep ongelukkig!  Sy selfgesentreerde selfsugtige gebede het hom niks gebaat nie, en uiteindelik het God hom heeltemal verlaat en moes hy in desperaatheid ’n spiritis raadpleeg!  Die bidder is soos Dawid, nederig in sy eie oë. In onderworpenheid aan God, wag hy geduldig vir God se tyd! Ja, toe hy nie waaksaam was nie, val hy in sonde, maar hy onderwerp hom weereens in nederigheid aan God. Lees maar Psalm 51.

As ons baklei, stry ons ‘n verlore stryd soos Saul se geskiedenis wys. Al sy planne het niks gehelp nie, want God self was teen hom. As ons bid, dan veg God ons saak, soos Dawid ondervind het. God het vir hom gestry en op die regte tyd die koningskap aan hom gegee.

Is jy ‘n bakleier? Die oplossing is : word ’n bidder. ’n Bidder, ‘n kind van God wat tot God nader, ’n bidder wat afstand doen van die sonde, ’n bidder wat jou onderwerp aan God, ’n bidder wat teen die wêreld draai en homself voor God verneder.
 Die belofte hier in Jakobus is 4:8-10 is ook vir jou (maak nie saak hoe erg jou bakleiersverlede is nie) : As jy biddend nederig na God toe kom, sal Hy jou weer optel en dit sal nie nodig wees om te baklei nie! Jy sal nie meer wil baklei nie, want jy sal diepe tevredenheid  en geluk vind in die teenwoordigheid van God. Hy  vervul ons diepste behoeftes deur Jesus Christus. Hy gee geluk soos wat Hy in sy goedheid en regverdigheid besluit, wanneer ons onsself aan sy volmaakte wil onderwerp.

LOS GEWELD! GOD GEE GELUK VIA GEBED!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.