BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 16 April 2013

MOET EK MYSELF VERGEWE

 - in die lig van die Bybelse lering oor vergifnis? 



So dikwels hoor mens : “Ek weet God het my vergewe, maar ek sukkel nog om myself te vergewe.” Dit klink vroom en word seker baie opreg bedoel, maar is dit hoegenaamd nodig om onsself te vergewe? Verwag God so iets van my? 


Die kwessie van selfvergifnis is natuurlik nie net beperk tot Christene nie. Orals in die sekulêre wêreld word die waarde van selfvergifnis aangeprys en raad hieroor is net so volop soos vlooie op ‘n krimpvarkie. ‘n Vinnige kykie op die internet bevestig dit. Die Huffington Post bied ‘n oplossing in “10 Steps to Forgiving Yourself” terwyl wikiHow meen nege stappe is blykbaar genoeg in “How to Forgive Yourself : 9 Steps (with pictures!!!)”. Almal wil help met hierdie saak, selfs oorvriendelike Oprah (nie juis ‘n bron van waarheid nie) op wie se webwerf jy “Time-tested rituals to help you find courage to forgive yourself” kan vind. 

Kom ons stel dit sommer reg hier van die begin af : 

Jy kan jouself nie vergewe nie en jy hoef ook nie! 

Jy kan jouself nie vergewe nie, want net God kan sondes vergewe. In Markus 2:5 het Jesus die ystervark in die skrifgeleerdes se ballonfabriek losgelaat toe hy vir die verlamde man gesê het : "Vriend, jou sondes word vergewe!" Waarom het hierdie uitspraak van Jesus soveel woeling en verontwaardiging veroorsaak? Die skrifgeleerdes het tereg geweet : Net God kan sondes vergewe! Die ontstoke skrifgeleerdes was dus in beginsel reg om kwaad te word. Hulle het egter fouteer dat hulle nie Jesus as Seun van God wou erken nie! Jesus gaan voort om die verlamde te genees, juis om die radikale punt te bewys, dat Hy, die Seun van die mens die gesag het om op aarde sondes te vergewe. Goddelike gesag! Die volmag om sondes te vergewe bewys juis sy uniekheid as eniggeborene van die Vader. Hierdie gesag is nie iets wat ons vir onsself kan opeis nie. Ons sonde, ja alle sonde, ook dit wat ons medemens benadeel het, is in die eerste plek sonde teen God en net God kan dit vergewe. Dit het Dawid goed besef na sy tragiese owerspel en moord. Hy erken : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë” (Psalm 51:6) 

Jy hoef jouself ook nie te vergewe nie, en God se Woord vra dit ook nêrens van jou nie. Nie as jy jou vertroue op Jesus se versoeningsoffer geplaas het nie. Die kruisiging van Jesus was ‘n verskriklike werklikheidsgebeurtenis, nie maar bloot ‘n skyndrama nie. Daar het God beslissend met die sondes van elke gelowige gehandel. Hy het daarmee afgereken! Romeine 8:3 stel dit so : “Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.” Die implikasie van Jesus se kruisdood vir die vergifnis van (al) ons sondes word pragtig gestel in Kolossense 2:13,14 wat so duidelik van God se kinders sê : “Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys (dokument) met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” My sondige rekord is uitgewis, die dokumente daaroor is vernietig. (Natuurlik, soos iemand dit gestel het, sal die Satan jou probeer herinner aan jou sondes, hy het “photocopies” van daardie dokumente gemaak, maar dit het geen regsgeldigheid nie!) Op grond van Jesus se werk aan die kruis, is die vergifnis wat ons nou in terme van die Nuwe Verbond ontvang, volledig en omvattend. “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie", verseker Hebreërs 8:12 ons. So, geliefde kind van God, wat jou hoop op Jesus stel, waarvoor wil jy jouself nog vir vergewe? Wat is oor om te vergewe? Jou skuld is vir ewig en altyd uitgewis! Wat nodig is van my kant is om net hierdie waarhede te glo! Om triomfantelik saam met Paulus as’t ware uitdagend uit te roep: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” As ek met die saak van vergifnis worstel, as my eie gewete of enigiemand anders my aankla, is die antwoord nie om in my eie onstuimige binneste rond te krap nie, maar om my kop op te tel en na die evangelie feite te kyk soos Paulus hier maak : Jesus het mos gesterf, Hy het mos opgestaan, Hy is mos besig om vir my in te tree. Dis mos kranksinnigheid om iets hierby te wil byvoeg, of hoe? Ja, die evangelie beloftes moet geglo word ten spyte van al die negatiewe feite van skuld en skande waarvan ekself so pynlik bewus is. Reddende geloof is ‘n geloof wat baklei teen die sigbare feite. Soos Abram geglo het in God se beloftes ten spyte van die feite oor sy en Sara se verouderde gedane liggame. Gaan lees maar weer Romeine hoofstuk 4.

En hoe op aarde vergewe mens jouself in elk geval? Wat wil jy doen, sê of voel? Een van die wêreldse raadgewers oor selfvergifnisrituele doen die volgende aan die hand : “Learn how to consciously make a sacrifice in light of your desire for forgiveness. You can do therapeutic work, or have a large network of people for support, but still not feel forgiven. That sort of forgiveness comes from a place of surrender. In all wisdom traditions, it was customary to give some kind of offering, or sacrifice, for atonement. You can create your own sacrifice by asking yourself, "What will be my offering?" It could be philanthropy, political activism—something that requires a sacrifice of your time, money or effort. The key is to consciously make that sacrifice in light of your desire for forgiveness.” 

Watse klomp snert! Dis juis die punt. Jesus het mos die offer gebring. Kan daar ‘n groter offer wees as die lewe van God se Seun? Bogenoemde raad wil mens laat skreeu : “Waarom verwerp julle God se Seun en probeer julle julle eie geregtigheid oprig?” 

As jy sukkel en stoei met ‘n skuldige gewete, as jy voel jy kan jouself nie sien as iemand wat rein en skoon voor God en jou naaste kan staan nie, lê die worteloorsaak by een van twee redes : Of jy het nog nooit die Here Jesus as jou Hoëpriester aanvaar nie en maak dus nog staat op jou eie geregtigheid of jy is nog ernstig onkundig oor die volle betekenis van sy kruis en opstanding, al glo jy in Hom. 

Kom na Jesus, kom hoor weer kinderlik wat sê die Woord oor die bevryding van die gewete : “Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!” (Hebreërs 9:13,14) 

[Daar kan situasies wees, waar ek medemense te na gekom het en die Here dit op my hart lê om met hulle te gaan vrede maak of skade en skuld te gaan vergoed. (soos Saggeus) Die doel daarvan is egter nie om vergifnis te ontvang nie, dit het God my reeds gegee. Die rede daarvoor is om ‘n getuienis te lewer en in konkrete liefde en vrede met my medemens te leef.] 

Allerhande selfvergewingstegnieke kan dalk tydelike sielkundige verligting bring. Die enigste volledige en ewige kwytskelding van my sonde is egter slegs te vind in die volmaak en genoegsame offer van die Lam van God. Hy het my straf ten volle gedra en my sonde sommer ook weggedra! (kliek op LIG UIT LEVITIKUS) Hierdie offer het my Vader tevrede gestel, die bewys daarvan is die opstanding van Jesus uit die dood, die leë graf... as God dan tevrede voel oor hierdie offer, wie is ek om nie te wees nie?

Rus in die genoegsame offer van Jesus en vergeet wat agter jou lê. Hoe anders sou 'n Paulus of 'n Petrus met hulle donker verledes ooit bruikbare en entoesiastiese instrumente in God se hand kon wees?

Gaan leef in die vreugde van die volle vergifnis wat God jou deur Jesus geskenk het en dank Hom met jou lewe!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.