BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 05 Mei 2019

BOESMANS HOOR BOODSKAP UIT DIE HEL

Een van ons ouderlinge, Andries Gous is getrou besig met ‘n bediening onder die Boesmans (San) mense noord van Tsumeb. Andries deel ‘n merkwaardige ondervinding of twee: 



Sondag 28 April 2019 



Wat ‘n aaklige en fantastiese dag! 


Soos my gewoonte is, was ek besig om reg te maak vir die eredienste by my Boesmans broers en susters in die Tsintsabis omgewing. 

Tydens my voorbereiding en ook van die vorige dag af beleef ek enorme spanning en onrustigheid, selfs twyfel, moedeloosheid en geheel en al ‘n gevoel van verlatenheid, van alleen wees, alleen stry. 

Ek is kwaad en ontsteld en hartseer alles in een en ek voel ek gaan moed opgee met die bediening onder die Hai//om mense. Ek is siek en sat vir die alleen pad, vir die aankarring met, soos dit vir my voel, geen ondersteuning. 

Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie, want daar is broers en susters wat my ondersteun, maar op hierdie Sondagoggend kon ek niks daarvan ervaar nie en het ek regtig gevoel daarna om alles net eenvoudig te staak. Dit is die Here se werk, het ek vir myself gesê en Hy sal ’n plan moet gee, want ek sien nie meer kans op aan te gaan nie, die taak is te moeilik. 

Hierdie is die gedagtes waarmee ek halfhartig my twee preke voorberei vir die dag. Die twee preke is vir die gemeente by Oupos en die ander vir die gemeentetjie by Makalani. 

Voordat ek in die pad val sien my vroutjie dat my gemoed vol is en dat ek glad nie lekker is nie. Ek vertel haar ook sommer luidkeels dat die Here self sy kerk moet in stand hou en dat ek nie meer kans sien om hierdie werk alleen te doen nie. 

Sy bid saam met my, eintlik bid sy maar alleen want my hart is nie in vandag se werk nie, my gemoed is vol van myself en my selfbejammering en gedagtes van moed opgee. 

In my stoutste verwagtinge kon ek nie voorsien wat op hierdie pragtige Sondag sou gebeur nie. 

Oupos 

Die tema van die preek by Oupos handel oor die 5000 mense vir wie Jesus kos gegee het en die tema gaan daaroor dat ons ook geestelike versorging nodig het en nie net fisiese versorging nie. 

Ouder gewoonte vra ek en Karel na die diens as daar mense is wat gebed benodig dat hulle uitkom en saam met ons kom bid. Die normale siektes en kwale word gebring – hoofpyn, lyfseer ens. en ons bid vir elkeen vir fisiese herstel maar altyd ook geestelike herstel en versterking. 

Emka bly eenkant staan en wag geduldig dat almal klaar bid en toe kom sy vorentoe en vertel vir ons van ’n droom wat sy gehad het. 

Sy het gedroom dat haar pa se ma haar besoek het. Haar ouma het haar gewys dat van haar familie op pad is na die hel. 

Sy sien in haar droom hoe haar familie brand in die hel! 

Volgens die manier waarop sy dit beskryf het, kon ek amper die helse vuur sien brand in my geestesoog. Nadat sy wakker geskrik het uit die droom, het sy vroeg môre opgestaan en begin om van familielid na familielid te stap en vir hulle te sê dat hulle hul moet bekeer en na God toe moet gaan want hulle is op pad hel toe en dat die hel ‘n verskriklike plek is. 

Ek ervaar voorwaar die kragtige bekerings boodskap van hierdie jong vrou. 

Emka is die vrou van die derde paartjie wat onder die indruk gekom het dat hulle moes trou en nie verder in sonde moes saamleef nie. Sy en haar man Petrus is dan ook getroud op 1 Maart 2019. (Kliek BY DIE NEDERIGES

Wat vir my opmerklik was hoe die gesig van Emka verander het na haar troue. Hoe haar gesig begin straal het nadat sy die stap in gehoorsaamheid geneem het en nie meer in sonde saamgeleef het nie. Wat my ook verder opgeval het is hoe die Here haar aanwend nou nadat sy in gehoorsaamheid opgetree het, hoe die Here haar as ’n instrument gebruik in hierdie gemeente. 

Makalani 

Na die diens op Oupos het ek en Karel oorgery na die samekoms plek by Makalani waar ons die tweede diens van die dag sou hou. Op Makalani aangekom merk ons ’n paar nuwe gesigte op, maar sonder om te veel daaraan aandag te gee gaan ons voort met die erediens . Hierdie keer is die preek se tema die sondeval – van Adam en Eva wat in opstand gekom het teen God. Op Makalani tolk Johannes Tampan vir die ere diens. 

Die diens het goed afgeloop en ouder gewoonte kom ons na die diens bymekaar om te bid vir almal wat gebed nodig het. Terwyl ons bid vir ’n jong man dra die vrouens/of ondersteun hulle swaar ’n vrou wat vir my baie oud lyk na ons toe. 

Karel, Johannes Tampan en ekself is besig om te bid terwyl hulle haar nader bring en ek merk haar eers regtig op toe ek omdraai om te begin groet . Ek neem sommer dadelik aan dat sy daar is dat ons vir haar gesondheid moet bid, maar oudergewoonte vra ek haar uit oor hoe haar saak met die Here staan. Jy kon my omtik met ’n veer toe die ou vrou sê dat sy haar saak met die Here wil regmaak dat sy nie in Hom geglo het nie, maar sy glo nou wel. EK het haar deeglik deur die twee tolke uitgevra om seker te maak of sy verstaan. Sy bely haar skuld saam met ons en doen ’n oorgawe aan die Here Jesus. 

Dit was voorwaar ’n baie kosbare oomblik vir elkeen van ons. Nog ’n “kind” het huis toe gekom! 

Net so kosbaar is dit wat na die gebed gebeur het. Nadat ons saam met haar gebid het, en toe nooit eens vir genesing gebid het nie, staan sy op en loop self terug na die huis se stoep toe! Ek was oorstelp van vreugde vir haar en gevul met absolute blydskap in my Here. 

Ek het weereens deeglik besef dat wanneer ons gedruk voel om moed te verloor en om tou op te gooi dan is dit baie maal omdat daar ‘n felle veldslag aan die gang is in die realm wat ons nie verstaan nie en omdat die vyand weet hy moet alles in die stryd werp want hy gaan een van sy kinders verloor want hulle gaan terugdraai na die Here toe. 

Soli Deo Gloria 

NS. Saterdag 4 Mei was ons weer aan by Makalani om ‘n foto van ouma te neem en dit wil vir my voorwaar lyk of sy jare jonger geword het in die kort paar daggies. Die duiwel is ‘n harde meester, wat mense moeg, gebreek en uitgeput agterlaat terwyl die Here se juk sag is en sy las lig.

Karel Ganseb, getroue geestelike leier, medewerker en tolk!


2 opmerkings:

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.