BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 01 April 2015

RAAD WAT NIEMAND WIL HOOR NIE

- STERWE : die koninkryksgeheim vir vrugbaarheid.


Sterwe om te kan lewe! Jesus se woorde in Johannes 12:24,25 is moontlik van sy ongewildste uitsprake vir mense in ons dag, maar dis die oplossing vir ‘n sukkelende kerk!

“Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in.
Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.”

“As die koringkorrel nie sterwe nie...” Geweldige woorde! Ingrypend radikaal! Jesus gebruik ’n eenvoudige beeld uit die landbou wat elkeen van sy hoorders goed sou verstaan. ’n Koringkorrel (of mieliepit) moet in ’n sekere sin sterwe sodat daar ’n oes kan kom. Hy moet sy huidige bestaan, identiteit en vorm as pit prysgee, onder die grond begrawe word en ophou voortbestaan as pit. As die pit by wyse van spreke sou weier, dan sou niks positief gebeur nie. Dit bly dan net alleen, daar’s geen oes nie en die pit mis sy bestaansdoel.

Jesus praat natuurlik in die eerste plek hier van Homself en spesifiek van sy sterwe aan die kruis. (dis kort voor die kruisiging) Jesus se sterwe aan die kruis lewer ’n ryk oes op van verloste mense. As Jesus nie gesterwe het nie, sou ons nie verlos kon word nie en daar sou geen oes van verlostes gewees het nie. Ons moet goed verstaan - Jesus het baie wonderlike dinge gedoen... preke, genesings, wonders.... maar nie een van hierdie dinge kon verlossing bewerk nie, Hy moes spesifiek sterwe en ons straf dra in ons plek. Daarom het Satan alles gedoen om Jesus van die kruis weg te hou... (hy het op 'n stadium selfs vir Petrus ingespan - Matteus 16:21-23)

Jesus moes sterwe! Sonder sy sterwe kon daar geen oes wees tot eer van die Vader nie! Jesus het om ons te red doelbewus ’n lewe van vernedering en lyding gekies wat uitgeloop het op die kruis.

EN ONS?

Hierdie selfde beginsel van sterwe om te kan lewe maak Jesus van toepassing op sy volgelinge. (vers 25) Dis op ons van toepassing op ’n aangepaste manier. Aangepas, want ons lyding verdien nie vir ons die lewe nie en bewerk nie verlossing nie. Anders gestel, niks wat ons kan doen kan vir ons sonde betaal nie. Geen offer wat ons kan bring kan die slegte dinge wat ons gedoen het uitkanselleer nie. En tog word daar van elke kind van God verwag om te sterwe aan sy eie voorkeure en belange.

Wat beteken dit? Jesus moet eerste gestel word, uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Wie Jesus nie bo alles kies nie, kan Hom nie volg nie. Jesus kry voorkeur bo alles wat vir my belangrik en dierbaar is! In hierdie opsig moet ek sterwe aan my eie lewe.

Geen sterwe, geen lewe, geen sterwe geen groei, geen sterwe geen oes! En daarom as daar geen sterwe in my lewe is nie, is my Christenskap vrugteloos,vaal en vreugdeloos. Hierdie beginsel is waar van Jesus self en sy werk geld as ’n basiese vereiste vir volgelingskap. Maar dis OOK die SLEUTEL tot vrugbare getuienis en sendingwerk.

Sonder ’n doelbewuste keuse vir lyding en sterwe kan daar geen suksesvolle uitdra van die evangelie wees nie! Sonder n keuse vir lyding kan jy nie vir die Here werk nie - ook nie by die huis, werk, in die gemeente of verre sendingveld nie. 

Dis baie duidelik : Jesus moes deur lyding God se Koninkryk kom vestig. In Getsemane het Hy homself finaal bereid verklaar vir hierdie pad. Jesus se lyding en vervolging het egter nog nie opgehou nie.  Ons lyding is ’n voortsetting van sy lyding. Dit is soos Paulus sy lyding verstaan het. “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak." (Kolossense 1:24,25) Paulus het lyding verduur ter wille van die kerk. Paulus het lyding verduur om sodoende die evangelie te verkondig en die kerk te laat groei. Dit was ’n doelbewuste keuse tot lyding. Hy kon rustig eenkant ’n kommerlose bestaan gevoer het as Christen. Maar nee, hy kies om die pad van vervolging te loop sodat die evangelie versprei kon word. Paulus pas die beginsel van die koringkorrel prakties toe. “Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang." (2 Timoteus 2:9-10)

God het besluit om sy uitverkorenes deur die lyding van sy Seun te red. God het ook bepaal dat die evangelie deur die lyding van sy diensknegte versprei sou word. 

Evangelieverkondiging gaan onvermydelik met opoffering, lyding en sterwe in baie opsigte gepaard. John Piper stel dit so : More and more I am persuaded from Scripture and from the history of missions that God's design for the evangelization of the world and the consummation of his purposes includes the suffering of his ministers and missionaries. To put it more plainly and specifically, God designs that the suffering of his ministers and missionaries is one essential means in the joyful triumphant spread of the gospel among all the peoples of the world.

Lyding ter wille van die verspreiding van die evangelie behels gewoonlik ‘n doelbewuste keuse Om deur God gebruik te word in die uitdra van sy Woord moet ons bereid wees om baie kere en in baie opsigte te sterf. Wat sou dit prakties beteken? Wat moet ek opoffer sodat die evangelie kan versprei, in watter opsigte moet ek sterwe? (hier is nou nie malariamuskiete en kannibale nie - hoe sterwe ek ter wille van evangelie?) Kom ons kyk na drie praktiese areas. 

Sterwe aan, doen afstand van:

~Aansprake op die veiligheid van my gemaksone, my gerief en eie belang. Ons voel so veilig om weg te kruip in ons bekende gemaksones...bekende mense, bekende aksies, bekende omgewings... Die uitdaging is: Sterf vir jou gemaksone en gaan sit langs ’n plaaswerker of 'n straatkind...steek grense oor, praat met iemand van ‘n ander kultuur of sienings... Wees bereid om my eie voorkeure prys te gee, te kies teen eie belang in terme van tyd en geld. Om die evangelie uit te dra, sal ek dalk tyd opsy moet sit wat ek andersins tot my eie voordeel sou kon gebruik het. Hierdie opofferings is malligheid in die oë van die wêreld, maar ook in die oë van die meeste kerkmense. Maar dis presies wat dit God se kinders gekos het om die evangelie oor die wêreld heen uit te dra – hulle het winsgewende en aanloklike loopbane vaarwel geroep, familie en vriende verlaat, hulle kinders aan malariamuskiete blootgestel... (Dink aan talle voorbeelde : Martin Rautanen, CT Studd, Adoniram Judson, David Brainard, AA Louw...) Maar dit gaan nie net oor sulke opvallende groot sake nie - Om werklik die Koninkryk van God te laat kom moet ek dikwels doelbewus teen my eie welsyn, regte en gerief kies ook wat klein dingetjies betref. Baie mense is bereid om op ’n afstand betrokke te raak by die uitbreiding van die Koninkryk, hulle wil nie hulle hande vuilmaak nie. Tevrede om op ’n veilige afstand ’n tjek uitskryf wat hulle nie eens regtig voel nie. 

~Kulturele ekslusiwiteit. Dis nodig om ons trots in ons sak te steek en in nederigheid grense oor te steek na ander mense en kulture wat volgens ons norme anders of minderwaardig is. Ons moet bereid wees om in ander mense se lewe in te klim, hulle denke te probeer verstaan, opofferings te maak om hulle te akkommodeer. Opofferings ten opsigte van byvoorbeeld taal, kleredrag, eet voorkeure... Ons moet geduldig gewoontes en gebruike wat vir ons onaanvaarbaar is verdra. Gewillig om kulturele opofferings en aanpassings te maak. Weet U dis presies wat Jesus gedoen het - hy het sy hemelse bestaan prysgegee en een van ons geword! (Vergelyk Filippense 2) As ons die evangelie wil deel moet ons diensknegte word wat van ons troontjies afklim. (Daar is geen plek vir die Amerikaanse "back in the States" houding nie!) Dis presies wat Jesus gedoen het .... Hy het nie gekom om “gedien te word nie, maar om te dien..” (Markus 10:45)

~Alle ambisies en begeerte na sukses en populariteit. Laat vaar daardie begeerte dat almal van my moet hou! Sterf aan die begeerte wat ons het om bedank en waardeer te word. As ons werklik die evangelie wil bevorder, moet ons bereid wees om nederige metodes te gebruik, wat aan God al die eer sal gee. Om agter die skerms te werk, om weggesteek te wees. Wees bereid om ongewild te wees en deur ander van valse motiewe beskuldig te word. Mense gaan nie van jou hou as jy vir die beginsels van die Woord staan nie. Is jy bereid om veragting en spot te verduur? Bereid om onbelangrik te wees? Satan het Jesus versoek op hierdie punt... Hy wou Jesus op ‘n pad van sukses en belangrikheid laat afdwaal. (“Spring van die tempel se dak af” Dit sou Jesus baie gewild laat word het, almal sou Hom ge “cheer” het...) Maar Jesus kies die pad van die kruis. Sukses en erkenning mag nooit ons dryfkrag en motief wees nie. Ons moet bereid wees om die evangelie te bevorder al sien ons nooit sigbare suksesse nie. Ons begeerte om bedank te word en erkenning te kry, moet ons afsterf. Wees eerder gereed vir teleurstellings en beledigings. Vriend, en weet maar, as jy vir die Here wil werk gaan jy getoets word. Die skoolkinders of plaaswerkers met wie jy die evangelie deel, juis hulle gaan jou dalk skade aandoen, of ondankbaar wees – en dan? Sal jy nog volhard in jou getuienis? 

Kan jy sien, sonder ’n bereidheid om skade te lei, om te sterwe in vele opsigte, is daar geen kans dat ’n mens regtig die evangelie kan uitdra nie? Sonder sterwe, geen vrugdra, geen oes en daarom geen vreugde! 

Twee slotopmerkings:

~Waar lê die struikelblok, hoekom groei die kerk nie vinniger nie? Hoekom is daar nog soveel onbereikte mense na 2000 jaar van kerkwees? Min Christene is bereid om die pad van die koringkorrel te loop. Min is bereid om hulle finansiële aspirasies en sekuriteite af te sterwe, min mense is bereid om hulle gesondheid op die spel te plaas. John Stott verklaar : The greatest single secret of evangelistic or missionary effectiveness is the willingness to suffer and die.

~ Miskien is daar iemand wat eerlik en opreg is en nou sê :”Ek wil graag die evangelie uitdra - maar ek moet nog aan baie dinge sterwe, ek sal maar eers wag tot ek dit regkry.” Vriende net Jesus se sterwe was volmaak en volledig. By ons is dit ’n onvolmaakte proses. Dis ’n proses wat lewenslank duur. Solank as wat jy lewe sal die kind van God agterkom - hier is nog ‘n soeke na selfbelang en eie eer wat in my pad staan. Moenie wag totdat jy volmaak is voordat jy die evangelie begin uitdra nie- dan gaan jy nooit sover kom nie. Stel jouself maar net tot beskikking van Jesus, die Heilige Gees is getrou en sal jou wys waar jy moet sterwe. Dis ‘n lang en moeisame (maar avontuurlike) pad. Begin net, vandag...

Ek het nog skaars begin leer loop op hierdie pad, mag Hy my genade tot bereidheid daarvoor skenk...


Groen koring in Namakwaland

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.