BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 10 Januarie 2014

BEPLAN 2014

- hoe hoog is heiligmaking op jou agenda?

Nie almal het spesifieke nuwejaarsvoornemens nie, maar daar is darem seker by almal van ons verwagtinge oor die nuwe jaar en ‘n mate van beplanning. Daar is sekere dinge wat ons graag wil doen of weet dat dit gedoen moet word. Daar is dinge waarna ons uitsien of wat ons graag wil aanpak. Daar is gebeure waarop ons ons voorberei... soos 'n nuwe skool of nuwe besigheid, soos ‘n kind wat moet gaan studeer of wil gaan trou... Jou beplanning en jou dagboek, jou agenda of jou program, jou verwagtinge sê baie van wie jy regtig is... ‘n Sportman het ‘n oefenprogram en al sy groot byeenkomste word ook vooraf gemerk in sy dagboek sodat hy gereed kan wees. ‘n Besigheidsman teken sy afsprake aan... ens. Nou hoe sal 'n Christen se beplanning daar uitsien?
HOE LYK JOU JAARBEPLANNING?

In die kind van God se beplanning en verwagting, sal en moet daar benewens al die normale dinge van die lewe, een groot saak ‘n belangrike rol speel. Die wederkoms van Jesus en die einde van hierdie wêreld! (Petrus praat met ons hieroor in 2 Petrus 3:1-15) Anders gesê : Die dag van God! Petrus moedig die kinders van God aan om hierdie verwagting te hê, maar hy veronderstel ook dat dit so is. Ja, die normale kind van God, het ‘n verwagting dat Jesus gaan kom. Kyk bietjie weer na vers 12,13 en 14. "Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.

Wat van my en jou hier aan die begin van 2014? Leef daar in ons hierdie verwagting en uitsien dat Jesus kan kom? Wat gaan werklik deur jou gedagtes as jy van die wederkoms hoor? Wat maak die woord “wederkoms” en “einde van die wêreld” by jou wakker? Wat is jou ware gevoelens oor hierdie saak? Daar is ‘n paar moontlikhede:

- Dis glad nie deel van my verwagting en beplanning nie. Jy redeneer ook dalk so stilletjies in jou agterkop : “Dis nou al amper twee duisend jaar dat Jesus beloof het om weer te kom en niks het nog gebeur nie. My grootjie en my oupa het al in hulle tyd gedink die wederkoms is naby...nou is hulle lankal dood en steeds het niks gebeur nie...” As jy so redeneer, sê Petrus is jy deel van die spotters! “Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot en sê: "En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af." (3,4) Hierdie spottery dui daarop dat jy in alle waarskynlikheid ook net volgens jou eie begeertes lewe, jy doen wat jy wil en steur jou nie aan God se opdragte nie. Mense wat nie ‘n wederkomsverwagting het nie, het moreel slordige lewens. Net een raad : Bekeer jou betyds. Net soos die sonvloed in Noag se tyd die spottende en houtgeruste mense onverhoeds betrap het kan die wederkoms (of jou eie dood) jou onverhoeds betrap... Jesus praat van sy wederkoms : “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.” (Lukas 17:26,27)

- Miskien glo aan die wederkoms, jy weet dit sal iewers eendag gebeur. Maar as jy nou eerlik is met jouself, hoop jy dis liewers nie te gou nie. Dit sal eintlik ongeleë wees, want sien daar is soveel ander dinge wat vir my belangriker is, daar is soveel dinge wat ek nog wil doen : nuwe besigheid opbou, begin met studies, ek wil trou... “Ek is bang as Jesus nou kom gaan ek party dinge misloop...”, is jou geheime gevoel. Geliefde, vir die kind van God kan daar niks heerliker wees as die koms van Jesus nie! Ondersoek jou hart of jy al die kosbaarheid van Jesus besef het. Ja, natuurlik, ons moet voluit aangaan met ons daaglikse lewens en ons werk geniet, maar die kind van God moet ‘n gedurige hoop en verwagting koester dat ons finale verlossing voor die deur is. Daar is niks wat ons meer kan begeer as dit nie.. die einde van ons stryd teen sonde, die verdwyning van hartseer, onvolmaaktheid en onreg... die ewige heerlikheid in die teenwoordigheid van God! A jy nie uitsien na hierdie dinge nie, wel dan is daar iewers ‘n skroef los...

- Dalk is jy baie eerlik, jy is bang, want jy is nie gereed nie. Jy weet jy ken Jesus nog nie, al is jy dikwels in die kerk. Jy weet dat jy eintlik nog jou hele lewe lank vir Hom wegkruip, want daar is dinge in jou lewe waarvan Hy nie hou nie... Daar is bedrog, materialisme, seksuele onreinheid, haat of bitterheid in jou lewe... en jy weet jy kan Hom nie so tegemoet gaan nie... Luister mooi : Jesus het nog nie gekom nie... en een van die redes is juis om jou nog ‘n kans te gee vir ware bekering sodat jy gered kan word. (15) Maak gebruik van die genadegeleentheid!

Dis ‘n feit : Jesus is aan die kom! 

Dis ‘n voortdurende realiteit vir elke kind van God. (Ja, kom ons wees eerlik, dikwels vervaag dit en dis juis waarom die Woord ons weer daaraan herinner!) 

Dit bring ons by die eintlike saak waaroor dit hier gaan. Watter effek het die wete van die naderende wederkoms op die ware kind van God? Watter emoies sal hierdie feit by ons wakker maak ? Laat ek onmiddellik sê : Nie spekulasie, die opdiep van bangmaakstories en berekening van datums nie. (dis ‘n stokperdjie vir party mense en lei tot groot verwarring en teleurstellings) Wat wel? 

 Najaag van heiligheid! 

Hieroor laat Petrus geen twyfel nie! “Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe.” (11) “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” (11OAV) “Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.” (14) Ons kry dieselfde gedagte ook in 1 Johannes 3:1-3 “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.” Weet jy, jy hoef eintlik nie vir mense te sê jy sien uit na die wederkoms nie , dit sal sommer wys uit jou lewe en jou ideale! Christene wat uitsien na Jesus se koms het ‘n verlange na ‘n diepe reinigende werk van God se Gees – ‘n herlewing, ‘n ontwaking! (op persoonlike vlak, maar ook groter) 

Wie beplan vir die wederkoms beplan vir heiligmaking. 

Wie die koms van Jesus waarlik verwag, het heiligmaking op sy agenda. Is dit jou diepe begeerte om in 2014 heiliger te leef? Om God meer lief te hê en ook die dinge waarvan HY nie hou nie, uit jou lewe te verwyder? Is jy bereid om drastiese stappe te neem? Ja, is jy gewillig om daardie onrein verhouding te verbreek, oneerlike besigheidspraktyke te los, daardie jarelange vyand uiteindelik vergewe en die strydbyl te begrawe...? Hoe ernstig is jy regtig? Daar is ‘n onmiskenbare duidelike korrelasie tussen ‘n gelowige wederkomsverwagting en die najaging van ‘n heilige lewe.

Die kind van God se jaarbeplanning lyk in baie opsigte maar net soos ander mense s’n... en tog is daar ‘n onderliggende verskil. Jesus kom dalk hierdie jaar. (of ek sterf en gaan na Hom toe) Hierdie verwagting word daagliks sigbaar as ons erns maak met ‘n heilige en vrugbare lewe!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.