BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 14 November 2014

STOP DAARMEE!

- REGUIT RAAD VIR ELKEEN WAT SUKKEL MET SONDE.  

“Ek sukkel met sonde. My sonde maak my moedeloos! Ek voer 'n jarelange stryd teen...” Dis die versugting van baie kinders van God. Die kind van God het inderdaad ‘n stryd teen sonde. Dit weet ons almal uit eie ondervinding en die Bybel praat ook baie daarvan. Die vraag is net, is daar raad vir hierdie stryd, is daar oorwinning? Of moet ons soos baie mense skuil agter die verskoning van “ons is maar net swakke mense”? 

Die Apostel Paulus gee baie duidelike reguit raad oor die stryd teen sonde onder andere in Efesiërs 4:17-5:5. (Maak gerus jou Bybel daar oop) Of anders gestel, hy verskaf duidelike opdragte oor die proses van heiligmaking. Voor ons daarna kyk moet ons net eers seker maak met wie hy hier praat. Hy praat nie met alle mense nie, maar met mense wat reeds kinders van God is. Wedergeborenes! “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.” (5:1) Ja, hulle was heidene, maar is mense wat nou Christus leer ken het. “Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.” (4:20,21) Die oplossing wat Paulus hier gee vir die probleem van sonde is dus ‘n oplossing wat bedoel is slegs vir mense wat reeds aan Jesus Christus behoort. (As jy nog buite Jesus staan, ‘n onbekeerde is sal dit jou niks help nie. Dan woon die Gees nog nie in jou nie en is jy magteloos teen sonde en ‘n slaaf daarvan. Dan is die enigste raad bekeer jou en glo in die Here Jesus!)

SKYNOPLOSSINGS

Voor ons by die Bybelse raad van Paulus kom wil ek net twee valse sienings van heiligmaking uitwys wat baie verwarring en ellende onder opregte Christene veroorsaak :

1.Sommige sien heiligmaking as ‘n eenmalige bonatuurlike ervaring.* Net soos regverdiging/vryspraak, inderdaad ‘n eenmalige gebeurtenis is beskou hulle heiligmaking as een daad of belewenis. In ‘n krisisoomblik ontvang ek dan heiligmaking en betree ‘n “dieper lewe.” Dis egter baie duidelik uit hele Nuwe Testament – heiligmaking is ‘n voortdurende proses. Dit gaan oor die voortdurende doodmaak en uitroei van sonde! (Vgl. Romeine 8:13,)

2.Sommige sien heiligmaking as iets passief – dit word soms verwoord in die uitdrukking : “Let go and let God” Jy hoef niks te doen nie, laat net toe dat Jesus deur jou leef en besluite neem. Soos die passiewe mistisisme wat verkondig is deur (kliek op) Hannah Whitall Smith en deel was van die Keswick Teologie. Hierdie lering druis direk teen die Skrif in wat sê : “werp alles in die stryd...” (2 Petrus 1:5ev; Filippense 2:12) Die Bybelse lering is dat die kind van God, ‘n mens is wat nou die Heilige Gees binne in hom het. Die Heilige Gees maak ons nie passief nie, maar gee ons die krag waarmee ons teen versoekings, sonde en satan kan baklei!

[Baie aanhangers van bogenoemde teorieë is uiters opregte Christene wat smag na ‘n heilige lewe. Hulle kom bykans by elke heiligheidskonferensie na vore vir ‘n “oorgawe”, omdat hulle nie die Bybelse lering oor heiligmaking verstaan nie. Ander word moedeloos van “wag” op een of ander bonatuurlike ervaring wat hulle in ‘n baan van geestelike oorwinning sal inslinger...]

NIE BID NIE, MAAR : STOP! STOP! STOP!

Nou watse raad het Paulus vir Christene wat sukkel met sonde? Baie prakties, kort en kragtig : HOU OP! STOP! “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” (4:22-24) Nie, "gaan bid daaroor" nie, net - Stop daarmee! Geen lang verduidelikings nie. Paulus gee ook geen simpatie nie, maar ‘n opdrag! (So baie mense wil raad hê oor geestelike probleme, maar wat hulle eintlik soek is simpatie. Hulle wil graag hoor hulle sonde is nie so erg nie, of nie hulle eie skuld nie, maar die sameloop van omstandighede. As hulle dit nie kry nie, word hulle sommer kwaad vir die kerk...) Paulus sê eenvoudig : Stop met die verkeerde dinge en vervang dit met die regte dinge. Lê die ou mens af en beklee julle met die nuwe mens! (OAV) Om ‘n paar praktiese voorbeelde te noem : Stop met steel en begin werk. (4:28) Stop met vuil praatjies en sê eerder dinge wat mense kan opbou.(4:29) Stop met bitterheid en woede en vergewe mekaar. (4:31,32)

Begin eenvoudig om as Christen, wat reeds vergewe is, wat reeds Jesus se liefde ondervind het, die opdragte van God in die Nuwe Testament te gehoorsaam. “Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.” (5:2) Jy het geen verskoning om meer soos ‘n heiden in onsedelikheid, gierigheid, vuil praatjies en dergelike dinge voort te ploeter nie! Jy moet hoegenaamd niks meer daarmee te doen hê nie! (Kan jy nog ongestoord na jou immorele sepies kyk? Kan jy in ‘n saambly verhouding voortleef? Onmoontlik!)

KAN NIE OF WIL NIE?

Jy sê : “Ek kan nie. Dis juis my probleem. Ek is maar net ‘n mens. ” Is dit regtig waar of is dit dalk eerder : “Ek wil nie?” Waarom stop ons nie met dit wat God duidelik nie van hou nie? Ons besef nie die erns van die saak nie! Ons hou maar aan met ‘n bepaalde sonde, want ons besef nie die skrikwekkende konsekwensies nie!

Wat is die vreeslike gevolge van voortleef in sonde? Paulus noem twee dinge:

Jy bedroef die Heilige Gees! “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” (4:30) Dis iets vreesliks! Die Gees van God wat in jou woon word hartseer. Hy word hartseer omdat Hy in ‘n verhouding met jou staan. “Bedroef “ veronderstel ‘n innige verhouding. Ek bedroef nie ‘n polisieman as ek die wet oortree nie, maar ek bedroef wel my ouers of vrou as ek teen hulle oortree, want ons staan in ‘n verhouding! As ek die Heilige Gees wat in my woon bedroef is, kan ek geen vreugde beleef nie en ook geen sekerheid en troos nie, want dis juis Hy wat hierdie dinge aan ons skenk.

Paulus gaan nog verder om die erns van sonde te onderstreep. “Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ‘n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (5:5) Christenskap en immoraliteit is twee uiterste teenoorgesteldes! As jy aanhou met hierdie dinge, mislei jy jouself om te dink dat jy deel gaan wees van die koninkryk van God. Laat ons nie oor hierdie waarskuwing rasionaliseer nie. Kom ons luister maar net, dis God se Woord!

Kind van God, jy moet stop met dit wat verkeerd is, want sonde het skrikwekkende konsekwensies. Kind van God, jy kan stop met wat verkeerd is, want die Heilige Gees van God woon in jou.

En as ek dan wel nou weer geval het? Staan dadelik op en haas jou na jou Middelaar! 'n Christen is mos juis iemand wat in Jesus 'n onfeilbare Hoëpriester en Middelaar het! (Hebreërs 4:14-16)

*Dit kan nie ontken word dat sommige Christene na ‘n spesifieke ondervinding of ervaring, nuwe krag en oorwinning in hulle geestelike lewens vertoon nie. Wat waarskynlik gebeur het was dat so ‘n persoon nie nou eers heiligmaking ontvang het nie, maar wel insig in sekere waarhede gekry het, wat ‘n groot sprong in sy geestelike groei tot gevolg gehad het. 'n Groot stuk vordering word natuurlik ook gemaak as ek uiteindelik met 'n bepaalde sonde breek. Sulke ervarings vanuit mense se getuienis, kan egter nie as bewys aangevoer word vir ‘n “second blessing” teologie wat vryspraak en heiligmaking as twee afsonderlike losstaande fases in ‘n Christen se lewe verkondig nie. (Sien hieroor Martyn Lloyd-Jones se “Life in the Spirit”, spesifiek p386ev.)


Niks gebeur sonder moeite nie. (Kavango rivier by Rundu)

2 opmerkings:

  1. Baie goed Johannes. Een van die groot leemtes in die kerk vandag is daaglikse dissipelskap en heiligmaking.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Sas. Lanklaas van jou gehoor... Stuur 'n slag weer 'n bietjie nuus oor julle doen en late...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.