BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 19 April 2012

DIE GELUKKIGE TWEELING

- Heiligheid en Blydskap.

Laat ons nou maar eerlik wees. Heiligheid is nie ‘n onderwerp waaroor alle Christene altyd graag gesels nie. Ons sal dalk eerder oor sake soos gawes van die Gees redeneer of bespiegel oor tekens wat die wederkoms sal voorafgaan. Heiligheid en heiligmaking bring so ietsie van ‘n benoudheid in ons binneste, want ons word in ons agterkoppe wysgemaak dat ‘n heilige lewe dalk tot vreugdeloosheid sou kon lei. “Jong, as jy nou ernstig begin om ‘n heilige lewensstyl na te volg, gaan jy ‘n klomp lekker dinge misloop”, fluister die Verleier in ons ore.

Nou, die opdrag tot heiligmaking aan alle kinders van God is so duidelik soos daglig. In 1 Petrus 1:16 kom God se opdrag kort en klaar na ons:

“Wees heilig, want ek is heilig”

Heiligheid is egter nie iets waarvoor ons hoef terug te deins of te skrik nie. ‘n Heilige lewe volgens God se bedoeling verarm nie ons lewens nie en maak ons ook nie nors ongelukkige on-mense nie! Hoe so? Heiligheid gaan saam met vreugde.  Ware heiligheid en ware blydskap is ‘n baie gelukkige tweeling! Kom ons probeer verduidelik. Ons weet die praktiese standaard van heiligheid wat God vir ons daargestel het is gelykvormigheid aan Jesus Christus. Hy  is nie net ons Redder nie, maar is ook ’n voorbeeld wat gereddes moet navolg. (1 Petrus 2:21) En dink daaraan : Jesus was volkome gelukkig, maar Hy was sonder sonde! Die gelukkigste mens ooit!  In Hebreërs 1:9 (OAV) word daar na Jesus verwys as die skrywer uit die Psalms aanhaal : “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat, daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle (tydgenote)” Ja, selfs die lyding en spot wat Jesus as die Man van Smarte moes verduur kon hierdie blydskap nie uitwis nie.  En hierdie blydskap het Jesus ook vir ons bedoel. “Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 16:24)

Oor die onskeibaarheid van heiligheid en blydskap het Robbert Murray M’Cheyne die volgende gesê : 

“To gain entire likeness to Christ, I ought to get a high esteem of the happiness of it. I am persuaded that God’s happiness is inseparably linked in with his holiness. Holiness and happiness are like light and heat. God never tasted one of the pleasures of sin. Christ had a body such as I have, yet He never tasted one of the pleasures of sin. The redeemed through all eternity, will never taste one of the pleasures of sin; yet their happiness is complete. It would be my greatest happiness to be from this moment entirely like them. Every sin is something away from my greatest enjoyment. ...The devil strives night and day to make me forget this or disbelieve it.”

Heiligheid bevorder ons blydskap, sonde steel ons vreugde!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.