BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 23 April 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (9)

- die lofliedere gee ‘n Christusperspektief

Ons het verlede keer gekyk  na die funksie van die Ou Testamentiese apokaliptiese beelde. (Diere, koppe, horings ens.)  Hulle gee nie detail antwoorde op die vraag : Wanneer sal als gebeur? nie. Hulle volg ook nie 'n kronologiese volgorde nie. Hulle antwoord is net : Aan die einde of anders gesê op die Dag van die Here!  Onthou weer die dissipels se vraag in Handelinge 1:6. “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Jesus se antwoord (vers 7,8) oor die Heilige Gees en hulle getuienistaak, wys daarop dat God se Koninkryk gevestig word in die laaste dae nl. die tyd tussen sy eerste koms en sy wederkoms! (Dit sluit NOU in!) Die Dag van die Here kom o.a. tot vervulling in en deur die kerk soos en wanneer ons die evangelie verkondig! Getuienis is nou ons groot taak!

Die dissipels se fout (en baie van ons s’n vandag) was om die herstel van die Koninkryk of die dag van die Here as een dramatiese gebeurtenis te sien en te verwag. (En tussendeur al ons spekulasies, ons getuienistaak te verwaarloos)

Die basiese inhoud van die Dag van die Here is die Jesusgebeure, m.a.w. die evangelie van die kruis en die opstanding! Die einde het aangebreek in Jesus : die geslagte Lam wat gely het, Hyself het die groot verdrukking deurgegaan, Hy behaal die oorwinning, die groot slag teen Satan is gewen aan die kruis, deur sy kruis en opstanding bind hy die Satan ens. Hierdie Jesus gebeure het vir ons die ewige erfenis van die Koninkryk verwerf!
Jesus doen dit deur lyding (LAM), maar Hy is reeds die oorwinnaar (LEEU)! Ons as die verlostes, die kerk van Jesus deel in hierdie dubbele karakter. Die kerk word geroep tot lyding (ons kan dit nie vryspring nie), maar is terselfdertyd oorwinnaars! Ons finale verheerliking sal egter eers plaasvind by die finale verheerliking van Jesus  by die wederkoms!

Ons probleem in praktyk is dat ons menslike beperkte perspektief veroorsaak dat ons lyding wat ons nou verduur, die heerlikheid wat reeds ons s’n is, laat verdof. Weens ons swaarkry is ons geneig om die heerlikheid wat aan ons behoort mis te kyk en daarvan te vergeet. Dis juis hierdie  probleem en misverstand wat Openbaring wil regstel.

Die evangelie feite is die oorheersende feite in Openbaring! Jesus en sy oorwinning is die groot gebeurtenis van die verlede, hede en toekoms! Dis waar die klem moet val en wat ons moet laat koershou. Kom ons kyk net weer hoe bied Johannes dit aan reeds in die inleiding in
Openbaring 1:5-7

Verlede tyd : (5,6) Jesus het ons bevry, verlos en ons ’n Koninkryk van priesters gemaak.
Hede : Jesus is NOU die Heerser oor al die konings van die aarde! Hy is NOU die beskermer van die gemeentes. (16,20) Hy het NOU alle mag oor lewe en dood! Die hele boodskap van Openbaring is ook van toepassing op die NOU! 
Toekoms : Hy kom sigbaar in die toekoms! (7)

Belangrik : Die feit dat Jesus NOU regeer beteken dat HY reeds die oorwinning behaal het oor sy vyande (Satan) deur die kruis en opstanding! Dis nie iets wat nog moet gebeur nie. (Die Satan hoef nie nog gebind te word nie, Hy is alreeds gebind!)

Hierdie fokus op Jesus as die Oorwinnaar word ingebring  tussen die apokaliptiese beelde wat uit die Ou Testament  kom. Dit word gedoen deur kort-kort  himniese gedeeltes (met ander woorde deur lofliedere en ook gebede) in te voeg tussen die beelde van diere, koppe, skale, ruiters  ens!  Juis om ons te laat verstaan dat ons die Ou Testamentiese profesieë en beeldspraak  moet interpreteer in die lig van die Jesus gebeure, die evangelie! Die Jesus gebeure is die vervulling van die Ou Testamentiese beelde!

Kyk saam na  Openbaring 5:9-10, 12. Let op die gebeurtenis van die verlede, naamlik die sterwe van Jesus skep die realiteit van die Koninkryk van priesters. “Hulle sal regeer” lê in die toekoms maar hierdie toekoms is nie in die verre toekoms alleen nie, maar ’n voortgaande reëling vanaf die tyd van verlossing! Ons as verlostes is ALREEDS sy Koninkryk van priesters (vgl. 1:6; 5:10) Openbaring bevestig net dit wat Paulus in Romeine 8:30 sê oor ons verlossing wat ’n vaste feit is! (Lees) 

Kyk na ’n ander lofgedeelte. In Openbaring 11 (maak jou Bybel gerus hier oop) kry ons die gedeelte oor die twee getuies wat doodgemaak is. (Twee is ’n getal wat op getuies dui - “in die mond van twee of drie getuies staan iets vas”) Kyk na Vers 9, 11- "drie en ’n half dae" - selfde as "42 maande" en "1260 dae" - drie en ’n half is simbolies ’n tyd van verdrukking. (Hierdie simboliek gryp terug op die  verskriklike verdrukking van drie en ‘n half jaar wat Israel beleef het onder die tiranie van Antiochus Epifanus in die 2de eeu vC. Dis ‘n tegniek wat die skrywer telkens gebruik om ‘n gebeurtenis of  term van die verlede as ‘n simbool te gebruik om ‘n bepaalde gedagte of nuanse oor te dra. Kom ek probeer dit verduidelik:  In ons geskiedenis was Bloedrivier ‘n geweldige slag wat nog steeds emosies gaande maak en bepaalde gebeure oproep. Almal weet darem van Bloedrivier! Ons gebruik nog steeds die term “Bloedrivier” om ‘n groot geveg of stryd aan te dui. Na ‘n besonder taai geweldadige rugbywedstryd sou ons vandag nog kon sê : “Sjoe, dit was ‘n regte Bloedrivier op daai veld! So dra ons ‘n emosionele konnotasie oor, iets van die intensiteit van die wedstryd, maar ons bedoel beslis nie dit was letterlik ‘n militêre veldtog nie.)  Die twee getuies simboliseer die getuigende kerk wat  onder druk en aanval van die bose verkeer, maar ten spyte van  terugslae oorwinnend is! Hierdie perspektief word dan gegee deur die stemme in die hemel wat heerskappy van Jesus bevestig. (11:15) Dit word aangevul deur die woorde van die 24 ouderlinge. (11:17-18) ’n Pragtige parallel van hfst 11 kry ons in Romeine 8:36,37 (Lees) Oorwinning te midde van swaarkry en selfs die dood!

Net terloops. Hierdie groot verdrukking van drie en 'n halwe jaar is nie 'n tyd wat nog iewers moet kom nie! Dis die belewing van verdrukking wat alle kinders van God in alle eeue moes verduur. Hoeveel kinders van God moes al op brandstapels en deur ander allerwreedste maniere sterf - hoe moet 'n verdrukking wat nog groter is as dit dan lyk? Of wat van die lyding van God se kinders in Noord-Korea? Kan Openbaring hulle troos as dit ons wil vertel dat daar iewers 'n groot verdrukking moet kom. Nee, hulle is reeds in die groot verdrukking en Openbaring verseker hulle en ons, dat God dit net tot op 'n punt sal toelaat!

Maar ten spyte van die werklikheid van verdrukking, vind ons hier 'n heerlike vertroostende boodskap vir elke getuie:

Kind van God, jy is onsterflik, onaantasbaar en onoorwinlik totdat God sou besluit dat jou getuienistaak op aarde afgehandel is! Getuig dus vrymoedig sonder vrees!

In Openbaring 15:1-5 kry ons die lied van die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld. Dit word genoem die lied van Moses. Dit word so genoem na aanleiding van die lied wat die Israeliete gesing het in Eksodus 15 nadat God hulle deur die Rooisee verlos het uit die hand van die Egiptenaars. (Weereens, Johannes vat ’n Ou Testamentiese tema en ontwikkel dit verder) Daar is min letterlike ooreenkomste in die lied behalwe met Eksodus 15:11. Die groot ooreenkoms lê in die perspektief op verlossing!   Die lied van Moses herdenk die magtige verlossingsdaad van God met die Uittog/Eksodus! Dis ’n gebeurtenis wat vooruitgesien het op die nuwe eksodus, die verlossingsdaad deur Jesus aan die kruis toe Hy ons uit die slawerny van sonde bevry het. Die groot dade waarvan die verlostes nou sing in Openbaring is die evangelie gebeurtenisse. (die kruis en opstanding van Jesus) Dit is die Dag van die Here wat aangebreek het in die Persoon en werk van Jesus. Israel het God se verlossingsdade aanskou en sing ’n lied, ons as gelowiges reageer ook met ’n loflied op die evangelie dade van verlossing in Jesus Christus.

SING JY SAAM OOR JESUS SE VERLOSSINGSDADE?

* Sien  Graeme Goldsworthy : The Gospel in Revelation

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.