BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 16 Junie 2014

GEESBEKRAGTIGDE GEMEENTE

- hoe klink dit in die praktyk?

Handelinge 1:8 is ‘n baie belangrike teks. Byna reg aan die begin van hierdie besondere boek verskaf dit ‘n geografiese en teologiese raamwerk vir die ontplooiing van Handelinge. Geografies sou die getuienis oor Jesus al weier uitkring van Jerusalem al verder tot in die hoofstad van die ryk, die magtige Rome! Teologies gesproke lees ons verder in Handelinge hoe die evangelie telkens nuwe grense oorsteek. Eers word die Woord gebring na die verbondsvolk Israel, daarna word die Samaritane wat hulself in ‘n teologiese niemandsland (hulle was ‘n bastergroep wat slegs ‘n gedeelte van die Ou Testament erken het) bevind het tussen die Jodedom en heidendom deur die evangelie aangeraak. En uiteindelik word talle grense oorgesteek sodat ook volbloed voormalige uitgeworpe heidene deel word van God se volk. Verder is Handelinge 1:8 ‘n welbekende en dikwels aangehaalde belofte van Jesus. Ons is dit so gewoond dat ons maklik die uniekheid daarvan miskyk. “Julle sal My getuies wees... “Getuies”, hoekom getuies, waarom nie net "boodskappers" nie? Nou dis nie sommer ‘n gedagte wat uit die niet opduik nie. Dis nie ‘n nuwe saak op God se agenda nie. Die wortels hiervan kom reeds uit die Ou Testament. Om dit reg te verstaan, moet ons oplet na die agtergrond en groeibodem soos ons dit spesifiek vind in die profesieë van Jesaja. Handelinge 1:8 is eintlik ‘n samestelling van begrippe uit Jesaja. Kyk ‘n bietjie na die treffende ooreenkomste :

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 32:15 So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word. Dan word die woestyn ‘n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ‘n bos aangesien word.

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 43:10 Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie,

Jesaja 43:12 Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.

Jesaja 44:8 Julle is my getuies: is daar ‘n God buiten My? Daar is geen ander Rots nie; Ek  weet van geeneen nie.

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 45:22 Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie. (OAV)

Jesaja 49:6 Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.

Merkwaardig, nê?

GEESVERVULDE KERK?

Dis een van die fokuspunte van Handelinge - dat die belofte van die Vader oor die skenk van die Gees vervul is. Dit was ‘n ingrypende gebeurtenis met verreikende gevolge. Dis alles wonderlik, maar wat nou van ons, beleef ons dit so of is dit wat in Handelinge gebeur het net ‘n pragtige stukkie geskiedenis? 

Ons kan vir ons self duidelikheid kry deur te vra : Hoe lyk ‘n Geesvervulde kerk onder beheer van die Heilige Gees? Uiteenlopende antwoorde kom na vore : Word die werk en werk van die Gees gekenmerk deur baie uitbundige blydskap en opgewondenheid.....of dalk eerbiedige stilte? Pasop vir uitwendige maatstawwe - dit kan alles vervals of leeg wees. Baie emosie kan ‘n meganiese aanplaksel wees, net so kan stille eerbied ook skyn en tradisie, meer selfgerig as Christus gerig wees. Pasop vir subjektiewe menslike beoordeling. Dit sal noodwendig verskil van persoon. Ons kan hierdie vraag nie beantwoord aan die oormaat of gebrek aan desibels tydens ‘n erediens nie. ‘n Meer betroubare en objektiewe manier om hierdie vraag van hoe ‘n Geesvervulde kerk lyk te beantwoord is om dit te doen vanuit die werk van die Gees. Ons onderskeiding moet gebou wees op die Skrif feite oor die Heilige Gees. Die Gees het ‘n bepaalde werk. ‘n Bepaalde doel en oogmerk. As dit sigbaar (en hoorbaar) plaasvind in ‘n gemeente sou mens met reg die afleiding kon maak dat Hy teenwoordig is. Kom ons kyk samevattend hierna vanuit die beskrywings van die Geesgedrewe getuienisse in Handelinge:

In ‘n gemeente waar die Heilige Gees werksaam is word die Gekruisigde Jesus waarlik as die opgestane Here erken en bely. Hoe werk dit nou alles? Jesus is aan die eenkant die uitverkore lydende Kneg. Die Geesvervulde apostels verkondig baie duidelik dat Jesus die lydende kneg was wat aan die kruis gesterf het in ooreenstemming met die Skrifte (Jesaja 53). Aan die anderkant; die Pinkstergebeure maak van die bang en onseker apostels vrymoedige getuies van Jesus se opstanding en heerskappy. Jesus tree dan ook inderdaad in Handelinge op as die opgestane Here. Nie meer lydende kneg nie, maar verheerlikte Here! Ja, Jesus die veragte kneg, bekend met swakheid en smarte, honger en dors, die Jesus wat met kinders, weduwees en bedelaars gemeng het, wat ander se spoeg in sy gesig moes verdra is nou die Here! Ons kry reeds ‘n dramatiese aanduiding van sy verheerlikte status as Hy die woorde van die God van Israel op sy lippe neem : “Julle sal my getuies wees.....” HY is Here, dis nou duidelik dat die kneg waarlik God is! Die konteks in Jesaja wat die agtergrond vorm van hierdie opdrag is baie belangrik- God se regsgeding (hofsaak) met die nasies om te bewys dat Hy die enigste God van die heelal is! (In hierdie hofsaak tussen God en die nasies, beroep God Hom op sy volk Israel as getuies, want hulle het mos sy kragtige verlossing uit Egipte ondervind. Die groot tragedie dan is dat hierdie getuies blind is. Hulle wat moes getuig het nou self agter die afgode aangeloop en het nutteloos as getuies geword. In die Nuwe Verbond genees God nou die getuies en maak hulle siende en bekragtig hulle. Daarom is dit so insiggewend dat toe God in Handelinge een van hierdie getuies uitkies en verander, naamlik Saulus, daar letterlik iets soos skille van sy oë afval! Die boodskap is duidelik : Die voormalig blinde getuie kan nou sien!) Handelinge 1:8 sê ook egter iets wonderbaarliks oor Jesus! Wanneer Jesus hierdie woorde op Sy lippe neem maak HY presies juis aanspraak op die uniekheid van God. Hy self is die enigste ware God, die God van die Nuwe Israel. Hy, nie die afgode nie is die ware God en Redder van die wêreld. Die taak van die Heilige Gees is om te getuig en te oortuig van die heerlikheid van Jesus.* Maar meer nog die Heilige Gees word gestuur om ons te bekragtig om te getuig oor die Goddelike heerlikheid van Jesus sodat hy die eer kan kry wat Hom toekom as Here.

In ‘n Geesvervulde gemeente sal daar absolute oortuiging van die uniekheid en genoegsaamheid van Jesus, van Jesus in beide hierdie fasette - Kneg en Here:

Van Jesus as Kneg met ander woorde die een wat gesterf het vir ons sondes - hierdie feit is die fondasie van sekerheid en ons gemoedsrus. Dis die enigste manier om die duiwel se aanklagte en beskuldigings teen ons te hanteer. John Newton, die bekeerde rampokker wat betrokke was in die gruwelike slawehandel en na sy bekering die skrywer van “Amazing Grace” skryf ook ‘n ander vers wat soos volg klink : 

“Be Thou my shield and hiding-place,That sheltered near Thy side,I may my fierce accuser face, And tell him, Thou hast died.”

Dink aan John Newton... sy goddelose lewe, in die dieptes van ellende, daar’s feitlik geen sonde wat hy nie gedoen het nie... Dink net hoe sou die duiwel hom aangeval het en weer die bose prentjie van sy verlede voor hom opgerakel het... “Toe wil jy nou regtig sê jy is ‘n Christen, vergewe? Onthou jy nog daardie boosheid, wreedheid, verkragting...?” Wat kon hy die duiwel antwoord? Wel in hierdie vers sê Newton wat sy antwoord was. Daar is net een antwoord om die duiwel mee stil te maak : Christus het gesterf!

~ Maar terselfdertyd gaan die Geesgedrewe getuienis oor Jesus ook ‘n erkenning van Jesus as Here, Heerser, die een voor wie ons buig, vir wie ons gehoorsaam, vir wie ons bereid is om te ly. Hy moet die eer kry, die fokus sal op Hom wees. ..

Eenvoudig saamgevat - ‘n Geesvervulde gemeente (of persoon) sal bly wees oor Jesus en gehoorsaam wees aan Hom. Bly wees oor Sy werk aan die kruis, gehoorsaam aan Hom as Here en koning. Dit sal sigbaar word in praktiese sake soos heiligheid, gebedsywer, begeerte om Sy woorde te hoor en oordink en vrymoedige getuienis. Die Heilige Gees transformeer getuies om hiervan te getuig tot aan die eindes van die aarde. 

Is jy al deel van die getuigende skare wat die oorwinning van Jesus aan die wêreld verkondig en demonstreer?

* Vergelyk Johannes 16:7 een verder

NASKRIF : Ek het tans die heerlike voorreg om hierdie reeks Pinksterboodskappe in die NG Gemeente van Omaruru aan te bied. Dankie, ds. Jaco Rossouw!


[ NGK Omaruru]

Vir die begin van die PINKSTERREEKS 2014 kliek op HANDELINGE VAN JESUS

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.