- getuienisgreep wat herinner aan Handelinge.
['n Verdere uittreksel uit die boek wat ek skryf oor my Pa wat verlede jaar oorlede is. Vir die eerste uittreksel, kliek op WAARLIK VRY - die laaste sigaret ]
As mens die verhaal van die Etiopiër op die wa in
Handelinge 8 of Kornelius en Petrus in Handelinge 10 lees, sien ons hoe die Here aan beide kante werk om
‘n afspraak te bewerkstellig. ‘n Engel het met Filippus gepraat en hom gestuur,
maar die feit dat die Etiopiër juis toe besig was met die lees van Jesaja, was
ook nie toevallig nie. Net so het die Here aan die een kant aan Kornelius 'n opdrag gegee deur Sy engel, maar aan die ander kant werk
Hy met Petrus deur die nagmerrielaken vol onrein diere om hom vir ‘n spesiale opdrag
voor te berei. Petrus het geweet dit is
die Here wat hom, ‘n Jood, na ‘n heiden stuur.
Petrus moes maar net sy mond open en sê wie Christus is: “Van Hom getuig
al die profete dat die wat in Hom glo bekering en vergifnis van sonde in Sy
naam ontvang.” Johan de Koning kon
getuig van ‘n soortgelyke ervaring.
Maandagmiddag
6 Oktober 1954, net na sy terugkeer van die wonderlike konferensie waar God met hom
ontmoet het, stap Johan in Schoemanstraat, Arcadia oppad na die kantoor van die
Aartappelraad om sy fiets wat daar gestoor was te gaan haal. Onder ‘n boom
langs die sypaadjie gewaar hy ‘n swartman. Meteens kom daar diep in sy binneste
die gewaarwording : “Gaan praat met daardie man!” Sy innerlike reaksie was
onmiddellik : “Wat, ek met ‘n kaffer gaan praat hier in die straat! Wat sal die
mense sê?” (Onthou, dit was nog
apartheidsjare! Dit was die woord wat in sy gedagtes was.) Johan stap nog aan
en toe hy regoor die man was, was die “stem” so duidelik dat hy geen twyfel
gehad het dat dit die Here was wat met hom gepraat het nie. Hy los maar sy argument van “wat sal die mense
sê?” Johan het na die man gestap en gegroet. Hy was besig om te lees. “Wat lees
jy?”, vra Johan. “My Basie”, kom die
eerbiedige antwoord, “Ek lees van Jesus.”
Nou was Johan nog meer bewus dat die Here in die saak is. “Maar ken jy
die Here Jesus?”, vra Johan weer. “Nee,
Basie, maar ek wil Hom graag ken.” Johan
se vrees het nou in oorvloedige blydskap verander.
Johan
het die man gevra om te wag sodat hy sy fiets kan gaan haal en uitgenooi om dan
saam met hom na sy kamer te gaan. Hy was nou haastig. Die gebou se ingangshek waar sy fiets was, was gesluit. Byna
desperaat pluk hy aan die hek en roep na die wag. Gelukkig was die wag daar en
kon hy sy fiets kry. Toe Johan so ‘n halfuur later weer terug is, het die man
onder die boom nog gewag.
Saam
stap die twee na Johan se kamer. Hy het op sy
bed gaan gesit, en die man so skuins teen sy kamermaat se bed. Met geen ondervinding, maar darem kennis van
verse soos 1 Johannes 1:7 en 9 het Johan die man gehelp. Met oortuiging het die man gesê : “Ek
glo” en het hulle saam op hulle knieë
gegaan om te bid. Dit was ‘n onvergeetlike hemelse ondervinding. Die volgende
dag het Johan vir hom ‘n Bybel gekoop.
Lees ook PA WORD TAGTIG
Lees ook PA WORD TAGTIG
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.