BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 04 Julie 2013

HELP DIT OM TE BID?

- Ja, selfs ’n diktator kan nie keer dat God sy kinders help nie!

In die media is daar soms ‘n debat aan die gang of gebed enigsens ‘n verskil maak. Die argumente wat rondgestrooi word, ontbloot  natuurlik  net die mens se totale onkunde oor gebed.  Die algemene vertrekpunt is dat gebed ‘n metode is om die lewe hier op aarde geriefliker vir onsself te maak. ‘n Towerstaffie wat  probleme soos armoede, siekte en misdaad van ons voorstoep af moet weghou. Waar hierdie probleme na gebed nie verdwyn nie, gryp godloënaars (en veral die nuwe arrogante Afrikaanse ateïste) dit gretig aan as bewyse dat God nie bestaan of nie gebede kan verhoor nie. Wat ‘n dwase mistasting!  Die hele konteks en aard van gebed soos dit veral in die Onse Vader na vore kom word gerieflikheidshalwe verswyg. Gebed is nie ‘n greep op God om Hom in ons diens te stel nie, maar is juis  die manier hoe ek myself tot sy diens beskikbaar stel, in die groot doelwitte van die eer van sy Naam, die koms van sy Koninkryk en die doen van sy Wil! En ja, wie hiermee besig is, kan inderdaad vir sy Hemelse Vader vra om te voorsien wat ons op hierdie pad nodig mag kry. Ons is mense met fisiese nood en ons mag dus bid vir ons daaglikse behoeftes, ons is steeds onvolmaak en het vergifnis nodig en mag daarvoor bid, ons is in ons oppadwees na God se doelwitte teikens van die Satan en mag daarom bid dat God ons van die bose sal bewaar! (Kliek op U-draai in die Binnekamer)

Ek het onlangs weer ‘n aangrypende voorbeeld van gebedsverhoring raakgelees in Jan Pit se boek, “PARAAT VIR DIE EINDSTRYD”. Dis ‘n dramatiese antwoord op gebed  wat hy en die bekende Broer Andrew van GEOPENDE DEURE destyds in Uganda onder die gruwelbewind van die diktator Idi Amin beleef het. Dis maar net ‘n bevestiging, dat God gebed verhoor, soos Hy wil, maar dit gebeur in die konteks van ons bevordering van sy eer en die beywering vir sy Koninkryk en die doen van sy wil!

Hier is Jan Pit se verhaal:

In 1976 het Broer Andrew en ek die eerste maal Uganda besoek. Ons was daar op uitnodiging van die Anglikaanse kerk om te sien wat ons vir die Christene in daardie land kon doen. Die nood was groot, en na baie gesprekke met die kerkleiers, het ons besluit om 
50 000 Bybels na Uganda te stuur.

Dit was ‘n gevaarlike reis, maar ons het geweet dat daar baie gebedsgroepe was wat saam met ons in die stryd was. Die vrug op hulle voorbidding was ‘n geweldige oorwinning. Die dag voor ons terugreis, het ons na die reisburo in Kampala gegaan om ons vlug te bevestig. Hoewel ons geldige vliegtuigkaartjies gehad het, blyk dit skielik dat ons name op die waglys staan. Ons sê toe dat ons ons terugreis reeds in Kenia bespreek het en dat hulle dit via die rekenaar kon nagaan.

Die dame glimlag net en sê dat daar nie rekenaars in Uganda is nie. Ons name was heeltemal onder aan die waglys, met 16 name voor ons s’n. Die probleem was dat ons visums die volgende dag sou verstryk het. As ons dus nie plek op die vliegtuig kry nie, sou ons die volgende dag onwettig in Uganda wees. Vriende het vir ons gesê dat dit waarskynlik ‘n plan van Idi Amin was om vir ons in die moeilikheid te bring en dat ons daarom op die waglys geplaas is.

Ons kon hoog of laag spring, niks het gehelp nie. “Nou, as hoogspring nie help nie, laat ons dan maar na die Hoogste bid”, het Broer Andrew gesê. Ons het teruggegaan na ons hotelkamer en daar neergekniel voor die Here.

Ons het geweet dat dit ‘n geestelike stryd was. Idi Amin wou ons nie laat gaan nie. Ons gedagtes het uitgegaan na ons gebedsvriende. “Here, lê dit op hulle harte om vir ons te bid,” het ons vir die Here gevra. Ons het gepleit op God se belofte dat Hy in al ons behoeftes heerlik sal voorsien.

Was ons nie dan sy ambassadeurs nie? Dan moet ons tog ‘n ambassadeursbehandeling verwag!

Die vliegtug sou die middag om vyfuur vertrek. Ons besluit om vroeg na die vliegveld op Entebbe te gaan om te kyk of daar nog iets vir ons gedoen kan word. Toe ons daar kom, was daar niemand te sien nie, behalwe twee passasiers wat ook al opgedaag het. Hulle het by die toonbank gestaan waar ons later ons bagasie moes inweeg.

Na ‘n halfuur het nog meer passasiers gekom en agter ons kom staan. Die ry het langer geword. Die dame wat vir ons die sitplekkaartjies moes gee, daag egter nie op nie. Dit was al vyfuur en nog was sy nie daar nie. Gelukkig kon ons die vliegtuig sien, klaar om te vertrek. Om halfses kom sy toe, saam met ‘n Ugandese soldaat. Hy gaan staan agter die toonbank en roep uit dat ons moet stilwees en luister. Dit word dadelik doodstil. Toe verskaf hy die volgende mededeling : “Dames en here, u moet goed na my luister. Ek wil g’n paniek hê nie. Daar is ‘n probleem, want ons weet nie waar die passasierslys is nie. Ons begin dus voor; wie eerste gekom het, sal eerste gehelp word.”

Broer Andrew en ek kyk vir mekaar. “Halleluja! Halleluja!” sê ek saggies, om daarna gou my mond te hou. Stel jou voor dat die soldaat dit hoor! Vyf minute later het ons ons instapkaartjies.

Ons sitplekke is nie aangewys nie, want dit was nie nodig nie. Die vliegtuig is gewoonweg gevul; wie te laat gekom het is teruggestuur. Broer Andrew en ek het as die eerstes die vliegtuig ingestap! Ek vra toe vir die lugwaardin waar ons moes gaan sit. “U kan gaan sit net waar u wil, meneer, die hele vliegtuig is tot u beskikking!”

Werklike ambassadeursbehandeling! “Dankie, Here...eh...Juffrou”, sê ek, en sak in die eerste die beste stoel. Later het ons gehoor hoe die Here dit op die harte van gebedsvriende gelê het om vir ons te bid. “Ek het so baie aan julle gedink en geweet dat julle in die moeilikheid was, “ sê ‘n suster later aan my.

Dit is die realiteit van die geestelike stryd. Ons gebedsvriende was nie by ons in Uganda nie, maar het geweet dat ons in die nood was. Hulle het gebid... en die passasierslys het verdwyn!


Saam met die psalmis kan al God se kinders net bely en mekaar aanspoor: 

“o Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!” 
(Psalm 65:2)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.