- tagtig jaar se vreugde in Afrikaans.
Die Kosie Alberts Voortrekkerkommando van Tsumeb het
Vrydagaand 19 Julie die tagtigjarige bestaan van die Bybel in Afrikaans gevier
met ‘n fakkelloop en klein plegtigheid.
Tydens die geleentheid is Psalm 119:54 uitgebeeld wat sê : “U
voorskrifte is vir my ‘n lied in my lewe hier op aarde.”
Ons weet almal dat Psalm 119 die langste Psalm is en dit is dikwels ‘n
bron van humor soos byvoorbeeld in Herman Charles Bosman se bekende, “Bekkersdal
Marathon.” Psalm 119 is egter ‘n besondere psalm wat die wonders van God se
Woord beskryf...en mens sommer lus behoort te maak om self in die skatte van
die Bybel te delf!
Verskeie sinonieme word in die psalm gebruik om aspekte van God se
Woord uit te lig soos beloftes, bepalings, wet, verordeninge, gebooie ens. In
die uitgebeelde teks word die vreugde aspek van God se voorskrifte beklemtoon. Dis soos ‘n lied!
God se Woord maak ons bly en laat ons sing!
‘n Mens kan sommer onmiddellik aan twee redes dink (daar is natuurlik
baie meer) :
1. God
se Woord bring vir ons die verlossingsboodskap, die evangelie! Dis die Goeie
Nuus hoe God ons verlossing bewerk het deur die kruisiging, begrafnis en
opstanding van ons Here Jesus Christus. (1 Korintiërs 15:1-4) Dis waarlik ‘n
vreugdevolle boodskap, want deur sy kruisiging het Hy volledig die straf vir
eens en altyd in ons plek gedra, sy begrafnis wys dat Hy werklik dood was – die
voorgeskrewe boete vir die sonde is gebring. Sy liggaamlik historiese opstanding
is die onomstootlike bewys dat God die boete as genoegsaam aanvaar het. God is
tevrede dat geregtigheid geskied het en gee dus aan elkeen wat persoonlik in sy
Seun glo, volkome kwytskelding. Volledige vryspraak!
2. God
se Woord lei ons nie net tot verlossing nie, maar wys ons ook hoe om as
verlosdes waarlik tot Sy eer te leef. Sy voorskrifte in sy Woord is daarom die
lig vir ons pad en die lamp vir ons voet. Sy bepalings is billik en regverdig –
God is nie ‘n nors pretbederwer nie!
Nee, die opdragte in sy Woord beskerm sy eer en is tot ons beswil! Die
hartseer en ellende in hierdie wêreld, ja ook in ons huwelike en gesinne is
juis die gevolg van verontagsaming van God se wette. Daarenteen bring
gehoorsaamheid aan sy Woord, vreugde! Dit smaak soos heuning vir die kind van
God. (Psalm 119:103)
Ons as Afrikaanssprekendes het op ‘n geleentheid soos
hierdie dubbeld rede om bly te wees. Hierdie kosbare Woord van God is
beskikbaar in ons eie dierbare moedertaal! (En terloops om die rykdom van die
Woord te kan ontgin is taalvaardigheid nodig. Doen dus moeite om jou eie taal
se betekenis en fyn nuanses onder die knie te kry. Dit is so wonderlik om te
lees dat God ontsagwekkend groot en
heerlik is! Dis ‘n begrip wat by my verbygaan as my woordeskat beperk is tot “awesome”)
Benut en geniet jou Afrikaanse Bybel!
Charis hou die fakkel omhoog!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.