BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 06 Julie 2013

VAN DOOPVONT NA VERDOEMENIS

- daar is ‘n pad wat reg lyk maar in die verderf eindig.

Dis baie belangrik om die regte pad te kies. Dis net die regte pad wat na die regte plek lei. Die verkeerde pad bring mens by die verkeerde bestemming en dit kan groot moeilikheid veroorsaak.

Dis waar oor die algemeen, maar veral wat ons ewige bestemming betref, is dit nog meer waar en meer belangrik. Daar is net twee plekke waar mens die ewigheid gaan deur bring – ‘n ewige heerlikheid of ‘n ewige hel.  Vir altyd met God of vir altyd weg van sy aangesig. Ewige vreugde  of ewige smart. Beide is finale bestemmings – daar is geen omdraaikans nie. Daarom is dit so belangrik om reg te kies, om seker te maak.

Dis nie altyd so eenvoudig nie, want Spreuke 14:12 waarsku ons dat daar ‘n pad is wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is die DOOD.

“Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”  (OAV)
“Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” (NAV)

Daar is baie paaie wat vir die mens reg lyk of reg voel, maar dit lei nie na die lewe nie... Kom ons bekyk ‘n paar paaie wat vir mense reg lyk, maar wat by ewige smart eindig:

1. DIE PAD VAN SONDE. 

Dis ‘n baie lekker en maklike pad. Afdraend! Sonde is nie moeilik om te doen nie, dit kom sommer vanself. Dis die natuurlike weg, want ons word op hierdie verkeerde koers gebore. Jy hoef dus nie iets besonders boos aan te vang om op hierdie glypad na elllende te beland nie, gaan net normaalweg aan. Weet egter : Die gevolg van sonde en ongehoorsaamheid aan God is die dood, die ewige dood. (Romene 6:23)

2. DIE PAD VAN SELFGERUSTHEID. 


Dis ‘n pad wat reg voel. Dis ‘n roete sonder bekommernis. So baie mense troos hulle daaraan : ek voel goed, ek voel soos ‘n Christen, ek voel wat ek doen is reg... maar helaas, dis ‘n valse sekerheid, dis gebou op die sand van selfbedrog.  Hoekom? Jeremia 17:9 gee die antwoord. “die hart van die mens is bedrieglik bo alle dinge” Dis ‘n groot risiko om staat te maak op ons gevoelens of gemoedstemmings. Jy kan mos onbewus op ‘n verkeerde trein wees, sonder enige bekommernis, maar dit verander niks aan die feit dat jy by ‘n verkeerde bestemming gaan aankom nie. Dit gebeur mos dat ‘n student baie goed kan voel oor ‘n eksamen wat afgelê is, maar dan is die uitslag ‘n aaklige verrassing!

3. DIE PAD VAN DIE MEERDERHEID. 


Dis die verwarde logika wat redeneer : Ek dink ek is op die regte pad, want ek maak maar net soos almal maak. Ek is nie juis beter of slegter as die gemiddelde mens nie. Almal vloek maar, almal steel maar so ‘n bietjie, almal knyp maar die kat in die donker... Dis uiters gevaarlik om so te redeneer. Jesus het juis geleer dat die pad van die meerderheid die pad na die verderf is. Die meeste mense is op die verkeerde pad! Die pad na die lewe is smal en daar is min wat daarop loop! (Matteus 7:14,15) Die verkeerde pad is die maklike pad en daarom is die meeste mense daarop, die regte pad is maar moeilik en daar is min wat dit volg!

4. DIE PAD VAN VOORSPOED. 


Hulle wat hierop wandel troos hulleself : Kyk hoe goed gaan dit met my besigheid of boerdery. Kyk hoe help die Here my in my akademie of sport! Dit wys seker die Here is aan my kant en ek is op die regte pad! Dis ‘n baie gevaarlike redenasie. Natuurlik kan God goed wees vir sy kinders soos Hy wil, maar voorspoed en welvaart beteken nie noodwendig dat ek God se kind is nie. Dink maar aan die gelykenis van die ryk man en Lasarus. (Lukas 16) Lasarus was vrek arm, vreeslik honger en vrot van die siekte! Die ryk man het in vraatsige weelde geleef,  maar toe beide sterf, blyk dit dat hy en nie die ryk man altyd die geseënde was! (Terloops, mens wonder wat sê die Prosperity Gospel ouens oor hierdie gedeelte? Volgens hulle denkwyse lyk die ryk man na 'n handboekvoorbeeld van 'n geseënde en arme Lasarus 'n ernstige kandidaat om geklassifiseer te word as iemand wat onder 'n sogenaamde "Bloedlynvloek" gebuk gaan!) 

5. DIE PAD VAN GODSDIENSTIGE RITUELE EN ORDENTLIKHEID. 



Jy sal vra : “Maar hoe nou? Om kerklik en godsdienstig te wees is seker die regte ding?” Vriend, wees gewaarsku daar is wel ‘n pad van die doopvont na die verdoemenis! Vanuit die koel doopwater tot binne in die hittige hel! (die hoeveelheid water opsigself maak nie saak nie) Daar is baie mense wat gedoop is (klein of groot), wat kerklidmate word, wat in die kerk trou en uiteindellik uit die kerk begrawe word, maar vir ewig verlore sal wees.  Al hulle godsdienstige stappe was eintlik maar net nog ‘n stap nader na die oordeel. Hoekom? Hierdie is mos als mooi dinge? Ja, hulle het deur die regte rituele gegaan, maar Jesus was nooit in hulle lewe nie. Hulle was goeie mense, maar nie geredde mense nie. Hulle was dalk verbondsmense, maar nog nie verloste mense nie. Paulus was ook eers so. Hy het op sy godsdiens en afkoms staatgemaak, maar hy het nog nie vir Jesus geken nie. Hy vertel daarvan in Filippense 3:3ev. Gelukkig het hy toe later op ‘n punt gekom waar hy nie meer op hierdie dinge geroem het nie, maar op Jesus Christus alleen. Kerklidmaatskap en betrokkenheid, selfs ernstige betrokkenheid is geen vrypas tot verlossing nie. Die gelykenis van die vyf verstandige en vyf dwase meisies, die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring en talle ander Skrifgedeeltes, maak dit baie duidelik dat deelwees van die sigbare kerk nie noodwendig redding behels nie!

Nou watter pad is dan die regte pad? 

Gelukkig sê die Bybel dit vir ons baie duidelik in Johannes 14:6 waar Jesus verklaar :

"Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Almal wat Jesus aangeneem het en op Hom vertrou is op die regte pad. Hulle is kinders van God. (Johannes 1:12,13) Jesus het deur sy kruisdood en opstanding als gedoen wat ons nodig het om  vrede met God te hê. Wie Hom het , het die lewe! (1 Johannes 5:12,13)

Draai weg van jou sonde en volg Jesus. Moenie op jou gevoelens staatmaak nie, maar op Jesus se volmaakte offer aan die kruis. Moenie jou aan die meerderheid steur nie, maar bly by Jesus, al staan jy alleen. Moenie veiligheid  in rykdom of besittings vind nie, maar wees tevrede wat Jesus vir jou gee. Moenie op jou godsdienstigheid of goeie maniere vertrou nie, maar neem Jesus aan, eers dan maak bid en Bybellees, kerk en sakramente sin!


 BEHOORT JY AL AAN JESUS?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.