BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 25 Julie 2013

AS GOD OOR MY JUIG!

- het ek darem seker ook rede om te glimlag en Hom met toewyding te dank.


Ons is gewoond daaraan dat God praat. Reeds by die Skepping het Hy dit gedoen...telkens in die Woord hoor ons : “En die woord van die Here het gekom tot...” God praat egter nie net nie; Hy juig ook! 

Dit staan onmiskenbaar in Sefanja 3:17. “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” Nou is die vraag natuurlik : “Sluit dit my in?” (hieroor moet ons groot duidelikheid kry) Kom blaai saam met my deur die profeet Sefanja.

Wat kan God so opgewonde maak dat Hy tot jubeling oorgaan? Die glans van sy eie majesteit, die heerlikheid van sy skepping, die gehoorsame engeleskaar? Wel, miskien ook, maar hier in Sefanja juig God oor sy volk. Dit klink amper ’n bietjie snaaks. Om die waarheid te sê, dit lyk eintlik heeltemal uit plek uit en vreemd as ons in ag neem hoe kwaad het hierdie volk God gemaak, hoeveel teleurstelling en droefheid het hulle goddelose optrede veroorsaak. Ja, dit laat geen twyfel nie, Juda se sonde het God diep gegrief en veroorsaak dat Hy sy toorn op sy volk uitgiet. Die profeet Sefanja praat baie duidelik hieroor. Hoor bietjie: “Ek gaan my hand uitsteek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem, Ek gaan uit hierdie plek uitroei wat daar nog van Baäl oor is: die naam van die afgodspriesters, van alle priesters: dié wat op die dakke die hemelliggame aanbid, dié wat die Here aanbid en aan Hom trou sweer maar terselfdertyd ook aan Milkom, dié wat die rug vir die Here draai, na sy wil nie vra nie en Hom nie raadpleeg nie.” (1:4-6.) God het dit veral teen dubbelhartigheid! God se toorn raak nie net sy volk nie, maar gaan ook die nasies tref. “Daarom, wag vir My in vrees, sê die Here, wag vir die dag wanneer Ek opstaan en my buit kom vat. Ek het besluit om nasies bymekaar te maak, koninkryke saam te roep en op hulle my gramskap uit te stort, die volle gloed van my toorn: die hele aarde sal verteer word in die vuur van my woede." (3:8) 

’n Donker prentjie van oordeel oor Juda en die nasies! Maar God laat dit nie daar nie - Hy is toegewyd aan en verbind tot sy volk Israel. Sy verbond vergeet Hy nooit nie. En via sy verbond met Abraham is Hy ook toegewy om die nasies van die wêreld te seën. Die donker oordeelsuitsprake in die eerste dele van Sefanja vorm ’n duidelik kontrasterende agtergrond met die heerlike wending wat in 3:9 kom. “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.” Te midde van die oordeel doen God ’n genadewerk, Hy verander mense sodat hulle Hom sal dien. Hierdie begenadigdes is die ootmoediges/nederiges - destyds en ook vandag. Die wat hulle onder God se hand verneder. Die wat die oproep in 2:1-3 ernstig opneem. “Ruk julle reg, onbeskaamde nasie, voordat die besluit voltrek word, voordat die dag kom en julle soos kaf word voor die gloed van die toorn van die Here, voordat die dag van die toorn van die Here oor julle kom.Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land, almal wat doen wat die Here wil. Streef na geregtigheid, na nederigheid! Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here.” Dis duidelik wat besig is om te gebeur deur die verkondiging van die evangelie. Die heerlike evangelie boodskap smelt mense se harte en lei tot bekering en geloof. Die gesuiwerde volk van God is inderdaad die wat in nederigheid en ootmoed op die Here vertrou en ook lewensverandering toon... “Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie. Hulle sal ‘n kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak.” (3:13) In hierdie proses word die nasies van die wêreld  ook begenadig sodat hulle God met rein lippe kan dien. (3:9) Dis hierdie skare mense wat ’n nuwe lied tot lof van die Lam sal sing. (Openbaring 5:9,10) Sefanja se profesieë gee nie spesifieke tydsaanduidings van die oordeel van God en die redding van die nasies nie. Moontlik dek sy profesieë ’n hele tydperk van oordeel en katastrofes, maar ook van God se genadewerk. Redding en oordeel vind gelyktydig plaas. Dis opmerklik hoe hierdie twee sake saamloop in die heilsgeskiedenis. God verdelg die goddelose mensdom deur die sondvloed en terselfdertyd word Noag en sy familie gered. Net so, terwyl die oordele van God vir Egipte tref in die vorm van die plae, word sy volk verlos. Dis in ’n sekere sin ook waar van hierdie bedeling van evangelieverkondiging waarin ons nou is - vir sommige is dit ’n doodsreuk -  met ander woorde, oordeel, vir die wat glo is dit ’n lewensgeur – vreugdevolle redding! Met die koms van Christus sal oordeel en verlossing ook saamgaan... Terwyl sommige sal hoor : “Gaan weg van my julle vervloektes”, sal ander vreugdevol uitgenooi word : “Kom  julle geseëndes..!”

God red heidene om Hom te loof, maar Hy suiwer ook sy eie volk. (3:13) Vanuit die Nuwe Testament weet ons baie duidelik dat die heidennasies en die oorblyfsel van Israel uiteindellik een volk vorm - ’n gesuiwerde ware Israel, die Israel van God. (Galasiërs 6:16)* Die middelmuur van skeiding is afgebreek deur Jesus Christus. (Efesiërs 2:11-16) Let op : “tot een liggaam verenig” Alle gelowiges uit die heidennasies is nou deel van God se een volk Israel! 

Dit bring mens by ’n wonderlike gevolgtrekking : 

As God juig oor sy volk in vers 17 dan sluit dit ons in wat vandag deel is van die kerk van Jesus Christus! Ja, God juig oor jou!

Kind van God, God juig oor jou, Hy is opgewonde en bly oor jou. Hy is tevrede met jou. Hy is gevul met liefde vir jou... Ja, want in Jesus het Hy jou heeltemal vergewe, en volledig aangeneem as sy eie kind. Die engele juig oor elke sondaar wat hom bekeer, dit is ’n baie bekende feit - maar hier leer ons: God juig ook! Kom luister weer hoe God oor jou voel, glo dit, want dis sy Woord. God sing, juig oor jou! Ja, jy! 

Dalk klink dit vir jou vergesog - God is tog volmaak en algenoegsaam in Homself, kan Hy regtig so opgewonde en bly raak oor mense dat Hy juig oor hulle? Wel, dis wat hier staan. Ook op ander plekke word dit bevestig dat God positief emosioneel betrokke is by die welsyn sy volk. (Sien Jeremia 32:41 - God geniet dit om goed te doen aan Sy volk; Jesaja 65:19 - God sal jubel oor Jerusalem!)

Jy dink dis wonderlik, maar miskien is daar tog nog vrae wat pla. Kom ons bekyk hulle:

~ Miskien is jy nog steeds skepties. Jy wonder : “Ja, in beginsel is dit seker moontlik dat God oor sy mense juig, maar hoe kan God bly wees oor my, wat van al my skuld en sondes en mislukkings? Ek verdien net straf en oordeel..."
Wel, wil jy nie glo wat God in vers 15 sê nie? “Die Here het ’n einde gemaak aan jou straf” Ons weet Jesus het ’n vervloekte geword in ons plek sodat ons geseën kan wees! Hy het sy verlosdes se straf volledig gedra, daar is niks oor om te straf nie! Moet ons nie maar God se Woord glo nie?

~ “Ja, maar hoe kan God oor my bly wees, ek voel asof Hy so ver is?” Sê wie? God is nie vêr van jou nie. In vers 15 lees ons : “Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie.” Ook vers 17a! “by jou” Dit laat mens dink aan Jesus wat sê : “Ek is met julle.......” Moet ons Hom nie glo nie? HY is by ons!

~ “Ja, maar hoe kan ek dit glo dat God oor my bly is, ek beleef soveel hartseer, swaarkry, teenstand van vyande...” Hoor God se beloftes in vers 18. “Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het.” Is dit nie die waarheid wat Paulus ook bevestig as hy sê : “Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie...” Het jy al die vergifnis in Jesus aanvaar? Weet dan : God juig oor ons, Hy het ons skuld weggeneem en berei ’n nuwe toekoms vir ons. Dis waar ongeag ons huidige omstandighede. Dit gee vir ons rede om ook te juig. Trouens dis eintlik ’n opdrag. “Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!” (3 :14)

Nog ‘n paar praktiese gevolgtrekkings :

God, met respek gesê is nie ’n koue gevoellose rekenaar nie. Ja, God is selfgenoegsaam in Homself, Hy het ons nie nodig om iets in sy persoon aan te vul nie, maar dit beteken nie dat Hy onbetrokke is by mense nie. Ons verlossing is nie vir Hom bloot ’n koue kliniese saak nie. Ons redding is nie maar ’n meganiese afloop van sy besluite nie. Die verlossing van elke mens is ’n persoonlike genadedaad en liefdeshandeling van God Drie-enig en dit maak Hom bly! Hy is ’n persoonlike God wat in ’n verhouding staan met sy volk. Op verskillende maniere vind hierdie heerlike waarheid uitdrukking : God is ons Vader, ons is deel van die huisgesin van God, ons is die bruid van Jesus…

God laat ons ook nie half teësinnig in sy Koninkryk toe nie. Dis nie kwessie van: “Ja toe, kom maar in, ek het julle oorgesien” nie. Hy juig oor ons! Ons bring vreugde in sy hart. Uit die gelykenis van die Verlore seun kan ons iets agterkom oor hoe God voel oor sondaars wat huis toe kom : ons kry ’n ring, die vetgemaakte kalf word geslag en daar word partytjie gehou! Dit alles is natuurlik moontlik omdat Jesus die volle prys betaal het. Ja, God kan juig want daar bly nie sonde oor wat nog gestraf moet word ten opsigte van Sy kinders nie. Daarom kan Paulus so triomfantelik wees in Romeine 8:31ev. Daar is ’n tipe van ’n valse nederigheid wat te veel fokus op my eie sonde en te min bly is oor die volle vergifnis en dus die volle aanvaarding en versoening wat Jesus bewerk het. Ons moet pasop vir ’n geringskatting van Jesus se werk aan die kruis of dink dat Jesus ast’ware toelating tot die koninkryk uit God gepers het. Onthou, God self het die versoening bewerk deur Jesus Christus! Dis Sy, die Vader se inisiatief!

Ons gevoelens en emosies moet nie afhanklik wees van ons omstandighede nie, maar van hierdie waarhede wat ons verneem uit Sefanja se mond : God se vergifnis wat Hy skenk, God se teenwoordigheid, God se reddende heldekrag, God se beloftes van ’n nuwe toekoms. Hoor weer ‘n slag hoe voel God oor sy mense wat Hy verlos. Wees verseker, die God wat oor jou juig en bly is gaan jou nie in die steek laat nie.

Gaan jy glo en bly wees?

* “En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.