BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 02 Junie 2017

WIND,VUUR,TALE…

- die Heilige Gees as die Groot Gawe van die Nuwe Verbond!



Ou Israel was ’n groot mislukking in hulle toewyding aan God.... Ons ken mos die geskiedenis. Gedurig het hulle afgedwaal na die afgode. Ander kere het hulle wel uiterlik die offers en wette nagekom, maar innerlik was hulle ver van God af. Die Ou Verbond het “misluk”. Dit lei later tot die oordeel van die ballingskap. Tog was dit nie die einde van alles nie. Die profete voorspel die totstandkoming van ‘n Nuwe Verbond. Jesus kom dan in die volheid van die tyd en beseël die Nuwe Verbond met sy bloed!



Jesus se sterwe , opstanding en hemelvaart is egter nie die finale heilsgebeurtenis nie. Jesus beloof die koms van die Heilige Gees! Hier in die tyd van Pinkster is dit weereens belangrik om te besef : die koms en werk van die Gees staan sentraal in die Nuwe Verbond. Hieroor is ‘n gedeelte soos Esegiël 36:25-27 baie duidelik: “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” In die profeet Jesaja word die metafoor van ‘n vrugteboord in ‘n woestyn gebruik om die oorvloedige werk van die Gees mee aan te dui... “totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn 'n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir 'n bos gereken.” (Jesaja 32:15)

PINKSTERDAG

Hierdie beloftes en baie ander is vervul op Pinksterdag (‘n oesfees!). Ons lees daarvan in Handelinge 2. In sy Pinksterdagpreek verwys Petrus na die profesie van Joël wat ook ‘n wye omvattende werking van die Gees voorspel het. Die Heilige Gees is dus die groot gawe van die Nuwe Verbond. Dis die Heilige Gees wat die verskil maak binne die konteks van die Nuwe Verbond. Opvallend is die drie waarneembare tekens waarmee die koms van die Gees gepaard gegaan het. Hierdie drie tekens kan ons aanvaar was nie maar toevallig nie. Die wortels en betekenis daarvan is reeds in die Ou Testament te vinde.

Die tekens :

~Rukwind

~Tonge van vuur

~Talewonder

Dit gaan nie hier oor die elemente as sodanig as iets wat ons moet probeer na-aap nie. Van belang is die heilshistoriese betekenis. Hoe pas dit in en wat is die betekenis van hierdie tekens in die ontplooiing van God se verlossingsplan? Maar ook wat is die praktiese implikasies daarvan vir ons? Wat sê die tekens oor die werk van die Heilige Gees vandag? En baie persoonlik, ondervind jy die werk van die Heilige Gees?

WIND. Wind en Gees het ‘n duidelike konneksie met mekaar. (Dis dieselfde woord in Grieks  - πνεῦμα) Dis uiters gepas dat die uitstorting van die Heilige Gees met ‘n sterk wind gepaard gaan. Hier in Handelinge 2:2 is ook ‘n ander konnotasie. Die woord vir wind wat hier gebruik word is πνοὴ* Dis dieselfde woord wat in die LXX (Griekse vertaling van die Ou Testament) asem van die lewe is wat God in Adam geblaas het. (Genesis 2:7) Dis die Gees, die asem van God wat lewe gee. Die Heilige Gees bring lewe, Hy skep nuwe lewe. Weet verseker as die Heilige Gees nie in jou werk nie, sal jy geestelike dood bly. Daar sal geen ware sondebesef wees nie. Nog minder sal jy die heerlikheid van Jesus raaksien en in Hom glo. Die funksie van die Gees word reeds deur die profete van die Ou Testament voorspel. Die lewend gewende krag van die Gees is baie sterk op die voorgrond in die visioen van die profeet Esegiël oor die vallei van doodsbeendere. “En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE." (Esegiël 37:14) Hierdie herlewing van die doodsbeendere was niks anders as ‘n herskepping nie. Die geluid van die wind op Pinksterdag was dus ‘n teken van die koms van die Gees van God wat geestelike dooies lewend sou maak. Mense wat totaal dood is in hulle misdade, geestelike lyke word lewend gemaak deur die wedergeboorte! Hierdie wind was as’t ware die asem van God wat hy in die nuwe verloste mensheid sou blaas. Dit was die begin van God se herskepping. Die Gees maak mense nuut. Kan jy hiervan getuig in jou eie lewe?

DIE GEES HERSKEP EN HERSTEL ONS AS BEELDDRAERS VAN GOD!

VUURTONGE. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Ons kan aan verskeie voorbeelde uit die Ou Testament dink. God se heilige teenwoordigheid die berg Sinaï is aangedui deur weerlig. Die vuur en wolk oor die tent van samekoms het die heilige heerlikheid van God sigbaar gemaak in die midde van die volk Israel. In die heerlike bedeling van die laaste dae is elke gelowige nou ‘n tabernakel/tempel van God se teenwoordigheid. Dit het geweldige implikasies...!

Vuur simboliseer ook die verterende heiligheid van God. Sy heiligheid brand alles weg wat vuil, onrein en boos is. Die Heilige Gees in ons lewens lei tot ‘n reinigingsproses waar ons skoongemaak word. Die Heilige Gees gee lewe, maar daar is ook ‘n gevaarlike angswekkende kant van die Heilig Gees se werking. Hy is so heilig en suiwer dat alle kompromieë met sonde en valsheid ondenkbaar en onhoudbaar word in sy teenwoordigheid. 

Die vuurtonge het ook ‘n derde konnotasie. Lukas gebruik nie die woord “vlamme” nie , maar “tonge”. Waarskynlik doelbewus. Die Heilige Gees bring ons tot getuienis. Hy roer ons hart en spraak aan om te vertel van die wonderdade van God.

DIE GEES HEILIG ONS EN BEKRAGTIG ONS TOT GETUIENIS!

DIE TALEWONDER. Hierdie was nie bloot ekstatiese klanke nie, maar werklike tale sodat die skare wat in Jerusalem bymekaar was die boodskap van Jesus in hulle eie moedertaal kon aanhoor. Hierdie hoorders was mense wat bande met die Judaïsme gehad het. Hulle dien hier as verteenwoordigers van die verskillende volkere waaronder hulle gewoon het in hulle verstrooiing. Aan watter Ou Testamentiese gebeurtenis laat tale jou dink? Natuurlik aan Babel! Wat gebeur nou hier? Die taalverwarring by Babel word nou omgekeer. Die talewonder verteenwoordig presies die teenoorgestelde van wat destyds by Babel gebeur het. Daar het die verskil in taal mense verdeel, nou word almal verenig in die hoor van God se Woord. Die evangelie in die krag van die Gees bring ‘n nuwe mensheid, ‘n nuwe eenheid tot stand! Die gevolg van die taalverwarring as straf op die mens se arrogansie, hoogmoed en ongehoorsaamheid, was verstrooiing. Met Pinkster word hierdie oordeel omgekeer en kom God se omvattende genade na vore; mense word nou bymekaargemaak vanuit elke nasie onder die hemel - nie om ‘n monument tot eie eer op te rig nie maar om as verlostes tot eer van God te leef. Die groot oes tot God se eer word nou ingesamel...

SONDE EN DIE OORDELE DAAROOR BRING VERDEELDHEID, DIE GEES BRING DEUR DIE EVANGELIE ‘N NUWE MENSHEID EN NUWE EENHEID TOT STAND! 

OOK VIR MY!
Dis ‘n feit die Heilige Gees het gekom, maar ervaar jy Sy werking as ‘n werklikheid? Nie die tekens nie, maar die werklikheid wat daardeur gesimboliseer word. Nuwe lewe, heiligheid, krag om te getuig? Onthou die Heilige Gees is tot ons beskikking kragtens die Nuwe Verbond wat Jesus deur sy bloed beseël het! Ons hoef nie weer te misluk soos oud Israel nie. God is nie suinig met sy Gees nie! Wonder jy miskien of die heerlike verlossing deur Jesus en die gepaardgaande werking van die Gees ook vir jou bedoel is? Wel, hoor die duidelike boodskap van Petrus op Pinksterdag binne die konteks van die belofte van God in die laaste dae (die bedeling van die Gees) : “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:21) Die HERE is die Here Jesus, want die Heilige Gees is immers die Gees van Jesus (Handelinge 16:7 NAV) en dis die Heilige Gees wat ons beweeg tot die aanroep van sy Naam!

Hierdie belofte is ook vir jou!

*Genesis 2:7 in LXX 


καὶ ἔπλασεν ὁ θεὸς τὸν ἄνθρωπον χοῦν ἀπὸ τῆς γῆς καὶ ἐνεφύσησεν εἰς τὸ πρόσωπον αὐτοῦ πνοὴν ζωῆς καὶ ἐγένετο ὁ ἄνθρωπος εἰς ψυχὴν ζῶσαν

Handelinge 2:2 

καὶ ἐγένετο ἄφνω ἐκ τοῦ οὐρανοῦ ἦχος ὥσπερ φερομένης πνοῆς βιαίας καὶ ἐπλήρωσεν ὅλον τὸν οἶκον οὗ ἦσαν καθήμενοι

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.